Скачать книгу

hy leef nog.”

      “En hy’s steeds in ’n koma?” vra Alex.

      “Ja,” antwoord ek.

      “Het die inbrekers net messe gehad? Geen vuurwapens nie?”

      “Nie waarvan ons weet nie. Dalk wou hulle nie vuurwapens gebruik nie. Skote sou aandag trek.”

      “En die DNS? Enige sukses?”

      “Niks nie. Nie een van die aanvallers is op ons databasis nie.”

      Hy lag skeef. “Dit sou te maklik wees, nè?”

      Hy draai om, wys buitetoe, na waar die reën steeds neergiet. “Kon julle die bloed iewers heen volg? Het daar ’n motor in die straat gewag?”

      Ek skud my kop. “Die swaar reën op Kersdag het als vernietig, indien daar iets was om mee te begin. En ás daar ’n kar was, is dit nie by die Stables se hek uit nie.”

      Ons loop met die trappe op na die boonste verdieping. Ek maak die eerste deur oop.

      “Cath van Zyl se kamer. Sy’s twaalf. ’n Ou twaalf, klaarblyklik.” Ek bedink my oor die naam. “Cath is haar nuwe naam, haar noemnaam was altyd Maria. Haar volle naam is Catherine Mary, soos haar ma en ouma s’n. Sy’t glo op haar twaalfde verjaarsdag besluit sy wil Cath genoem word, want Maria is te outyds, te cheesy en uit die Bybel … volgens ’n vriendin van haar.”

      Alex skuur verby my, die kamer binne, en gaan staan stil, asof hy dit moeilik vind om die ruimte te verteer.

      Ek verstaan sy reaksie. Cath van Zyl is ’n rasende perfeksionis. Alles is netjies, op hulle plek in presiese hoeke op mekaar en langs mekaar gepak. Net die bed is deurmekaar, asof sy daarin geslaap het en toe vinnig opgestaan het. Wit lakens, swart blindings.

      “Mag ek kyk?” Alex beduie na die kas.

      Farr knik onwillig.

      Hy maak die deur met sy wysvinger oop, staar na die netjiese rye skoolklere, balletklere en jeans, soort by soort gehang, kleur by kleur. “Was sy … is sy … ?”

      Ek het dieselfde probleem gehad, tot ek en Farr besluit het om van Katerien, Willem en Cath te praat asof hulle nog lewe.

      Is. Nie was nie.

      “Lyk nie soos ’n gewone tiener nie,” sê hy uiteindelik.

      “Beslis nie,” stem ek saam. “Mal oor ballet. Bogemiddeld slim. Reeds in graad sewe. Haastige kind. Sy wil matriek maak en Juilliard toe gaan, die dansskool in New York.”

      “Ek neem aan daar’s nog geen spoor van haar nie.”

      “Nee. Al wat ons weet, is dat geen van die bloed in die huis aan haar behoort nie.”

      “Dis seker goeie nuus.”

      Ons volg Farr uit gang toe, na die volgende deur. Willem, die oudste kind, se kamer.

      Farr maak die deur oop. Alex wil inloop, maar ek roep hom terug. “Wag.”

      Hy draai om.

      “Wat jy daar binne gaan sien, is een van die dinge wat ons van die media af weggehou het.”

      “Ek sal niks skryf nie,” belowe hy. “Nes ons afgespreek het.”

      3.

      Donderdag 8 Februarie, 16:19

      Dit neem Alex Derksen ’n paar sekondes om te besef watter geheim in die twintigjarige Willem van Zyl se kamer opgesluit lê. Hy loop tot by die dubbelbed, kyk na die vorm onder die duvet asof iemand daar lê en slaap.

      “Hy’t vroeër die aand uitgeglip.” Alex steek sy hand uit asof hy die duvet wil oplig.

      Farr maak hard keel skoon. Hy trek sy hand terug, bêre dit in sy jeans se sak.

      “Wat weet jy van Willem?” vra ek.

      “Dat die Stables se CCTV hom die nag net ná eenuur opgetel het toe hy haastig by die hek uitry. Volgens die kameras was hy alleen in die BMW … geen teken van Katerien of Cath nie. Almal spekuleer dat hy sy gesin vermoor en toe gevlug het.”

      “Korrek. Want daarna het hy van die aardbol af verdwyn.”

      Alex bly kyk na die bed. “Maar hierdie … wat beteken dit? Het hy eenuur uitgeglip toe die kameras hom opgetel het, of vroeër al?”

      Langs my roer Farr onrustig. Ek ignoreer dit. Ná ’n bietjie oorweging het ek besef Ndlovu is reg: Sydney het hierdie inligting teruggehou, maar dit het hom niks gebaat nie. Dalk kan Alex ons help om uit te vind waar Willem die aand van die 24ste was. Ek praat nie met hom omdat ek ’n warm, vrygewige hart het nie. Ek soek antwoorde.

      “Dis iets wat die koerante nie weet nie, en wat jy nie mag skryf nie,” sê ek. “Die kameras het Willem die eerste keer net ná nege opgetel waar hy te voet kort agter ’n motor by die Stables se hek uit is. Die beeld is greinerig, maar Willem se rugbyafrigter sê die figuur draf soos hy. Slotte is blykbaar taamlik kenmerkend in hoe hulle beweeg. Die CCTV verloor hom soos hy om die hoek van die landgoed beweeg. Niemand weet waarheen hy is nie.”

      “Wanneer het hy teruggekom?”

      “Net voor eenuur. Ook te voet. Maar dié keer gebruik hy sy toegangskaart, so ons weet dis hy.”

      “En ’n paar minute later ry hy by die hek uit asof die duiwel op sy hakke is?”

      “Presies.”

      “So wat beteken dit?”

      Ek trek my skouers op. “Ek weet nie of dit noodwendig ’n veel ander scenario skep as waaroor die media spekuleer nie. Willem bly die skuldige. Hy gee daardie aand voor hy is siek. Sy gesin ry nie Hermanus toe nie. Hy betaal die rowers om hulle aan te val en glip uit om hulle tyd te gee om hulle werk te doen.”

      Alex frons. “Maar waar’s hy dan nou?”

      “Goeie punt,” gee ek toe. “Hoekom nie terugkom, snot en trane huil, onskuldig pleit en sê jy was uit terwyl die hele tragedie hom afgespeel het nie? Die lewensversekering is ’n klomp geld – R10 miljoen op Lafras en R3 miljoen op Katerien.”

      “Dalk moes Willem vlug,” sê Alex. “Dalk het die rowers besluit om van hom ook ontslae te raak. Dalk het hulle op iets meer waardevol afgekom?”

      “Nie waarvan ons weet nie. Die kluis was steeds toegesluit en niks word daaruit vermis nie, volgens Annabel. Alles is daar – Lafras se pistool ook. En vuurwapens is gewoonlik hoog op die lys van goed wat gesteel word.”

      Alex frons. “Dit maak glad nie sin nie.”

      “Toegegee.”

      “Enige ander scenario’s op die tafel?”

      “Een of twee. Dalk was die aanvallers hier vir ’n ander rede. Dalk was hulle agter Cath of Katerien aan.”

      Farr kyk skerp na my. Ek maak asof ek dit nie sien nie.

      Alex probeer sy bes om die vraag nie dadelik te vra nie. Hy staar lank na Willem se bed, die venster. “Het iemand ’n losprys vir die vroue geëis?”

      “Nee. Dis net ’n wilde teorie, iets waaroor ek wonder. Is ons klaar hier binne, of wil jy nog iets weet?”

      “ ’n Paar goed. Het niemand die polisie of die ambulans gebel nie? Het Willem geen oproep gemaak voor hy hier uit is nie?”

      “Nee. En nee.”

      “En julle is seker die aanval het net voor een gebeur? Toe Willem vir die tweede keer hier uit is?”

      “Nee, ons is nie. Ons weet net dat Willem omtrent sewe, agt minute hier was.”

      “Dis genoeg tyd om die aanval uit te voer.”

      Ek knik.

      “En Lafras kan julle nie help om ’n tydlyn saam te stel nie, want hy’s nog steeds in ’n koma?”

      “Ongelukkig,

Скачать книгу