Скачать книгу

het haar skouers opgetrek.

      “Ek kan maar net hoop hy onthou die sprokie.”

      Die Struggle, dink Griet terwyl sy na haar kantoor vol kinderboeke stap, die alewige Struggle. Sy het al vir Jans probeer oortuig dat sprokies niks minder as people’s culture is nie. Stories wat uit die mense en vir die mense ontstaan het. Dieselfde glashelder grense tussen goed en kwaad – prinse en drake, swart gevangenes en wit bewaarders, feë en hekse, township-kinders en voorstedelike huis­vroue – dieselfde eenvoudige aanbieding, dieselfde morele lessies. Maar om heeldag te sit en sprokies spin, gee haar natuurlik nie veel geloofwaardigheid in die Struggle nie.

      Sy sal vanaand haar balkondeur wyd oopgooi, besluit Griet ter­wyl sy by die verkeerslig oorkant haar kantoorgebou wag, en sy sal saam met die wind wegvlieg. Aljander, aljander, so deur die wolke, bo-oor die slapende stad saam met ’n vurk en ’n lepel, bok-bok oor die mik van die maan. Op, op, op tot by die plat blad van die berg, waar die hekse waarskynlik op Allerheiligeaand sou bymekaar­kom. Om hierdie reusetafel tussen die wolke, met ’n leeu en ’n duiwel wat aan weerskante wag hou. Wie sou dit waag om hulle weg te jaag? Nie eens die engele nie.

      Domhans en die goue gans

      Die vrou, heks of opstandige engel of doodgewone sondares, het in ’n verskriklike land gewoon. Die son het altyd ge­skyn, behalwe snags wanneer die maan geskyn het, en die mense in die land het soos brode in ’n oond van kleur verander. Van roomwit tot brosbruin tot roetswart, of van roospienk tot papawerrooi, of van bottergeel tot borriegeel. Soms sommer van blou tot groen. Maar die ergste sondaars het nooit verkleur nie. Hulle het net witter en witter gebleik.

      Dis wat Griet vanmiddag op ’n vel papier in haar kantoor vol kin­derboeke geskryf het. Dit voel soos lank, lank gelede, dink sy met haar ken in haar hand en haar elmboog op ’n kroegtoonbank. Sy het die papier opgefrommel en haar vriend Jans gebel: “Wil jy saam met my ’n drankie kom drink?”

      “Wat’s die geleentheid?”

      “Dit was gister die Dag van die Dooies.”

      “Kan ons nie maar soos gewone mense drink net oor dit Vrydag­aand is nie?”

      “Dis ’n feesdag in Suid-Amerika! Die Mexikane koop suikerbrood­geraamtes en dek ’n plek aan tafel vir ‘afwesige gaste’. Hulle glo dis die dag waarop die dooies hemelse verlof kry om op aarde te kom kuier.”

      “Ek kan nie aan ’n beter rede dink om my dronk te drink nie.”

      “OK, Jans, dis Vrydagaand, ek het nog ’n week op my eie oor­leef, en as jy nie saam met my kom drink nie, donder ek jou dood as ek jou weer sien.”

      En nou, verskeie drankies later, onthou sy dat sy iets belangriks vir hom wou gesê het, maar sy kan nie dink wat dit was nie. Haar kop voel soos ’n blom wat te swaar geword het vir sy stingel.

      “Ek is gatvol vir slim mans,” mompel sy in haar hand. “Ek soek ’n dom man. Dom en sterk.”

      Jans kyk haar onbegrypend aan deur sy ronde goueraambril wat tot op die punt van sy neus afgesak het. Hy het nog sy werkklere aan, ’n konserwatiewe donker pak en wit katoenhemp en onopval­lende paisleydas, maar die hempskraag is oopgeknoop en die das is losgewoel. As Jans nie elke dag ’n pak moes dra nie, het Griet al dik­wels gedink, sou ’n mens hom maklik vir ’n boemelaar kon aansien. Hy lyk altyd asof hy twee dae laas geskeer het en drie dae laas sy hare gekam het. En vanaand lyk hy boonop asof hy vier dae laas ge­slaap het, sy mond moeg en kneusplekkringe onder sy oë.

      “Ek bedoel nou nie die village idiot nie, Jans. Hy moet darem kan lees en skryf. Ek vertrou nie mans wat nie lees nie. Dis miskien waar my hele probleem begin het. Plaas dat ek kyk of hy van honde hou, soos my ma my altyd gewaarsku het. Of hoe sy onderbroeke lyk.”

      Haar suster Petra is ’n kenner van mans se onderbroeke. Sê dit spreek boekdele. Moet nooit ’n man met gate in sy onderbroek ver­trou nie. Sy hou ook nie eintlik van rooi onderbroeke nie. Sê dis ’n diktatorskleur.

      “Maar ek kyk na sy boekrak,” sug Griet.

      “As hy Camus lees, is hy OK?” vra Jans, en dit lyk of ’n lig agter sy brilglase aangeskakel word.

      “So iets, ja.” Griet vat nog ’n sluk wyn en skud haar swaar kop. “En ek sien elke keer my gat.”

      “Ons praat nou nie net van George en die onlangse verlede nie?”

      “Nee, ons praat oor mans in die algemeen, die hele boksem­dais. Ek het nog nooit ’n ordentlike verhouding gehad met ’n man wat nie ’n helse hoop intellektuele pretensies het nie. Dit sê natuurlik heelwat van my eie intellektuele pretensies. Maar die beste one-night stand van my lewe was met ’n gimnasiumafrigter wat niks swaarder as die agterblad van ’n Sondagkoerant gelees het nie.”

      Dit was natuurlik lank gelede, toe sy nog haar beenhare gereeld geskeer het. Die arme afrigter sou sy indrukwekkende ereksie heeltemal weggeskrik het as hy haar vanaand moes sien, haar hare in ’n plat poniestert en haar lipstiffie alles aan haar wynglas afge­smeer, klouend aan ’n kroegtoonbank. Dan is dit wat mense op ’n Vrydagaand doen. Daar was ’n tyd toe sy ook op Vrydagaande uit­gegaan het, toe sy nog maskara gedra het en met gespierde afrigters geflirt het, maar dit moet in ’n vorige lewe gewees het.

      “Sê nou jy kon saam met hom woon?” Jans staar na die rye en rye bottels agter die kroegtoonbank, eindeloos geweerkaats in skitterende spieëls, ’n alkoholiese visie van die hemel. “Hoe lank sou jy uithou voordat jy wou gil elke keer dat hy sy mond oop­maak?”

      “Vir altyd – as ek geweet het wat ek nou weet. Die probleem met slim mans is dat hulle te veel praat en te min naai. Die probleem met dom mans is gewoonlik dieselfde. Maar so nou en dan kry jy een wat sy mond kan hou en sy lyf kan gebruik. Dan moet jy hou wat jy het – en op jou tande byt elke keer dat hy iets stupids sê. Maar dis maar wat jy met enige man moet doen.”

      All men are the same in the light, skryf Louise uit Londen. Graffiti wat ek in die Tube op pad werk toe gelees het. Maar ek sien nooit meer lig nie, wat nog te sê van ’n man in die lig. Dis donker as ek soggens werk toe gaan en donker as ek saans huis toe kom. Dit gaan waaragtig the winter of my discontent word, hier in die land van Shakespeare en die Sex Pistols waar ek nog altyd wou woon. Dis vreeslik as jou wense waar word.

      “Maar ek is ’n sucker vir ’n slim man. Ek dink altyd dalk is hy ’n Ein­stein of ’n Shakespeare en dan kan ek sy muse wees! Agter elke man, jy weet, al daai clichés waarmee ek grootgemaak is. Immortality by proxy! Ek het gedog George is ’n genie! ’n Filosofiedosent – how lucky can a girl get? Ek het gevoel soos ’n voëlkyker wat op die laas­te lewende dodo afkom! En toe vind ek uit hy wil nie ’n muse hê nie, hy wil ’n ma hê. Iemand om die gate in sy onderbroeke heel te maak.”

      “Miskien is dit deel van ’n muse se rol,” troos Jans terwyl hy ’n kelner se aandag probeer trek om nog ’n bottel wyn te bestel.

      “Nee, daar’s ’n hemelsbreë verskil tussen ’n muse en ’n ma.” Sy skuif haar glas na hom sodat hy solank ’n sluk van haar wyn kan kry. “Jy kan nie jou muse in Florence Nightingale verander nie. Jy kan nie verwag dat Shakespeare se ‘dark lady’ ook ‘the lady with the lamp’ word nie!”

      “You can’t have your cake and eat it?”

      “Nee, jy kan soveel koek eet soos jy wil, maar jy kan nie verwag dat ’n sjokoladekoek en ’n melktert dieselfde moet smaak nie.”

      Griet begin skud van die lag en besef dat sy beslis genoeg gedrink het. Maar sy lig haar wynglas vasberade, sluk dit leeg, en voel hoe sy op ’n wolk van roekeloosheid wegsweef. Jans lyk vir haar al hoe aantrekliker, met sy bril so laag op sy neus en die donker skynsel van ’n stoppelbaard om sy mond.

      “Weet jy, ek het nou die dag iets gelees oor ’n blom wat my nogal aan jou laat dink het,” sê Jans. “Het jy al ’n wildemagriet gesien?”

      “Ken jy die storie van die sad prinses?”

      “Dis

Скачать книгу