Скачать книгу

Hy ondersoek sy kaal werktafel met die leë inkhoring op sy staander, swart inkvlekke in die hout en die lampie van onversierde klei asof sy eie verlede en toekoms daar geskryf staan, en besluit om te gaan. Hy is ’n arm man, sy jeug amper verby, en nou toets hy sy geluk teen ’n koning. Wat ’n dwaas.

      Xenophon besoek sy gewese leermeester Sokrates agter die digte granaatheining waar die ou man in ’n takskerm woon ná sy vrou hom weggejaag het, net vel en been met ’n vuil kleed en olierige strooihoed. Op skeenhoogte bo die grond is ’n lang riem tussen twee stokke gespan. Sokrates loop na links en na regs, praat met die riem, dui verskillende plekke met sy vinger aan. Verslete sandale klap onder sy voete. Hy kyk op toe Xenophon groet. Onder een oog is ’n persbruin geswelde kneusing. Die mandjie met groente en brood aanvaar hy dankbaar. Hy kyk nuuskierig binne-in.

      “Jy kom iets vra,” sê hy. “Die ander weet reeds alles.”

      “Wat het die Perse teen ons Hellene?” vra Xenophon.

      Sokrates kyk in die mandjie, haal die brood en kaas bo-op weg en vroetel tussen die groente. “Is dit miskien oor wat ons was en weer kan word? Hulle is maats met die gewelddadige Sparta, maar bang vir óns. Wat, wat? Dink jy dit is moontlik?”

      “Bang vir ’n staatjie van argitekte en digters, Meester?”

      “Reg. Onthou óns het Epidaurus se perfekte amfiteater gebou. Dit is in óns taal dat Homeros, Sappho en tien ander geseëndes skryf. Wat, ou Homeros? ’n Onbegraafde lyk. Onthou net hierdie stad toe Perikles ons eerste burger was. Was dit nie die hoogtepunt van menslike bestaan in hierdie streke en ’n monument vir wat óns was nie? Al verdwyn ons volk eendag, al word ons vir ewig as slawe weggevoer, of bestaan nog net as die eienaars van vis- en groentewinkeltjies in vreemde lande, sal besoekers aan Epidaurus altyd vra: Wie op aarde was hierdie mense?”

      Dit was die egte Sokrates, die mandjie vergete aan sy arm gehaak, sy twee hande bak gehou met die vingers effens oop asof hy iets gewigtigs daarin wil ontvang, en die uitdagende, tergende vrae.

      Sokrates hou nie maklik op wanneer hy aan die gang is nie. Xenophon gee hom kans om jong uie tussen die groente uit te grawe, met sy duimnael af te dop en te eet met ’n brood wat hy in vier gebreek het. Dan, amper uitbundig agter die groen heining vol jong granate: “Ons kry goddelike talente, goddelike inspirasie, goddelike leiding. Daardie amfiteater, daardie Sappho is goddelike stukke. Ons het kennis gesoek van die rekenkunde, geografie, navigasie, argitektuur, medisyne. Ons het genoeg brood en wyn gehad en was vry om elke dag nuwe gedigte te skryf. Die Pers, my seun, kan nie ’n vry volk van dromers en digters bekostig nie. Die skeppende denker is sy vyand. Hy moet ons monumente verwoes. Wat, wat? Kan dit die oorsaak wees? Die bose is bang.”

      “Ek weet nie,” sê Xenophon versigtig. Onkunde en vooroordeel is miskien die enigste sondes waaraan die gode nie self skuldig is nie; daarsonder sou almal goddelik wees. As Sokrates reg is, behoort hy Proxenos se donker prins te volg om ’n goedgesinde vors op die Persiese troon te probeer kry, die vaderland se onafhanklikheid te herwin, die oorloë te beëindig en vrees uit die stad te weer.

      Dan vertel hy Sokrates van sy neef se voorstel, en dat hy oorweeg om dit te aanvaar. “Vir die demokrasie,” sê hy.

      Sokrates antwoord dadelik: “Wat, wat, wat?” soos wanneer ’n pot oorkook en druppels op die warm as plof. “Vir demokrasie, sê jy? Wie het jou dié woord geleer, Xenophon? Het jy dit nie hier op die mark gehoor nie? Dit is waar dit hoort.”

      Hy kyk toe hoe die ou man ergerlik met sy knopperige, krom vingers die kurkprop uit ’n wynfles draai en ’n paar keer diep sluk. Wat het hy verkeerd gesê? “By jou self, Sokrates,” sê Xenophon. “Nog verlede week. Die stad praat oor jou. Dit is die trots van Athene.”

      Weer sluk Sokrates, rustig nou, dat hy nie stik nie, die adamsappel dans tussen bruin gordyne sonverbrande keelvel. Sluk, sluk, sluk, dan kom hy boontoe vir asem. “Toe ek die woord sê, het ek gelag,” sê hy met ’n snak. Wyn drup by sy mondhoek uit. “Julle het gesien ek lag, maar nie gehoor ek huil nie, want julle het hard hande geklap, jy en hierdie hele arme stad. Demokrasie was maar ’n eksperiment van Perikles omdat sy tyd gunstig was, die kort rukkie destyds toe soveel van ons Atheners amper beskaafd was. Maar die wêreld het sleg geword en nou klou arme Athene liefdevol aan demokrasie se koue lyk, te dom om dit te los. In enige stad, in enige huis, is die wat nie hul verstand ontwikkel het nie in die meerderheid. En die meerderheid is gewoonlik verkeerd. Die demokrasie sal altyd die vyand wees van regering deur wysheid en uitnemendheid. Al wat die demokrasie lewend hou, is die meerderheid se eis dat geen kop hoër as hulle s’n mag wees nie.”

      Nou beduie Sokrates met ’n kwart van ’n potbrood in een hand en die wynfles in die ander. “Die meerderheid is ’n tiran, en dit pas politici. Hulle gee volle erkenning aan die dierlike liggaam, maar nie aan die goddelike gees nie. Hulle laat uitnemendheid verdwyn in die massa se modderpoel van algemeenheid. Dan gee hulle aan elke man, of hy wys is of dwaas, een stem, noem dit demokrasie en sorg dat almal hoor hoe daar niks was vóór die wonderlike demokrasie nie. Uitnemendheid en talent word geïgnoreer asof dit deur ’n skelmstuk verkry word. Jy sal glo as jy hoor dat atlete kreupel geslaan is in die naam van demokrasie. Uitgestem, mag nie deelneem nie! Atlete, uitgestem, hoor jy? Oral vind jy dat die beste téén die demokrasie is. Wat, wat? Moet die miere regeer omdat hulle die meeste is? Een wet vir die skaap én die leeu? Dit is meer as onderdrukking. Dit is slawerny.”

      Xenophon het met ontsag geluister. Toe vra hy aan sy meester watter van die gode dalk die verwoesting van hulle vaderland veroorsaak. Dit is wat hy wil weet.

      “Gaan vra jy die orakel wie of wat die Persiese vloek veroorsaak. Oor die gode se kinderagtige getwis moes Odusseus dekades lank swerf, die slagoffer van hulle sinlose wispelturigheid, wat ons hier onder naïef die noodlot noem. Wat dink jy, wat gaan al weer aan, daarbó? Gaan, gaan vra jy dit in Delphi.”

      Toe hulle groet, wys hy met die leë mandjie waarin die leë fles nou lê. “Die riem, Meester?”

      “Tyd, my seun! Die groot illusie. Ek het dit uitgewerk. Ek vermoed dat dit nie bestaan nie.” Hy beduie ernstig, lewendig, sy hande vol brood en sout olywe. “Die riem wys jou dat as jy sy twee punte ignoreer, sien jy dadelik die hele storie daar: Ons meet die duur van gebeure en die pouses tussen gebeure. Agt tellings, twintig tellings. Dit noem ons tyd. Sien jy? Wanneer jy terugkom, gee ek jou dit op skrif, as jy my miskien ’n stukkie papirus en ink kan bring. Wat, wat?”

      Xenophon verlaat sy meester wat langs sy takskerm staan soos ’n enkele boom op ’n windgestriemde plato, sonder trots, kaal, krom en verweer.

      Regte gode

      Xenophon loop met sy slaaf Delphi toe, met ’n oskalf aan ’n tou. Die kalf se kloue en horings is wit gekalk en ’n olyfkrans met wit blommetjies hang om sy nek. Hulle kooigoed is op sy rug vasgemaak. Xenophon loop van sy kinderdae af saam met hierdie slaaf, eers na sy skoolmeesters, later na die stadswag se kampe. Die man het suur geword in sy diens omdat hy nooit sy mening vra nie. Jong seuns vra hulle paidagogos se mening. Hulle loop noordwes op die vervalle soldatepad genaamd die Heilige Weg. Op die skor kus aan hulle linkerhand hurk vissers se vaal gehuggies met vervalle stellasies langsaan. Vroeër, sê die slaaf, was dié huisies wit en die stellasies vol vis, maar oorloë maak mense moedeloos, waarom moeite doen? In sy jeug was dit ’n besige pad vol smouse en pelgrims, nou is dit uitgeput, leeg en moeg.

      Hulle trek verby die swart kliphope van Platea, deur Sparta verower, verwoes, verbrand, met sout gesaai, vir dood gelaat. Lae boerehuisies met klipkrale en klipheinings, grys, vervalle en verlate, skuil teen rotskoppies. Later draai hulle noord na die berg Parnassus waar die Muse woon. Heilige Delphi, waar die orakel gespreek word, hang aan die sonnige suidekant. Die stad se marmer gloei room en goud soos die rotse waarteen dit leun. Op pieke, omring van ander pieke deur wolkstringe gestreel, blink die laaste wintersneeu. Voëls jubel in die dennewoud. Stilte asseblief, vra kennisgewings.

      “Sodat die dawerende kranse nie neerstort nie,” brom die slaaf.

      Daar is ’n dorpie met kamers wat hulle nie kan bekostig nie, en vlak teen die doodgetrapte stofpad ’n ry tafels waar boerinne aan pelgrims brood en vrugte verkoop en wanskapige

Скачать книгу