ТОП просматриваемых книг сайта:
Griet skryf ’n sprokie. Marita van der Vyver
Читать онлайн.Название Griet skryf ’n sprokie
Год выпуска 0
isbn 9780624078425
Автор произведения Marita van der Vyver
Жанр Контркультура
Издательство Ingram
Rhonda knik haar kop simpatiek, maar sê nie ’n woord nie.
“Sy’t nie gesê wat jy moet doen as jou kind dood is en jou man jou uit die huis wegjaag nie,” sê Griet.
“Jy het verskriklik seer gekry.” Rhonda leun effens vooroor op haar rooi rusbankie, haar oë rustig soos altyd. Griet voel asof sy in daardie roerlose damme kan wegsink, af, af, af, met klippe in haar sakke, soos Virginia Woolf dit gedoen het. “En jy steek dit weg agter hierdie verskriklike woede.”
Sy wil hom nie meer doodslaan nie, sê sy vir haar sielkundige. Sy wil hom stadig doodmartel, maar dit sê sy vir niemand nie. Sy wil hom in sy eie huis toesluit, sonder telefoon of koerante of boeke of enige verbinding met die buitewêreld. Sy wil sy slaappille en sy depressiepille in die toilet wegspoel. Sy wil ’n afstandbeheerde videokamera in elke kamer inbou, en kyk hoe hy geleidelik waansinnig word.
Soms skrik sy vir haar eie waansin.
“Hy sê hy kan nie verstaan hoekom ek so kwaad is nie. Dis die ergste van alles, dat hy kan aangaan met sy lewe asof niks gebeur het nie, asof ek ’n blad is wat sommerso uitgeskeur kan word. Nie ’n blad met woorde op nie, nie iets wat jy sal mis as dit uit ’n boek verdwyn nie, nie eens ’n bleddie advertensieblad nie! ’n Spierwit, dolleë blad.”
“Is dit nie dalk moontlik dat jy hom nou op ’n ander manier wil straf nie?” vra Rhonda versigtig. “Noudat jy hom nie meer wil slaan nie?”
“Wat bedoel jy?” vra Griet net so versigtig.
“Het jy nie aan hom gedink toe jy die aand jou kop in die oond gedruk het nie?”
“Ek het geweet jy gaan dit vra,” sê Griet stadig.
Oupa Groot Petrus, wat met die Hand van die Dood gestraf is, het gereeld met die engele gesels. Dit was lank voordat daar ’n gat in die hemel was, maar hy het sy eie manier gehad om met hemelse wesens in aanraking te kom. Hy het eenvoudig ’n ver ent in die veld gaan stap, na die wolklose lug van sy geliefde Karoo opgekyk, en dan het hy die geruis van engelevlerke gehoor.
Hy het met hulle saamgestem dat hy in ’n rare land woon. Veral nadat hy in die depressiejare sy plaas verloor het en ’n bywoner op sy neef se plaas moes word. Die mense het gesê hy het nooit oor die vernedering gekom nie, dat dit sy verstand aangetas het, dat hy stemme begin hoor het. Maar Grietjie het geweet dat hy van kleins af met die engele gesels het soos ander kinders met feetjies en kabouters speel. Hy het dit self vir haar vertel, toe sy nog baie jonk en hy al baie oud was, eendag terwyl sy saam met hom na die geruis van vlerke geluister het.
“Hy was ’n goeie man,” het ouma Hannie ná sy dood gesê, “maar hy was te trots om ’n bywoner te wees. Dis hoekom hy met Die Hand gestraf is.”
Ouma Hannie het altyd met groot ontsag van Die Hand gepraat.
“Hy was ’n sagmoedige man,” het ouma Hannie altyd gesê. “Hy het net een keer in sy lewe kwaad geword. Toe klap hy ’n man morsdood. Hy het nie sy eie krag geken nie. Toe sê die magistraat hy is met die Hand van die Dood gestraf en hy mag nooit weer enigiemand slaan nie, nie eens sy eie kinders nie.”
Oupa Groot Petrus was ’n reus van ’n man – so groot dat ouma Hannie al sy klere self moes maak – met voete soos berge en hande soos heuwels. Grietjie kon haar oë nie van sy hande afhou nie, veral nie van daardie dodelike regterhand wat ’n man met een hou tot in sy graf geslaan het nie. Die Hand was grondbruin en kliphard gebak deur ’n genadelose son, vol barste soos ’n leë dam in ’n droogte.
Ouma Hannie was ’n lang, seningrige vrou met lang, seningrige hande, maar wanneer sy vir oggendgodsdiens langs oupa Groot Petrus kniel, het hy albei haar hande in sy een hand toegevou. Ouma Hannie se hande was vol vlekkies en blou are wat Grietjie altyd aan dorpies en riviere op ’n aardrykskundekaart laat dink het. Maar haar vingers het veerlig gevoel wanneer sy Grietjie se hare droog vryf.
“My mooiste suster is aan nat hare dood,” het ouma Hannie graag vertel. “Sy het goue krulhare gehad soos joune, net baie langer, tot amper op haar knieë. Sy het dit elke dag gewas, en ure lank in die son geborsel. Soos ’n meermin, het die mense altyd gesê. Een aand het sy natgereën en met klam hare gaan slaap. Die volgende oggend het sy in haar bed gelê, haar hare soos ’n goue mantel om haar lyf gedraai. Morsdood.”
Ouma Hannie was die jongste van sestien kinders wat almal op vreemde maniere dood is.
Een broer het sy nek gebreek toe sy perd een donker nag vir ’n spook geskrik het. Dit moet ’n spook gewees het, het die mense gesê, want hy was die beste ruiter in die distrik. Hy sou nie eens dronk van sy perd afgeval het nie.
Dit was die suster met die nat hare se spook, het die familie gefluister. Sy wou wraak neem omdat hy ná haar dood ’n hap uit haar hare geknip het. Hy wou glo vir sy dogter ’n pop met regte hare gee.
’n Ander broer het sewe vroue getrou – soms meer as een gelyk, was die skinderstorie in die familie – en op sy sewende huweliksnag ’n hartaanval gekry. Die bruid was ’n goeie veertig jaar jonger as hy, en ses maande later het sy geboorte geskenk aan ’n kind wat al sy geld geërf het, en volgens die ontstelde familie glad nie na hom gelyk het nie.
Maar die vreemdste dood van almal het die broer in die toring getref. Hy het die rykste van almal geword – oor hy die suinigste was, het ouma Hannie altyd gesê – maar geld kon nie vir hom geluk koop nie, het sy altyd bygevoeg. Hy was nooit juis ’n vrolike vinkie nie, maar op sy oudag het hy heeltemal moedeloos geword en ’n hemelhoë toring op sy plaas laat bou. Hierin het hy heeldag na die horison gesit en staar, op die uitkyk vir die Rooi Gevaar of die Oordeelsdag, wat ook al eerste sou kom. Op ’n dag het hy die gebrul van leeus en die trompetgeskal van olifante gehoor, en besluit die Oordeelsdag het aangebreek. Die Kommuniste sou nie olifante saambring nie, het hy gereken. Hy het hom ondertoe gehaas en in sy opgewondenheid op die trap in die toring gestruikel en sy nek gebreek. Die olifante en leeus het aan ’n sirkus behoort wat vir die eerste keer deur die distrik getoer het.
Griet het aan haar familie gedink, die aand toe sy in die oond wou klim, en gewonder of so ’n selfmoord nie vreeslik onoorspronklik sou wees nie.
“Ek het seker aan George ook gedink. Maar ek was gatvol daarvoor om altyd aan ander mense te dink, wat-sal-hulle-sê, hoe-sal-hulle-voel! Ek wou net een keer in my lewe aan niemand behalwe myself dink nie.”
“Maar jy kon dit nie doen nie,” sê Rhonda versigtig. “Jy kon dit nie doen nie omdat jy steeds aan ander mense gedink het.”
“Ek kon dit nie doen nie omdat ek vir ’n kakkerlak geskrik het.”
“Ek weet dit gaan vir jou vreemd klink,” sê Rhonda en skryf iets in die lêer op haar skoot, “maar die feit dat jy selfmoord oorweeg het, ernstig oorweeg het, en nie deurgevoer het nie … dui op ’n mate van vordering.”
“Vórdering?”
“Jy’t tot dusver nog net agter woede weggekruip, Griet. Jy’t geweier om enige skuld te aanvaar vir enigiets wat gebeur het. Nou begin jy die werklikheid aanvaar. Dis die moeilikste deel. Dis verstaanbaar dat jy soms aan selfmoord sal dink.”
Maar ek dink aanhóúdend aan selfmoord, wil sy stry. Ek dink obsessief aan selfmoord en kanker en kinders wat honger ly en aan wat de hel van hierdie land gaan word as die hemel ons nie help nie! Ek kry angsaanvalle oor die dood en oor die moontlikheid dat ek dalk Aids kan kry – dat ek reeds Aids kan hê! – en dat ek gerape kan word of genecklace kan word deur ’n woedende swart skare, en dan dink ek wat de hel, as ek dit self doen, kan ek ten minste die manier kies. Wat klaar is, is klaar, het ouma Lina altyd gesê.
Maar sy voel skielik te moeg om met haar