Скачать книгу

die kind met ’n sakdoekie koel; kyk verontskuldigend in Ester se rigting. Die kind uiter geen verstaanbare woorde nie. Sy maak steungeluide, van magteloosheid, tussen die geluidlose trane deur. Die ma paai, probeer haar ’n koeldrankie te laat drink. Die kind stoot dit ergerlik van haar weg, haar gesig hoogrooi, vertrek van frustrasie.

      Dan, skielik, sonder enige aanduiding, net vir ’n paar oomblikke, word die kind skielik rustig. Haar liggaam ontspan, daar kom oor haar gesig ’n vervlietende uitdrukking van algehele rus, sy rol haar oë boontoe sodat net die witte sigbaar is, sluit hulle ’n paar oomblikke, en iets soos ’n effense siddering gaan deur haar kinderliggaam.

      Pas toe Ester ’n rukkie later in die kerk sit, besef sy dat sy in die verkeerde kerk is. Sy het sonder meer aangeneem dat Selene Abrahamson vanuit hierdie kerk begrawe sal word. Sy was afgelei; sy het nie daaraan gedink om te vra nie. Op dié manier loop Ester sowel die roudiens as die begrafnis van Selene Abrahamson mis.

      vier

      Die aand – Vrydagaand – eet Ester en Boeta saam in die Dorpskafee. (Daar was ’n boodskap van hom vir haar by die Gemoedsrus Kamers die middag.) Selene Abrahamson is die oggend vanuit die Sendingkerk begrawe in die nuwe uitbreiding van die begraafplaas wat uitloop op die klipperige, plat veld, van waar jy kilometers in die omgewing kan sien.

      Boeta sit met sy kop in sy hande. Sy verdriet is nie meer so ooglopend nie. Hy is meer in homself gekeer. Hy sit met geboë skouers; hy lyk verslae. Gisteraand se óóp blik, die helderheid van sy gesig toe hulle gegroet het aan die einde van die aand – is weg. Dit het plek gemaak vir ’n stemming waarin Boeta hom miskien al geruime tyd bevind. Hulle bestel iets om te eet. Boeta bestel sonder geesdrif. Ester vra hom wat Selene se dood vir hom beteken. Hy skud sy kop woordeloos. Hy kyk pleitend na Ester. Hy sê dit is vir hom erg dat sy so alleen moet gewees het voor haar dood, en dat sy so kléin gelyk het die vorige dag by die begrafnisondernemers. Hy kan dit nie vergeet nie. Hy kan van daardie beeld van haar nie ontslae raak nie – dit is amper asof dit al sy ánder herinneringe van haar uitwis. Hy kan amper nie meer onthou hoe sy wás nie, sê hy met paniek in sy stem. Hy kyk weg. Ester kan sien dat hy groot psigiese pyn het. Sy kan hom nie troos nie.

      Hulle kos kom. (Geen haute cuisine nie, maar hulle het nie vir die kos hierheen gekom nie.) Boeta eet sonder veel eetlus. Hy sê hy voel dat hy Selene in die steek gelaat het. Hy het nooit geweet haar dood sal hom so tref nie. Hy weet nie wat hy gaan doen om met hierdie gevoelens om te gaan nie.

      Hy vind dit erg dat daar ’n kind ook was. Doodgebore, sê Boeta. Ester vra of Selene ’n kind wou gehad het. Boeta sê hy weet nie. Hy het gehoor sy is swanger. Hy weet sy het ’n verhouding met die Engelse ou gehad, die Woodgate-ou wat die vorige aand by Antie Rose was, maar hy het gedink dis lankal uit. So hy weet nie eers of die man wel die pa was nie. Hy moes Selene gebel het, sê Boeta. Hy moes kontak gehou het. Hy moes haar bygestaan het. Hy was so wrapped-up in sy eie lewe. Hy het die afgelope tyd geleef soos ’n mol, hy was blind soos ’n mól – sê Boeta met hartstog. Hy het soos ’n fokken mol in ’n tonnel geleef; ondergronds gebúrrow, sê hy (met groot heftigheid) – hy sê dit selfveroordelend, selfkastydend.

      Sy was so ’n wonderlike mens, sê Boeta, en wat het daar van haar lewe gekom? Hoeveel geluk het sy ooit gehad? vra hy. Ester swyg. Hoe sal sy weet? Hoe kan ’n mens met stelligheid sê wat daar van enigiemand se lewe gekom het? Haar ma en haar pa se lewe is voltooi, afgeloop, afgerond, en die stilte wat daarop volg, is ondeurgrondelik.

      Boeta het donkerblou oë, soos sy pa en haar pa. As jy goed kyk, sien jy dat die blou irisse rooi vlekkies in het. Uitsonderlik, die kleur van hierdie oë. Mooi oë. Haar eie oë is gryser – ’n slapende, onvoorspelbare geen. Boeta sê hy gaan die volgende dag terug stad toe. Hy het baie om te doen. Hy weet nie of hy iets sal kán doen nie. Hy wil eintlik nie meer so voortgaan nie. Hy het die vreemdste drome. Hy wil voortaan meer gereeld hierheen kom. Hy wil Antie Rose ondersteun. Sy was altyd baie goed vir hom.

      Ester vra hom hoe die begrafnis was. “Dit was seker okay,” sê Boeta. “Wat kan jy verwag, met Jonah Voorsanger wat amper in die graf val – pissed out of his mind. Bennie Potgieter het hom just about aan sy lokke daar moes uittrek.” Ester moet half lag. Sy moet lag vir Boeta se beskrywing en vir wat sy haar by sy beskrywing voorstel – ’n begrafnis in die beste vaudeville-tradisie. Miskien nie heeltemal waarop Antie Rose gereken het nie – maar waarde vir haar geld het sy onteenseglik gekry. Daarvoor het Jonah gesorg; daarvoor kan jy op Jonah Voorsanger reken. Hy moet ’n spektakulêre gesig gewees het met sy opvallende voorkoms (sy skoonheid), sy lang hare, sy buitensporige verdriet wat hy skaamteloos opsigtelik ten toon sal stel – sy hart op sy mou (waar hy dit altyd dra). ’n Groot, bloeiende, briljante hart. Spyt dat sy deur haar nalatigheid die skouspel misgeloop het. (Maar wel die kind met die vurige wange gesien.)

      En was die Engelse lover daar? vra Ester. Boeta knik sy kop bevestigend. Hy verstaan tog nie hoe so iemand nog sy gesig daar kon wys nie, sê hy. Woodgate het Selene nooit besonder goed behandel nie, of hy nou die pa van die kind was of nie, sê Boeta. Ester bedink haar om te vra op watter manier. Dit kom wel uit, mettertyd.

      En hoeveel kontak het hy die afgelope tyd met Fonny gehad? vra sy hom. Sy het onmiddellik spyt dat sy gevra het, want sy wil Boeta nie verder met vrae belas nie. Nie soveel as wat hy behoort te gehad het nie, antwoord Boeta. Hy moes háár ook meer ondersteun het. Maar hy het nie meer vir mense oopgestaan die afgelope maande nie. Hy wóú eintlik nie weet hoe dit met haar gaan nie, veral nie na die ding met Petrus nie.

      Boeta raak geleidelik meer gepantser. Sy enorme verdriet van gister is verby, toe hy so verskriklik in die motor gehuil het. Hierdie groot droefheid is hokgeslaan. Sy weerlose oopheid van die vorige aand is verby. In die plek daarvan is nou iets stroewers, meer wanhopigs, ’n strak gelatenheid. Hy kan nie meer leef soos hy leef nie, sê Boeta (sag), dit besef hy nou – dis nie natuurlik nie. Ester knik. Sy sien dat hy swaarkry. Hulle sit nog ’n rukkie.

      Boeta stap saam met haar terug na die Gemoedsrus Kamers. Hulle groet by die wawielhek. Hy sê hy is jammer dat sy al die pad moes kom om hom in so ’n toestand aan te tref. Sy sê dit maak nie saak nie, sy is bly sy het gekom, sy is bly sy het hom gesien. Sy moet in elk geval een of ander tyd met Fonny praat – sy het ook gekom om haar te sien. En hulle sal mekaar weer sien, binnekort, onder beter omstandighede, sê sy, sy is seker daarvan. Boeta moet homself nie te veel vir dinge verkwalik nie. Die dinge wat gebeur het, was nie binne sy beheer nie.

      Sy gaan na haar kamer. ’n Verlammende gevoel van magteloosheid het geleidelik in die kafee oor haar begin kruip by die aanskoue van Boeta se beswaardheid. Voor sy gaan slaap, lees sy in die Bybel wat deur die Gideoniete beskikbaar gestel is die geskiedenis van Ester. Sy lees dat toe Mórdegai verneem het wat alles gebeur het, hy uitgegaan en dwarsdeur die stad hardop en bitter geskreeu het.

      Selene Abrahamson is begrawe. Boeta gaan die volgende oggend vroeg terug stad toe. Ester lê in die vreemde bed in die kamer met die puntige motiewe op die gordyne. Haar hart klop pynlik onreëlmatig in haar borskas, want sy weet nie vorentoe of agtertoe nie. Herwaarts of derwaarts nie.

      vyf

      Saterdagoggend sit vier mans in ’n rooi motor in die onderdorp naby die Steynhuis. Hulle rook ’n sigaretjie. Hulle het reeds die vorige dag in die dorp aangekom. Die ander vra vir Daan Theron waar hy daaraan gekom het en Daan sê hy is nie seker nie. Stefan Mendelsohn sê wat de hel nou en hulle kyk elkeen by ’n ander venster uit. Jakes Jones sien die skrootwerf op sy linkerhand. Salmon Senekal (wat die motor bestuur) sien die oop stuk erf op sy regterhand. Daan sien die parkeerterrein langs die Steynhuis en Stefan kyk na die lae heuwels agter die woonhuise. Hulle is elkeen besluiteloos op ’n ander manier. Daan sê weer hy is nie seker waar hy dit gehoor het nie. (Hy sê dit dromerig; nie onbehaaglik nie.) Hy het dit miskien by iemand gehoor wat dit by Bennie Potgieter gehoor het. Hy is nie seker nie. Dis tipies iets vir Bennie Potgieter om te versin, sê Stefan Mendelsohn. (Hy sê dit sonder medelye.) Jakes Jones lag. Salmon Senekal sê niks. Nou het hy nie ’n fokken clue nie, sê Daan, steeds dromerig. In daai geval, sê Salmon, gaan drink ons iets; hy kyk in die truspieëltjie, trek weg, maak ’n U-draai en ry stadig terug middedorp toe.

      Hulle het almal gekom om na Jan de Dood te luister. Jakes

Скачать книгу