Скачать книгу

lief, sy het hom lief soos ’n broer, maar voorlopig is hy ontoeganklik in sy bedroefdheid. Sy droefheid moet eers bedaar voor hulle behoorlik kan gesels. Om sy onthalwe het sy hierheen gekom, en met die vooruitsig om Fonny weer te sien, aangesien sy – tot nou – nie soveel belang by die dooie vrou gehad het nie. Oorkant Boeta sit Dafnie, die swaksinnige jongste suster van Selene. Sy lag Ester met diep kuiltjies in die wange toe.

      “Drol,” sê die vrou met die bloedrooi haardos toe Ester weer by die agterdeur uitkom. Die vrou sê dit nadruklik en oor haar skouer en Ester weet dadelik dat dit op Jonah Voorsanger gemik is.

      “Sy is dood aan ’n gebroke hart,” sê Maria Mulder, “heel eenvoudig. She died of a broken heart.”

      ’n Skielike windvlagie laat die kersvlamme wapper. ’n Sagte golwing gaan deur die spierwit tafeldoeke. ’n Paar oomblikke is daar stilte, voor mense weer begin gesels. Meneer Woodgate se oë lyk geswel en rooi. (Te veel gehuil?)

      “Dit was haar singular bad luck,” gaan Maria Mulder voort, “dat al die mans met wie sy deurmekaar was, deur die bank drolle was.”

      Meneer Woodgate gee ’n gepynigde, honende glimlaggie – sy mondhoeke is te stram om beweegliker te wees. Sy gesig slaan in steeds opvallender onreëlmatige rooi kolle uit. Jonah Voorsanger skud sy lang hare terug. Kruis sy bene. Steek ’n sigaret aan. Hervat sy gesprek.

      “Elke enkele man met wie daardie vrou deurmekaar was, was ’n wimp en ’n drol!” sê Maria Mulder met groter nadruklikheid. Sy rig haar woorde tot niemand in die besonder nie. In elk geval nie tot iemand buite haar onmiddellike kring nie.

      “Moordenaars!” sê sy. “Hulle het haar en die kind vermoor!”

      Die hele geselskap is ’n paar oomblikke stil; Ester kyk nie in Jonah se rigting nie.

      “En nie een van hulle sal die guts hê om dit te erken nie!”

      In die kort stilte wat hierop volg, steek Jonah Voorsanger nog ’n sigaret aan, gooi sy lang hare terug oor sy skouers, herkruis sy bene, leun vorentoe, neem ’n lang teug uit sy glas en praat verder.

      “No wonder she came to a bad end!” sê Maria Mulder. “Dit was haar singular bad luck om in terrible en morally corrupt company te verval!”

      Ester vang Fonny se oog wat skuins oorkant haar sit, nader aan Jonah en sy groep. Maria Mulder skink vir haarself nog wyn.

      “Drólle,” sê sy weer. Nadruklik.

      “Draai die ander wang,” sê iemand aan Jonah se kant van die tafels.

      Daar is ’n onderlangse, verbouereerde gelag.

      “Unexamined paranoia,” sê die Wonderkind, Bennie Potgieter.

      Maria Mulder neem ’n sluk wyn. “May they rot in hell, may their bones blister!” sê sy. Dié keer effens laer.

      “Unexamined paranoia,” sê die Wonderkind weer.

      Jonah rook. Hy neem telkens groot teue uit sy glas. Hy praat onverpoos, soos dit sy manier is, want hy is verslaaf aan woorde. Ester spits haar ore, maar hoor nie alles wat hy sê nie, want sy probeer die gesprek op haar linkerhand ook volg. ’n Ligte windjie lig die hoeke van die wit tafeldoeke effens. Hierdie wind is sag, maar die koelte daarin is bytend na die dag se ongewone hitte. Die gaste vou hulle truie of baadjies stywer om hulle skouers. Jonah Voorsanger gooi reëlmatig sy lang hare agteroor. Hy vra vrae maar wag nie op antwoorde nie – hy beantwoord hulle self. Hy is ongeduldig; hy luister oënskynlik met moeite na wat mense sê, maar reageer sonder aarseling op alle opmerkings.

      Die Wonderkind mompel af en toe onderlangs in sy baard; sê iets in sy enorme, sagte bors; lag; of skud sy kop. Hy eet sonder ophou. Sal nie skroom om die hoenderbeentjies oor sy skouer te gooi nie, dink Ester (Gargantua en Pantagruel). Meneer Woodgate drink flink en lyk toenemend erger – sy stywe spotlag het verander in ’n bitter grynslag en die rooi kolle vlam hewig oor sy gesig. Maria Mulder is reeds weer druk in gesprek oor ’n ander onderwerp.

      In die kombuis sit Boeta sonder om ’n woord te sê, sien Ester toe sy weer na binne gaan. Hy roer sy koffie. (Hy roer dit aanhoudend.) Hulle sal nie vanaand gesels nie – Boeta se gemoedstoestand laat dit nie toe nie – miskien die volgende dag. Vanaand is ook nie die gepaste aand om met Fonny te praat nie. En voorts het Ester nie veel plesier aan die geselskap buite nie (ontstem deur Boeta se hewige ontsteltenis; uit haar ewewig deur die teenwoordigheid van Fonny en Jonah-hulle in hierdie onvoorsiene konteks). Voor sy gaan, stap Ester tussen vrugte- en ander bome tot by die sementdam aan die onderpunt van die groot tuin. Daar is ’n ry populiere teen die agterste draad. Een of twee vlermuise fladder tussen die bome; ’n koue reuk styg op uit die grond – spore van grond, van verrotting en blare, met die herinnering van swaar, soet blomreuke daarin vermeng.

      Sy sit ’n rukkie op ’n tuinbank hier heel onder in die tuin. (Die verligte huis net-net sigbaar deur die blare van die bome.) Vir die tweede keer die aand sien sy ’n reusemot. Hierdie een kan nouliks onderskei word van die boomstam waarop dit sit – groot, bewend, met donkerbruin en wit motiewe op die vlerke. ’n Paar uur nadat haar pa dood is, het daar ’n reusestokinsek by die voorkamer ingevlieg en ’n tyd lank roerloos op die gordyn gesit voor dit verdwyn het. Daar was niks soortgelyks toe haar ma dood is nie. Dit het meer as sewe jaar geneem vir die beeld van haar vader om vir haar tot ’n essensie te kristalliseer.

      Toe sy terugstap, hoor Ester ’n geritsel in die donker en sien op ’n verskuilde bankie twee mense in driftige, verstrengelde omhelsing wat mekaar onophoudelik en innig soen. Die vrou herken sy as Maria Mulder, maar talm nie lank genoeg om agter te kom wie die man is nie. (Miskien een van die drolle of wimps wat Selene se ondergang bewerkstellig het.)

      Jonah Voorsanger en geselskap sit nog waar hulle gesit het. Jonah praat steeds onafgebroke. Die Wonderkind en Braams du Buisson sit soos twee skildwagte aan sy sy. (Die Wonderkind met mond blink van die sousryke vettigheid van die maal en Braams onberispelik skoon, soos altyd.) In die verbygaan en vir laas hoor sy Jonah nog sê dat Selene ’n heilige was. Sy dink, op Jonah kan jy reken om so ’n bewering te maak. Sy laat hulle daar. Sy het nie ’n saak met Jonah nie. Vroeër was dit belangrik wat hy van haar dink, nou nie meer nie. Fonny en Boeta sit in die kombuis by die tafel. Boeta roer nog steeds aan ’n koppie koffie voor hom. Hy lyk uitgewas, gelouter, maar die eerste fase van oorweldigende verdriet, sien Ester, is afgeloop.

      “Sy was so ongelukkig teen die end,” sê hy. (Mymerend.) Hy slaap vannag in die huis oor. Môre, sê hy, môre gesels hulle, hy is jammer dat hy vandag in so ’n ellendige toestand was. (Lig sy kop vir die eerste keer, sy oë skóón van die trane, maar die hewige, vormlose, oorrompelende droefheid, sien Ester, het verskuif. Dit het reeds vir ’n ánder stemming plek begin maak.) Sy en Fonny kyk mekaar ’n oomblik aan – aarselend. (Wat lees hulle in mekaar se gesigte?) Ester sê sy hoop dat hulle binnekort kan gesels. Fonny knik. Ester groet hulle. Die gang is donker. Die swaar voordeur klik sag agter haar toe. Ook die voortuin is lokkend, geurig in die nag met die reuk van die donker rose en varsgesnyde gras. Sy kruip moeg tussen die koel lakens van die vreemde bed in die Gemoedsrus Kamers in. In die nag droom sy en probeer roep. Haar stem bly vasgevang in haar keel – sy kan dit nie uitkry nie.

      drie

      Die volgende dag, Vrydag, is die dag waarop Selene Abrahamson begrawe word. Ester Zorgenfliess word die oggend in haar bed in die Gemoedsrus Kamers wakker en weet aanvanklik nie waar sy is nie, nadat haar ma kortliks in ’n droom verskyn het, maar sonder om Ester se teenwoordigheid te erken.

      Op hierdie dag kom Ester vir die eerste keer die vrou met die kind teë. Terwyl sy die oggend op een van die bankies onder die plataanbome langs die historiese kerk wag vir die begrafnisdiens om te begin, kom die ma en die kind op ’n bankie langs haar sit.

      Die ma is oorgewig, sy dra ’n lang, helder, geblomde rok. Die kind is klein, haar liggaam duidelik onderontwikkel; moeilik om te sê hoe oud sy is. Sy het ’n effense boggel; haar kop is diep in die nek ingetrek.

      Die kind staan by haar ma se knie. Haar wange is vuurrooi, hoewel dit nie warm is hierdie tyd van die oggend nie. Sy huil geluidloos. Sy bal haar vuiste.

Скачать книгу