Скачать книгу

wys weer na die bed met die figuur wat kamtig lê en slaap. “Niemand weet waar Willem van Zyl is nie. Dis die bottom line.”

      “Wat van die fone?” vra hy weer. “Help dit julle regtig niks nie? Waar was almal die oggend van die 24ste?”

      Ek laat rus my hande op my heupe. “Wil nie vir jou sê nie. Jy weet reeds meer as wat jy moet weet. En ek wil nie hê jy moet in hierdie saak begin rondkrap nie.”

      “Okay.” Hy glimlag weer. “Sê dan vir my oor die geld. Jy sê Lafras se lewe is vir R10 miljoen verseker en Katerien s’n vir R3 miljoen. Die koerante sê die wynplaas is lankal weg, Lafras se pa het dit weggedobbel en hy het niks van waarde geërf nie. Katerien se pa is oorlede toe sy klein was en haar ma is onlangs aan ’n hartaanval dood. Is hulle inligting reg?”

      “Ja.”

      Van die feite was selfs vir óns nuus toe dit in die koerante verskyn het, maar ek sê dit nie.

      “Is daar nog iets wat hulle nie geskryf het nie?”

      “Nee,” sê ek, met net die regte hoeveelheid oortuiging.

      Ek beduie hom gang toe, tik aan ’n deur aan die regterkant. “Gastekamer.” Nog ’n deur. “Badkamer. Niks snaaks of besonders nie.”

      Ons hou verby. “En hier is die hoofslaapkamer.”

      Die deur staan oop. Dis donker binne, die gordyne dig getrek, nog nes dit daardie aand was. Die bed is deurmekaar, die duvet op die vloer, die lakens in ’n bondel op die matras.

      Ek skakel die lig aan en hou hom stip dop. Wonder skielik wat joernaliste op misdaadtonele raaksien. “Vertel my wat jy dink.”

      Hy pluk aan die handskoene by sy gewrigte, asof dit hom begin irriteer. Sê vir lank niks. Kyk na die geraamde gesinsfoto bokant die koninggrootte-bed. Die een netjiese bedkassie en die ander deurmekaar een.

      Ek weet wat hy sien: besigheidsboeke aan die deurmekaar kant, liefdesverhale en Afrikaanse en Engelse letterkunde aan die ander kant. Kate Atkinson, Breyten Breytenbach, Helene de Kock, Zadie Smith. Die lakens is te deurmekaar om te weet of een of twee mense hier geslaap het.

      “Sy slordigheid affekteer haar nie,” besluit hy oplaas om saam te speel. “Sy kompartementaliseer dit. Solank haar eie spasie netjies en skoon is, maak dit nie saak nie. Sy beheer wat sy kan, wat binne haar vermoë is. En sy beheer dit goed.”

      Interessante observasie.

      “En?”

      “Hulle het steeds ’n kamer gedeel.”

      Ek knik ingenome.

      “So Katerien en Lafras was nog lief vir mekaar?” vra hy.

      “Dis wat Annabel sê.”

      “Geen probleme nie?”

      “Een of twee. Die gewone.”

      “Maar niks wat sou maak dat sy hom wou vermoor nie?”

      “Nee. Tensy sy dit vir almal weggesteek het.”

      Hy loop om die bed, kyk weer na die deurmekaar lakens. “Het hulle seks gehad, of is Katerien aangeval? Of het julle die beddegoed so omgekrap?”

      “Ons het geen van die inbrekers se DNS in die bed of enige ander plek hier bo gekry nie.”

      “Waar was Katerien tydens die aanval? Hier, in die bed?”

      “Ons raai hier bo iewers.”

      Hy staar na die foto bo die bed. “Mooi gesin.”

      Ek knik instemmend. Willem trek op sy ma. Donkerblonde hare, blou oë. Oop gesig, vriendelik en laggend. Cath trek meer na haar pa, donker hare, broeiend, maar bleker. Almal lyk atleties en fiks, asof hulle baie tyd in die buitelug deurbring.

      “Kom.” Ek beduie Alex moet my volg.

      Ons loop deur die aantrekkamer se ry kaste wat onverwags in ’n ruim studeerkamer open.

      “Dit was Katerien se werksplek. Annabel sê sy’t gereeld hier gesit en lees of musiek luister.”

      Die vertrek is gevul met ’n klein lessenaar, rye boekrakke, ’n netjiese stapel ou langspeelplate, alfabeties georden, ’n duur klankstelsel en ’n groot rooi leerstoel met ’n kombers oor die een armleuning. ’n Boek lê oop op die ander een. A World History of Carpets and Tapestries. ’n Jogamat staan opgerol langs ’n boekrak.

      Die enigste muur sonder boekrakke is vol vakansiefoto’s van die gesin op eksotiese plekke. Alex loop nader om daarna te kyk. Daar is ’n handvol pragtige onderwaterfoto’s van Katerien. ’n Jong Lafras op Everest se piek, op ’n bergfiets voor die piramides in Egipte.

      “As Cath wakker was tydens die aanval, dink julle sy het hierheen gevlug?” vra Alex.

      “Maar mens sou dink sy sou hierheen kom, ja.”

      “Maar als is dan so netjies?”

      “Ek weet. Dit beteken heel waarskynlik dat sy onkant betrap is in haar slaap.”

      “Dalk was die inbrekers agter die vroue aan, soos jy gesê het.” Hy kyk onderlangs na my. “Wat sou die motief wees? Seks? Wraak?”

      “Kaptein Mthembu kon niemand kry wat nié van Katerien of Cath gehou het nie.”

      Hy knik. “Dit sou seker te maklik wees, nè?”

      Hy loop tot by die venster, lig die gordyn. Anders as Cath en Willem se kamers kyk dit nie op die garage uit nie. Voor ons lê ’n groen grasperk en ’n klompie struike, met die swembad na links. ’n Aantrekkamer vir die swembad staan weggesteek in die hoek van die erf.

      Hy laat sak die gordyn. “Ek kan nie glo niémand het die polisie gebel nie. Ook nie die bure nie.”

      Ek besluit om eerlik te wees. “Katerien se selfoon wys sy’t probeer, maar die 10111-lyn het seker gesukkel.” Dié feit maak my smoorkwaad, maar ek weet om dit nie te wys nie.

      “Die Stables se sekuriteit het ook ’n oproep ontvang,” gaan ek voort, “maar die foon het uitgesny voor iemand iets gesê het. Niemand anders het gebel nie.” Ek hou my hand op. “Maar asseblief …”

      “Ek weet. Moenie dit skryf nie.”

      “Korrek.”

      “Is daar nie ’n alarm nie? Daar’s ’n noodknoppie in die gang.”

      Ek gee vir hom nog ’n broodkrummel, hou hom fyn dop. “Die rekening was ses maande agterstallig, so dis afgesny. Dalk het Lafras gedink ’n alarm is oorbodig in ’n plek soos hierdie.”

      Ek kan nie onthou of Annabel in die koerantonderhoude genoem het dat die Van Zyls nie meer ’n huishulp of tuinier gehad het nie. As Alex oor Lafras van Zyl se geldsake wonder, wys hy niks.

      “Het die sekuriteitsmense ten minste ná die oproep ’n draai hier kom maak?” vra hy.

      “Nee.”

      “En later, met die patrollies, het hulle nie agterdogtig geraak toe hulle sien die huis se ligte brand nie?”

      “Die ligte was af.”

      “Almal?”

      “Elke laaste een, behalwe die lamp langs die TV, wat steeds aan was toe ons hier opgedaag het. En mense doen dit mos maar as hulle weggaan.”

      “Het die hond se geblaf nie aandag getrek nie? Het Lafras nie geskree nie? Het niemand iets gehoor nie?”

      “Nee. Ek sê mos, meeste van die landgoed se mense was weg.” Ek beduie na die foto’s teen die muur. “En ek wonder of Lafras die tipe man is wat om hulp sou skree. Of hy nie net sou aanhou baklei tot hy dood neerslaan nie.”

      4.

      Donderdag 8 Februarie, 16:59

      “So wat mag ek skryf?” vra

Скачать книгу