Скачать книгу

uit,” beveel Knoessen.

      Hy herlaai die haelgeweer terwyl hy die stal binnegaan en kom uit met saal en toom. Jan bid. Sy hande is dom. Knoessen beduie na die swart hings.

      “Saal hom op.”

      Jan gehoorsaam. Sy hande is dom. Hy het skaars krag om die buikgord vas te trek. Dan staan hy eerbiedig terug en kyk hoe die groot man hom in die saal lig. Knoessen ry weg op ’n draffie, want die perd is tam. Rantjies toe.

      Bart lê roerloos op sy linkersy. Jan gaan behoedsaam nader. Hy hurk by die sterwende en haal sy hoed af, want die doodsengel is hier en ’n mens toon respek. Bloed loop uit Bart se mond. Sy lippe probeer klankloos ’n woord vorm. Sy hand sleep op teen sy bors, na sy sak.

      Jan sien die koevert wat daar uitsteek en trek dit uit. Bart fluister iets en Jan buk nader om te hoor.

      “Pos . . . my vrou . . .”

      Dis verby.

      Jan kyk rantjies se kant toe. Daar sal die ander man geen redding vind nie. Hy is reeds op pad na sy Maker.

      Dat hy derde op die lys is, weet Jan vir seker. Ná vier jaar op hierdie plaas weet hy dat sy baas die hart van ’n kobra het.

      Hy voel vinnig deur die dooie man se sakke en kry ’n beursie met note daarin.

      Vlug! Maar waarheen, oor hierdie kaal vlakte? Waar Knoessen hom die minste sal verwag. Hy kyk op na die solderdeur. Nee, hy sal vasgekeer wees.

      Hy gee ’n paar treë veld toe, steek vas. Hy sal ingehaal word.

      Hy gaan staan by die hoek van die huis en wag, sy lyf styf teen die muur. Minute gaan verby . . . dan kom ’n gil van die rantjie se kant af. Nog een. ’n Skoot knal. Stilte.

      Dit verg al Jan se wilskrag om te bly staan waar hy is. Hy moet net lank genoeg uit Knoessen se gesigsveld bly. Die aandskemer verdiep en in duisternis is redding.

      Perdehoewe kom nader. Jan sak laag teen die muur af en hou die ruiter om die hoek dop. Knoessen kom op ’n doelgerigte draffie aan en trek die perd tussen die huis en die kraal in.

      “Jan!” bulder hy.

      Toe niks op die werf roer nie, staan hy in die stiebeuels op en kyk rond. Dan vat hy koers, veld toe, in ’n lyn met die rantjies en die opstal. Jan raai hoe Knoessen dink: sy prooi sou vlug met die huis tussen hulle.

      Hy beweeg om die huis tot dit tussen hom en sy agtervolger is. Dan lê hy rieme neer, rante toe. Die laaste plek waar Knoessen sal gaan soek, is waar hy pas vandaan gekom het.

      Anderkant die rante daal die nag oor Jan Januarie. Sy pa kon ’n gemsbok jaag tot die dier gaan staan en wag vir die mes en Jan het beter rede as ’n honger maag om sy stamina te toets. Eers rek hy sy treë om afstand tussen hom en die moordenaar te kry, en toe hy veiliger voel, slaan hy oor na ’n gemaklike pas.

      Hy wil eers die brief weggooi, maar dan dink hy: Wat reg is, is darem reg. Hy het immers die man se geld gevat.

      Drie weke later pos hy die brief op Upington.

      Een

      As Gawie Calitz geweet het die pad is in so ’n toestand, het hy nooit die verlatenheid in gery nie. Hy nader sy bestemming daar­die skroeiende Dinsdag met die bakkie en woonwa in ’n sidderende ritteldans oor enkeldiep sinkplaat, die kajuit soos ’n oond nadat die lugverkoeling iewers anderkant nêrens die stryd ge­won­ne gegee het teen die Noord-Kaapse Februarieson. Sy vel blink sweterig, van sy yl wit hare af oor sy vervalle wange, deur die stoppel­baard en diep nekplooie. Sewe weke duskant sestig lyk hy minstens ’n dekade ouer.

      Net waar die pad om ’n steil rant wegbuig, kom hy op die naam­bord af, tamatierooi letters teen ’n wit plaat: Swartklip Woon­wa­park. Hy draai af en hou voor die hek stil. Eers bly hy net sit in die welkome stilte. Tam. In die truspieël sien hy sy stofstreep stadig in die windstilte neerdaal. Niks anders roer nie.

      Die plek is verlate, ’n swaar slot aan die hek. In die skadu van ’n ry digte peperbome is ses ruim staanplekke met witgekalkte klip­pe afgemerk. Verder steek ’n wit geboutjie met ’n groen dak agter kameeldorings uit, met langsaan ’n windpomp en ’n watertenk op ’n staaltoring. Anderkant die heining is ’n ronde sementdam en suipkrip.

      Gawie klim stram uit. Hy staan en strek die styfheid uit sy spiere. Die laaste paar maande het hy nog ’n kilogram of twee verloor en nou het hy die lyf van ’n ondervoede jokkie. Hy loop ’n draai om die woonwa om te sien of alles nog daar is, haal sy selfoon uit en skakel. Ses luie, dan antwoord ’n dunnerige manstem. Janna du Toit, eienaar, verseker Gawie hy is binne tien minute daar.

      Met ’n blikkie gemmerbier uit die woonwa klouter Gawie oor die hek. Net dié bietjie inspanning jaag sy asemhaling op en sy hart sit op loop. Hy vermoed die ou wekker is amper afgeloop en hy voel vere. Hy is op pad uit en wat daarvan? Hoekom nou ’n klomp geld op dokters blaas vir nog ’n paar doellose jare? Niemand sal hom mis nie.

      Hy gaan sit op ’n klip in die skadu, drink dorstig en kyk na die kliprant oorkant die pad. Sy testament is in goeie hande en dit bepaal dat sy as hoog teen so ’n rant gestrooi moet word, verkies­lik een waar geen siel al was of ooit sal kom nie. Hy sien selfs uit daar­na. Byna nege jaar dwaal hy nou al deur die Groot-Karoo en Namakwaland, en hy het lief geword vir die stilte. Hy wil vir ewig deel wees daarvan.

      Dis die bouval van ’n sendingkerk wat hom, op pad Johannes­burg toe, die draai na hierdie uithoek laat ry het. Vier maande ge­lede het ’n predikant hom vertel van dié murasie, ’n monu­ment van vergange tye se toewyding aan die verspreiding van die Woord. ’n Sendeling van die Londense Sendinggenootskap, ene Masterson, het in die 1860’s hier aangekom om siele te be­arbei. Hy het dié plek gekies vanweë die sterk fontein en ’n ewe stand­houdende stroom heidene wat deur die water gelok is. Omdat on­gelowiges nie geesdriftige kerkbouers is nie, het dit glo bykans twee jaar geduur om die kerkie te voltooi. En toe het die eerwaar­de die voorreg gehad om net vier dienste in die kerk te lei voor hy skie­lik aan ’n geheimsinnige maagaandoening heen is. Hy is nooit ver­vang nie, want die Genootskap het geglo die plek is ongesond.

      ’n Plek van Stilte, Gabriël Zirk Calitz se eerste fotoboek, is deur ’n resensent beskryf as ’n sensitiewe beeltenis van die mens se spoor deur die Groot-Karoo en Namakwaland. Dit wys hoofsaaklik woon­plekke, van primitief tot modern. Sy volgende boek sal fo­kus op ak­ti­witeite, en daar sal plek wees vir Masterson se kerkie.

      Gawie het gewik en geweeg voor hy so ver uit sy pad gery het. Hy móét oor twee weke in Johannesburg wees vir die herdenking van sy seun se gruweldood elf jaar gelede. Dit sal ’n bitter ironie wees as hy weens ’n onvoorsienigheid hier moet vasval. Amper ’n eeu gelede het sy oupa Bart ook op pad Johannesburg toe ’n wye draai deur dié verlatenheid gery en nooit tuisgekom nie. ’n Knik in die pad, ’n gebreekte as en die Calitz-familie se geskiedenis het ’n tragiese koers ingeslaan.

      Uit die ooste kom ’n dreuning en ’n naderende stofstreep ver­skyn om die rant. ’n Blou Isuzu draai in en hou langs die woon­wa stil. ’n Groot figuur sukkel uit, ’n middeljarige man met ’n ronde, blink gesig onder ’n wyerandhoed. Sy maag hang soos ’n halfsak mielies in sy hemp en hy loop met ’n agteroor pikkewynstappie om die vrag te balanseer. Hy kekkel al daar van die hek af terwyl hy oopsluit en dit oopstoot. Jammer hy is laat. Die verdomde jakkal­se was weer onder sy skaap in en hy was by ’n jakkalsjagter wat nie kan ophou praat nie en hy wou nie ongeskik wees nie, maar elk geval, Gawie is baie welkom.

      Hy wag dat Gawie sy bakkie en woonwa onder die genadige skadu van die peperbome intrek en doen dieselfde. Dan wil hy kuier, soos Karoomense doen. Hy aanvaar ’n blikkie gemmerbier en maak hom tuis op die trap van die woonwa, wat merkbaar skeef sak onder sy gewig. Hy trek ’n sakdoek uit, lig sy hoed en vee sweet af. Waarheen is Gawie nou eintlik op pad?

      Gawie verduidelik hy kom die kerk se murasie fotografeer en natuurlik moet hy verduidelik hoekom en’n Plek van Stilte gaan haal en wys. Janna is gefassineer. Dat mense nou ’n boek sal koop om na prentjies van murasies te kyk, nè?

      Ja, hy ken die storie

Скачать книгу