Скачать книгу

af wegswaai. Nou is die murasie buite sig agter die plat hoogte wat na regs wegsak. Hy betrag die heining, twee meter hoog met lemmetjiesdraad bo-op. Hy sal nie daar oorkom nie.

      Hy hang die kamera om sy nek, klim uit en haal die graaf wat deel is van sy kampeertoerusting uit die bak. Sonder om aan moontlike gevolge te dink, loop hy na die heining. Die onderste draad is tien sentimeter bokant die klipharde grond. Hy loop langs die heining af en net vyftig meter verder is die murasie nou binne sig. Dis seker waarvandaan Janna du Toit bedoel het dat hy foto’s kan neem.

      ’n Entjie verder kry hy ’n plek waar die draad oor ’n effense holte span. Geen bok, leeu of gemiddelde wilddief sal daar deurkom nie, maar hy hoef net ’n paar sentimeter grond weg te skep voor hy sy lyf sal kan deurwurm. Die grond is hard en hy sukkel, veral na die binnekant van die heining. Hy moet twee keer rus voor die opening groot genoeg is en hy skuif op sy rug deur. Die graaf los hy daar en begin aanstryk.

      Net vir ’n oomblik dink hy aan leeus, kyk rond, sien geen lewe nie en verwerp die gedagte. In daardie huis moet hy kom. Nóú. Dalk liewer vanaand? Dan sal ’n lig myle ver aandag trek en sal hy nie kan foto’s neem nie. Nou! Môre is die Meyers dalk ook terug.

      Halfpad is hy so kortasem, meer van spanning as sy haastige pas, dat hy eers gaan sit. ’n Paar minute, dan loop hy verder. Toe die hele opstal in sy gesigsveld is, begin hy foto’s neem. Die werf is nou deel van die veld; karoobossies groei tot teen die mure. By die hoek van die klipkraal staan hy eers om die omgewing te be­spied. Hy soek na spore van ’n voertuig, sien niks. Wie anders sal nou hier wil kom ronddwaal? Dit stel hom gerus en hy loop om die huis vir foto na foto, meer as wat hy ooit van ’n murasie neem. Die trap wat na die solderdeur lei, skiet hy uit verskillende hoeke.

      Hy wil net na die trap toe loop toe hy terloops by die voor­deur inkyk. En vassteek. Daar lê ’n groot sonkol op die vloer. Teleurstelling oorweldig hom, sodat hy sommer wil gaan sit. On­nosel! Hy kry homself aan die beweeg en draf nader om sy logiese afleiding te bevestig.

      Die son skyn deur die vermiste dakplate tot op die vloer. Daar is geen plafon nie, wat ook as die soldervloer sou gedien het. Natuurlik is die planke lankal saam met die deure en vensters verwyder. Dis hoë mure. Hy het ’n leer nodig om onder die sink te gaan soek.

      Teleurstelling laat hom eers net daar staan. Uiteindelik troos hy homself met die gedagte dat as die diamante nou al 85 jaar daar lê, dit kan wag tot hy beter voorbereid terugkom. Hy tree oor die drumpel. Sand lê dik op die sementvloer en hier en daar staan onkruid. Hy gaan kyk in die ander twee vertrekke, een met ’n vuurherd, eens die kombuis. Daar is niks waarop hy kan staan om bo-op die muur by te kom nie.

      Hy is net terug in die middelste vertrek toe hy ’n dreuning hoor. Hy gaan kyk by die naaste venster uit. Omtrent tweehonderd meter van die bouval af kom ’n wit bakkie stadig oor die klippe­rige grond na die huis aangery.

      Hy retireer verskrik na die kombuis en uit by die agterdeur. Voor hom lê kaal vlakte. Die dreuning kom nader. Hy draf na die hoek van die huis en loer. Die bakkie is reeds naby genoeg dat hy dit as ’n Ford Ranger kan herken. Van waar hy staan, kan hy sy Nissan om die voet van die lae heuwel sien uitsteek. Hy druk hom teen die muur vas en bid dat die Ford nie om die huis moet kom nie.

      Die voertuig verdwyn voor die huis in en die enjin word af­geskakel. Gawie staan roerloos. ’n Deur klap toe. Dis so stil dat hy die voetstappe anderkant die bouval kan hoor. Iemand kom die huis binne en steek daar vas, kan enige oomblik by die agterdeur uitkom.

      Gawie laat waai. Hy swenk om die kraal sodat die klipmure tydelik tussen hom en die huis is. Al nael hy op die bal van die voet, is hy seker hy kan ’n kilometer ver gehoor word. Voor halfpad oor die tweehonderd meter heining toe voel hy kragteloos. Sy longe brand en sy bors wil skeur.

      Die laaste twintig meter tot waar hy onder die heining deur­wriemel, is hy oop en bloot sigbaar van die opstal af. Met die op­staan kyk hy terug. Daar staan ’n man buite die agterdeur en selfs op hierdie afstand lyk hy groot. Hy kyk reguit na Gawie.

      Gawie klap die bakkie se deur toe en sukkel hygend om die sleutel in die aansitter te kry. Die agterwiele tol in die gruis toe hy wegtrek. Eers op die grootpad, met geen teken van agtervolging nie, kry hy dit reg om homself te oortuig dat die groot skrik on­nodig was. Die man is ’n sekuriteitswag op ’n plaas wat deurloop onder wilddiewe. Natuurlik is hy agterdogtig om ’n vreemdeling by die murasie aan te tref. Daar is niks onheilspellends aan sy teen­woordigheid nie.

      Saam met dié logika raak Gawie kwaad vir homself. Sy skrik is net nog iets wat terugslaan na sy verlede. Altyd die kleinste in die klas en die teiken van boelies. Hy moes baie vlug, en dan het hy iewers in ’n hoekie gaan sit en broei. As sy oupa nie beroof is nie, sou hy ryk gewees het, sou hy die grootste bullebakke kon huur om die boelies reg te sien . . .

      Hy bereik sy woonwa in ’n euforiese luim. Hy wil nie meer dood­gaan nie. Nou het hy rede om te lewe. Hy het ’n doel. Her­klaas Knoessen kan nie meer boet vir sy wandaad nie, maar sy na­sate kan minstens erken dat onskuldige bloed vergiet is om hul rykdom te bekom. Hy moet net daardie Bybelsakkie kry. As dit nog daar is. Dit móét daar wees.

      Hy wens hy kon donkeraand na die murasie gaan om die diamante te soek, maar hy wil dit net een keer waag en hy moet deeglik toegerus wees. Hy moet ’n leer hê en om hier een te koop, kan agterdog wek. Wat wil ’n besoeker met ’n woonwa met ’n leer doen?

      Gaan Johannesburg toe vir die herdenking, redeneer hy met homself. Kom terug oor drie weke. Los die woonwa elders en kom in die nag. Bring ’n ligte opvouleer en gaan soek die diamante. Saam met die brief, wat Mattie seker nog het, sal dit voldoende bewys wees van die onreg wat die Calitze aangedoen is.

      Kalmte keer terug terwyl hy planmaak. Bly oor tot môre, be­sluit hy, en gedra jou soos ’n besoeker wat hier is om ou huise te fotografeer. Klipkuil se geskiedenis kan inderdaad bydra tot sy boek, en die Knoessen-bouval is maar net nog ’n stukkie ge­skiedenis.

      Hy eet beskuit en koffie en gaan vroeg slaap. In die vroeë og­gend­ure droom hy. Hulle staan by die graf, hy en Mattie. Sy hou sy hand vas. Hulle vra saam vergifnis en hy vertel haar dat hy haar nog steeds liefhet.

      Die volgende oggend is hy vroeg uit die vere en gretig om die dag aan te pak.

      Kort na agtuur bel hy sy uitgewer. Leani Bosch is ’n uitbundige vrou met vyf seuns onder sestien wat haar, so vertel sy met haar bulderlag, van haar kop af dryf.

      “Oom Gaaf!” So opgewek soos altyd. “Waar’s ons volgende boek?”

      “Hy kom, hy kom. Amper klaar. Ek soek net inligting vir ’n lekker storie. Ken jy iemand by die koerant wat weet hoe ryk mense ryker word?”

      “Ou geld? Dokters? My ginekoloog het ’n Bentley.”

      “Sakemense. Met maatskappye.”

      Sy dink ’n oomblik. “Dickie Froneman. Hy skryf vir Beeld se sake­blad. Nog jonk en geesdriftig. Hy grou oral finansiële stoutig­hede uit. Hou aan, ek soek sy nommer.”

      Vyf minute later praat Gawie met die jong man. Wat presies wil hy van die Blatt-broers weet? Hoekom? Gawie verduidelik van die broers se grootjie, Herklaas Knoessen, ’n arm boer wat in 1927 skielik skatryk geword het, vermoedelik van diamante. Gawie gaan oor hom skryf in sy volgende boek en hy wil graag weet wat die nasate doen.

      “Skielik skatryk geword? Hoekom sê jy dit so snaaks?”

      “Ek het rede om te glo dit was nie te eerlik nie en daar is ’n storie.”

      “Nou toe nou.” ’n Laggie. “Die Blatt-broers . . . Wat ek van hulle weet, is dat hulle stinkryk is en elke dag stinker ryk word. Agter­dog­wekkend vinnig. Hulle beheer ’n hele paar gelyste maat­skappye en besit ’n string privaat maatskappye. Van die meeste weet ek niks, ek het nog nie juis gekrap nie . . . maar daar lê stories rond van tenderbedrog.”

      “Soos?”

      “Onreëlmatige toekenning van kontrakte. Daar word tenders voorgelê aan die staatsdepartemente, maar daar is vooraf besluit wie die kontrak gaan kry, want iemand is omgekoop. Kan nie sê of die gerugte die waarheid is nie, maar daar

Скачать книгу