Скачать книгу

’n paar dae later ’n syfer-telegram uit Londen waarin hy ingelig word dat Lord Roberts hom as opperbevelhebber van die weermag vervang.

      Van Colenso ry Ester Zorgenfliess na Ladysmith. Van Ladysmith ry sy verder in ’n noordelike rigting na Steynshoop, verby die dorpe Berou en Vooruitgang. Die landskap waardeur sy ry, lyk nog bekend, maar is dit nie meer nie, sy was te lank gelede hier. Daar is nuwe grense. Sy weet nouliks in watter provinsie sy haar bevind. Sy hou stil vir brandstof en koop ’n nuwe toeratlas met uitgebreide kaarte van die land.

      Sy vind die veranderende landskap besonder mooi. Die sagte voue van die heuwels. Die klowe met aalwyne. Die erosieslote. In ’n groot, swartgebrande veld is daar onlangs stapels hout verbrand. Oral smeul die vure nog. Mans staan met vurke by hopies smeulende takke. Die lug is troebel van die rook. Dit is koud, plek-plek mistig. Ongewone laatsomerweer.

      Sy het afgespreek met Boeta Zorgenfliess om hom op Steynshoop by die Dorpskafee langs die historiese kerk te ontmoet. Sy onthou die kafee en die kerk. Sy onthou die groot okerkleurige klipblokke waaruit dit gebou is. Ester het Boeta lank laas gesien. Hy het nie goed geklink oor die telefoon nie. Hulle het nie baie gepraat nie. Hy is die enigste lid van haar familie aan vaderskant met wie sy nog kontak het; ’n hele paar jaar jonger as sy.

      Boeta staan op toe sy die kafee binnekom. Hulle omhels mekaar. Sy is altyd bly om hom te sien. Hy glimlag verwelkomend, maar sy sien dit gaan nie met hom goed nie. Hy het pas uit die stad aangekom. Hy was nog nie by die gestorwe vrou se ouerhuis nie.

      Hulle ry saam soontoe in Ester se motor.

      Boeta se skouers is vooroorgeboë en die vel span styf oor sy voorkop. Soos ’n dier waarvan die ore gespits is.

      Hulle hou voor die groot, ou huis onder in die dorp stil.

      Hulle klim uit.

      Hulle stap met die tuinpaadjie op. Die tuin is mooi en goed versorg. Rose in oorvloedige beddings en stokrose voor die venster. Boeta sit sy kop vorentoe, in ’n gebaar van onderwerping.

      Hulle klop.

      ’n Vrou maak die deur oop. Toe sy Boeta sien, omhels sy hom en begin sag huil.

      “Waar is sy, Antie Rose?!” roep Boeta, met ’n verskriklike klank in sy stem, terwyl hy uit haar omhelsing by haar probeer verbykom.

      Antie Rose sê eers niks. Sy vee haar trane met ’n voorskoot af. Sy kyk pleitend na Boeta.

      “Hulle het haar vanoggend kom haal,” sê sy, “die undertakers.”

      Boeta sê: “Ek wil haar gaan sien.” (Soos iemand wat hy wil gaan besoek.)

      Hulle draai weer om. Klim weer in die motor.

      Bo in die dorp, links, net voor die historiese kerk, vind hulle die begrafnisondernemer.

      Boeta klim uit.

      Ester bly in die motor sit.

      Sy beduie: nie vandag nie.

      Voor hy ingaan, kyk hy ’n laaste keer om na Ester.

      Na ’n ruk kom Boeta uit. Hy kyk nie links of regs nie. Hy klim in die motor.

      Boeta leun vorentoe op sy arms teen die paneelbord en hy huil so, dat hy nie orent kan kom nie.

      Hy en Ester sit ’n ruk so in die motor.

      Een maal draai hy sy kop na Ester, met die slierte slym en water wat uit sy neus en mond kom, en hy sê hy is jammer dat hy so huil.

      Toe hy effens bedaar het, vra Ester of hy wil teruggaan na Antie Rose-hulle.

      Hulle hou weer voor die huis stil. Daar is ’n kombi en ’n duur sportmotor voor die deur.

      “Jonah Voorsanger,” sê Boeta, “’n nice ou, maar sy vriende is laer as slangkak.”

      Antie Rose maak weer die deur oop. Sy laat hulle woordeloos binne.

      Boeta trek sy asem diep in, stap die donker gang af.

      Daar is drie vroue in die kombuis. Ester omhels vir Fonny. Hulle oë ontmoet vlugtig. Dit is die eerste keer dat sy haar sien sedert die ongelukkige voorval waarin sy betrokke was. Fonny se hare is vasgebind, strakker teen haar kop as gewoonlik. (Heeltemal strak kan dit nooit, daarvoor is haar hare te swaar.)

      Daar is Selene se twee susters, Annie en Dafnie. Annie is getroud, weet Ester, maar Dafnie – haar vel die tekstuur van room; sy lag almal deurentyd met kuiltjies in die wange toe – Dafnie is eenvoudig van gees. Haar miniatuurvoetjies en -handjies (soos lotusknoppies) is onnatuurlik klein in vergelyking met haar sagte, uitgeswelde jongvroulyf. Hierdie voetjies is te klein om haar volle gewig te dra; sy kan nie sonder ondersteuning beweeg nie.

      Hulle gaan by die kombuistafel sit. Antie Rose kom by hulle sit.

      Sy praat sag. Sy sê: “Selene het mos die miscarriage gehad, nè? Die kind was stillborn. Toe word sy siek van die complications. Dit was ’n week gelede. Teen Sondag kon hulle niks meer vir haar doen nie.” Antie Rose huil weer geluidloos in haar voorskoot.

      “Bad luck,” sê Boeta, oor en oor.

      “Jonah sit in die tuin,” sê Fonny.

      Sy en Boeta kry groot koppies lou, sterk tee. Die kombuis is warm. Die vroue maak kos; hulle praat nie. Annie is Selene se oudste suster, Dafnie is haar jongste suster; Fonny is haar niggie. Die plafonne is hoog. Dit is ’n ou huis.

      Fonny vee haar hande aan haar voorskoot af. “Het jy Jonah al gegroet?” vra sy.

      “Nee,” sê Ester.

      Boeta sit met sy kop in sy hande.

      Dis twee-uur, sien Ester, op die horlosie teen die muur. Sy staan op, draai na die lig, en gaan buitentoe.

      Boeta bly sit by die kombuistafel.

      Fonny staan agter haar in die deur.

      Jonah Voorsanger sit buite in die tuin op ’n tuinstoel. Bene oorkruis. Donkerbril op. Hare los. Hy rook. Voor hom staan ’n vol glas. Ester het hom lank laas gesien. Haar hartklop, voel sy, is effens versnel. Bennie Potgieter (die Wonderkind – so noem Ester hom) is daar. Braams du Buisson is daar. Sy het hulle álmal lank laas gesien – nie sedert sy terug is nie. Sy voel die eerste tekens soos stekies van ambivalente gevoelens. Nog twee mans en twee vroue wat Ester nie ken nie. (Jonah is altyd omring deur mense: bewonderaars, aanhangers, dissipels.) Dafnie met die yl hofie, kan Ester haar voorstel, spreek meer tot Jonah se verbeelding as wat sý kan. Maar dit is nie waar dit vandag om gaan nie.

      Jonah groet Ester met die hand sydelings na haar uitgesteek. Hy gaan voort met sy gesprek. Hy duld geen aarseling nie – enige afwyking, enige afdwaling, enige verwording duld hy, maar nie aarseling nie. Aarseling maak hom angstig. Ester groet die Wonderkind en Braams. Sy gaan op een van die tuinstoele sit.

      Fonny speel met die hond. Ester hou haar tersluiks dop. Hulle sal later geleentheid kry om te praat – dit is een van die redes waarom sy na die dorp gekom het. Fonny dra ’n swart rok wat net bokant haar enkels kom en haar arms bedek. Sy is ’n mooi vrou, met swaar, weelderige hare.

      twee

      Om drie-uur gaan Ester verblyfplek in die dorp soek. Sy kom weer later terug, sê sy vir Boeta, wat in die verdonkerde sitkamer op een van die rusbanke lê. Sy hand oor sy oë. Hy probeer orent kom, hoflik wees; Ester sien swarigheid vir hom voorlê.

      Op pad na die bodorp stap sy verby ’n vierkantige huisie met twee netjiese, simmetriese grasperkies voor en ’n bordjie langs die hekkie waarop gedruk staan: Mevrou Kriek. Heldersiende en lewensraad. Kom binne vir ’n afspraak. ’n Vrou gee in die tuin haar blomme met ’n tuinslang water – dit moet mevrou Kriek self wees. Sy is klein en oud, sien Ester in die verbygaan, maar sy is regop soos ’n kers. Haar ogies is klein en bruin – soos dié van ’n óú ystervark – in haar beplooide gesig. Agter haar staan die huisie roerloos op sy fondamente – ewe simmetries as die tuin: twee vensters aan weerskant van die stoep.

      Bo in die dorp stap Ester verby die historiese

Скачать книгу