Скачать книгу

gehou nie, sy het dit net gedoen om hom gelukkig te hou.

      Griet kyk deur die hoop onoopgemaakte pos op die telefoontafel, kry ’n paar koeverte met haar naam op, meesal rekeninge wat sy in haar handsak druk en Reader’s Digest Sweepstakes wat sy opfrom­mel. Sy stap kombuis toe om die opgefrommelde papier weg te gooi. Net ’n verskoning om nie nou al die slaapkamer aan te durf nie.

      Sy het holderstebolder hier padgegee, net ’n tandeborsel en ’n paar stukke klere in ’n tas gegooi, in die middel van die nag nadat haar man vir haar gesê het sy is die mees patetiese mens wat hy nog gesien het. Die res van die nag het sy in haar motor langs die see ge­sit en presies so pateties gevoel soos sy volgens haar man was. Die volgende oggend vyfuur het sy na haar kantoor toe gery, waar die nagwag in die ingangsportaal na haar gekreukelde klere en onge­kamde hare gestaar het, en vir Louise in Londen gebel.

      “Ek het jou woonstel nodig, vir ’n paar weke, tot ek ’n plek van my eie kry.”

      “Wat’s verkeerd?” het Louise deur die slaap gemompel, in Londen waar dit nog nagdonker was. “Wat gaan aan?”

      “George het gesê ek moet padgee.”

      Sy het probeer om saaklik te klink, nie vir Louise met haar persoonlike probleme op te saal nie, maar haar stem wou nie saamspeel nie. Die nag in die motor was onwerklik, ’n nagmerrie waaruit sy sou wakker word, maar nou was sy wakker. Sy het nie ’n fairy godmother nie, het sy vir haarself in die grys oggendlig voor haar woordverwerker gesê. Sy kon aan niemand dink wat ’n pampoen in ’n woonstel sou verander nie.

      “Shit.” Louise se gewone antwoord op enige buitengewone mededeling. Ná ’n eindelose oomblik van stilte waarin Griet die ge­vreesde “ek het jou gesê” verwag het, het Louise dramaties gesug: “Marriage stinks, dis al wat ek kan sê.”

      “Kan ek jou woonstel gebruik, Louise?”

      Haar stem het gevaarlik begin bewe.

      “Natuurlik,” het Louise geantwoord, nou blykbaar helder wak­ker. “Bly so lank soos jy wil. Maar moenie verbaas wees as ek oor ’n paar maande by jou kom intrek nie. My man maak my mal.”

      Louise het met ’n Britse man getrou omdat sy van haar Suid­Afrikaanse paspoort ontslae wou raak, soos sy dit self gestel het sonder om te blik of te bloos, maar sy was terselfdertyd pessimisties genoeg om nie haar woonstel in Kaapstad prys te gee nie. You never know, het sy gesê, dis beter om ’n agterdeur oop te hou. Sy het haar les geleer toe sy die eerste keer geskei is. Griet dog haar vriendin is hopeloos te sinies om enige huwelik te laat slaag.

      “Is dit só erg?”

      “Dis soos om met die pous getroud te wees! En nie vir hom te mag sê hy’t nie klere aan nie!”

      “Die keiser.”

      “Nee, die fokken pous! Dis die skynheiligheid wat my onderkry, die holier-than-thou-houding waarmee Britte soos hy blykbaar ge­bore word. Hy sal nie eens voor my poep nie! Asof net ons barbare uit Afrika sulke behoeftes kan hê! Maar as hy in die stort staan, poep hy so hard dat ek hom in die sitkamer kan hoor.”

      “Waar’s hy nou?” wou Griet verstom weet.

      “Moenie worry nie, hy verstaan steeds nie ’n woord Afrikaans nie. Anyway, ek wou maar net vir jou sê jy’s nie alleen in jou strug­gle nie. Marriage is a great institution, soos hulle sê, but who wants to live in a fucking institution?”

      Griet het verslae van die telefoon opgestaan en weer by die ver­warde nagwag verbygestap. Dit gaan ’n triestige dag wees, het sy gedink terwyl haar motorligte die slierte mis wegvee wat laag oor die stil strate hang. Welcome to reality, het Louise gesê.

      En nou, drie maande later, sit sy met die gebakte pere. Behalwe dat dit moeilik sou wees om selfs die spreekwoordelike pere in Louise se ongebruikte oond te probeer bak. Alleen, in ’n vreemde woon­stel, met ’n kombuis vol kakkerlakke.

      Wanneer ander mense uitmekaar gaan, dink sy terwyl sy die gat in die osoonlaag al hoe groter spuit in haar stryd teen die kakkerlak­ke, is die man gewoonlik die een wat uit die huis trek.

      Die vrou is tog die een wat die huis versorg, dink sy wrewelrig, wat verantwoordelik gehou word vir alles van die kleurskakering van die sitkamerkussings tot die keuse van toiletpapier. Nie altyd omdat sy vir alles verantwoordelik wíl wees nie. Soms is sy net te moeg om ’n feministiese last stand voor die stoof in te neem. Buitendien, dink Griet bitterbek, dis vernederend om jou stert met koerantpapier af te vee terwyl jy en jou man oor Germaine Greer en Gloria Steinem stry. Dis op die ou end minder moeite om maar self toiletpapier te koop.

      Maar almal weet dis makliker vir ’n man om uit ’n tas te lewe. Wat maak jy as jy in die middel van die nag begin menstrueer en ontdek dat jy nie jou Lil-Lets ingepak het nie? Of as jy jou ingevoerde nagroom vergeet het en nie genoeg geld het om nog ’n flessie te koop nie en elke oggend met afgryse in ’n geleende spieël moet sien hoe die plooie om jou oë deur die nag vermeerder het.

      Wat is ’n huis sonder ’n vrou? wonder Griet terwyl sy vir die eer­ste keer in weke deur haar huis stap. Wat is ’n vrou sonder ’n huis? Wat is ’n vrou sonder haar man se skeermes? Sy het altyd George s’n geleen – wat hom grensloos geïrriteer het – om haar okselhare te skeer. Hy het nie van harige vroue gehou nie. Sy kon natuurlik die afgelope drie maande ’n skeermes aangeskaf het, maar om die een of ander rede het sy net nie sover gekom nie.

      Jy’s die enigste vrou op aarde, het Louise verlede week vir haar geskryf, wat teen die einde van die twintigste eeu nog glo dat paddas in prinse verander. En nou’s jy ontnugter omdat die teenoorgestelde gebeur het. So what, het Louise geskryf, join the club.

      Griet wens sy kan so sinies soos haar vriendin wees. Maar sy wil huil oor haar huis wat so verlate soos ’n Afrikaanse kerk op ’n week­dag voel. Sy staan in die kombuis, waar sy nooit met kakkerlakke gesukkel het nie, en staar mismoedig na die vuil skottelgoed in die wasbak. Meesal glase, merk sy op, wynglase en whiskyglase en om­trent al die ander glase in die drankkas. Dit lyk asof haar man elke aand ’n partytjie hou vandat sy die huis verlaat het. Of hom dood drink van verdriet, dink sy hoopvol.

      Sy oorweeg dit ’n oomblik om die kraan oop te draai en die stapel skottelgoed te begin was, maar bedwing haar betyds. Om skielik die goeie fee te wil speel! Asof hy haar gaan vra om terug te kom as hy vanaand ’n skoon kombuis kry.

      Dit lyk nie of hy veel eet nie. Daar is net drie borde in die wasbak. Sy maak die yskas oop en sien ’n dosyn bierblikke, ’n klomp wyn­bottels, ’n karton melk (suur, ruik sy onwillekeurig), ’n stuk muw­werige kaas en vier eiers. Sy wonder wat die kinders eet as hulle na­weke kom kuier. Sy wonder of daar toiletpapier in die badkamer is. En of hy onthou om die telefoonrekening betyds te betaal en die balsemkruid langs die agterdeur gereeld nat te gooi en soggens ’n venster oop te los vir die bure se rondloperkat.

      Dit het niks meer met háár te doen nie. Sy het net skoon klere en ’n paar boeke kom haal, herinner sy haarself. Hy het al haar foto’s en poskaarte van die plakbord langs die yskas afgehaal, merk sy meteens op. Dis fokken finaal, besef sy en vlug blindelings by die kom­buis uit.

      In die slaapkamer ruik sy hom weer, die onmoontlike mengsel van sweet en seep en rook. Maar sy ruik nie ’n ander vrou nie, goddank, sy sou nie dapper genoeg daarvoor wees nie. Nie terwyl haar eie reuk nog hier iewers in die hoeke van die kamer hang nie.

      Ouma Hannie se huis het altyd na kos geruik, na brood wat ge­bak en kwepers wat gekook word, en soms ook na diere wat geslag word. Griet word nou nog teruggeruk na daardie huis telkens wan­neer sy bloed ruik. Dis waar sy die eerste keer haar eie bloed geruik het, op die dag van oupa Groot Petrus se begrafnis.

      Simbolies, het sy later gedink, maar destyds het sy geen simbo­liek in die situasie gesien nie. Net die wreedheid van die noodlot wat bepaal het dat sy juis op daardie dag ’n wolkwit begrafnisrok moes dra. Die familie dog dis oor sy so hartseer was dat sy nie in die kerk opgestaan het om saam met die ander mense te sing nie. Sies tog, het die tantes simpatiek gefluister, sy was haar oupa se oogappel.

      Sy het heel laaste uit die kerk gestap, dankbaar en verlig dat

Скачать книгу