Скачать книгу

Investigation & Security, ’n minder bekende sekuriteits­firma tussen die paar duisend ander in ’n misdaadgeteisterde land, is gevestig in ’n beskeie dubbelverdiepinggebou met ’n plat beton­dak in Wynberg, Johannesburg. Op die oog af is dit ’n onbe­duidende onderneminkie in die Blatts se sakeryk. Daar is ’n totale personeel van 76, waarvan 71 net kan raai wat die bestuurder, ’n oudkolonel uit Nasionale Veiligheid, en die ander vier doen.

      Hulle is die bevoorregte binnekring. Knap ondersoekers en man­ne met ’n liefde vir die mooi dinge in die lewe, soos motor­bote en BMW’s, uit die SAPD gelok met aanbiedinge van vet sala­risse. Hoewel hulle besig bly met legitieme ondersoeke vir eksklu­siewe kliënte, is hul primêre taak die sekuriteit van die Blatts se sake­ryk. Dit sluit in ondersoeke na die mees intieme besonderhede van po­tensiële sakevennote.

      Een van hulle ontvang opdrag om Calitz se herkoms te onder­soek. Die uitgewer van ’n Plek van Stilte word met die derde tele­foonoproep opgespoor. Jammer, hulle verskaf nie persoonlike besonderhede van outeurs nie, maar saam met sy volle naam ver­skyn Gabriël Zirk Calitz se geboortedatum en -plek in die boek se flapteks vir die hele wêreld om te sien en dit word heel behulpsaam voorgelees.

      Minder as ’n uur nadat Nottingham se e-pos om eenuur ont­vang is, stap ’n forsgeboude man in sy middel dertigs die kan­toor van die departement van binnelandse sake in Randburg binne. Dis nie die eerste keer dat hy hier kom navraag doen nie en hy weet presies waarheen om te gaan. Vir ’n beskeie fooi van seshon­derd rand – kontant, geen kwitansie – word ’n stamboom flink aan hom beskikbaar gestel. Gabriël Zirk Calitz, gebore op 14 April 1952, is die enigste kind van Coenraad Barend Calitz, gebore op 19 April 1920 en oorlede op 11 Desember 1991. Coenraad se vader was Bartholomeus Abraham Calitz, gebore op 4 Maart 1891. Op 16 Junie 1936 is hy deur die hof dood verklaar. Gabriël Calitz was ge­troud met Mathilda Karlina Joubert. Ná hul egskeiding is sy weer getroud en is nou ’n weduwee Winkler. Haar adres op rekord is in Rosetten­ville, Johannesburg.

      Die ondersoek brei dadelik uit. ’n Tweede ondersoeker van Terrier vind dat Mathilda Winkler, bekend as Mattie, ’n woonstel be­woon bokant die haarsalon waar sy al jare lank werk, nou haar eien­dom. Sy is ’n geliefde lid van die NG gemeente, en met so­veel getroue kliënte en vriende kan haar agtergrond moeiteloos nagevors word sonder dat sy self genader word. Sy en Gabriël is ’n jaar ná die dood van hul enigste kind geskei. Vir die afgelope nege jaar dwaal hy in die Noord-Kaap rond met ’n woonwa. Daar is ’n storie van sy oupa wat jare gelede met ’n fortuin aan diamante in die Noord-Kaap verdwyn het, en Calitz het vertel hy gaan sy oupa se spoor soek.

      Rudi Blatt, jongste van die Blatt-broers en baas van Terrier, weet teen laat­middag dat dit wel ’n nasaat van die vermoorde Bart Calitz is wat om Spitsieshoek rondsnuffel. En die man is inder­daad ’n vryskut-joernalis.

      Twee

      Net na sononder skuif ’n hewige donderstorm oor noord­weste­like Johannesburg en Roodepoort, en ’n weerligstraal slaan die ou substasie wes van Muldersdrift in sy peetjie. Tromp Faber se huur­huis op die kleinhoewe is sonder krag, wat hy ontdek toe hy onder die stort uitkom en handdoek om die lyf kombuis toe slof en die stoof aanskakel om wors te bak. Dinsdag is worsdag.

      Blits, die fris dobermann met waarskynlik ’n onverantwoordelike rottweiler se gene iewers in sy familie, het voor die badkamer­deur gewaak en loop saam kombuis toe. Hy loop altyd en oral saam.

      “Krag is af,” verduidelik Tromp vir die gespitste ore en vraende frons.

      Dit pla hom nie meer dat hy met ’n hond gesels nie. Blits is slim en, so vermoed Tromp, wêreldwys. Iemand het hom meer as ’n jaar tevore verdwaal en verbouereerd langs die Hendrik Potgieter-snelweg opgelaai en hom DBV toe gevat. Moontlik vanweë sy ras se reputasie as aanvalshonde, was mense bang om hom aan te neem en Tromp het hom net-net van die spuitnaald gered. Asof hy dit verstaan, laat hy Tromp nie hier op die kleinhoewe onder sy waak­same oë uit nie.

      Tromp toets ook die ligskakelaar en die ergste word bevestig. Hy loop na die eerste slaapkamer, nou sy kantoor en so karig en smaakloos soos die res van die ou huis uit vendusies gemeubileer. Bel die noodnommer terwyl Blits in die deur na hom sit en kyk. Substasie is dood, verneem Tromp. Minstens ’n paar uur van duis­ternis. Uit amptelike mond beteken ’n paar uur minstens tot môre laat en waarskynlik oormôre.

      Tromp loop terug kombuis toe en vat vir hom ’n handvol peri-peri-grondboontjies. Blits hou nie eintlik van peri-peri nie en kry ietsie uit die koekblik. Tromp peins. Hy was van plan om nuus te kyk ná ete, dan Ben-Hur uit sy versameling ou films. As alternatief is daar ’n uitnodiging na ’n partytjie, maar hy is nie daarvoor lus nie. ’n Mens raak dik vir partytjies.

      Aandete is nie ’n probleem nie, hy het ’n gasstofie. Maar die gas­lamp maak ’n vertrek ondraaglik warm. Dus: geen TV, geen mu­siek, onvoldoende lig vir ’n boek. Hy sit die probleem en be­dink en . . . o ja, die telefoon het gelui terwyl hy in die stort was. Hy loop terug kantoor toe, skakel die antwoordmasjien aan en vries soos ’n standbeeld toe hy die stem hoor. Elf jaar gelede se her­inne­ringe spoel oor hom.

      “Tromp? Dis tant Mattie.” Stilte, asof sy eers woorde soek. “Ons moet praat, dis amper weer tyd. Bel my. Die nommer is nog die­selfde. Asseblief.” Weer stilte, dan net: “Tot siens solank.”

      Hy luister weer, dan ’n derde keer, en gaan sit. Amper weer tyd. Magnus se herdenking.

      ’n Storm emosies wel in hom op. Die laaste woorde wat hy van haar gehoor het, elf jaar gelede, die dag voor die begrafnis, was ’n verwyt. Ons het jou gevra om hom te help, nie te laat doodskiet nie. En nou uit die bloute haar oproep.

      Tog is dit ook nie heeltemal onverwags nie. Natuurlik moet hulle praat, hulle twee én oom Gawie. Dis al wat vir hulle ’n soort afsluiting kan bring ná Magnus se dood. Hy weet dit lankal, maar hy het nog nooit die moed gehad om een van hulle te nader nie, te vrekbang vir nog ’n verwyt of verwensing. Oom Gawie se laaste woorde was: Ek hoop jy loop ’n lang draai deur die hel, verraaier!

      Hy hét die draai geloop, en dit was lank. Hy is nog nie eens seker of hy heeltemal daar uit is nie. Dalk sal hy nooit wees nie, want aan sy eie verwyt kan hy nie ontkom nie. Dit was hy, gretige jong polisieman, wat sy ewe gretige en swaargewapende makkers na die plek gelei het waar sy boesemvriend doodgeskiet is.

      Hulle was agt jaar oud toe hy en Magnus langs mekaar in die klaskamer beland het. Magnus met die babagesiggie, klein van postuur, babbelbek wat nooit kon leer om aan die gevolge te dink voor hy uitblaker wat in sy kop kom nie. Sommer die eerste week al moes hy agter Tromp se breër en hoër skouers skuiling soek toe drie fris manne in graad drie daarop uit was om sy nekkie om te draai. Net desperate diplomasie het hulle albei van vergelding gered, en dis seker waar hulle bloedbroers geword het. Hulle het minder as een van Rosettenville se lang straatblokke van mekaar gewoon, die Calitze nuwe intrekkers. Albei enigste kinders, en kort voor lank was elkeen so tuis in die ander se huis as in sy eie. Binne weke het Magnus sy nuwe vriend die geheim van die diamant­skat vertel.

      Hulle het dié middag, ’n triestige Vrydag, by die Calitze se eet­kamertafel gesit en verveeld aan ’n moeilike legkaart gepeuter. Uit die bloute vertel Magnus toe hulle familie is eintlik skatryk, al is sy pa net ’n elektrisiën. Tromp het gevra hoe ryk is skatryk, en Magnus het gesê weet jy hoeveel is ’n sak so groot soos ’n Bybel vol diamante werd? Sewe miljoen rand, het Tromp geraai, want dit het omtrent genoeg geklink vir so ’n wolhaarstorie. Toe sien Magnus Tromp wil lag en hy wip hom en spring op en sê kom kyk self as jy nie wil glo nie.

      Hulle was alleen in die huis, tant Mattie winkel toe, en Magnus het hom na sy ouers se slaapkamer gelei. Bo uit sy ma se klerekas het hy ’n boepgepakte skoendoos gehaal en op die bed oopgemaak. Dit was vol foto’s, want oom Gawie was ’n ywerige fotograaf in sy vrye tyd. Onder die eerste pakkie foto’s was die brief. Eintlik twee briewe saam in ’n koevert. Die een, in potlood geskryf, was byna on­leesbaar verbleik, en iemand het dit in ink oorgeskryf. Hulle kon nog nie sulke aanmekaar handskrif vlot lees nie, maar Magnus het die storie uit sy kop geken en daar was genoeg herkenbare woor­de om Magnus se wonderlike verhaal te bevestig. Sy oupagrootjie, wat lank gelede iewers in die Noord-Kaap saam met ’n vriend ver­dwyn

Скачать книгу