Скачать книгу

sy voorouers lê moontlik in die omgewing begrawe. Salmon het ’n band met die dorp omdat hy ’n deel van sy vroeë kinderdae hier deurgebring het. Stefan Mendelsohn kom saam om rond te snuif, die scene uit te check, om te vat wat hy kan kry: ’n karakter, ’n cue, ’n deurslaggewende beeld. Daan kan die idee van die talking head (soos hy dit noem) nie uit sy kop kry nie. Hy wil die ander ompraat om met hom saam te gaan. Maar hy het nie ’n idee waar dit is nie, hy het net gehoor dis hier in die dorp of in die onmiddellike omgewing.

      Saterdagoggend drink Ester Zorgenfliess tee in die Dorpskafee. Boeta is reeds terug stad toe. Hulle pa’s was broers – Boeta se pa was die jongste van die nege kinders. Hulle oupa en sy drie broers het voor die Anglo-Boereoorlog saam uit die Kaap in die eertydse Transvaal aangekom en hulle op die dorp Lydsaamheid gevestig. Sy en Boeta deel ’n geskiedenis wat ver teruggaan. Dit gaan terug tot by die jong kinders wat warm na hulle grafte op toulere gedra is, terwyl die lemoene en nartjies swamagtig onder die bome verpoeier op die agtergelate plase. Dit gaan terug tot by hulle Oompie Karel aan die einde van die vertroude wêreld. Iewers in daardie oneindige ruimte wat hulle eers die Bosveld noem.

      Vanaf die Dorpskafee stap Ester na die begraafplaas in die ou deel van die dorp aan die voet van die klipperige reeks koppies. Mooi is dit vanoggend hier. Stil, behalwe die gekoer van duiwe. Nadat sy ’n ent gestap het, gaan sy op een van die bankies sit, langs ’n groot sipres wat loodreg soos ’n suil na die hemel groei.

      ses

      Saterdagoggend bring ook Bennie Potgieter besoek aan die begraafplaas. Hy beweeg van die een grafsteen na die volgende en die trane stroom so oor sy wange dat hy byna nie voor hom kan sien nie. Hy vee sy neus aan sy baadjiemou af en vertoef hier en daar ’n paar oomblikke by ’n graf, lank genoeg om die inskripsie te lees.

      Hy en Ester Zorgenfliess loop mekaar toevallig hier raak nadat hy reeds bedaar het. Hulle het mekaar lank nie gesien nie en die aand by Antie Rose nie met mekaar gepraat nie.

      Ester vra hom uit na sy roman. Hy het daaraan begin skryf toe sy hom leer ken het. Bennie haal ’n dik swart A4-boek uit sy rugsak en slaan dit tussen hulle oop. Hy teken vir Ester ’n skematiese voorstelling (’n byna argitektoniese konstruksie) van die interaksie tussen ruimte en karakter soos hy dit in ’n volgende fase wil aanpak. Ester dink dat hy by al sy wonderlike vermoëns die gawe het om ongebreideld voort te borduur – soos Jonah Voorsanger – sy mentor in alle dinge. Dan word dit ’n boek van ontsagwekkende omvang, dink sy.

      Waarmee is hy nog besig? Hy haal ’n ander boek uit sy sak en wys haar die strookprent waaraan hy teken. Die puntige, energieke en ekspressiewe lyne van die tekeninge laat haar dink aan Matthias Grünewald in post-moderne idioom. Die tema lyk wel op ’n kombinasie van sadomasochistiese verlangens en gewelddadige seksualiteit. Sy mag verkeerd wees.

      As Bennie Potgieter hom by één ding sou bepaal, óf as hy dertig jaar vroeër geleef het, het iemand eenkeer gesê, het hy lank reeds ’n groot, Dostojewskiaanse roman oor die konflik tussen vader en seun, broer en broer, geskryf, omdat hy nie net die gekwelde visie het wat so ’n boek vereis nie, maar ook die vermoë om ’n storie te vertel, en die obsessiewe gedrewenheid. Maar in hierdie tyd, met sy elektroniese afleidings, laat die Wonderkind sy energieë voortdurend versnipper deur die talle ander opsies en kanale en eksperimenteringsmoontlikhede wat hom interesseer en waarin hy homself stort. Maar miskien, het die persoon toegegee, sou Bennie hom in ’n ander tydperk ook laat aflei het.

      Kom hy dikwels in die begraafplaas? Bennie lag (sag), haal sy skouers op, kyk anderpad en sê, ja, hy kom gereeld met sy pa om blomme op volkshelde en familielede se grafte te sit.

      Ester Zorgenfliess sit op die koue klipbankie langs die Wonderkind. Haar liggaam voel solied. Die nek groei stewig uit die skouers. Die skouers is twee hoekpilare. Die borskas daal sag op en neer. Die sagte geslag rus teen die bankie. Die oogballe agter die ooglede (wanneer sy dit een of twee keer liggies aanraak) behou nog hulle jellieagtige vastigheid.

      Sy vra hom uit na die begrafnis wat sy die vorige dag misgeloop het. Bennie Potgieter lag weer, kyk weer weg, skud sy kop en Ester wonder wat hier verswyg, of gesuggereer word. ’n Diep, geurige koelte styg uit die grond op. ’n Reuk van gedistilleerde verrotting waarvan die komplekse assosiasies wat dit inhou Ester duiselig maak. Voel hy dit ook, wil sy vir die Wonderkind vra, hoe die koelte hulle liggame ongemerk binnedring?

      Ester is opnuut verbaas oor die jeugdige ongevormdheid van Bennie Potgieter se liggaam (en die byna infantiele rondinge van sy skoene) in teenstelling met die donker, welige mansbaard. Die veters van sy hardloopskoene is nie heeltemal tot bo ingeryg nie. Hy lyk of hy in sy groot, geruite baadjie geslaap het. Sy blik is soos altyd ontwykend agter die bril met die swaar, onvleiende raam. Hy is onbeweegliker as wat sy hom onthou, miskien ook stroewer. Sy dink dat sy nie veel van hom weet nie. Hulle was nooit só goed bevriend nie.

      Jonah vind Selene se dood baie erg, sê hy ineens. Sy wag vir hom om hierop uit te brei, maar hy doen dit nie. Sy het altyd aangeneem dat Bennie se bewondering, en miskien ook sy onuitgesproke erotiese begeertes en angste, uitsluitlik op Jonah Voorsanger gerig is.

      Kort hierna groet hulle, en slaan elk ’n eie koers in. Laatmiddag bel Ester vir Fonny Alexander by Antie Rose se huis en vra of sy saam met haar die aand na die Steynhuis wil gaan, want in haar wandeling deur die dorp het sy op plakkate gesien dat die musiekgroep Jan de Dood en sy Bende vanaand die gaskunstenaars daar is. Van Jan de Dood weet Ester, maar sy het hom nog nie sien optree nie, en sy vind dit ’n onverwagse bate dat sy optrede in die dorp met haar besoek saamval.

      sewe

      Tussen Ester Zorgenfliess se besoek aan die begraafplaas die oggend en haar besoek aan die Steynhuis die aand, beweeg sy die hele dag deur die dorp. Van die begraafplaas (waar sy Bennie Potgieter agterlaat), stap sy verby die poskantoor; verby die stadhuis met kloktoring, en kanonne uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog; links in Steynstraat af tot onder in die dorp, waar die Saterdagoggend-drukte die merkbaarste is; en weer terug met Reitzstraat, verby die begrafnisondernemers op die hoek (waar Selene Abrahamson opgebaar gelê het), tot in Kerkstraat, waar die mense nog steeds by die openbare telefone in rye wag om te bel, of in groepies rondsit en -staan, en uitgelate lag en gesels. Sy drink ’n tweede keer tee in die Dorpskafee; sy drink later koffie op die stoep van die Grand Hotel; sy eet ’n toebroodjie in ’n kafee met geruite tafeldoekies.

      Sy hou haar oë oop vir nog mans met waentjies, soos die verbete meneer Van Gogh wat die vorige dag met opgerolde doeke by haar verby is. Op pad iewers heen. Maar in die omgewing van die historiese kerk is sy veral op die uitkyk, aandagtig, vir die ma en die kind, met die vuurrooi wange, wat sy gister hier teëgekom het.

      Om eenuur is die drukte ineens verby. Die dorp loop leeg. Die lang strate word stil. Noudat daar minder menslike afleiding is, hou Ester die wisselende lig en lug met groter aandag dop. Sy kyk hoe die wolke voortdurend verander. Aanvanklik is hulle laag op die horison, sag, met geen harde rande, geen skerp skaduwees of skielike oorgange nie. Die wolke is eers so delikaat dat hulle nouliks van die blou van die lug onderskeibaar is. Later pak hulle saam, vorm dikker stapels, met ’n bruinerigheid in die soliede binneste dele – ’n beduidenis van rooi en geel, ’n warm grys. Gaan dit reën?

      Sy loop deur die lang, stil dorpstrate. Sy dink: Op Bennie Potgieter kan jy reken om ’n ontsaglike boek te skryf; op Jonah Voorsanger kan jy reken om herhaaldelik en hiperbolies te oordryf. Die Piet-my-vrou roep: Weet-weet-weeoo. Die tuinduif roep: Koe-roe-koe. Die tortels roep: Koekoer-doek. Die hemel raak wyer en oper. Die wolkstapels beweeg weg, in ’n oostelike rigting.

      Sy dink: Lig bepaal die vastigheid of onvastigheid van vorms. Dit bepaal die intensiteit van kleur en die diepte van skaduwees. Die een lig is hemels – dit lig vreugde en genieting uit; ’n ander lig is vlak, geel, héls.

      Sy kyk op na die wolke, na die ganse hemel van einder tot einder; sy kyk af na die grond voor haar voete. Die grond het hier ’n ander kleur; die gras groei pollerig. Die insekte is skigtiger. Die oorheersende kleure is okers, sandgele en blonde pienke. In die omgewing buite die dorp is daar oorlogsgrafte; sy ken nie die geskiedenis van die omliggende gevegsterreine nie.

      Laatmiddag word dit skielik koel. Die hemel verbleek, raak

Скачать книгу