Скачать книгу

skakel die lig af en Blits kom lê langs die bed op sy mat. Die hond sug diep en tevrede.

      Kwart voor sewe die volgende oggend bel Tromp vir tant Mattie.

      Drie

      Net waar die pad Klipkuil binnegaan en die hoofstraat word, moet Gawie ankers gooi vir ’n boerbok wat lui oor die straat slenter, vas­steek, die kop stadig draai en hom vermanend aankyk. Wat’s die haas? Aldus tereggewys, draai Gawie bedagsaam uit en ry stadig voort.

      Twintig of dertig huise, almal diep uit die vorige eeu, staan plan­loos op groot erwe na weerskante toe. Sommige lyk goed ver­sorg, ander moedeloos verwaarloos onder vaalgeskroeide sink­dakke. Die meeste het vrugtebome en groentetuine. Twee van ’n dosyn of wat windpompe het vinne verloor. Vir die entjie wat die pad as hoofstraat dien, is dit aan albei kante omsoom met peperbome, dig teenmekaar.

      Halfpad deur, aan die linkerkant, word die winkel/slaghuis/poskantoor met verbleikte letters onder ’n ou Coca-Cola-bord op die stoepdak aangedui. Langsaan staan drie brandstofpompe voor ’n platdakgebou. KOOT SE GARAGE is amper onleesbaar ver­skil­fer teen die vuilwit muur wat seker voor die Groot Depressie laas geverf is. Die wye skuifdeur van sink is oop en daar binne staan ’n man in ’n blou oorpak. Skuins oorkant is ’n huis omskep in die polisiekantoor. Die landsvlag hang slap en stowwerig aan die paal. Die oggend is windloos en klaar warm.

      Gawie kry die murasie naby die fontein. Dis so toegegroei deur haak-en-steek dat dit onmoontlik is om by die deuropening te kom. Die daklose geboutjie is omtrent agt by vyftien meter, die klipmure nog stewig. Bo die ingang pryk die boudatum dowwe­rig in sement: 1866. Alle deure en vensters is lankal weggedra. Gawie neem ’n rits foto’s van alkante voor hy aan die suidekant binnetoe klouter waar daar eens ’n venster was. Onkruid peul deur krake in die sementvloer wat net hier en daar onder ’n dik laag grond sigbaar is. In die hoek het iemand vuur gemaak en daar lê ’n verdorde skoen.

      Gawie bly omtrent ’n uur daar. Dan ry hy tydsaam terug na die woonwa, wat hy binne minute in ’n donkerkamer omskep. Sy Nikon en Hasselblad is ou kamerade en hy gebruik die nuwe digi­tale kamera selde. Fotografie was aanvanklik net sy verskoning om by ou huise en murasies toegelaat te word in sy soektog na die plaas waar sy oupa die brief geskryf het. Hy was nie werklik van plan om ’n boek te probeer publiseer nie. ’n Goeie vriend het sy versameling foto’s gesien en hom aangemoedig om dit aan ’n uitgewer voor te lê. Mettertyd het die hoop om daardie plaas te vind vervaag, en deesdae is sy foto’s bestem vir die volgende boek.

      Hy ontwikkel die twee rolle film en toe hy seker is dis foutloos, rus hy.

      Toe hy wakker word, voel hy steeds tam. Miskien moet hy liewer die pad vat Johannesburg toe. Hy het mos nou die foto’s waarvoor hy hierheen gekom het, en hy móét Magnus se graf besoek met die herdenking. Met hierdie krokhart is dit dalk sy laaste keer.

      Tog, die kluisenaar-tot-miljoenêr-storie klink interessant. Dit kan sy boek ’n stoot gee. As hy nie die voordeel daarvan kan geniet nie, sal Mattie. Hy gaan spoel sy gesig in koue water af, ontdek dat hy die oggend vergeet het om te skeer, besluit dis irrelevant en gaan klim in die bakkie.

      Hy kry die naambord teen die hekpaal, VERGESIG Flip & Gerda Meyer, op die kop 21 kilometer van Klipkuil af, soos Janna beduie het. Hy ry deur, maak die hek toe en vat dan die twee­spoorpad regs teen ’n snaarstywe heining langs. Na omtrent ’n kilometer verander dit in ’n hoë wildheining, met nog een wat reghoekig na die weste uitloop.

      Die pad swaai skuins weg teen ’n effense hoogte op. Gawie be­gin net wonder waar die murasie dan is toe hy omkyk en dit sien. Die dowwe rooi vlek van ’n ou sinkdak is skaars tweehonderd meter anderkant die heining, naby die punt van ’n plat heuwel wat dit aanvanklik verberg het. Hy hou stil en klim uit met sy verkyker. Die kragtige lense bring die toneel tot hier voor hom.

      Die vaalrooi dak is flenters geroes en twee of drie plate is weg. Teen die regterkant van die huis loop ’n steil sementtrap op na ’n oop solderdeur. Die drie voorste vensters en die voordeur is met rame en al uitgebreek, nou net gapende wonde in die muur wat nog ’n paar vlekke wit verf dra. Twee skewe stompe lyk na die oorblyfsels van ’n prieel wat eens skadu voor die huis gebied het. Dertig tree of wat regs is ’n klipkraal, die mure steeds solied, maar die hek weg. Daarnaas is ’n kleiner, daklose murasie, moontlik ’n eertydse stal.

      Gawie laat die verkyker sak. Hy het skielik nie die krag om die instrument voor sy oë te hou nie. Dit dring stadig tot hom deur: drievertrekhuis . . . solder . . . klipkraal . . . prieel . . . En anderkant die opstal, die eenderse spitskoppies soos ’n tweeling.

      Altesaam pas dit soos die laaste stukkies van ’n legkaart op ’n prentjie wat meer as ’n halfeeu gelede in sy gemoed vasgelê is. Die brief het sy jeugdige verbeelding aangegryp en hy het dit seker ’n duisend keer gelees, sodat hy dit nou nog feitlik woordeliks kan onthou.

      Eers wil hy lag vir die verspotte vermoede wat skielik in sy kop sit, wat sy hare wil laat regop staan. Jare nadat hy aanvaar het dat hy nooit die plaas sal kry nie, wil hy nou glo hy kyk na die plek waar die brief geskryf is. Hoe langer hy na die vervalle opstal staan en staar, hoe sekerder word hy. Hoeveel ou drievertrekhuise met solder, klipkraal, prieel en veral daardie twee eenderse koppies kan daar wees wat hy ná al die jare se swerf nog nie gesien het nie? Daar was al ’n hele paar wat naby die beskrywing in die brief gekom het, maar nie een het na hom geskreeu soos hierdie een nie. Selfs die gehuggie waarvan die naam nie in die brief genoem is nie, is omtrent die regte afstand hiervandaan: ’n stywe heen-en-weer op een dag met ’n kar en perde.

      Gawie haal die Nikon uit die bakkie. Sy hande bewe terwyl hy die lang lens vasknip. Hy klik ’n rits foto’s. Dis asof hy sy oupa se stem kan hoor: Dalk is ons gelukkig en kom ek nog voor hierdie brief by jou. Ek verlang só, ek moes net met jou praat, al is dit op papier. Ek kan nie wag om jou in my arms te hou nie.

      Net daar, in die koelte van die prieel, is sy oupa se verlange op papier vasgelê. Hy weet dit. Met elke klik van die kamera word hy sekerder. Hy wéét. Dit het alles hier begin.

      Hy klim in die bakkie. Hy voel effens lam en sit met toe oë en dink, probeer orde kry in sy stormagtige gedagtes. Begin by die skielike rykdom van die plaas se destydse eienaar, juis die tyd toe oupa Bart op pad huis toe was met sy diamante. Twee vreem­delinge van Johannesburg daag uit die bloute hier op. Hulle fluister vir mekaar wanneer hulle dink die gasheer sien nie. Hulle lyk opgewonde, in hul skik. Die boer weet die Weskus se diamant­veld is gesluit en honderde delwers is op pad huis toe. Daar loop stories van fortuine. Hy sit twee en twee bymekaar . . .

      Wat het daardie dag in Maart 1927 hier gebeur?

      Knoetsen . . . Knoesse . . . Gawie vergeet die naam . . . is moeg vir die gesukkel op die plaas. Niemand weet die twee mans is hier by hom nie en hy kan hulle laat verdwyn. Hy vra hoeveel diaman­te hulle gekry het, asof hy weet hulle was suksesvol. ’n Paar, erken hulle – so goed as om te erken hulle is ryk. Hy vermoor hulle en by die een kry hy ’n diamantskat.

      Hier duik ’n asemrowende moontlikheid op. Herklaas Knoes­sen . . . ja, dis die naam . . . sit af Johannesburg toe en weet nie hy het net die helfte van die vonds gekry nie. Die ander helfte, nou tallemale soveel werd as die hele klomp destyds, lê nog in ’n Bybelsakkie op die solder van daardie murasie.

      Gawie sit lank so met sy oë gesluit. Hy voel die gloed van ’n ou woede wat weer begin smeul. Dan draai hy sy kop en staar na die murasie. Is dit net sy verbeelding wat weer op loop sit, of straal die plek werklik onheil uit? Verbeelding, besluit hy, gebore uit herinneringe.

      Eers ’n jaar of twee gelede het dit tot hom deurgedring dat sy obsessie met Magnus se geleerdheid eintlik die bose telg van ’n ander obsessie was. Sedert sy vroeë jeugjare, nadat hy die storie van sy oupa Bart en die diamante se verdwyning gehoor het en weer en weer wou hoor, het hy daaroor gebroei en gefantaseer. Hy het verlore geraak in eindelose verbeeldingsvlugte oor sy oupa se lot en wat met die diamantskat gebeur het. En wat kón gebeur het as oupa Bart met ’n fortuin huis toe gekom het. Die Calitze sou ryk gewees het. Magnus sou kon doen net wat hy wou. Dit sou nie nodig gewees het om hom na sy ondergang te dryf nie. Hy sou nog geleef het. Die onreg wat by daardie murasie gepleeg is,

Скачать книгу