Скачать книгу

en al wat jy wil doen is om jou mond oop te maak en diep in te …

      Ek speel met my hand in die lou water, laat drup dit op my langbroek. Ek staan op, trek uit, sak op my knieë neer en glip die water in.

      Ek kan my asem vir 86 sekondes ophou.

      Eers is daar vrede. Absoluut gewiglose, blou, grou stilte.

      Dan kom die angs. Jou hande wat met rou paniek begin grawe deur die water tot bó, déúr die oppervlak, die naglug soet en vars en volmaak.

      Ek lê op die rand van die swembad en hyg na asem. Hoes dat die chloor in my neus opstoot.

      Ek weet watter tipe mens só diep duik. Jy moet vreesloos wees. In beheer. Jy mag nie bang word vir die stilte, vir die ruising van bloed in jou ore nie. Vir die klop van jou hart wat al hoe harder en vinniger word tot dit jou logika uitdoof en jy jou mond oopmaak om asem te soek nie.

      Katerien van Zyl moet die kalmste mens wees wat ek van weet. En o, so in beheer.

      Ek sit buite tot ek amper droog is, voor Farr met my raas dat ek met nat voete deur haar misdaadtoneel foeter. Ek sit die iPod se oorfone in, soek tot ek Depeche Mode kry.

      Niks is beter as 1980’s-musiek nie. Die lirieke maak nog sin. Sê iets betekenisvols.

      “Words like violence break the silence, come crashing in, into my little world,” sing ek saam.

      Ek loop weer die huis binne. Dis reeds elfuur.

      Ek loop boontoe, tot in Cath se kamer. Skuif die gordyne eenkant toe en wag tot die sekuriteitspatrollie twintig oor elf verbyloop, wakker en paraat, twee mans met flitse op soek na vreemdelinge in donker hoeke.

      Bekende hoeke.

      Ek sien ten minste twee plekke wat hulle miskyk. Twee struike wat dalk ’n jaar gelede kniehoogte gestaan het, maar wat nou goeie wegkruipplek bied.

      Mens raak gewoond – dis die probleem. Jy pas nie jou denke aan terwyl die wêreld stilweg om jou verander nie.

      Ek gaan sit op die spierwit bed.

      Haal dan diep asem en skree so hard as wat ek kan.

      3.

      Donderdag 8 Februarie, 23:30

      Ek klop weer aan die voordeur, harder dié keer. “Komaan, dis die polisie, maak oop!”

      Steeds bly die deur toe en die ligte af.

      Ek staan terug, soek na lewe in die huis, twee erwe af in die straat van die Van Zyls se plek. Die ligte het aangegaan toe ek in Cath van Zyl se kamer sit en skree het, net om inderhaas afgeskakel te word toe ek kom klop het.

      Die enigste klank uit die huis is die honde wat aanhou blaf, klein brakkies met skeermesstemme.

      Sekuriteit het nie eers opgedaag ná my Oscarvertoning nie. Wys jou net. Al die geld in die wêreld help jou niks. ’n Vet beursie koop ruimte en veiligheid, maar dié twee is nie altyd versoenbaar nie.

      Sydney en sy span kon geen ooggetuies in die Stables opspoor nie. Niemand het daardie nag iets gesien of gehoor nie. Ek weier om te glo dat al die Van Zyls se bure op Oukersaand weg was.

      Weer klop ek aan die deur, nog harder. Watter hardkoppige bliksem bly hier?

      Ek draai om, loop haastig weg, uit by die hekkie, skel hard en hoorbaar, draai regs op met die sypaadjie … dan weer regs, tot onder ’n struik van waar ek die voordeur kan dophou.

      Wie ook al hier bly, het ’n plek met groot vensters en lae mure gekies, asof hulle graag wil weet wat in die buurt aangaan. Die diefwering voor die vensters verseker egter dat niemand aan die huis as ’n maklike teiken sal dink nie.

      Ná ’n paar minute gaan die deur stadig oop, die huis steeds donker. Vier, vyf handevol hare bons buitetoe. Yorkies.

      Ek tree vorentoe. Die grootste van die spul honde gaan staan. Grom.

      Dis nou of nooit. Ek hol by die hekkie in, gryp die keffende brak. Roep vir die blou kamerjas wat daar staan: “Polisie!”

      Die ander honde tjank en hol die huis binne. Die deur klap toe. Gaan dan op ’n skrefie oop. Een oog staar na die Yorkshire-terriër wat hyg in my arm.

      “Gee my hond.” Die stem is oud, manlik. “Jy steel my hond. Ek gaan die polisie bel.”

      “Ek ís die polisie.”

      Stilte.

      “My hond,” sê die stem.

      Pleks van antwoord vis ek my identifikasie uit my sak. Wys dit vir hom.

      Die voordeur gaan effe groter oop.

      Ek sit die hond neer. “Meneer, ek wil graag weet …”

      Die hond skarrel die huis binne. Die deur klap toe.

      Wragtig!

      “Hey!” Ek roep. Klop weer hard. “Wat de hel …”

      Ek sal ’n ander plan moet maak om met hierdie idioot te gesels.

      ALEX

      1.

      Donderdag 8 Februarie, 23:31

      “Sal jy omgee om dit te doen?” praat ek mooi.

      Sarah haal die bloedrooi suigstokkie uit haar mond, vryf oor die ses platinumoorbelle in haar regteroor, een vir elke lid van haar gesin. ’n Ma, drie broers, ’n suster en ’n oorlede pa.

      “Hoekom wil jy nou in hierdie gemors gaan staan en rondkrap, Alex?”

      “Want ek wil weet wat aangaan. En dalk kan ons dié mense help.”

      “Dis ’n storie. Julle is agter ’n storie aan.” Sy vee deur haar kort, deurmekaar rooi hare, tik met drie vingers ’n geïrriteerde deuntjie op haar bobeen uit. Haar twee Dobermanns kyk op van waar hulle in die hoek van die sitkamer lê en aan iets seningrigs kou, weeg my vir ’n oomblik op, kou dan verder.

      “Natuurlik,” gee ek toe, “maar ek wil ook weet wat met die Van Zyls gebeur het.”

      “En nou wil jy hê ek moet hulle fone trace.” Sy blaai deur die lys inligting. “En in hulle bankrekeninge en karre se navigasiestelsels en trackers rondkrap.”

      “Ja.”

      Die suigstokkie gaan terug mond toe. Sarah moet baie lus wees vir rook vandag.

      “Niks wat júlle doen is onwettig nie.” Haar groen oë trek op skrefies.

      “As jy nie wil nie, is dit okay. Maar dis al ses weke en hierdie mense is nog steeds weg. En Cath van Zyl is net twaalf jaar oud. Glo dit of nie, dis meer as ’n storie.”

      “Guh.” Sy staan op. Haar swart leerstewels raas oor die teëls soos sy kombuis toe loop.

      Die amper middernag en Sarah Fourie is wakker. En verveeld. Ek kan dit sommer sien. Sy het nou net teruggekom van waar sy ook al op haar motorfiets rondgejaag het.

      Sy wip op die kombuistoonbank waar Ranna wag vir die ketel om te kook. Sy haat dit om langs Ranna te staan omdat dié haar nog korter laat lyk.

      “Tee?” vra Ranna.

      Sarah skud haar kop. “Coke.”

      Ranna leun oor yskas toe, haal ’n blikkie uit en gee dit aan. Sy maak die boek toe wat sy staan en lees het. Physics for Beginners. Sy sit twee sakkies in die teepot, buk af en soek na koppies.

      Ons al twee sukkel om te slaap. Martina smokkel met Ranna se kop, die Van Zyls met myne. Die raaisel rondom Willem. Cath se netjiese, presiese kamer. Die feit dat netjiese, presiese kinders meestal deur hierdie wêreld se chaos verteer word.

      Ranna kom orent, koppies in die hand. “Jy moet help, Sarah. Met die ander meisie ook. Asseblief.”

      Die hacker leun terug, kruis haar bene. Ek wonder of die camo-broek die spanning kan vat.

Скачать книгу