Скачать книгу

enigiemand wat dalk kan wonder wie ek is. Ek groet selfs die veiligheidswag met ’n kopknik.

      Op die hoek van die straat waar die Van Zyls bly, huiwer ek ’n oomblik. AJ is my grootste bekommernis, maar niks of niemand beweeg by die katedraalhuis nie.

      Niemand antwoord die interkom by die huise weerskante van die Van Zyls nie. Eers by die tweede huis aan die regterkant van die Van Zyl-woning is daar lewe.

      Voete skuifel oor ’n vloer. Klein honde blaf.

      Niemand maak oop nie.

      Die diefwering voor die plek laat dit soos C-Max lyk.

      “Hallo! Ek’s ’n joernalis. Van NewsNow?” roep ek. Ek slaan oor na Afrikaans. “Ek werk meestal vir die Afrikaanse webwerf en die koerant. Ek wil graag bietjie meer oor die Van Zyl-gesin weet.”

      Die klanke word stil, selfs die geblaf.

      “Mevrou?” raai ek. “Ek wil sommer net gesels, dis al.”

      Die deur gaan oop. Voor my staan ’n ou man in ’n kakie-kniebroek, bruin Crocs aan sy voete. Sy grys hare is kort geskeer, sy nek rooi gebrand. Hy leun met beide hande op ’n kierie asof hy in pyn is. Om hom bons ’n handvol Yorkies, in elkeen se hare ’n strik van ’n ander kleur.

      “Meneer. Middag.”

      “Middag.” Hy gluur my aan, maar agter die irritasie lê ’n vonk van nuuskierigheid. Ná soveel jare as joernalis kan ek dit al amper ruik.

      “Ek is van die koe-”

      “Ek’s nie doof nie.”

      Ek steek my hand uit. “Alex Derksen.”

      Hy dink ’n oomblik, skuifel dan vorentoe en skud my hand. “Arthur Schoeman. Jy’s hier oor die Van Zyls.”

      “Ja.”

      Ek soek oor sy skouer na iets wat my kan help om die man te peil. Die TV is aan. CNBC. Nuusverslaafde, of hou hy die geldmarkte dop? Die ingeleefde La-Z-Boy sê hy spandeer baie tyd voor die televisie. Die stoel is duidelik só gedraai dat hy net hoef op te kyk om die straat te sien.

      Ek glimlag so warm as wat ek kan. “Ek is nuuskierig of meneer daai Sondag van die 24ste Desember iets gesien of gehoor het. Die nag van die inbraak by die Van Zyls? Was meneer by die huis?”

      “Ja.”

      Sal my leer. Een vraag op ’n slag. Ek kyk vlugtig na die Van Zyl-huis, wonder hoe lank AJ nog daar gaan besig wees. Wens die man wil my innooi.

      Ek waag ’n kans. “Wat het meneer daardie nag gehoor?”

      “Hulle TV. Dis altyd so hard. Maar dis al.” Hy lig die kierie, beduie in my rigting. “Ek soek nie my naam in die koerante nie.”

      “Ek sal niks sê nie.”

      Nog ’n vinnige kyk oor sy skouer. Is dit sportfoto’s teen die muur agter hom?

      “Wat was op TV daai aand? Rugby? Ek kan nie onthou nie.”

      “Dit was Kersfees.”

      Ek gee op. “Dankie vir meneer se tyd.”

      Ek draai om, loop twee treë weg.

      “Jy’s lank. Het jy slot gespeel?”

      Ek swaai om, tree weer nader. “Ja.”

      Hy tik op sy bors. “Ek ook. Eerste span. Grey.”

      “Dis ’n uitstekende skool. Ek kom van Namakwaland. Eerste span daar het nie heeltemal dieselfde betekenis nie.”

      Hy lag, maar so effens ek moet mooi kyk om dit te sien. “Julle ouens was hard. En die rugbyvelde daar by julle … dit kon ’n man se nerwe laat waai.” Hy beduie weer met die kierie. “Kom in. Maar net vinnig.”

      Ek loop dankbaar die huis binne.

      In die sitkamer is vier leunstoele waarvan net een gereeld op gesit word. Die honde kef opgewonde om my voete.

      Ek buk af en vryf die grootste een oor sy kop. “Hulle is pragtig.”

      “Hulle was my vrou s’n.”

      Ek kyk na die foto’s teen die muur. Jare en jare se rugbyspanne. Lyk of Arthur Schoeman ’n entoesiastiese afrigter was. Die enigste ander twee foto’s is van hom en ’n vrou. Daarvolgens was hy nie te lank gelede nie ’n ander, vriendeliker mens. Die honde, die stof en die deurgesitte stoel sê sy vrou is heel waarskynlik oorlede.

      Hy gaan sit en stel die TV sagter, beduie na die stoel verste van hom af. Ek sak daarin neer. Een van die honde, die kleinste een, kom spring op my skoot.

      “Rambo, nee. Af.”

      “Als reg. Ek hou van honde.” Ek vee oor die Yorkie se rug.

      Arthur sit terug met ’n tevrede glimlag, asof hy dink dat hy reg was oor my.

      “Wat wil jy oor die Van Zyls weet?”

      “Hoe was hulle as bure?”

      “Altyd besig. Die kinders het soveel lawaai gemaak. Ek het verskeie kere daaroor gekla, maar dit het niks gehelp nie. Almal was mos mal oor Lafras.”

      “Meneer nie?”

      “Sê sommer Arthur.” Hy help die grootste van die honde op sy skoot. Die ander kry hulle lê by sy voete. “Nee.”

      “En het me- … het jy iets gesien op Oukersaand?”

      “Nee, net die TV gehoor. Die hele nag. En die volgende dag.”

      “En voorheen? Het jy dalk iets vreemds gesien of gehoor?” Hy is beslis ’n man wat die buurt dophou.Van waar ek sit kan ek die straat baie duidelik sien.

      “Nee.”

      “Regtig nie? Soms kan mens nie help om te hoor of te sien nie.”

      “Eenkeer het Lafras en die vrou oor geld baklei. Die kinders was nie tuis nie. Maar dis al.”

      “Wanneer was dit?”

      “Seker so vroeg Desember.”

      Interessant.

      “En ek kon sien hulle huishoudster kom nie meer in nie. Ook nie die tuinier nie. Lafras het sommer self die gras gesny as daai mal meisiekind van hom by die skool was.”

      Besonder interessant.

      “Dit help baie. Dankie, Arthur.”

      “Solank jy net niks oor my skryf nie.” Hy skud sy kop. “Die polisie was nog nie eers hier by my nie. Dinge is ook nie meer wat dit was nie.”

      “Ek sal niks sê nie.”

      ’n Halfuur later loop ek met sy telefoonnommer en die belofte om weer te kom inloer as ek in die omtrek is.

      2.

      Donderdag 8 Februarie, 18:07

      Ek bel Ranna toe ek by die Stables uitry. “Is jy nog steeds by Sarah?”

      “Ja.”

      My maag draai van die honger. “Het jy al iets geëet?”

      “Ons is besig. Pizza. Wil jy hê?”

      “Asseblief.”

      “Ons los vir jou.” ’n Deur slaan toe. “Hoe was die onderhoud?”

      “Minder bullshit as wat ek verwag het.”

      “Dis goeie nuus.”

      “Kaptein Williams stuur groete,” terg ek.

      “Is jy ernstig?”

      “Sal ek vir jou jok?”

      “Wat het jy gesê?”

      “Dat ons getroud is, met drie honde, ’n hamster en ’n kwaai skoonma.”

      “Jy

Скачать книгу