Аннотация

Wouter is baie bekommerd. Hy moes nooit die speletjie van meneer Grimbeek se rekenaar afgelaai het nie, want noudat dit begin het, kan dit nie gestop word nie, en as dit eers jou naam het . . . Iemand is reeds onverklaarbaar dood, en Wouter en sy vriend Koekoes moet vinnig dink aan ’n uitkomkans, anders is dit neusie verby – nie net vir hulle twee nie, maar vir almal wat hierby ingesleep is.

Аннотация

Die laaste Keurboslaan-titel in die reeks.Die ongenooide gaste op Keurboslaan is ’n groep hippies – bedelaars en dwelmverslaafdes – wat onverwags in die berge buite die dorp kamp opslaan. Hulle is vuil, morsig en glad nie ’n goeie invloed op die skoolseuns nie. Almal verwag dat doktor Serfontein teen hulle sal optree, maar hy doen dit nie. Dit is omdat hy weet dat die jongste lid van die bende, Carolus, Loggenberg se jonger broer is en hy wil die seun graag help. Op skool verloop alles ook nie rustig nie, want klein Felix Krynauw en sy groep maats is gedurig in die moeilikheid. Hulle word betrap waar hulle ’n geweer uit die magasyn wil gaps. Die hoof en prefekte probeer tevergeefs uitvind wat die spulletjie in die mou voer.

Аннотация

Saartjie wil ’n grap vir ’n tydskrif instuur om ekstra sakgeld te verdien, maar sy kan skielik nie aan een dink nie. Sy vra ten einde raad Apie se hulp. Die klein platjie kom dadelik met ’n goeie grap vorendag, maar wat nou gemaak as ons heldin die prysgeld wen? Moet sy dit dan met haar boetie deel? Anna koop ’n oulike affênkie om mense mee poetse te bak en die Drie Muskiete het groot pret daarmee. Die hele Baumann-gesin loop onder andere deur, maar dit veroorsaak meer konsternasie as wat Saartjie verwag het en Apie beland in groot moeilikheid. Lynnekom se rabbedoe daag die seuns uit om teen hulle meisies netbal te speel, maar Galpil en sy maats ken net rugby en op die ou end durf die twee spanne mekaar sonder enige spelreëls aan. Intussen is Saartjie ook baie opgewonde oor ’n nuwe fliek van haar gunsteling Hollywood-ster wat binnekort vrygestel gaan word.

Аннотация

Trompie beland in groot moeilikheid as hy ’n nuwe mikstok vir sy kettie wil maak en ’n saag uit sy pa se verbode werkskamer gaan gaps. Maar dan skryf hy in vir ’n kompetisie van ’n koejawelfabriek wat ’n “tipiese Suid-Afrikaanse seun” soek. Die prys vir die wenner en ’n maat van sy keuse, is ’n reis in ’n vliegtuig na Kaapstad én Durban, met boonop nog ekstra sakgeld ook! Die vraag is net: sal Trompie ooit as die wenner gekies word, en ás hy wen, watter een van sy maats moet hy kies om saam te neem op hierdie wonderlike reis?

Аннотация

’n Gevaarlike epidemie versprei op Keurboslaan en trek die meeste van die leerders en baie van die personeel plat. Ook doktor Serfontein word baie siek. Die dokters word bygestaan deur die skool se nuwe sekretaresse, Helen Bieleveld, ’n pragtige weduwee wat op Keurboslaan ’n nuwe begin wil maak. Wrywing tussen die onderhoofseun en hoofseun het tot gevolg dat een van hulle met ’n ernstige breinbesering in die hospitaal beland en boonop word die hoof, Krynauw en Helen deur ’n groep booswigte van oorkant die Swazilandse grens oorrompel wanneer hulle twee leerders probeer red. Asof dit nie genoeg is nie, doen daar ’n vreeslike gerug die rondte: doktor Serfontein ly aan ’n ongeneeslike siekte en sal nie meer lank leef nie . . .

Аннотация

Die veranderinge wat Dr Serfontein op Keurboslaan teweegbring maak dit ’n gesogte seunsskool, maar ook ’n plek waar seuns met probleme hulp kan kry. Wentzel Elzenach is ’n geestelik- en liggaamlik verwaarloosde weeskind en Krynauw, die skool se gewilde onderhoofseun, moet help om hierdie eienaardige nuweling tuis te laat voel. Tessa, die hoof se vyfjarige niggie, kom woon op Keurboslaan en dié slim en onverskrokke meisiekind se teenwoordigheid krap heelwat mense se kaarte deurmekaar.

Аннотация

Die nuwe skooljaar op Keurboslaan bring gerugte van ’n gemaskerde rower, bekend as Jan Fiskaal, wat die omgewing terroriseer. Dr Serfontein doen sy bes om te help om die rower vas te trek, veral om die invloed wat dit op die verbeelding van die avontuurlustige skoolseuns het, te bekamp. Daar is heelwat nuwe leerlinge by die skool, ook Flip, ’n seun wat van die huis weggeloop het en met iemand anders se naam by die skool aansluit. Eugene Krynauw, nou sestien jaar oud, en sy vriende is ook pal in die moeilikheid.

Аннотация

In hierdie eerste boek van die Keurboslaanreeks ontmoet ons die jong doktor Roelof Serfontein wat as verdwaalde en dodelik siek vreemdeling op Keurboslaan naby die Swazilandse grens beland. Die bejaarde hoof van hierdie vervalle kosskool versorg die jong man met die misterieuse verlede en red sy lewe. Dr Serfontein besluit daarna om op Keurboslaan te kom werk as adjunk-hoof om daar fisiese en emosionele heling te soek. Onder sy bekwame hand word die skool gou opgebou tot een van die beste seunsskole in die omgewing en die indruk wat hy op die seuns maak laat hulle ’n nuwe lus vir die lewe vind. Alles verloop egter nie vlot nie en leerlinge soos Oscar Wienand sorg vir genoeg kattekwaad om die nuwe hoof ’n behoorlike vuurdoop te gee!

Аннотация

Wanneer Riek en sy vriende lughawe toe gaan om vir Josef, wat terugkeer van Engeland, te gaan oplaai, loop hulle hulle vas in ’n avontuur. Hulle red twee Britse vlieëniers van ’n oproerige skare. Riek besluit om die twee mans tydelik op hulle plaas in Swaziland weg te steek. Josef daag met ’n vreemde meisie aan sy sy op en kondig aan dat hy kastig aan haar verloof is. Hy wil Amanda intussen ook na die plaas neem. Wat die seuns egter nie weet nie is dat daar politieke onrus in Mosambiek uitgebreek het en dat dit oorgespoel het na Swaziland. ’n Bende Mosambiekse krygers val die plaas aan en ’n spanningsvolle skietgeveg breek uit.

Аннотация

Richard Serfontein, oudste seun van doktor Serfontein, word hoofseun van die gewilde Keurboslaan Seunskool. Dit is nie ‘n maklike taak nie, omdat hy onder geen omstandighede die indruk wil skep dat sy pa hom voortrek nie. Hy is die skakel tussen die seuns en die hoof en nie tussen die skool en sy pa nie. Dinge word egter gou baie moeiliker as wat hy verwag het. Sy pa besluit om vier seuns tot die skool toe te laat wat weens wangedrag deur die owerheid in ‘n spesiale inrigting geplaas is. Hy is oortuig dat die seuns in die regte atmosfeer en onder goeie toesig vordering sal maak. Die leerders en onderwysers is egter baie bang dat die eksperiment nadelig kan wees vir die goeie naam van die skool. Richard word as hoofseun met die moeilike taak belas om die regte verhouding tussen die nuwelinge en die ander seuns te handhaaf.