Скачать книгу

jou vandag vertel, die enigstes wat jy môre kan glo, sal die dooies wees.

      In die herberg in Bisantion, waar die swaels hulle nes herbou, dink Nagri na oor wat Xenophon hom eendag in die berge gevra het terwyl die regiment honderde kamerade in bevrore aarde begrawe: “Wat glo die Jode, wat gebeur met die mens se gees as hy sterwe?”

      “Dit styg soos ’n duif uit sy bors op, en rys hoër en hoër tot dit wegraak in die hemel,” het hy geantwoord. “En julle?”

      “Hulle daal af in Hades en swerf daar in die skemer, koud, bedroef en verlangend na die lewe.”

      Nagri wonder of Xenophon besef wat hy daardie dag by Sardis gesien het. Dit is wáár, só het dit gelyk, só het Xenophon dit self gesien. Maar verstaan hy wat hy daar sien? Die soldate is tog nie byeengebring weens die magsug van ’n prins soos hy geglo het nie. Xenophon besef dit nie, die versamelde troepe en hulle offisiere weet dit ook nie. Selfs prins Kuros en koning ArtaXerxes weet dit nie, maar hulle is pionne op ’n skaakbord. Die spel van konings het begin. Die prins het geskuif, ’n waagstuk. Sy broer het geantwoord, verdedigend. Kuros skuif nou weer, uitdagend. Die koning sal dadelik antwoord met al die mag, krag en wysheid van ’n heerser oor ’n wêreldryk.

      Nagri buig oor sy boekrol en skryf: So spreek die Here. Die hand wat teen die muur skryf, is myne. ArtaXerxes van Persië is geweeg en te lig bevind. Sy land word van hom weggeneem en aan die Grieke gegee. Luister, hulle kom op die hoofweg aan.

      Maar nog nie, nog nie, hy is te ongeduldig.

      Proxenos

      In die generalestaf-kamp met wimpels bo die tente kry Xenophon sy neef. Hy is nog so mooi, bruin en opgeruimd soos tevore; nie juis intelligent nie, maar uit ’n wonderlik goeie familie. Proxenos neem hom na sy eie tent, gee sy gas se rugsak in sy bediende se sorg en beveel die man om te voorsien vir twee. “Eers ’n beker wyn om die stof uit die keel te spoel, Neef. Daarna stel ek jou voor aan die prins en ’n paar offisiere. Die prins praat Grieks, spreek hom aan as ‘satrap’.”

      Dadelik daarna ontmoet hy prins Kuros. Die donker prins swaai ’n haas aan ’n riem om sy kop vir sy rooivalk wat uit ’n hoë boomtop neerduik. Hy neem die valk op sy vuis, blinddoek hom met die velmus en draai om te groet. Die man is jonger en skraler as Xenophon, maar sy oë lyk rooi en moeg. Sy yl, gevlegte baard blink van olie; sy veelkleurige gestreepte jurk, lang broek en sagte skoene is met silwerdraad geborduur, sy sabelskede sit gekoek van rooi, wit en groen stene. Hy praat met ’n effense sleeptong, die ‘s’ elke keer ‘sj’. Sy greep om Xenophon se pols is soos yster.

      “Welkom, vriend, op my ekspedisie teen die rebellerende Pisidiërs. Dit sal maar twee of drie maande duur, en as dit afgeloop is, bring ek jou tuis.” Die geblinddoekte valk op sy vuis skud heftig sy kop, dit laat fyn klokkies lui.

      Uit die regimentele wapenrak voor Proxenos se tent kies Xenophon sorgvuldig dit wat hom teen Nemesis en enige ander lot moet beskerm: ’n swaard van die regte gewig met ’n hegte greep en nuutgemaakte skede en koppels, ’n eenvoudige Korintiese helm met perdehaarkruin, ’n borsharnas van nuwe leer en kniehoë brons-skeenskutte, alles met nuwe rieme en gespes. Wat hy kies, is sonder versiering soos Spartane daarvan hou. Eenvoud van smaak is al wat hy met daardie barbare gemeen het. Hy weeg skild na skild op armlengte en soek een van die ligstes uit, met ’n nuwe armband, handgreep en draband. Die sak is van swartbruin beesvel, tweedehands, maar deeglik gebrei en sag.

      Afsonderlik gelaer, windop van die Griekse huurtroepe, staan die prins se woonwa en dorpie van donkerblou tente, daaragter die van sy berede lyfwag, die Onsterflikes, en anderkant hulle, soos duisende blare wat van verherfste bome afgeval het, die lae bruin skuilings van die voetsoldate. Soveel geld, vir nuwe wapens, nuwe vegkarre, nuwe harnasse, nuwe tente. ’n Prins wat wil uitstyg, moet sy ware kleur wys: die goud van ’n opkomende son, niks minder nie.

      “Hier kom probleme, Neef,” sê Proxenos, en beduie na die marsjerende inlandse soldate. Almal is in die koning se diens, maar onder Kuros se bevel, almal dra die langbroek en geborduurde knielengte jurke, sagte skoene, sagte musse. Almal spreek die ‘s’ uit met ’n sisgeluid. Dié vreemde klank in ’n onverstaanbare taal laat Xenophon onrustig voel; hy dink aan groot afstande en ’n reis waarvoor hy nie behoorlik voorberei is nie.

      “As Kuros sy broer gaan aanval,” sê Proxenos toe hulle verby die paradegrond na die perdekraal loop om vir Xenophon twee perde uit te soek, “moet hierdie soldate binnekort vir lewe of dood kies. Kies hulle vir Kuros, verraai hul die koning. Kies hulle vir die koning, verraai hulle die prins. Ontrou aan enige kant is verraad, verraad beteken die dood, en in dié koninkryk is die dood leliker as op ander plekke, die sterwe kan vier dae duur.”

      “Vermoed hulle wat kom?”

      “Hulle weet. Maar hulle mag nie ’n tong roer tot Kuros hulle voor daardie vurk in die pad bring nie. Ek glo hy sal dit so lank as moontlik uitstel. Hou dit agter die tande-heining.”

      Hulle stap verder. Daar is twee perdekampe, een vir kavallerieperde en een vir die vet, wit gekastreerde hingste wat deur Perse aan hulle gode geoffer word, dié word daagliks met hawer gevoer. Hulle sluit aan by ’n groep offisiere wat die Persiese ruitery dophou. Dertig ruiters ry in ’n dreunende, stowwerige kavalkade om ’n paal waarop ’n vasgebinde vark lê en skreeu. Mooi is die gespierde afgerigte perde, die ruiters se swierige harnas, die plat pyltas aan ’n gekleurde band oor die bors. In die linkervuis hou hulle vyf pyle en die boog met sy vreemde dubbele kromming. Hulle los die teuels, staan in die stiebeuels, leun ver oor die perd se nek, gee rigting met die knieë en spoed met die hakke. Met die oë op die teiken trek hul met die regterhand ’n pyl, haak dit, span die boog en jaag die pyl in die teiken in.

      “Ons Grieke kan nie dié styl bekostig nie,” sê Proxenos, toe hulle in die kraal tussen die perde loop. “Skiet jy mis, tref jy miskien ’n makker oorkant. Ons het nie die getalle nie.”

      “Die vark veg ook nie terug nie,” fluister Xenophon. “Hoe gaan hierdie mense kies?”

      Proxenos laat sak sy stem. “Sy lyfwag, glo ek, vír Kuros. Hy behandel hulle uitstekend. Die ander waarskynlik vir die koning.”

      “En ons?”

      “Ek weet nie. Sien jy Kuros se totale mag, Neef ? Ons totale onkunde?”

      So, in totale onkunde, sluit Xenophon by die leër aan, in vertroue op ’n Oosterse prins. En dit is nie Proxenos se skuld nie, nie een van die gehuurde Grieke is vertel dat dit teen die koning is wat hulle gaan optrek nie, maar hulle vermoed tog dat dit teen die ver hoofstad Babilon gaan wees, die gedugte, half-mitiese stad van ’n duisend gerugte, ver verby Pisidië, oor sneeubedekte berge en magtige riviere, anderkant ’n brandende woestyn, verder as enigiets wat enigeen tot nog toe met soldate gewaag het.

      Wanneer die wagvure soos ’n bidsnoer om die kamp blink, begin die nag. Die eerste aand sit Xenophon en Proxenos na die aandparade voor die tent en drink die streek se persbruin wyn met water gemeng. Dit is ’n stil, warm aand. Die fakkel se rook, wat na dennehars ruik, trek lui en regop tussen die bome op.

      “Dit is goed om jou weer te sien, Neef,” sê Proxenos. “Ek is bly jy kom saam. Ons het baie om oor te gesels.”

      “Baie het verander.”

      “Ek ken jou skaars,” sê Proxenos. “Maar niemand ken jou nie.”

      “Dit is nie ’n slegte ding nie.”

      Proxenos lig die wynsak, hou dit skuins, bied dit aan. “Nog van dié? Hou jou beker. Hoe kan jy lief wees vir iemand as jy hom nie ken nie? Jy het nooit na meisies gekyk soos ons ander nie. Te hooghartig, het hulle gesê. Nie genoeg knaters nie, het ons gedink.”

      Dit was hoofsaaklik uit armoede, dink Xenophon, maar hy glimlag net, sê niks nie. Laat sy neef praat.

      “Jy praat, maar gesels nie, Neef. Ek onthou in die stadswag se kampe het jy by die vuur gestaan, mantel toegevat en nie ’n enkele woord gesê nie. Jy het altyd ’n vreemdeling gebly, selfs vir my.”

      Ja, hy het die ou mantel toegehou omdat sy klere afgesteek het by ander jong offisiere

Скачать книгу