Скачать книгу

wat die man daar soek?”

      “Wraak. Ons het sy geld.”

      In een van haar onnutsige luime het moeder natuur besluit om die matriarg se geniale breingene aan die oudste broer toe te ken en die grootvader se lyfgene aan die jongste. Veral in hul tienerjare het dit nogal wrywing veroorsaak, maar mettertyd het hulle tot ’n vergelyk gekom. Walther sou ophou om Rudolph só subtiel in geselskap te verneder dat hy dit eers teen slaaptyd sou agterkom, en Rudolph sou nie weer vir kuiermense wys hy kan sy ouboet se neus binne tien sekondes in die gras vryf met sy linkerhand in sy broeksak nie.

      “Hoe weet jy die man soek wraak?” vra Walther.

      Rudi frons vir die 149 kilogram wat die elektroniese skaal aan­dui en Walther weet hy wil 150 sien. Frons en al verteenwoordig sy broer Adonis se kop op Herkules se lyf, oë so helder blou en onskuldig soos ’n peuter s’n, onder ’n haarbos soos ’n goue kroon.

      Rudi grynslag. “Ek het die hele ondersoekspan in die veld. Hulle praat met mense wat die ouman geken het toe hy nog hier rond was. Hy het glo toe al ’n king-size obsessie met sy oupa se diamante gehad. Hy kon uitfreak oor die lae bliksems wat sy oupa vermoor en beroof het. Hy moes ’n ryk man gewees het, nie ’n sukkelgat-elektrisiën nie. Toe loop soek hy sy oupa se spoor. So het hy gesê: spoor. Hy’s hier weg met ’n woonwa, nege jaar gelede al, die godverlate Noord-Kaap in. Braai in die somer, verkluim in die winter. Hoekom? Niemand met ’n breinsel wat nog werk, soek nege jaar deur die Karoo vir bullshit nie.”

      Walther verafsku kru taal en hy weet dis bedoel om hom te tart. Hy ignoreer dit en aanvaar die logika met ’n knikkie.

      “Is daar rede om te vermoed hy weet waar die geraamtes is?”

      Op sy sterfbed het Herklaas Knoessen sy gruweldaad aan sy dogter gebieg, maar hy is ongelukkig weggeruk om te gaan verant­woording doen voor hy kon uitlap waar sy slagoffers rus. Maar op ’n stuk aarde waar fratsstorms al millenniums se geheime oop­gespoel het, is daar altyd die geringe moontlikheid dat iemand oor ’n ou skedel kan struikel – die soort sensasie wat joernaliste kan laat wonder hoe Herklaas se nasate deesdae vaar.

      Rudi gaan na ’n bank waar sy klere lê, klim in ’n onderbroek en trek ’n wit T-hemp oor sy kop. Al sy klere word vir hom gemaak, nie omdat hy so vitterig soos sy broer is nie, maar omdat hy sukkel om klere te kry wat pas. Hy besoek winkelsentrums hoofsaaklik vir die pret om skares voor hom te sien oopkloof soos die Rooi See voor Moses.

      “Nog nie,” antwoord hy. “Ek dink iets anders het hom daar gekry. Raai maar self.”

      “Jimmy het my gebel,” sê Walther. “’n Finansiële joernalis het navraag gedoen oor ’n paar van ons maatskappye. Spesifiek oor TauComp en die sagteware vir die departement van gesond­heid.”

      Jimmy Levinski, finansiële direkteur, is 72 en kan steeds die vier­kantswortel van enige sewe syfers binne sekondes uitwerk. Danksy Walther se vrygewigheid is hy ’n ryk man in eie reg, sonder afhanklikes, en hy werk vir die genot daarvan. Sy lojaliteit is bo verdenking.

      “Skielik nóg ’n joernalis?” Rudi gluur na sy broer. “Watter ander maatskappye?”

      “Hy’t net twee genoem: TauComp en IhalaniTrek. Jimmy se indruk was hy het meer in gedagte.”

      “Het hy enige rede gegee waarom hy krap?”

      “Hy werk glo aan ’n artikelreeks oor persoonlikhede in die sake­wêreld. Hy’t uitgevra oor ons agtergrond en die oorsprong van die familiefortuin. Dis geen geheim dat dit uit Weskusdiamante kom nie, maar hy soek die besonderhede.”

      “Wat wou hy weet oor die kontrak met gesondheid?”

      “Hoe ons dit so maklik voor goedkoper tenders kon wegraap. Jimmy kon aflei hy het met ander tenderaars gepraat, en daardie mense is kwaad vir ons, Rudi. Hulle soek net ’n vatplek. Een joernalis krap nou in ons verlede en een in ons hede. Dis geen toeval nie. Vet kommissies is net goeie besigheid in Afrika-kultuur, maar so af en toe moet dit korrupsie genoem word en van iemand ’n voorbeeld gemaak word. Hierdie twee voorbarige swape het ons gekies.”

      Rudi knoop sy laaste skoenveter en staan op. Hy geniet dit steeds om te sien hoe sy broer terugstaan sodat hy nie sy nek so ver agteroor hoef te buig om op te kyk nie.

      “Ek het net vir die Lear gewag,” sê hy. “Ek gaan plaas toe. Calitz sal my vertel wat hulle planne is.”

      “Versigtig, Rudi,” maan Walther. “Mense weet hy is daar. As iets met hom gebeur, veral nou met sy neus in ons sake, sal die vingers reguit na ons wys.”

      “Moenie jou daaroor worry nie, ouboet. Ek’s nie rêrig stupid nie. Ek sal hom net effentjies wurg.”

      Bo in die Wespark-begraafplaas sluit Tromp sy bakkie, want selfs be­graafplase is nou ook misdaadplekke. Hy loop vinnig tussen die grafte deur. In Beyers Naudé-rylaan raas die oggendverkeer verby, maar hier is dit rustig, nog te vroeg vir die eerste begrafnis van die dag. ’n Tortelduif koer vertroostend uit ’n sipres.

      Aan die voet van ’n swart marmerblad gaan hy staan. Hy kyk na die goue letters. Die verskil tussen Geb. en Oorl. is negentien jaar en 124 dae. Hy het dit uitgewerk daardie reënerige dag toe die kis hier afgesak het en hy alleen eenkant gestaan het. Hy was nie welkom nie, en nou voel hy steeds amper dieselfde ongemak. Dit sal die eerste keer sedert daardie dag wees dat hy tant Mattie weer in die oë kyk en hy het geen idee wat om te verwag nie. Hy wou voorstel dat hulle hier ontmoet, en toe kom die voorstel van haar. Dis paslik. Magnus lê nou elf jaar hier en wag vir afsluiting.

      ’n Ou Volkswagen, pragtig gerestoureer in glinsterende pers, kom hou agter die Hilux stil. Daar is twee vroue in. Hulle gesels nog ’n oomblik, dan klim een uit met ’n bos geel blomme en ’n waterkan. Geel was Magnus se gunstelingkleur. Die vrou is klein, in haar laat vyftigs. Eers toe sy nader kom, kan Tromp grys in die amper gitswart hare sien.

      Sy kom staan stil voor hom en betrag hom ondersoekend. Dit moet só voel om in die beskuldigdebank te staan en wag vir die vonnis.

      “Tromp,” sê sy. “Jy lyk goed.”

      “Dag, tant Mattie.”

      As die weersien vir haar emosioneel is, het sy dit onder beheer. Hoe belaglik is dit dat hy al die jare bang was vir hierdie weerlose klein mensie. Die spanning waarmee hy hier aangekom het, vloei uit hom uit.

      “Ek wou jou lankal bel, maar . . .” Sy skud haar kop. “So baie dinge was agterstevoor.”

      Ná elf jaar is sy miskien selfs skraler, en daar is nou fyn plooitjies om haar mond en oë wat hy nie kan onthou nie.

      “Hoe gaan dit, tannie?”

      “Goed. Met my gaan dit goed. En jy?”

      “Goed! Voor die wind.”

      “Ek weet jy kom elke jaar,” sê sy. “Elke keer twee dae ná die herdenking. Ek kry die blomme altyd hier en toe het ek gekom loer en jou gesien. Vir oom Gawie ook. Elke jaar, een dag ná die datum, is hy hier. Altyd so tienuur se kant, ná die verkeer. Ek het hom al ’n paar keer voorgelê, maar hy weet dit nie. Elke jaar sluip julle twee een na die ander hiernatoe en ek kruip daar eenkant weg. Is dit nie pateties nie? Soos ons al die jare vir mekaar koes, mekaar nie in die oë wil kyk nie. Ons, die skuldiges.”

      Sy draai vinnig weg, maar nie voor hy sien hoe sy haar lip vas­byt nie. Sy trek haar skouers ferm terug en haal diep asem voor sy terugdraai na hom. “Dit moet nou end kry. Elf jaar is te lank. Maar ons het jou so sleg behandel destyds, ek was bang jy wil niks meer met ons te doen hê nie. Kan ek seker wees, Tromp? Die sesde is jy hier?”

      “Ek sal hier wees.”

      Sy knik en ’n halwe glimlaggie vorm. “Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons oom Gawie ook hier kan kry nie. As ons drie kan hande vat. Net hier.” Sy sit haar hand op die kopstuk en kyk af na die swart blad. “Ek en oom Gawie raak nie jonger nie. Ek sal so graag die laaste bietjie haatgif wil sien verdwyn voor my einde kom.”

      “Kan ’n mens oom Gawie kontak?”

      “Ek

Скачать книгу