Скачать книгу

Invest+. Hy kon goeie deals ’n myl weg spot. Sê almal.” Ek leun teen die kombuistafel. “Wat weet jy nog?”

      “Net wat die koerante sê. Hy en Katerien Kirkpatrick is ’n jaar ná universiteit getroud. Sy was op UCT en hy op Stellenbosch. Hulle het mekaar op Lafras se familieplaas ontmoet toe sy as derdejaar daar saam met vriende gaan wyn proe het. ’n Paar jaar later het Invest+ op die Johannesburgse Effektebeurs gelys en hulle het Pretoria toe getrek. ’n Bietjie meer as twee jaar gelede is Lafras as CEO afgedank.”

      Alex vryf oor sy voorkop asof hy die feite probeer lostorring. “Blykbaar het hy te rojaal op die maatskappy se kredietkaart geleef. Hy’t ook ’n maatskappy in Nigerië oorgeneem net voor die olieprys en dié land se ekonomie gevou het. Hy’t gestry dat Invest+ sý firma was, dat hy dit van niks af opgebou het, maar die aandeelhouers wou niks weet nie.”

      Die man het sy huiswerk gedoen. Maar weet hy van Lafras van Zyl se skuld?

      Indien wel, wys hy nie sy hand nie. Hy kyk afwagtend na ons.

      Farr vra stom of ons klaar gepraat het. Ek knik, en sy beduie dat ons haar moet volg. Ons loop uit die kombuis en draai onmiddellik links in ’n gang.

      “Die TV in die sitkamer het gespeel toe die polisie hier opgedaag het, so ons is nie seker waar Lafras was toe die aanvallers ingekom het nie,” verduidelik Farr. “Ek vermoed hy het tussen die sitkamer en sy studeerkamer beweeg.”

      Die ruim studeerkamer aan die einde van die gang het ’n lessenaar so groot mens kan tafeltennis daarop speel, twee boekrakke vol National Geographic-DVD’s en besigheidsboeke, en ’n hele paar duur tuisgim-apparate. Die vertrek het dik matte en ondervloerse verhitting. Die oefenmasjiene staan op pasgemaakte rubbermatte.

      Alex loop na die bench press. “Hy moet die borskas van ’n bees hê.”

      “Hy het,” sê ek. “En in die garage staan twee duur bergfietse, goed gebruik. Syne en hare.”

      Hy voel aan die gewigte asof hy dit wil optel. Wat is dit met mans? Ek wil nie eers vir hom sê hoeveel polisiemanne al probeer het om daai gewigte te lig nie. Die poel is R370 vir die eerste een wat dit regkry.

      Farr gaan staan agter die lessenaar, beduie na die leë oppervlak. “Sy rekenaar was aan, en hier het ’n paar vakansiebrosjures gelê. Lyk my hy was besig om trips vir die gesin te boek. Daar was ’n sokkerwedstryd aan op die TV, wat my laat vermoed dat hy tussen die twee vertrekke beweeg het.”

      “So sy rekenaar was nog hier?” vra Alex. “Dis nie gesteel nie?”

      Farr kyk na my. Ek weet hoekom. Sydney het die saak vir so lank moontlik na ’n rooftog laat klink.

      “Nee, dis nie gesteel nie,” gee ek toe, “dis by die cyber unit. Ons vermis twee iPads, Katerien en Cath se skootrekenaars en Cath en Willem se fone. Weer eens, dis wat Katerien van Zyl se suster sê.”

      “Dis al?”

      “Ja.”

      Alex haal die pen voor uit sy hemp, asof hy brand om iets neer te skryf. “Dink julle dan werklik dat dit ’n rooftog was?”

      Dis duidelik dat hierdie sy eerste brokkie nuus vir die dag is. Maar ek wil niks erken nie.

      “Dalk. Dalk nie. Miskien het die ouens koue voete gekry ná hulle Lafras teëgekom het.” Ek hou my stem so neutraal moontlik. “Jy moet onthou, die Van Zyls was nie veronderstel om by die huis te wees nie. Hulle sou Oukersaand na hulle vakansiehuis gery het. Dit beteken ons kan nie regtig die moontlikheid van ’n blote inbraak elimineer nie.”

      “Ons dink Pote het begin blaf toe hy die inbrekers sien.” Farr beduie ongeduldig oor haar skouer. “Lafras het agterdeur toe geloop.”

      Ons volg haar terug tot in die gang.

      “Die hond moes hulle ’n moerse surprise gegee het,” sê sy, “nes die oop agterdeur. Dis soos AJ sê. Die Van Zyls én die hond sou die aand Hermanus toe gery het. Lafras het blykbaar altyd almal en alles ingelaai en deur die nag gery.”

      “So hoekom was hulle dan nog steeds hier?” vra Alex.

      Ek weet Farr gaan nie antwoord nie. “Ons het geen idee nie.”

      “En as jy moet raai?”

      Ek trek my skouers op. “Dit lyk asof iemand siek geword het … naar was. Daar lê ’n oop pakkie Valoids langs die wasbak in die badkamer.”

      Alex rol die pen heen en weer in sy hand. “Die ouers of die kinders se badkamer?”

      Slim. ’n Plek soos dié sal ten minste twee badkamers hê. “Die kinders s’n.”

      “So Cath of Willem was siek.” Die pen klik in en uit. “En julle weet die gesin moes nie daardie Sondagnag tuis gewees het nie, want dis wat Annabel Kirkpatrick gesê het.”

      “Ja.”

      “En dit was Oukersaand,” sê hy. “En soos jy sê, negentig persent van die huise in die landgoed was leeg. Die mense wat hier bly, het geld en huise in Duitsland, Mosambiek en wie weet waar nog. Ambassadepersoneel met euro’s en dollars. Mense met geld, soos Lafras.”

      Ek luister hoe Alex hardop deur die feite in sy kop werk. Feite wat ek hoop hy regtig in die media versamel het en nie by een of ander grootbek-polisiekontak gekry het nie.

      “Volgens Annabel was sy onbewus daarvan dat die Van Zyls nog hier was. Die laaste boodskap wat sy gekry het, het gesê hulle is op pad,” praat hy verder. “Sy het die middag van die 26ste kom inloer, soos sy belowe het om te doen terwyl die gesin weg sou wees. Sy kon nie vroeër oorkom nie, want sy het nie ’n verpleër oor Kersfees gehad nie. Sy was die een wat op Lafras afgekom het.”

      “Nee,” keer ek.

      Hy kyk vraend na my, besef dan sy fout.

      “O ja, Annabel het nie op Lafras afgekom nie, haar nuwe assistent het. Razmik. Sy het buite gewag terwyl hy die deur oopgesluit het. Hy het ingegaan en toe weer uitgestorm. Twee sekuriteitswagte wat verbygeloop het, het die hekkie sien oopstaan en kom kyk wat aangaan. Hulle het vir Annabel gesê om die polisie en ’n ambulans te bel. Volgens Annabel was sy nie te bekommerd toe sy Katerien nie oor Kersfees in die hande kon kry nie, want dit het blykbaar gereeld gebeur dat Katerien, Lafras en die kinders hulle fone tydens vakansies afsit. Selfs oor die groot feesdae. Katerien het daarop aangedring.”

      “Dis reg,” sê ek. “En die foonrekords beaam dit.” Ek toets waar hy sy inligting vandaan kry. “Rapport het ’n voorbladstorie oor Annabel geskryf.”

      “Ja. En ook ’n diepteartikel oor die Kirkpatrick-familie wat ná die Eerste Wêreldoorlog na Suid-Afrika gekom het. Die susters se oupa- en oumagrootjie was bekende sendelinge. Annabel is … was ’n bekende balletdanseres, nie net hier nie, maar ook oorsee.”

      “Korrek.” Ek beduie na waar Farr staan en wag, gesig op ’n vraagteken getrek, soos altyd as mens haar tyd mors. “Kom ons loop verder.”

      Farr stap in die gang af. “So. Die hond blaf. Lafras beweeg agterdeur toe.”

      Alex volg haar, gaan staan. Haak die pen voor by sy hemp in. “Dit maak nie sin nie.”

      “Wat’s nou fout?” knor Farr.

      “Sal ’n man soos Lafras van Zyl nie ’n vuurwapen hê nie?”

      Farr knik kortaf. “Dit was bo in die hoofslaapkamer in ’n kluis. Ons dink hy was op pad boontoe toe hy oorval is. Nog iets?”

      Alex glimlag warm. “Jammer. Wonder net.”

      Farr loop sitkamer toe. Die ongeduld hap aan haar hakke. Haar treë raak al hoe korter en daai frons bly sit op haar voorkop.

      Sy wys op met die trappe. “Lafras probeer boontoe hardloop. Die ouens tackle hom. Hulle baklei. Die rifrug baklei saam, maar kry ’n skop teen die gorrel. Hy word ook drie keer met ’n mes gesteek. Dood.”

      Farr beduie na die bloedspatsels teen die muur. Sy maak

Скачать книгу