Скачать книгу

verwag nie: klein, intense, skerp, dramatiese kwashaaltjies van purper, goud, karmosyn en vermiljoen.

      Die aand bad sy, trek die enigste mooi rok aan wat sy saamgebring het, sit lipstiffie aan, en maak haar gereed om met Fonny Alexander na die Steynhuis te gaan, om daar na Jan de Dood en sy Bende te gaan luister.

      agt

      Saterdagmiddag ry die vier mans, Salmon Senekal, Jakes Jones, Daan Theron en Stefan Mendelsohn, tot buite die dorp waar hulle ’n afdraai neem na die oorlogsgrafte. Hulle ry op ’n gruispad tussen rotsblokke en doringbome deur. Hulle hou bo-op die plato stil. Hier is dit baie stil, die enigste geluid is dié van die wind, wat altyd hier waai. Van hier kan ’n mens kilometers aaneen oor ’n enorme, uitgestrekte stuk landskap kyk, met blou berge in die verte.

      Hulle sit eers ’n rukkie in die motor voor hulle uitklim en na die eerste omheinde kampie met grafte stap. Daan tel ’n stokkie op wat lyk soos ’n figuurtjie – met ’n perfekte ronde mondjie. Jakes Jones het in sy kop ’n verspotte, aanhoudende frase uit ’n science fiction-rolprent wat hy onlangs gesien het. Salmon skop teen ’n groot klip met koeëlgate – of wat lyk na koeëlgate – want al die klippe in die omgewing lyk dieselfde, en Stefan Mendelsohn wonder hoe ver hulle van die naaste kremetartboom is.

      Jakes besluit dadelik dat sy oupagrootjie nie hier lê nie en die wete gee hom die vryheid om ontspanne rond te kyk. Daan hop rusteloos van klip tot klip. Elkeen slaan ’n tydjie lank sy eie koers in en bekyk die omgewing en die grafte. Soos die skaduwees begin rek, raak elkeen toenemend besig met sy eie gedagtes.

      Voordat hulle in die motor klim om terug te gaan dorp toe, rook hulle nog eers weer ’n sigaretjie saam waar hulle op die rotsblokke ’n entjie van die oorlogsgrafte sit en intussen begin die son ondergaan en word hulle bykans tot stilswye gedwing deur die skouspel van kleure oor die manjifieke vallei voor hulle. Hier lyk die landskap ontsagwekkend groots – skielik omvangryker as toe hulle hier aangekom het. Hulle praat min, hulle praat los en vas, hieroor en daaroor.

      Jakes vra: Wat sou deur die loop van ’n enkele dag deur die gemoed van ’n ongeletterde Kakie gaan, van skouspelagtige sonsopkoms tot skouspelagtige sonsondergang? Heroïese gedagtes, sê Salmon, die een heroïese gedagte na die ander: Wat sal ek eet? Waar sal ek kak? Sal ek die dag oorleef? Jakes lag. Maar Daan raak rusteloos, want soos die skadu’s langer word en die omgewing stiller en die windjie droewiger en ’n raps venyniger waai, word die dringendheid groter om sy versoek onder die ander se aandag te bring. Hulle ís nou hier, sê hy, en hulle moet werk maak van die geleentheid. Terwyl hulle hier is, moet hulle ondersoek instel – volgens wat hy gehoor het, is dit iets wat jy nie aldag teëkom nie. Jakes Jones lag en sê: You can stay as you are for the rest of your life or you can change to Mainstay, en Salmon sê: Nie ’n slegte idee nie. Sal hulle afgaan dorp toe, sê hy, en ’n kap maak?

      Jakes wil weer by Daan weet waar hy nou eintlik van die hele ding gehoor het, en Daan sê: Wat maak dit nou saak waar hy daarvan gehoor het, dit kon in die stad wees, dit kon verlede keer in die Steynhuis wees, dit was heel moontlik by iemand wat dit by Bennie Potgieter gehoor het, hy het mos al so gesê, wat maak dit nou saak wie hom vertel het? Maar het hy ’n adres? vra Stefan. Hy het so half en half ’n adres, sê Daan. En Stefan sê: Hoe het ’n mens half en half ’n adres, jy het dit of jy het dit nie. Hy het ’n kontakadres, sê Daan, en hy stel voor hulle gaan nou dadelik soontoe, voor hulle na die Steynhuis gaan. Salmon kyk anderpad, en hy bly anderpad kyk, omdat hy niks te doen wil hê met enigiets waarby Bennie Potgieter moontlik naby of verlangs betrokke is nie, en bowenal wil hy nie in ’n posisie wees waar hy van enige inligting van Braams du Buisson óf Bennie Potgieter afhanklik is nie. Niemand hoef te weet wat sy redes is nie, laat hulle dink dat daar ’n onopgeloste wedywer tussen die twee van hulle bestaan. Dit is ook so. Op een vlak is dit so en op een vlak is dit nie so nie.

      Hulle moet sy woord daarvoor neem, sê Daan, hulle moet hom net vertrou, hy sal al die inligting kry, hulle moet net saam met hom gaan; hulle sal nie spyt wees nie – hierdie is ’n way-out ding soos hulle nog nooit teëgekom het nie. Jakes lag en vra Daan wat hy wil hê die man moet vir hom sê. Wat wil hy in die toekoms sien wat die man vir hom moet uitwys? Dis nie net dat hy in die toekoms wil sien nie, sê Daan, dis die hele verskynsel van die talking head (soos hy dit noem) wat hy wil sien. Hy wil sien hoe die man roerloos daar lê, en dan kom hierdie goed uit sy mond – nie doodgewone voorspellings nie, maar soliede stukke ja, wat moet hy dit noem? Soliede stukke kak, sê Salmon, wat dan in goud verander en dan word jy dienooreenkomstig gecharge. Soliede stukke geskiedenis, sê Jakes, soliede blokke geskiedenis soos dit nog gaan gebeur. Ja! sê Daan, ja! So iets! Jakes lag. Op sy malste het hy ’n soortgelyke gawe gehad, sê hy (sag).

      Siener van Rensburg redivivus, sê Salmon. Die swart Siener, sê Stefan, wat teruggekom het om hom op die Boere te wreek. Waarom sou hy hom op die Boere wou wreek? vra Jakes. Omdat hulle hom nooit goed genoeg betaal het nie, sê Salmon. Tydens die mees bedroewende tydperk van sy lewe, sê Jakes, en voltooi nie sy sin nie maar kyk anderpad – oor die enorme geboë ruimte van die plato, waar ’n voorouer iewers lê, of nie lê nie, dit kan hom ook nie soveel skeel waar die man hier sy lewe kom aflê het nie. En desnieteenstaande, dink Jakes, ten spyte van daardie trippie, daardie trip na die hel en terug, by wyse van spreke, beskou hy homself steeds as ’n gelukkige man. So sit hulle geruime tydjie in die motor en praat, en dwaal te veel na Daan se sin af, wat nou dringend met hulle tot ’n vergelyk en ’n vaste plan van aksie wil kom.

      nege

      Die eerste aand in die Steynhuis val ’n groepie van vier mans en ’n geselskappie van vyf vroue Ester op. Ross Bekker, ’n skilder uit die stad, praat mettertyd uitgebreid oor sy werk en Fonny maak Ester daarop attent dat hy stoned to the eyeballs is. (Uit haar eie sou Ester dit miskien nie gemerk het nie. Haar skerpte van visie aan die afneem?)

      Die Steynhuis is ’n historiese dorpshuis, vernoem na president Steyn, wat tydens die Anglo-Boereoorlog ’n paar weke hier tuisgegaan het voordat hy by generaal Christiaan de Wet aangesluit het op hulle uitmergelende tog – wat later as die dryfjag op De Wet bekend sou staan. Die huis is in die onderdorp, in ’n buurt van ou huise, oop erwe, naby ’n skrootwerf, en dit is omskep in ’n alternatiewe eet- en drinkplek waar uitgenooide kunstenaars soms optree.

      Ester het saam met Fonny Alexander gekom om na Jan de Dood te luister, en van al die gaste is dit veral ’n lang, seningrige man met kort, stekelrige hare wat haar opval (hy dra ’n swart T-hemp en werkersboots en ’n fancy groen broek met blinkdraad in). Sy naam is Jakes Jones, sê Fonny toe Ester haar vra, en die man met die kortgeskeerde hare en bril se naam is Salmon Senekal. Sy ken nie die ander twee mans in hulle geselskap nie.

      Fonny is soos die vorige dag in swart geklee en heeltemal in haarself gekeer. Dit merk Ester heel gou. Jonah Voorsanger, Bennie Potgieter, Braams du Buisson en ’n vrou met hewig gekartelde hare (Dorothea van Dorp, sê Fonny) maak mettertyd hulle verskyning. Ester is dankbaar dat hulle by ’n tafel aan die teenoorgestelde kant van die groot sentrale vertrek gaan sit – met Jonah Voorsanger verkeer ’n mens nie gesellig saam nie. Met Jonah swaai ’n mens aan bobbejaantoue en kroonkandelare. Jy dans op warm kole tot jy morsdood neerslaan. Wat is Jonah Voorsanger as hy nie groter as lewensgroot is nie? Ken Ester nog iemand wat so onverdraagsaam en normatief is? Sy en Jonah het nooit goeie vriende geword nie. Die Wonderkind sit gedwee langs hom en eet; sy groot, sagte lyf skud af en toe soos hy lag. Hy dra vanaand ’n kanovaartpet asof hy deesdae by al sy talle ondernemings ook nog met vernuf riviere bevaar. (Alles waarskynlik droë lope. Die eertydse snelstromende riviere.)

      Uit die sentrale vertrek – mure diep karmosynrooi geverf en houtafwerkings smaltblou – lei ’n agterste vertrek waar die gaste reeds uitbundig aan die dans is en as dit van hulle afhang, dit steeds meer uitgelate sal doen.

      Ester sien dat sy nie vanaand met Fonny ’n betekenisvolle gesprek gaan voer nie. Eers hou sy Fonny stip onderlangs dop vir sigbare tekens van beletseling. Maar behalwe dat Fonny nie spraaksaam is nie, onversteurbaar met haar eie gedagtes besig is en in haar swart sjaal soos in ’n kokon gewikkel is, is daar uiterlik aan haar niks te merk nie. Niks val Ester op nie, behalwe die romerige glans van Fonny se vel (teebruin), haar wenkbroue soos stadspoorte, die aangrypende weerloosheid van haar nek

Скачать книгу