Скачать книгу

Dis jou gelukkige aand.”

      Hy sit sy glas langs die stoel neer en trek haar op. Sy is amper net so lank soos hy.

      “Waar’s jou handsak?”

      “O. My handsak. Moenie my handsak vergeet nie.” Sy steier teen hom vas. “Oeps!” Giggel saggies en lê haar wysvinger op sy lippe. “Sjuut! Wag net hier.”

      Die waggelstappie sit ’n ekstra swaai in haar lyf. Sy loop ’n pad oop deur die dansers, die trap op, slaapkamers toe. Laaste sien, reken hy. ’n Minuut later kom sy te voorskyn met ’n geel hand­sakkie swaaiend in haar hand. ’n Jong man met gebleikte hare vat haar aan die arm en sê iets, maar sy ruk los sonder om eens te aar­sel en steier uit. Van ver af krul sy haar wysvinger vir Tromp. Hy’s definitief gekies. Niemand sal hom mis nie, besluit hy.

      Met sy arm ondersteunend om haar middel, bly sy op haar voete die hele ent af met die rylaan. Daar is plek vir net sewe mo­tors binne die hek en Tromp was laat. Die hekwag laat hulle uit en hy lei haar na sy Hilux.

      Hy verwag die beroemde model gaan minagtend weier om in te klim, maar sy betrag die littekens teen die kant van die bakkie belangstellend.

      “My pa het net so een gehad,” sê sy. “Ek wou vir hom ’n nuwe koop. Toe sê hy ek moet liewer die geld vir hom gee. Toe doen ek dit en weet jy wat? Hy gaan belê dit vir my. Elke sent. Net so. My pa.”

      “Party pa’s is so.”

      Hy help haar die bakkie in. Toe hy ook sit, krul sy knus teen sy skouer op, gee hom die adres, hik en raak aan die slaap. Die kompleks is net ’n paar blokke weg en die hekwag daar ken seker haar gewoontes, want hy loer in, herken haar en maak oop. Voor die meenthuis druk Tromp haar sag regop teen die deur. Hy haal haar sleutels uit haar handsakkie en gaan sluit die voordeur oop. Toe hy haar uit die bakkie help, tuimel sy lomp teen hom aan, gee ’n hees laggie en staan regop. Sy loop ferm voordeur toe.

      Daar is sagte lig in die sitkamer, en sy het óf baie geld óf baie skuld. Die ameublement is eenvoudig en modern in hoofsaaklik neu­trale kleure, met ’n paar mooi landskappe teen die mure – hy is seker dis van die Clarens-kranse. Glasornamente in uitbundige kleure is kunstig gerangskik. Die koffie- en sytafels is van chroom en glas, die stoele chroom en swart leer, ’n swart La-Z-Boy teenoor die televisiestel. Só afgerond is die totale effek, dit sal skreeu soos ’n vermiste voortand as net een voorwerp verwyder word. Twee tyd­skrifte op die glansende glasblad van ’n sytafel lê presies opmekaar en haaks met die tafel se hoek. In elke hoek van die vertrek staan groot luidsprekers op ooghoogte rakke. Vir groot kore.

      “Kom,” gebied Hester.

      Tromp volg haar slaapkamer toe. Dié is net so netjies. Sy skop haar stiletto’s uit en glip uit die mini. Klein, ferm borsies. Die deur­trekkertjie is so skraps, dis amper nie daar nie. Sy pluk die satyndeken en laken weg, val op die bed neer en strek met ’n ligte kreuntjie. Of dit opsetlike verleidelikheid is, weet Tromp nie, maar sensueel is dit wel.

      Hy buk en trek die laken op tot onder haar ken. Haar oë gaan oop, verbaasde blou poele.

      “Lekker slaap,” sê hy.

      “Jy ís gay,” beskuldig sy.

      Hy het nog nooit sulke oë gesien nie. In hierdie lig lyk dit asof hulle ’n titseltjie pers bevat.

      “Definitief nie.”

      Sy staar net na hom toe hy haar op die wang soen, orent kom en wuif.

      Hy is al amper by die voordeur toe sy roep: “Tromp Faber!”

      “Ja?”

      “Kom weer.”

      “Sodra jy nugter is.”

      Hy maak seker die voordeur is gesluit agter hom.

      Dis ’n lang ent Muldersdrift toe en hy kan haar nie uit sy kop kry nie. Sy is op dieselfde glybaan as Magnus. Hy weet net nie hoe ver sy is nie.

      Magnus se dood was die begin van sy eie ondergang. In sy laaste polisiedae het hy sterk manne om hom sien knak van te veel bebloede en verminkte lyke en liggaamsdele by misdaad- en ongeluks­tonele optel. Hy het gehoor van posttraumatiese stres­sindroom, en soos sy kollegas het hy geglo hy is immuun. Tot die aand toe hy langs die N1 ná nog ’n jaagtog agter kapers aan met nog ’n makker in sy arms gesit en histeries geraak het omdat hy nie die bloeding kon stuit en kunsmatige asemhaling nie wou help nie. Dit was soos om van die planeet af te val: die einde van sy polisie­loopbaan, die begin van sy depressietyd, hinkend van dag tot dag op ’n wodkakruk. Om sy nuttelose lewe te beëindig, het ’n ge­reelde versoeking geword, maar selfs in die diepste, mees wan­hopige duisternis kon hy dit nie aan sy ouers doen nie.

      Sy ma se skielike dood aan ’n beroerte vier jaar gelede het hom nugter geskok. Hy het homself gedwing om sy pa, ’n knap nuts­man, in sy besigheid te help. Byna teen wil en dank het hy daardeur ’n nering ryker geword, en om besig te bly het ook gehelp. Skaars ’n jaar ná sy ma se dood het ’n hartaanval sy pa geëis. Toe het hy gesweer hy sal nie weer val nie. Hy is dit aan die herinnering van sy altyd ondersteunende ouers verskuldig.

      Nou het hy selfs ’n winsgewende klein onderneming. Net soms blaas die draak se asem nog warm in sy nek. Hierdie tyd van die jaar, kort voor die herdenking, is hy op sy kwesbaarste.

      Soos gewoonlik is Blits uit sy vel van vreugde om Tromp te sien. Die stompiestert is op turbo terwyl hy al om Tromp ronddans op pad voordeur toe.

      “Het jy geweet mooi is ’n helse ding, Blits? Dit hoort mos nie so nie, man. Dit hang net af van wat jy doen met wat jy het. Soos . . . jy wen die lotto, jy gaan koop ’n Porsche, jy vier dit met ’n bottel Franse sjampanje en gaan verpletter jouself in jou dronkenskap. Pleks jy het jou ou tjor gehou en stadig gery. Aan die ander kant, jy kan so jammer voel vir jouself oor die ou tjor, jy droom van die lotto, jy kyk nie waar jy ry nie en neuk in ’n trein vas.”

      Terwyl Tromp die deur oopsluit, kyk Blits fronsend na hom asof hy die saak oorweeg.

      “Punt is, hond, ’n mens het darem ’n mate van beheer oor jou lot, reg? Jy moet net die fut hê om die regte ding te doen as jy goed genoeg wéét dis die regte ding. Stap gerus binne, Blits.”

      Tromp voel ’n bietjie hol, besluit op koffie en beskuit. Terwyl die ketel kook en Blits gaan seker maak daar is geen booswigte in die huis nie, haal hy twee beskuite, self gebak, uit die koekblik. Blits kry een toe hy terugkeer. Hulle kou gesellig saam. Die hond is eerste klaar en kyk vraend op.

      “Nee,” sê Tromp, “ek gaan nie terug na haar toe nie. Ek is nie­mand se ridder nie. Jy weet wat gebeur as ek mense van dwelms probeer red. Nie weer nie. Buitendien . . .”

      Hy kyk om hom rond in die ruim vertrek. Die skewe kasdeure het hy self reggemaak. Die tafel is so oud en verweer, die vorige bewoner het dit sommer net gelos en hy moes geduldig skaaf en skuur. “Dit gaan goed met ons, hond. Kyk hoe lekker leef ons. Die besigheid groei. Ek wil nie eers meer doodgaan nie.”

      So amper is hy weer ’n heel mens, hy kan selfs ’n toekoms voor hom sien uitstrek. Al sal hy dit nie hardop sê nie, nie eens vir Blits nie, het hy al so half aan ’n lewensmaat begin dink. Nie een so mooi soos Hester Coetzee nie. Die mooies is bederf en kieskeurig. Nee, iemand met wie hy kan praat, wat sy hand sal hou en luister na wat hy vir niemand anders kan sê nie. Iemand wat betroubaar langs hom bly die toekoms in.

      Mooi Hester wip terug in sy gedagtes. Sy’s op pad afgrond toe.

      Hy vryf oor die hond se kop. “Demmit, Blits. Dinge vat koers, man. Kom ons hou dit eers so.”

      Maar hy moet doen wat hy weet hy moet doen. Hy moet nie net met tant Mattie praat nie. Oom Gawie moet by wees, al drie van hulle, by die graf, omdat Magnus se aandeel ook erken moet word.

      Tromp gaan was sy koffiebeker, gesteld op die netheid van sy kombuis, want orde is ’n hoë prioriteit. Die regte stap op die regte tyd hou jou op koers.

      Blits volg hom slaapkamer toe en gaan sit by die deur. Dan spits hy sy ore en kyk venster toe. Tromp sien ook die lig van ’n fiets­lamp deur die dun gordyn.

Скачать книгу