Скачать книгу

is hy beslis nie.

      “Sesuur. Probleem,” sê Bossie sag. “Hou jou pose.” Hy lig sy wenkbroue.

      Paul knik om te wys hy verstaan, drentel nog ’n paar treë deur die reënwoud. Hy brand om om te kyk na wat ook al agter hulle is. Hy staar na die reënboog in die donderende mis, sy asem in ’n resies teen sy hart gewikkel. Dit ís asem-flippen-rowend mooi, maar wie gee om wanneer daar moeilikheid in aantog is? Hy moet weet.

      Nóú.

      Hy gaan staan by ’n groot boom, strek sy nek na links, na regs, draai sy lyf, strek kamstig. In die paadjie agter hulle is twee ouens wat lyk na Chinese, of Taiwanese, of Japanners. Oosterlinge, in elk geval. Die Kung Fu-tipe. As Bossie reg is oor die “probleem”, is hulle Chinese. Nie gawe, opgeruimde, vredeliewende Chinese nie, maar die moerige, bedonnerde tipe. Triad.

      Albei dra swart. Nie swart en nog iets nie, net swart.

      Agter die twee Kung Fu-tjomme kom ’n paar mense met kinders aan. Hulle Engels klink erg Brits, superbeskaafd. Hulle neem stelling in voor ’n groot boom en neem foto’s. Iemand lag en dan lag die hele groep. Tipiese toeriste.

      Die twee ruiters van die nag praat geen woord nie. Hulle het nie ’n kamera en kyk ook nie eintlik na die donderende rook nie. Dit pla hom dat hulle nie gesels nie. Nie dat taal hom sou gehelp het om nasionaliteit te bepaal nie. Die Asiatiese tale klink almal ewe staccato en befoeterd. Paul se een pel Chen het die vriendelikste gevreetjie en hy glimlag altyd dat jy sy kleintongetjie sien. Hy is die gaafste Taiwanees op aarde en sal nie ’n vlieg kwaad aandoen nie. Chen is konsidererend en goed gemanierd: ’n ware Saints gentleman. Maar wanneer hy Taiwanees praat en jy sy gesig nie sien nie, klink hy soos ’n masjiengeweer. Dodelik.

      Miskien klink sý Afrikaans vir Chen net so staccato en dodelik?

      Paul strek sy nek weer en drentel verder, tot langs Bossie. Hy draai saam met Bossie by ’n uitkykpunt af. Hy kyk na die val, maar die mooi is weg. Sy hart hamer in sy keel.

      “Kosjer?” Hy probeer voorkom dat hy hiperventileer. Donkerwerk en Konkelwerk sal hom beslis nie bo hierdie helse lawaai hoor praat nie. Dis nou ás hulle Afrikaans sou verstaan.

      “Twyfel. Ek hou hulle al geruime tyd dop. Hulle ry ’n Toyota Fortuner.”

      “So, dís hoekom jy Falls toe wou kom?”

      “Ja.”

      “Hoe maak ons?”

      “Neem foto’s van die ander twee, Paul. Laat dit klink of julle pret het. Luidrugtig, jy weet.”

      Paul haal die kamera uit die waterdigte sak. Bossie voer iets in die mou. As hy net geweet het wat!

      “Karlien! Adriaan! Bossie soek julle vieslike gevrete op ’n foto. Kom hier!” skree hy bo die geraas van die water uit. Vir ’n oomblik wonder hy of hulle hom hoor, maar dan draai Adriaan om. Sy wenkbroue lig bokant sy nat bril.

      Karlien draai nie eens om nie, gooi hom net ’n middelvinger agter haar rug.

      “Karlien!” Bossie se stem is ’n bliksemstraal wat plek soek om te slaan.

      Karlien draai om, hand op die heup. Haar kake kou steeds, Karlien-styl. Hoeveel boksies kougom sou sy ingepak het?

      “Ja, Bossie?” Sy fladder haar wimpers.

      Paul grinnik in sy binneste.

      “Dit was ’n opdrag.” Bossie praat hard.

      “Ooooo, Bossie! Hoekoooom?” Die laaste deel van die “hoekom” is uitgerek, soos ’n kleuter wat alles “hoekom?”

      “Roer jou.”

      Karlien kom aspris traag nader. Trapsuutjie-styl.

      Bossie se gesig raak al donkerder.

      Paul wil hulle skud. Is die twee blind? Sien hulle nie die twee Kung Fu’s nie? Flippen idiote!

      “Oukei, staan daar. Rug na die waterval,” gee Paul instruksies.

      Bossie het verdwyn. Hy’s nou buite Paul se gesigsveld, agter iewers.

      Paul lig die kamera. Karlien gooi groot, asof sy op die loopplank is. Sy tuit haar lippe en het reeds haar reënjas se knope los, stoot hom oop. Sy poseer hand op die heup, een been voor die ander. Straaltjies water loop in haar nek af. Vrek, maar sy ís mooi. Haar kortbroek is korter as sy baard – en hy hét vanoggend geskeer – haar hemp is laag oopgeknoop en wys ’n olyfgroen toppie, en haar leerstewels lyk na iets uit Cosmopolitan se modeseksie.

      Adriaan is ’n strykplank sonder glimlag. Sy kop roer nie, maar Paul sien hoe sy oë na links draai. Na waar die twee Kung Fu’s min of meer moet wees.

      Dan is die Britte by hulle. “Amazing!” sê ’n manstem. “Absolutely awesome!”

      Sou dit die waterval, of Karlien se booty, wees wat die Brit so begeester? Die Chinese moes effe teruggesak het, want Paul sien hulle nie toe hy die Britte groet nie. Hy wil ook nie te opsigtelik rondkyk nie.

      “Wag, die lig is nie reg nie.” Paul beduie met die hand vir Karlien en Adriaan om te skuif. Hy probeer kyk waar Donker en Konkel is. Niks. Hy wens hy kan heeltemal omdraai en kyk wat aangaan, maar hy weet Bossie dek die agterhoede en hy moenie onnodig aandag trek nie.

      Adriaan se oë soek.

      “Oukei, Butterface!” Paul lig die kamera. “Pak jou tande uit, Butterface.” Adriaan glimlag, maar dis ’n aangeplakte glimlag wat nie by sy oë uitkom nie. “Buttercup! Honey-honey, sweet bunny,” tart Paul. Die “honey-honey” klink bekend.

      Paul frons. O ja, dis wat die blonde bimbo haar mal Griek in daai huis van onheil genoem het. Skielik voel hy erg naar. Hy is al naar sedert Bossie sy wapensmokkelplanne geopenbaar het, maar nou het hy ’n totaal nuwe dimensie van naar betree.

      Adriaan frons, sy mondhoeke trek af. “Neem net die bloody foto en kry klaar, Paul!” snou hy.

      “Oeeee, Butterface. Geduld.” Hy wens hy kon Adriaan met die kamera gegooi het, maar as hy moet tyd koop vir waarmee Bossie ook al besig is, dan verduur hy maar die fotonemery. Fake it until you make it. Al irriteer Bossie hom soms grensloos, weet hy hy het hom nodig.

      Agter Paul lag ’n paar van die Britte. Hulle verstaan dalk nie die “geduld” nie, maar wel die spot in sy stem.

      Paul probeer onthou om asem te haal, om diep en stadig asem te haal. As sy hart enigsins vinniger klop, gaan dit deur die klankgrens breek. Dit verg alles in hom om die kamera nie neer te smyt en ’n toon te klap nie.

      “What a magnificent sight!” sê die skraal Brit met ’n sopnat fedora vir Paul. “Would you mind taking a photo of us?”

      “Any time.” Paul bêre sy pa se kamera en neem die kamera by die Brit. Die ou is duidelik deur die waterval geïnspireer, nie net deur Karlien nie. Hy probeer oor die man se skouer kyk terwyl die Brit die kamera se werking verduidelik, maar sien nie vir Donker en Konkel nie.

      Die twee Chinese en Bossie het spoorloos verdwyn.

      “Oukei, peeps. Smile!” Paul lig die kamera, probeer hom stilhou. Sy hande bewe. Die Britte glimlag breed. Hy neem twee foto’s.

      “Thanks, hey,” sê die Brit met die nat fedora. Die ander bedank hom ook. Paul gee die Brit se kamera vir hom terug. Die groep stap skertsend verder.

      Adriaan kom nader: “Waar’s Bossie?”

      “Weet nie.”

      ’n Ou man en sy vrou stap stadig by hulle verby. Die man het ’n snaakse stappie, sien Paul. Dit lyk soos iemand wat sy lyf gebruik asof hy roei. Sy bolyf kantel heen en weer om sy bene voort te stu.

      “Hierso.” Bossie is agter hulle.

      “Kosjer?” wil Paul weet.

      “Nee.”

      “Sure?” vra Adriaan.

      “Baie,” antwoord Bossie. “Die

Скачать книгу