Скачать книгу

way. Krap rond tot jy iets kry. Ons praat môre weer.”

      Ek lui af. Ranna staan reg met Martina se karige besittings, gretig dat ons meer oor die jong meisie van Stilfontein moet uitvind.

      Martina se tas is bruin, gehawend en van materiaal, gemaak voor die mode na helderkleurige hardedoptasse met wiele en uittrekhandvatsels verander het. Dit kom nog uit ’n tyd toe mense op die trein geklim en twee dae lank Kaap toe gery het met gekookte eiers, ’n fles koffie en ’n sakkie appels vir padkos.

      Maria Buitendag, Stilfontein, Buitestraat 9, staan in dowwe ink op die haasoor-etiket. Dis ons eerste soliede leidraad: ’n myndorp in Noordwes waar werksgeleenthede stil-stil saam met die goudmyne begin doodloop het. Net jammer daar is geen telefoonnommer op die etiket nie.

      Ek kan dink dat ’n jong meisie uit Stilfontein sal wil wegkom, na die groot stad en die blink liggies. Of dalk móés sy wegkom.

      Ranna sit die tas op die bed in Sarah se gastekamer neer – ons kamer terwyl ons ’n paar maande in Pretoria werk – en maak dit oop. Die ritssluiter haak vas en sy moet baklei om dit los te kry.

      Die tas se inhoud is deurmekaar, asof Ivanka Babikova als vinnig ingegooi het toe sy Martina se goed gepak het.

      Ranna haal drie T-hemde uit en sit dit op die bed neer.

      Ek lig een op. Dis baie klein. “Watter grootte is hierdie?”

      “Wat sê die etiket?”

      “Shit. Twaalf tot veertien jaar.”

      “Toemaar, ek’s seker sy’s ouer as dit,” keer Ranna. “Sy’s klein gebou. Kinderklere is goedkoper as grootmensklere.”

      Twee jeans beland op die bed langs die T-hemde. Hulle vertel dieselfde storie: fabriekswinkel, dun gewas, klein. ’n Bruin trui wat lyk asof dit met die hand gebrei is. Dié is egter te groot om die draer van die T-hemde te pas.

      “Kêrel?” vra ek.

      “Moontlik.”

      Ek tel die trui op, druk dit teen my neus. Dit ruik vaagweg na rose by die kraag. ’n Ouer vrou s’n?

      Die onderklere is min en funksioneel. Niks van kant, gekoop om aan te trek vir iemand anders nie. Een wintersbaadjie van plastiek wat veronderstel is om soos leer te lyk. Een paar lang swart stewels. Dié is oud en van regte leer, en goed opgepas.

      Ranna soek in die skoene na leidrade. “MP Buitendag,” lees sy en hou die naam dat ek kan sien.

      Ek skud my kop. “Dis te oud om Martina s’n te wees.”

      “Dalk haar ma s’n, wie weet.”

      Die toiletsakkie lewer ook nie veel leidrade op nie. Ranna pak drie, vier houers op die bed uit.

      “Dis-Chem-goed, nie duur nie.” Sy sug effens. “Alles vir ’n tienervel. En die klomp grimering is seker bedoel om haar ouer te laat lyk.”

      Haardroër, borsel

      Heel onder in die tas lê ’n bruin koevert. Ranna maak dit oop, haal ’n dokument uit. Dis ’n mediese sertifikaat wat verklaar dat M Buitendag aan geen seksueel oordraagbare siektes ly nie, uitgereik in November verlede jaar. Daar is ook ’n sertifikaat van twee jaar gelede van die Klerksdorp Community Dance Studio. ’n Eerste plek in die Dance-Off, sê die stuk papier met sy goue randjie wat hier en daar afdop.

      Twee bladsye volg, foto’s en blomme op growwe papier geplak, asof dit uit ’n album of plakboek geskeur is. Een wys ’n troufoto van ’n vrou met vriendelike oë en lang bruin hare in ’n wit chiffonrok, langs haar ’n man met ’n ligte pak en weglêsnor. Hulle staan voor ’n liggeel Opel Kadett met Just married in wit letters op die een venster geskryf. Onder die foto staan in pienk sierskrif: 14 April 2000. Sakkie en Petro Buitendag.

      “Seker haar ouers. Martina lyk nogal soos die vrou.” Ranna hou die bladsy op. “Lyk my haar ma het van scrapbooking gehou. Kan nie dink dit was Martina nie.”

      Die tweede bladsy wys ’n foto van Sakkie Buitendag, nou met ’n volbaard, effe grys, en twee kinders, ’n ouer meisie – Martina – seker tien of elf, en ’n peuter van twee of drie met potblou oë. Die foto verklap dat Sakkie kort is, met Martina wat reeds by sy skouer trek. Niemand lyk besonder gelukkig nie, behalwe die kleuter wat oopmond vir die kamera lag, haar palms saamgeslaan asof sy hande klap. Daar is ’n rooi geboortevlek wat van haar skouer tot in haar nek vlam, maar sy is te jonk om daarvan bewus te wees. Sakkie, Corlea en Martina, sê die onderskrif.

      Ranna dop die koevert om. “Dis al wat daar is.”

      “Wat is daai bruin sakkie?” Ek beduie na ’n afskorting in die deksel van die tas.

      Ranna haal die materiaalsakkie uit, tel die inhoud op die bed uit. “Twee sigarette. Lipstiffie. Twee kondome. ’n Wit servet met ’n selfoonnommer op. ’n Kaartjie vir ’n dansstudio in Pretoria, met ’n nota oor oudisies vir Cats … lyk my dit was in November iewers.”

      Ek neem die kaartjie by haar. “Dalk moet ons ’n draai gaan maak. As ek reg onthou, open die vertoning volgende week in die Staatsteater. Dalk onthou iemand haar.”

      “Ons sal moet.” Ranna staan terug. “Want die tas is leeg. Niks meer leidrade nie.”

      Ek leun verby haar. Kyk na die swart maag van die tas, vryf oor die gladde materiaal aan die binnekant. Stop. “Wat’s hierdie?”

      Ranna sit haar hand waar myne is. “Ek weet nie.” Sy voel versigtig oor die materiaal. “Dis baie goed gedoen, presies op die naat toegewerk.”

      Sy gaan haal ’n skêr in die kombuis en sny die voering oop.

      Ek steek my hand in en trek ’n lang wit koevert uit. Maak dit oop. Ons staar verstom na die inhoud.

      “Hoeveel is dit?” vra Ranna.

      Ek tel die note. “R20 000.”

      “Wat wou sy met soveel geld maak? Het sy dit gespaar?”

      Ek kyk na Ranna. “Sy kon beslis nie soveel geld so gou by die Midnight Club verdien het nie.”

      Ranna glimlag suur. “Tensy jy veel meer as ’n blote danser is.”

      Ranna maak twee stukke oorskiet-pizza warm en bring dit kombuistafel toe saam met ’n Amstel. Ek eet haastig en honger, drink die bier klaar. Sy loop kamer toe, gaan haal die nommer wat ons in die tas gekry het.

      Ek sleutel dit op my foon in en skakel. Sit die luidspreker aan sodat sy kan hoor.

      Die foon lui en lui. Ek weet my identiteit en nommer is veilig, want Sarah het sagteware op my en Ranna se fone gelaai wat dit onmoontlik maak om ons op te spoor.

      Ek bel weer.

      “Ja, naand,” sê ’n man op Engels.

      Die stem is ongeduldig, nors. Verkeer raas in die agtergrond. Glase lawaai, iemand roep, vloek dan gedemp.

      Ek hou die foon na Ranna uit, fluister: “Wees Martina.”

      Sy neem die foon. “Dis Tina,” sê sy, vinnig, onseker, in ’n toon hoër as haar eie stem.

      Stilte. Verbaasde stilte?

      “Waar’s jou foon?”

      “Weg,” sê Ranna versigtig.

      Stilte.

      “Het jy my geld?” vra die man.

      “Ja. Dit het lank gevat om dit te kry.” Ranna klink onseker.

      “R25 000?”

      Daar was R20 000 in Martina se tas. Ek knik instemmend.

      “Ja,” sê Ranna weer.

      “Kry my by Jambula in Yeoville. Dis om die hoek van Rockystraat, in Bulwer. Elfuur môreaand.”

      “Okay,” sê Ranna.

      Sy doen

Скачать книгу