Скачать книгу

die dorp wat leeg staan en inmekaar val. Op plase ook. Deur die jare het party boere opgegee en padgegee. Ander het ryk geword en nuut gebou.

      “Niemand darem so ryk soos die Blatts nie. Jy weet mos van die Blatts?”

      “Wie’s hulle?”

      Janna lyk geskok. “Ek dog die hele wêreld weet van die Blatts! Twee broers. Ken nie die einde van hulle skatte nie. Baie mense het mos doerie tyd ryk geraak van Namakwaland se diamante.”

      ’n Kekkellaggie laat sy oë toevou in die pofferwange. “Nou nog, as jy my vra. In die ou dae het vrome manne op die ouderling­bank gereken die diamante is Gods gawe en wie de hel is Hertzog om te wil sê ’n arm man het nie reg daarop nie? Ek sê jou, daar het al meer smokkeldiamante uit Namakwaland gekom as wat wet­tig gedelf is. ’n Man kon dit op ’n kol nie waag om vooruit te boer nie, dan kyk almal jou skeef aan en fluister diamante. Daar by die Blatts trek ook ’n rokie. Die storie loop dat die oupa . . . nee, ek lieg nou, dit was die oupagrootjie, ou Herklaas Knoessen . . . dat hy nooit eers self op die diggings was nie. Stokalleen op sy plaas gebly. Toe raak hy eendag net so stil-stil weg. Meer as ’n jaar later slaan hy weer hier uit, opgetof, in ’n blink motorkar, en hy koop nog grond. Hulle het nou meer as twintigduisend hektaar. Verbeel jou! Nie ’n enkele skaap nie, net wild. Jy sien die Blatts ook net so af en toe. Dan kom hulle hier aan in ’n yslike vliegtuig en dit klink soos oorlog soos hulle maai. Springbok, gemsbok . . . daar’s troppe en troppe.”

      “Waar woon hulle dan?”

      “Johannesburg. Ou Knoessen het glo ’n fortuin geloop maak uit eiendom en wat nog daar in Sodom, en sy nageslag het net meer en meer vergaar. Hier staan nou ’n kasteel van ’n huis, en dit net vir nou en dan. Kompleet met ’n landingsbaan en ’n skuur vir die vliegtuig. Dis net die bestuurder en ’n sekuriteitsman wat op die plaas bly, behalwe die werkers. Sekuriteitsman, ek vra jou. Lyk soos ’n stoeier.”

      Janna skep ’n slag asem, vee weer oor sy gesig. “Hulle is ’n be­neukte spul, hou hulle eenkant. En bewaar die arme wilddief wat hulle vang. Hulle werk sy gal, en jy hoor g’n niks van mense­regte nie. Dis Blatt-regte wat hier tel. Laas jaar was hier stories van moord. ’n Jong knaap – hulle sê hy was ’n wilddief – is op die Blatts se plaas doodgeskiet, maar daar het niks van gekom nie. Die ding is sommer net doodgesmoor.”

      “Gesmoor? Die polisie moes dit tog ondersoek het?”

      “Man, ja, dis nie dat ek wil slegpraat van ons plaaslike polisiehoof nie. Maar plaaswerkers praat mos onder mekaar en dis ’n feit, daai man loop gedurig en biltong kou en hy word gereeld op die plaas gesien in siviele drag en met ’n jaggeweer. Hoe lank gaan jy bly?”

      “Ek sal môre oorstaan en oormôre ry.”

      “Agter nog murasies aan? Waar’s die familie?”

      “Geen familie nie.”

      “Haai! Nie eers vrou en kinders nie?”

      “Ek is geskei. Daar was ’n seun. Hy is dood.”

      “My hemel, mens! Was hy siek? Hoe oud?”

      “Ongeluk. Negentien.”

      Dis net makliker om te sê dit was ’n ongeluk – mense dink aan ’n padongeluk. Dit was nie. Elf minute oor vier op ’n Maandag­oggend het die polisie vir Gawie en Mattie kom opklop om hul enigste kind se lyk te gaan uitken. Die uniforms was nie juis sim­patiek nie, klaarblyklik gedink hulle het met gomtorre te doen. Magnus was by ’n dwelmhool, skynbaar om voorraad te kry, toe die polisie toegeslaan en wild en wakker geskiet het. Die koeël is deur sy linkeroog.

      “Sjoe.” Janna skud sy kop. “Ek kan my voorstel.”

      Nee, hy kan nie. Niemand kan hom indink in die selfverwyt as jy jou kind na dwelms en die dood gedryf het nie. Jare lank het hy gedink hy doen goed deur sy seun, sy enigste, sy trots, aan te moedig om te studeer en uit te styg tot waar die Calitze eintlik moes gewees het. Werk harder! Jy kán! Eers veel later, hier in sy eensaamheid, het die verskil tussen aanmoedig en dryf tot hom deurgedring. Hy het sy kind na prestasie buite sy bereik gejaag, tot Magnus, wat so hard probeer het en net nie in staat was nie, verligting gaan soek het in dwelms.

      “Kry jy baie besoekers hier?” stuur hy die gesprek weg van die onderwerp. Dis privaat gebied.

      Janna sug. “My vrou het van die begin af gesê ons is te af­ge­sonder, maar toe kry ek mos die mooi water juis hier by die pad en ek dink: hoekom net vir skaap? Die vrou was reg. Jy bly tot oormôre, sê jy?”

      “Dit hang af. Dalk is daar op Klipkuil ook moontlikhede, dan bly ek nog ’n dag.”

      “Nes jy wil. Laat weet as jy iets nodig het. O, die kerkie is ander­kant die dorp. Net verby die laaste huis draai die pad links op na die fontein toe. Jy sal die murasie daar naby kry, so half toegegroei al. Gaan voor sononder, die sendeling spook glo.”

      Janna gaan maak seker daar’s water in die tenk, oorhandig sleu­tels vir die hek en ablusiegebou en vra dat Gawie tog maar moet sluit as hy by die hek uitgaan. Hy het al probleme gehad met rondlopers wat hulle in die badkamer tuismaak. Nee, dis beter Gawie betaal sodra hy definitief besluit het hoe lank hy gaan bly.

      Janna groet en ry dorp se kant toe.

      Gawie eet ’n peer vir middagete. Hy moet gaan brood soek. Klipkuil behoort net vier kilometer verder te wees, maar hy voel nou te moeg. Gelukkig is daar geen haas nie; hy moet eers oor twee weke in Johannesburg wees. Vanmiddag wil hy deeglik uit­rus. Sommer net rondkyk en die stilte geniet. Hy gaan lê op die bank in die woonwa en raak aan die slaap.

      ’n Toeter skreeu hom wakker en hy gaan uit. Janna staan voor sy bakkie en leun met sy dik voorarms op die hek.

      “Man, ek moes jou gesê het. Jy soek ou huise? Ek vertel jou van die ryk Blatts en ek vergeet skoon, ou Knoessen se oorspronklike opstal staan nog. Dis nou ’n murasie, maar dáár is nou vir jou ’n storie as jy geskiedenis soek. Van arm kluisenaarboer tot skielike miljoenêr. Ek dink eers daaraan toe ek op die dorp kom en toe bel ek die plaasbestuurder. Ek dog watse skade kan dit nou aan ’n murasie doen om kiekies daarvan te vat en ek vertel die man van jou boek. Daar klim hy sommer op sy perdjie. Vreemdelinge word nie op Spitsieshoek toegelaat nie. As ek jy is, vee ek my af aan die mense se beneukgeit. Die ou plek is langs Flip Meyer se grensdraad, jy kan dit van die pad af sien. Dis ’n hoë wildheining, maar jy kan jou kiekies vat. Moet liewer nie oorklim nie. Hulle het voorlaaste maand ’n trop leeus daar losgelaat, seker vir ryk buitelanders om van ’n bakkie af te kom skiet. Ek het vir Flip ook gebel. Hy en sy vrou is Stellenbosch toe, die dogter studeer daar, maar hy sê jy’s welkom, maak net die hek toe.”

      Gawie het nie lus om met ’n beneukte spul wat wilddiewe skiet deurmekaar te raak nie. Maar hy is nou hier en dalk kan hy tog ’n foto met ’n storie kry.

      “Waar woon die Meyers?” vra hy.

      In die kantoor op Spitsieshoek skryf Steve Nottingham, be­stuur­der, ’n verslag oor wildverspreiding op die 22 000 hektaar. Hy tik met twee vingers, versigtig en bysiende deur dik brillense, skraal skouers geboggel oor die toetsbord. Die jongste lugfoto’s toon ’n toename van byna tien persent in die wildgetalle. Die plaas kan dit dra, maar daar is ’n wanbalans in die verspreiding, met ’n dreigende oorbevolking in die suide. Die oplossing is beter water­voorsiening in die noorde en hy het ’n geoloog ontbied om daar te gaan water aanwys.

      Hy sluit die verslag af met verwysing na Gabriël Calitz, wat foto’s van die ou opstal wou neem. Die man is glo ’n bona fide-joernalis, met ’n fotoboek,’n Plek van Stilte, van murasies in die Groot-Karoo op sy kerfstok, maar volgens staande instruksies is hy summier toestemming geweier.

      Omtrent alle superrykes, weet Nottingham, is sku vir joernaliste en publisiteit. Meesal net om hul privaatheid te beskerm, of om nie die aandag van misdadigers te trek nie, maar dikwels genoeg ook om onwelkome aandag van die Inkomstediens en selfs die gereg te vermy. Waar die Blatts inpas, kan Nottingham raai, maar dit gaan hom nie aan nie.

      Hy het reeds vir Jason Cooper, die sekuriteitsman, gestuur om die registrasienommer van Calitz se voertuig

Скачать книгу