Скачать книгу

mý laat dink?” vra Griet en begin verras hik.

      “Ek het gedog dit sou jou laat regop sit,” lag Jans. “Ox-eye daisy word dit in Engels genoem. Callilepis laureola.”

      “Jirre, Jans, dis hoekom ek van jou hou,” hik Griet en sak terug op haar elmboë. “Jy’s ’n mynveld van nuttelose kennis. Ek wonder altyd wanneer die volgende ontploffing my gaan tref.”

      “Daar’s nie so iets soos nuttelose kennis nie,” sê Jans en skink haar glas weer vol wyn. “Jy weet nooit wanneer jy dit dalk nodig kry nie. Wie het toe die sad prinses laat lag?”

      “Die domkop met die goue gans,” hik Griet. “Onthou jy, die gans waaraan ’n hele ry mense vasgesit het?”

      Sy onthou ’n Vrydagaand, lank gelede, toe sy en George in ’n kroeg gekuier het. Daar was ’n kitaarspeler wat dieselfde liedjies bo-oor dieselfde geraas gesing het: “Imagine”, “Streets of London”, “Where do you go to, my lovely?”. Dalk was dit dieselfde kroeg.

      Die volgende oggend het hulle in dieselfde bed wakker geword.

      Sy kon haar oë nie glo nie. Sy kon nie verklaar hoe dit gebeur het nie. Sy het gehou van sy geselskap, maar sy was nie seksueel aangetrokke tot hom nie. Sy was besonder beïndruk met sy boekrak. Dit was die enigste verskoning wat sy vir haar gedrag kon vind.

      “En nou?” het sy verslae gevra. “Wat nou?”

      “Wat stel jy voor?” het hy gelag en haar in sy arms toegevou. “Wil jy trou?”

      Sy het saam met hom gelag en verwonderd aan sy lyf gevat. Hy was maerder as wat hy in sy klere gelyk het, baie weerloser. Hy het ’n effense boepmagie gehad, smal heupe, lang bene. En ’n penis wat donssag en warm soos ’n kuiken onder haar vinger geroer het. Sy het gewens sy kon heeldag daarmee speel sonder dat dit hard word in haar hand, maar daar was nie ’n goeie fee naby om haar wens waar te maak nie. Sy het teleurgesteld gevoel hoe die kuiken in ’n kapokhaantjie verander. Waarom dink mans altyd hulle laat ’n vrou in die steek, het sy vir die hoeveelste keer gewonder, as hulle ge­slagsdele nie op aandag spring die oomblik dat sy daaraan vat nie?

      “Ek gaan nie op jou verlief raak nie,” het sy hom gewaarsku.

      “Ek is lankal op jou verlief,” het hy geantwoord. Maar sy het ge­dog hy spot weer.

      “Wel, moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie. Ek wil nie ’n vaste verhouding hê nie. Ek’s nog nie reg …”

      “Bly stil,” het hy gesê en haar gesoen sodat sy nie verder kon pro­testeer nie. “Ek gaan impotent word as jy nie stilbly nie.”

      Profetiese woorde, het Griet jare later gedink. Sy het toe nooit sy muse geword nie. Sy het met hom getrou en hom tot impotensie gedryf.

      “Jy hou my te styf vas snags,” het sy daardie eerste maand vir hom gesê. “Ek’s nie gewoond daaraan nie. Ek kry te warm, dit voel of ek versmoor.”

      “Jy sal moet gewoond raak daaraan,” het hy gelag. “Ek kan nie loshande slaap nie.”

      “Jy raak nooit meer snags aan my nie,” het sy hom jare later verwyt. “Ek kan net sowel alleen slaap.”

      “Ek kan nie snags aan iemand vat nie,” het hy geantwoord. “Dit maak my benoud, ek kan nie asem kry nie.”

      “Ek wil nie meer ’n man se muse wees nie,” sê sy vir Jans, wat al hoe dowwer word, asof sy na hom kyk deur ’n kameralens wat al hoe verder uit fokus gedraai word. “Ek soek ’n man wat dom genoeg is om nie impotent te raak as hy mý muse word nie. Of kry mens nie manlike muses nie?”

      “Oorspronklik was hulle die Griekse godinne van die kunste, maar deesdae is alles so androgeen dat muses se geslag seker nie meer saak maak nie.” Soms vermoed sy dat Jans in die mitologie belang stel bloot omdat die meeste moderne mense dit as nuttelose kennis beskou. “En as hy weier om ’n muse te word, kan jy hom altyd jou Pegasus maak.”

      “Was Pegasus nie ’n perd nie?”

      “Presies. Die gevleuelde perd van die muses. Inspirasie vir die digkuns. Soos in: Ek klim op my Pegasus. Beteken ek gaan ’n gedig skryf.”

      “Ek hou daarvan,” lag Griet en hik harder as voorheen. “Kom ons drink op Pegasus.”

      “Op die domkop met die goue voël.” Jans lig sy glas vir die hoeveelste heildronk van die aand. “Hoop jy vind hom.”

      Gouelokkies verloor haar bril

      Eendag was daar ’n veelkleurige land wat gereeld deur rampe getref is. Daar was uitgerekte droogtes wat duisende diere laat vrek het en onverwagse vloede wat duisende huise wegge­spoel het. Daar was aardbewings wat geskiedkundige dorpies uit­gewis het asof die Vinger van God pionne op ’n skaakbord platvee, en mensgemaakte wette wat dieselfde vermag het. Die verskil tus­sen die natuurrampe en die mensgemaakte rampe was dat die mense graag kerke en moskees en ander goddelike geboue soos konings sonder onderdane op die verlate skaakbord agtergelaat het.

      Die ergste rampe in die veelkleurige land is altyd deur mense ver­oorsaak. Daar was vuurspuwende berge, nie omdat ’n god dit so beskik het nie, maar omdat onverskillige mense die berge aan die brand gesteek het. Daar was ’n gevaarlike gat in die lug bo die land waardeur die son se dodelikste strale mens en dier gebrand het. Die gat is ook nie deur ’n god gemaak nie, maar deur mense wat meer bekommerd was oor gate in hulle klere as oor gate in die hemel. Wat die mense nie besef het nie, was dat die engele hulle graag deur die gat dopgehou het, soos kinders wat op hulle mae lê en deur ’n kraak in ’n soldervloer loer. En die engele het so geskrik vir wat hulle ge­sien het, dat hulle vlerke op hulle rûe gerys het.

      Dit was ’n land waar swartrenosters en swart kinders by die duisende doodgegaan het. Toe skrik die mense op ’n dag en maak miljoene rande bymekaar om die renosters te red. Dis voorwaar ’n vreemde land, het die engele kopskuddend vir mekaar gesê.

      “Ek is besig om ’n sprokie te skryf,” sê Griet vir haar sielkundi­ge. “Ek wou eintlik oor my verhouding skryf. Maar ek is beter met sprokies.”

      Rhonda glimlag bemoedigend, ’n juffrou wat kyk hoe ’n kleuter haar eerste letters met lomp vingers vorm. Sy moet ’n moeilike dag gehad het, bespiegel Griet, want daar is ’n duidelike kreukel in haar lang katoenromp. Maar haar hemp is skitterwit soos altyd. Nie eens ’n vuil kringetjie in die boordjie nie. Griet vee selfbewus oor haar eie hemp wat ook vanoggend skoon was.

      “Wil jy my meer vertel?”

      “Nee,” sê Griet vinnig en voeg verskonend by: “Daar’s nie juis veel om te vertel nie. Ek het nog skaars begin. Ek weet nog nie hoe dit gaan eindig nie.”

      Nuns startled by green ice from heavens, het sy vanoggend in die koerant gelees, een van daardie absurde beriggies wat sy altyd beter onthou as die ernstige hoofberigte. Sy het seker ’n behoefte aan on­verklaarbare verskynsels, ná sewe jaar saam met ’n man wat alles kon verduidelik, logies, rasioneel, onemosioneel. En enige vraag wat hy nie kon beantwoord nie, soos wat die sin van die lewe is, kon hy met sinisme omseil.

      ’n Groot stuk groen ys, het sy met groeiende belangstelling ge­lees, het uit die lug deur die venster van ’n Roomse klooster geval. Die nonne het hulle yskoud geskrik en die bewysstuk in ’n vrieskas gebêre.

      Bewysstuk vir wát? wou Griet weet. ’n Hofsaak teen die hemelse wesens wat die ys aarde toe gegooi het? En wie sou in die beskuldig­debank staan? Die engele sou tog nie hulle teleurstelling in die mensdom op ’n klomp nonne uithaal nie. Nee, het Griet bespiegel, die arme hekse sou seker weer die skuld kry. En jy kan hulle nie kwalik neem as hulle soms ’n paar kloostervensters wil breek nie. Almal weet wat die Rooms-Katolieke Kerk eeue lank met hekse ge­maak het.

      “Het jy weer vir George gesien?”

      “Nee.” Griet kyk vlugtig na die Mickey Mouse-horlosie. Nog amper ’n volle uur oor. Sy kan seker maar eerlik wees. “Ek het probeer om hom te sien. Ek het ’n paar keer by ons huis verbygery … ek bedoel by sy huis … of by

Скачать книгу