Скачать книгу

bo op die plato kom, net voor mens by die grafte kom, want Jakes sê hy sien nie kans om tussen die grafte te drink en sy hare te laat hang nie. Hulle het bier saamgebring en sprei Salmon se reisdeken uit in ’n oop area tussen doringbome en groot rotsblokke. Daan begin dadelik met die saak wat hom nou al dae lank interesseer. Hy wil die ander oorreed om saam met hom te gaan; hy het ’n kontakadres. Sodra hy die adres van die man by die mense gekry het, moet hulle almal saam met hom na die talking head gaan. Die ander bly halfpad geïnteresseerd, halfpad oorgewen. Bowendien het elkeen iets anders op die gemoed; elkeen het sy eie gedagtegang en agenda. Salmon is rusteloos soos ’n hond wat senuweeagtig agter ’n spoor aan is, snuf in die neus gekry het en kort-kort fyn tjankgeluidjies maak (dink Jakes).

      Hulle sit op die reisdeken, hulle leun teen die rotsblokke aan; hulle rook hulle sigarette en drink die bier. Daan se vriend, Krisjan, is rustig, effens aarselend in sy manier. Hy is óf ’n vlermuiskenner, óf ’n geoloog – nie Salmon óf Jakes is seker nie. Hy vertel tydsaam en afgemete dat hy die vorige nag geteister is deur slegte drome en dat hy die oggend ’n gedig geskryf het. Waaroor gaan die gedig? vra Jakes en Krisjan sê dit noem ’n paar dinge op wat hy die oggend waargeneem het: ’n hond wat blaf, ’n voël wat sing, ’n wolk in die lug.

      Daan vind die onbeskadigde, heeltemal intakte vel van ’n slang aan ’n tak van ’n doringboom. Selfs die geskubde vel oor die oog het behoue gebly. Hulle neem beurte om deur die oog te kyk. Nou is julle kans om die wêreld te sien soos ’n slang dit sien, sê Daan. Hulle kyk elkeen deur die dun, skubbige oog. Deur die oog van die slang, sê Jakes. Moeiliker deur die oog van die slang, sê Daan, en steek vas. Hoe gaan dit verder? vra hy. Moeiliker vir ’n slang deur die oog van ’n naald, sê Salmon, as vir ’n ryk man om die koninkryk van die hemele te betree. Dis vir ’n arm man ook moeilik, sê Jakes. Hoe lyk die wêreld vir julle, vra Daan, deur die slang se oog? Dis half-blurred, nè?! sê Stefan. Dis sag, sê Krisjan, met effens afgeskuinste kante.

      Behalwe die slangvel maak hulle nog ’n paar ander klein ontdekkings in die omgewing: ’n ongewone klip, ’n landskulp, ’n koeëldoppie. Hulle praat oor Jan de Dood (ter wille van wie hulle eintlik hier is – almal, behalwe Daan). Hulle wonder of hy vanaand sy opwagting sal maak. Salmon sê hy twyfel, hy het ’n gevoel die man wys nie weer sy gesig hier nie. Hulle praat oor die Oorlog – na aanleiding van die koeëldoppie, maar ook na aanleiding van die stand van die wolke (dromerige stapels) en die stemming van die veld. Krisjan vertel dat ’n klein groepie Boere onder aanvoering van ’n generaal Schutte die Engelse hier net buite die dorp in ’n hinderlaag gelei het. Krisjan vertel een en ander omtrent hierdie generaal Schutte. Dit is nie een van jou hoëprofiel-generaals nie, sê hy, maar ’n interessante man. Hy het onlangs sy dagboek ter insae gehad, sê Krisjan. Dit lyk asof dit ’n man was met ’n ruim algemene kennis en ’n poëtiese geaardheid, al klink dit nie versoenbaar met ’n Boeregeneraal nie. Waarom sou dit nie wees nie? vra Jakes. Omdat die bloudruk vir Boeregeneraals ’n kragdadige man soos generaal De Wet is, en dié man was nogal melancholies, sê Krisjan, iemand wat emosioneel swaargekry het in die oorlog en dit nie weggesteek het in sy dagboek nie. (Jakes dink, Krisjan het self ’n melancholiese sfeer om sy hoof.) Waar het Krisjan die dagboek ter insae gekry? vra Salmon. Sy ma het dit onlangs vir hom gewys, sê Krisjan, generaal Schutte was ’n oom van haar – haar pa se oudste broer. Die bestaan van die dagboek is waarskynlik doodgeswyg al die jare – hy glo nie sy pa het dit ooit gelees nie omdat dit nie ’n ondubbelsinnige verslag van oorwinningsdrif en krygstaktiek is nie. Wanneer het hy tyd gekry om te skryf? vra Daan. Die generaal kan jou nie nou sien nie, sê Jakes, hy skryf nog eers in sy dagboek. Die aanval moet afgelas word, sê Stefan, die generaal skryf ’n gedig. En wat het met hom gebeur ná die oorlog? vra Salmon. Hy het dit nie oorleef nie, sê Krisjan. Hy is hier iewers in die omgewing begrawe.

      Jakes se gedagtes dwaal af. Hy vind dat hy deesdae soms moeite het om te konsentreer. Hy dink die afgelope tyd weer dikwels aan sy trippie na die hel, sy hellevaart; sy waterskeidingservaring. Dit is nou al meer as sewe jaar gelede. In sommige opsigte by tye (onverwags) so helder as indertyd. ’n Volslae psigotiese episode. ’n Tydperk van volslae, uitgebreide, uitbundige, obsene, losbandige waansin. And he lived to tell the tale. Behalwe dat hy die verhaal nie dikwels vertel nie, want mense hoor dit nie graag nie. Hulle skrik as hulle dit hoor, hulle deins terug vir die detail. Mense wil nie hoor van die verlies van beheer nie. Veral nie in dié land nie. En miskien tereg ook. Wat wil die man op straat weet van hellevaarte, van jou kop wat een oggend onverwags en sonder sigbare aanleiding uithaak? Krisjan Steenkamp praat intussen stadig. Hy vertel van die soort vlermuise wat in die omgewing aangetref word. Hy beskryf die geologiese formasies. (Nou weet Jakes en Salmon nog steeds nie of Krisjan ’n vlermuiskenner of geoloog is nie.) Maar kort voor lank begin Daan weer met sy betoog soos ’n terriër wat ’n haas aan die nek skud – hy kan sy obsessie met die vooruitsiende man nie laat gaan nie.

      Later praat hulle oor Bennie Potgieter en Braams du Buisson. Hulle is soos die Goncourt-broers, sê Stefan. Op watter manier? vra Jakes. Vergeet van die Goncourt-broers, sê Salmon (onderlangs) – Bennie Potgieter dink hy is Flaubert. Miskien is hy dit, sê Jakes, is hy nie veronderstel om ’n merkwaardige literêre talent te hê nie?! Salmon word rooi; hy sê niks. Talent, sê Stefan, talent is nog nie the real thing nie. Ons het almal talent, maar wat van ons talent gaan word, dit moet ons nog sien.

      Die wolke wat vroeër dromerig opgestapel het, begin geleidelik uitmekaar dryf en weswaarts beweeg. Hulle praat oor Sid. Daan sê hy het laas nog ’n spesiale sigaretjie by Sid gekoop. Stefan sê Sid was nie baie versigtig nie. Salmon sê hoe moes Sid versigtiger wees? Stefan sê hy kan aan baie maniere dink. Te laat nou, sê Salmon. Los wolkies hang ylerig op die horison, die hemel het leeggeraak en daar kom ’n koelte oor die veld. Daan kry hulle oplaas so ver om in te stem om die adres van die sienerman by die kontakadres te probeer kry voor hulle vanaand weer na die Steynhuis gaan.

      twaalf

      Fonny Alexander kom Sondagaand met haar bakkie na Ester en van daar stap hulle op Ester se versoek na die Steynhuis omdat dit ’n allermooiste aand is, met die klimmende (groeiende, uitdyende) maan, aanvanklik skugter en later flagrant, en die kriekgesang wat geleidelik in drif en oorgawe toeneem, en die onmeetlike (ongekende) wye hemel (ongeken vir Ester wat vergeet het hoe groot die hemel hier kan oopmaak – in teenstelling met die stad). Fonny is weer in swart geklee met haar hare in bande en beperkings vas (’n weduwee) en vreemde skaduwees oor haar gesig afgelei, nie spraaksamig nie soos die vorige aand. (Ester verbaas dat Fonny ingestem het om weer met haar saam te gaan.) Geen newel vanaand om die swellende maan nie en geen klamheid in die lug te bespeur nie, en nie meer as ’n hand vol brokkelrige, onvlieserige wolkies in die lug nie, en nie die geringste teken vanaand meer van die digte mis wat die dorp gisteraand bedek het nie. Ester het weer die vorige nag van haar ma gedroom en sy wonder: word hier ’n motief ingelui? Haar oë is branderig en haar hart skommel vreemd onbestendig in haar borskas.

      Sy en Fonnie stap vinnig. Fonny se profiel is afgewend, die swart sjaal weer styf (beskermend) om haar skouers gedraai, haar kop effens vorentoe gebuig. Eers sit hulle binne, by ’n tafeltjie in die hoek onder ’n skildery van minnaars (’n hewig ekspressiewe werk). Later sal hulle op die stoep gaan sit wanneer dit te druk raak binne. Dit is die laaste keer dat Fonny Ester na die Steynhuis vergesel.

      Die man met blosende vel wat oor Kwaadwilligheid skryf, is weer vanaand hier. Maria Mulder en geselskap (lang vrou met leerbaadjie en nors vrou met groot ken) is weer hier. Die kunshandelaar (handelsprins) Simon Vouet en sy uitgebreide geselskap is weer hier. (Simon Vouet met fletsblou oë en ’n Buck Rogers-kakebeen; lank, blond, energiek en elegant; sy good looks nét besig om te begin verweer.) Die rap poet wat nooit eet nie, is hier. Die exiled dramaturg is weer hier, asook Melvin April, skrywer van magistrale historiese romans. Almal waarskynlik om Jan de Dood te sien optree; almal die vorige keer deur Fonny vir Ester geïdentifiseer. Jakes Jones, met blinkdraadbroek en werkersboots, stekelrige hare en klein mondjie, is weer hier, soos die vorige aand in die geselskap van die jonger man met die krullerige, donker hare, die man met die bloubaard, en die man met kortgeskeerde hare en ’n bril, wat kortaf in Fonny se rigting knik toe hy haar sien.

      Later die aand (Jan de Dood het nog nie sy verskyning gemaak nie) gaan Fonny en Ester op die stoep sit waar dit koeler en minder rumoerig is. (Die kriekgesang net nog nie heeltemal deur

Скачать книгу