ТОП просматриваемых книг сайта:
Griet skryf ’n sprokie. Marita van der Vyver
Читать онлайн.Название Griet skryf ’n sprokie
Год выпуска 0
isbn 9780624078425
Автор произведения Marita van der Vyver
Жанр Контркультура
Издательство Ingram
Die ergste van al haar sondes was dat sy mense met woorde verlei het. Sy was ’n vrou wat met sinne wou speel soos Salomé met haar sewe sluiers. Sy was ’n vrou wat wou skryf omdat sy geglo het die pen is magtiger as die penis.
Sy het nie besef dit is die agtste doodsonde in ’n falliese wêreld nie.
Sy was nie onvrugbaar soos so baie ander sondaresse in so baie ander sprokies nie. Sy het maklik swanger geword, keer op keer, maar sy moes haar kinders elke keer aan die dood afstaan. Sy kon hulle verwek en sy kon hulle dra, maar sy kon hulle nie in die lewe bring nie.
Ná vier swangerskappe was sy steeds kinderloos.
Dit was so ’n verskriklike straf dat sy soms soos die ganswagtertjie van lank gelede in ’n oond wou klim om haar lot te bekla. Maar dis deesdae nie meer so maklik om in ’n oond te klim nie. En jy kan nie meer reken op ’n held om jou betyds uit te haal nie.
Dis tyd om kantoor toe te stap, besluit Griet terwyl sy na die groeiende gedreun oral om haar luister. Dis ’n onbeskryflike geluid, die geluid van ’n dier wat wakker word, asof die berg waarteen die stad soos ’n bosluis klou, sy rug uitrek en sy spiere strek. Sy slaan haar Creative Arts Diary toe en staan op om haar handsak in die slaapkamer te gaan haal, tussen die koerante en tydskrifte wat oor die vloer gestrooi lê.
Sy sal iemand vra om Vrydagaand iewers saam met haar ’n drankie te drink, besluit sy toe sy haar leë koppie op die taai kombuistoonbank los. Enigiemand, dink sy toe sy die voordeur agter haar toetrek.
Sy mis seks, weet sy op hierdie Allerheiligeoggend met ’n verwoestende sekerheid. Selfs Halley se Komeet is ’n beter opsie as die total eclipse of the moon waarin sy die afgelope paar maande probeer lewe.
Sy mis haar man, sy mis haar huis, sy mis die voorspelbaarheid van Vrydagaande saam met hom en sy kinders. Michael en Rafael het vir die naweek kom kuier en sy het vir hulle kos gemaak en hulle het geëet terwyl hulle TV kyk, MacGyver en die nuus en Police File en ’n fliek, en sy het die leë borde weggedra en haar man het op die rusbank aan die slaap geraak en sy het saam met die seuns na hulle slaapkamer gestap en die lakens hoog oor hulle lywe opgetrek totdat net hulle oë uitsteek, en gelag vir die gesigte wat hulle trek elke keer dat sy hulle nag soen. Sy moet mal wees, dink sy opstandig, maar sy mis dit.
Dit was Rhonda wat voorgestel het dat sy daaroor skryf.
“Maar niemand wil van ’n mislukte huwelik lees nie,” het sy geprotesteer. “Nie in dié land nie. Ons het genoeg ander probleme.”
“Skryf dit vir jouself,” het Rhonda gesê, onverstoorbaar soos altyd. “Nie vir ander mense nie.”
“Jy bedoel soos ’n dagboek?” Griet het haar neus opgetrek asof sy voor ’n verstopte opwasbak staan – iets wat gereeld in haar vriendin se woonstel gebeur. “Ek’s te oud daarvoor.”
“Nee, ek bedoel soos ’n storie. Verander jouself in ’n fiktiewe karakter. Dis tog wat jy heeltyd in jou verbeelding doen.”
Griet het die voorstel afgelag – of dis wat sy gedink het – maar dit moet in haar onderbewussyn vasgesteek het. Eendag, nie so lank gelede nie, was daar ’n vrou. Dit was haar eerste gedagte toe sy vanoggend wakker word. Wie op aarde begin deesdae ’n storie met “Eendag was daar”? Dit was haar tweede gedagte, terwyl sy regop beur met die smaak van die vorige aand se laaste ongeoorloofde sigaret verwytend op haar tong. Dis haar werk wat haar verstand aantas, het sy vir die hoeveelste keer besluit.
Sy verdien haar brood en botter by ’n uitgewery, in ’n kantoor vol kinderboeke, voor ’n woordverwerker waarop sy sprokies en ander fantasieverhale vertaal en verwerk en soms self uitdink. Die afgelope jaar of wat is sy besig met wat waarskynlik die omvattendste sprokiesboek ooit in Afrikaans gaan word. Dis ’n vreemde ervaring om sprokies wat eeue lank mondeling oorvertel is, met die druk van ’n klomp elektroniese knoppies in ruimte-eeuse letters op ’n persoonlike rekenaar te verander. ’n Soort mengsel van toorkuns en tegnologie.
Sy weet wat magiese realisme is, dink sy dikwels. Haar slim vriende gesels graag daaroor, maar sy ontdek dit elke dag opnuut voor haar woordverwerker. Die Suid-Amerikaners het nie die alleenreg op absurde situasies en anachronismes nie.
“Hoekom noem hulle dit ’n persoonlike rekenaar? Die enigste persoonlikheid wat myne nog ooit geopenbaar het, is ’n kil psigopatiese streep,” het sy onlangs ná ’n besonder veeleisende werkdag teenoor haar sielkundige gebieg.
“So, jy dink jou rekenaar hou nie van jou nie?” het Rhonda gevra. Ernstig soos altyd.
“Nou laat jy my weer paranoïes klink,” het sy haar sielkundige beskuldig. “Nee, dis nie wat ek sê nie. Maar net ’n psigopaat kan ’n storie waarin jy weke lank jou siel uitgestort het voor jou oë stukkend skeur en in ’n vuur gooi, sonder om ’n sweem van emosie te toon! Dis hoe dit voel as die PC ’n storie uitvee.”
Haar slim vriende sê ’n masjien kan nie menslike eienskappe hê nie. Maar jy kan ook nie altyd jou vriende vertrou nie. Haar vriende val in twee groepe, die slimmes en die malles, en sy hang iewers tussen hulle in die lug rond en sukkel om haar voete op die grond te kry. Die slimmes is regsgeleerdes en joernaliste en universiteitsdosente wat graag oor politiek en godsdiens en die nuutste Franse fliek met onderskrifte gesels. Hulle sit in stylvolle restaurante en drink verouderde wyn uit kristalglase en argumenteer oor onafhanklikheid in Namibië en tennis op Wimbledon. Hulle voete is altyd vas op die aarde, selfs as hulle dronk word. Die malles is skilders en skrywers en ander kunstenaars wat by die huis sit en dagga rook en dooswyn uit goedkoop glase drink terwyl hulle oor die Struggle en erotiese kuns en people’s culture stry. Hulle raak soms hoog op pille of ander hulpmiddels, maar hulle val altyd die volgende oggend vreeslik hard.
“Mandela laat my dink aan Hansie wat deur die heks gevang is,” het sy tydens een van vele uitgerekte restaurant-etes teenoor haar vriend Jans gebieg. “Jy weet, die een wat elke dag sy vinger deur die tralies moes steek sodat die heks kon voel of hy vet genoeg is om geslag te word.”
Jans is ’n prokureur met ’n politieke gewete wat hom dwing om vir die Struggle te werk – maar nou sit hy met ’n morele probleem omdat hy soveel geld uit die Struggle maak. Hy het ’n kothuis met geelhoutvloere en ’n kaggel gekoop, maar nou voel hy so skuldig oor soveel weelde dat hy elke naweek in die berge gaan stap en die sleutel vir sy minderbevoorregte swart vriende gee. En hy lees graag mitologie en legendes, waaroor hy gewoonlik met niemand anders as Griet gesels nie.
Dit was George wat oor Nelson Mandela se sewentigste verjaardag in die Victor Verster-gevangenis begin bespiegel het – terwyl hy vir almal aan tafel nog vonkelwyn geskink het. Anton-die-Advokaat en Gwen-die-Joernalis het in die gesprek ingeduik met die gretigheid van kinders wat wil wys dat hulle nie bang is vir diep water nie. Gwen se lover, Klaus, het spottend gesê nie een van die liberals om die tafel sal Mandela herken as hy nou by die restaurant instap nie. Nie eens ’n radical soos Jans nie. Die enigste foto’s wat ons van hom gesien het, is byna dertig jaar oud. En Anton se vrou, Sandra, het soos gewoonlik gelyk asof sy telepaties probeer luister of een van haar kinders by die huis nie dalk huil nie.
“O, dáárdie Hansie,” het Jans gesê.
“Ek hoor hy het sy eie siekeboeg waar ’n majoor in die gevangenisdiens hom twee keer elke dag medies ondersoek.”
“Hansie en die heks?”
“Mandela en die majoor,” het Griet geknik.
Jans het geglimlag en ’n lang string pasta behendig om sy vurk gedraai. Klaus het die res van die geselskap vertel van ’n artikel oor Suid-Afrika wat hy in die Economist gelees het.
“En jy dink hy’t ’n Grietjie nodig om die heks in die oond te stamp?”
“Miskien – maar onthou, Hansie het nie passief gesit en wag dat Grietjie hom moet red nie.” Griet het haar eie pasta in stukkies gesny en versigtig op