Скачать книгу

haat dit as haar shrink soos ’n artikel in Cosmopolitan klink.

      “Ja,” antwoord sy stuurs. “My bril het afgeval.”

      “Ekskuus?”

      “Die dag toe ek my kop in die oond gedruk het.”

      ’n Vlaag verwarring waai oor die blou damme, ’n rimpeling roer die water, en Griet glimlag.

      As soon as you stop waiting for him and focus your attention on your­self, life will improve no end, het sy ’n halfuur gelede in Rhonda se wagkamer gelees. Show me a fairy tale with a beautiful woman in it and I’ll show you a bimbo in limbo waiting to be released by the love of a good man. Sy het die tydskrif geïrriteerd toegeklap en ’n sigaret aangesteek.

      Nou smag sy na ’n sigaret, maar sy het haarself verbied om in Rhonda se spreekkamer te rook. ’n Mens moet soms dissipline hê.

      “Dis asof ek nog altyd deur die spreekwoordelike rooskleurige bril na die wêreld gekyk het – so ’n wonderlike, wasemrige wêreld – en toe val die bril skielik af. En toe sien ek myself vir die eerste keer soos ek is. Nie soos ek graag wil wees nie. Dit was ’n helse skok.”

      Help me, Rhonda, het die Beach Boys gesing, Help me, help me, Rhonda. Dis ’n wysie wat dikwels deur Griet se kop draai wanneer sy na die Mickey Mouse-horlosie kyk. Haar uur is amper om.

      “Dit het uiteindelik tot my deurgedring dat ek dalk nooit ’n kind gaan hê nie, dalk nooit ’n groot roman gaan skryf nie, dalk nooit eens ’n suksesvolle verhouding met ’n man gaan hê nie! Ek het nog nooit so fokken useless gevoel nie.”

      “Jy het amper sewe jaar saam met ’n man deurgebring,” troos Rhonda op haar rooi rusbankie. “Julle was drie jaar getroud. Jy kan nie nou maak of alles een groot mislukking was nie.”

      “Jammer,” mompel Griet, “maar dis hoe ek voel. Dis soos ’n fliek met ’n swak einde. Jy onthou die einde, maak nie saak hoe goed die res was nie.”

      It was not clear why the ice was green. Dit was die laaste sin in die beriggie wat sy vanoggend gelees het, wat haar weer hoop gegee het. Daar is tog nog dinge wat selfs haar man en haar shrink nie kan verklaar nie.

      En hoekom is die kind se oë dan so groot?

      Daar is dae soos vandag, dink griet, wanneer sy voel asof sy in die middel van ’n massiewe kinderpartytjie vasgevang is. Elke vrou in die supermark het ’n kind wat aan haar hand hang of in haar trollie tussen die kruideniersware gepak is. Asof jy ’n kind soos ’n lewensgroot gemmerbroodmannetjie van ’n rak af kan koop.

      En asof die swetterjoel kinders nie genoeg is nie, tart elke rak in die supermark haar oor haar mislukking as vrou. Bababottels en weggooidoeke en Purity-kos in verskillende kleure en geure. Kleuterspeelgoed en troeteldierkos, inkleurboeke en vetkryte, grondboontjiebotter en goue stroop. Alles laat haar aan kinders dink.

      Op sulke dae beny sy die Bybelse Sara. Of Lorca se Yerma. Hulle het ten minste die vernedering van die moderne supermark vrygespring.

      Sy stap doelgerig verby die medisynerak, verby die Soen-dit-beter-met-Band-Aid en die Kom-ons-dokter-dit-met-Dettol, en mik na die vervelige waspoeierrak. Sy voel soos Rooikappie – met ’n rooi T-hemp aan haar lyf en ’n oranje plastiekmandjie onder haar arm – wat die versoekings van die bos moet weerstaan. Haar enig­ste troos is dat sy nie ’n swaar trollie hoef rond te stoot vandat sy nie meer vir haar man en sy kinders inkopies doen nie.

      Dis onmoontlik om te verduidelik hoe alles in haar saamtrek elke keer dat sy aan die kinders dink wat sy verloor het. Vier van hulle: drie van haar man, en die eerste een wat sy lank voor hom vrywillig afgestaan het. En nou die twee stiefseuns ook nog. ’n Hele half­dosyn kinders, vier uit haar eie lyf en twee uit haar hart, almal ver­lore vir haar.

      Sy kan dit nie eens met haar shrink bespreek nie.

      Sy kies die goedkoopste waspoeier omdat die advertensies vir haar almal eenders klink. Idiotiese vroue wat groter genot uit skoon wasgoed as uit seks kry. Can you see the difference?

      Sy is nie spyt oor die aborsie nie, dink sy dikwels. Sy het nie aan die fetus gedink as ’n mens nie. Sy het dit nie eens ’n naam gegee nie.

      Maar sy wonder, vandat sy die ander verloor het. Sy wonder of sy gestraf word omdat sy daardie een nie wou hê nie. En sy word kwaad vir haarself omdat sy nie haar Calvinistiese kettings kan los­skud nie.

      Here, sy was twintig jaar oud, wat kon sy doen? Die arme mede­pligtige was skaars ’n jaar ouer, die eerste man met wie sy ooit ge­slaap het, verbeel jou! ’n Bruingebrande, blonde seun op ’n surf­board. Dit was ’n ramp wat haar skitterende studentejare, haar bril­jante loopbaan, haar hele blink toekoms sou bederf.

      Sy het hom nooit eens gesê sy is swanger nie. Sy sien hom soms in die stad, ’n suksesvolle sakeman in ’n silwerblou BMW, getroud, met twee kinders, en wonder wat hy sou gedoen het as hy geweet het. Sy wonder hoeveel mans wêreldwyd nooit sal weet dat hulle minnaresse aborsies gehad het nie.

      Dis moeilik genoeg om ’n geboorte met ’n man te deel, om hom te laat verstaan hoe dit voel om op so ’n dierlike manier uitmekaar geskeur te word. Dis amper onmoontlik om ’n aborsie met ’n man te deel.

      Vat Louise, byvoorbeeld. Haar vriend het haar in ’n agter­straat in Woodstock afgelaai, ’n blanko tjek in haar hand gedruk en haar voorspoed toegewens. Drie dae later het hy eers weer by haar woon­stel opgedaag. Griet se suster Petra is nog ’n geval. Háár vriend het saam met haar Lesotho toe gery en saam met haar in ’n hotelkamer gewag dat sy ophou bloei – maar ’n maand later was die verhou­ding verby. Mens kan nie wen nie, het Petra gehuil. Daar is nie so iets soos ’n suksesvolle aborsie nie. Iets bly altyd in die slag.

      Griet stap verby die troeteldierrak en kyk vinnig weg toe ’n prentjie op ’n blik hondekos haar oog vang. Pas op vir die wolf, het Rooikappie se ma haar gewaarsku, pas op vir enigiets wat soos ’n wolf lyk. Griet wou vreeslik graag ’n hond hê, iets om te vertroetel in die plek van ’n kind, maar haar man wou niks hoor nie. Pas op vir mans wat nie van honde hou nie, het haar ma haar gewaarsku.

      Natuurlik glo sy in ’n god, het sy met haar siniese man gestry. Jy kan nie in hekse en engele glo sonder om ook in ’n god te glo nie. Maar haar god is ’n god van liefde, nie ’n towenaar wat jou straf om­dat jy as twintigjarige student ’n onwettige aborsie ondergaan het nie. Haar man het in niks geglo nie, nie in towenaars nie, nie in gode nie, nie eens in homself nie.

      Sy vermoed die eerste een was ’n seun. Sy wéét die volgende twee was dogters. Sy het hulle name gegee, Nanda en Nina, en ure lank met hulle gesels. Hulle gewaarsku teen wolwe en mans wat nie van honde hou nie. Snaaks hoe jy teruggryp na jou ma se onsinnigste raad wanneer jy self ’n dogter kry. Jy sal enigiets doen om haar te beskerm, haar vertel sy moenie met nat hare gaan slaap nie, ’n goeie fee vra om al haar wense waar te maak, jou siel aan die duiwel ver­koop om haar geluk te gee.

      Dit het nie gehelp nie. Sy het hulle net drie maande gedra. Die enigste bewyse dat hulle ooit bestaan het, is die sonarfoto’s van twee fetussies so klein soos Duimpie, die sprokieskind.

      Sy stap verby die yskaste vol vleis. Miskien sal sy nie so bloed­dorstig kwaad vir haar man voel as sy ’n vegetariër word nie. Sy aar­sel voor die koffierak. Miskien sal sy seksueel nie so gefrustreerd voel as sy ophou om haar koerasie met kafeïen die hoogte in te jaag nie. Sy kies ’n pakkie Blue Mountain-filterkoffie en laat sak dit ge­late in haar plastiekmandjie.

      Tog vreemd dat sy sonder kafeïen en nikotien en alkohol kan klaarkom elke keer dat sy swanger raak. Asof haar hele lyf so hard werk om ’n mens te maak dat daar net nie energie oor is vir onge­sonde obsessies nie. Die moederinstink moet een van die sterkste magte op aarde wees, sterker as die leër van enige land, magtiger as toorkuns of tegnologie. Sterker en magtiger – en onbegrypliker – as selfs die mens se selfvernietigingsdrang.

      Die vierde een was die seun wat haar hart gesteel het. Hy kon ook nie anders nie, hy het ’n volle nege maande lank al hoe nader aan haar hart gekruip, totdat sy teen die einde snags gesukkel

Скачать книгу