Скачать книгу

sijn blauw lazure troon … 21

      Het schiprijk Amsterdam. ’t Geldzuchtig Amsterdam. Pakhuis van Oost en West.

      ‘Waarlik is dit een van die vernaamste stede van die aardbodem,’ het ’n Duitse besoeker aan Amsterdam uitgeroep, en ’n ander effens later het dit as ‘een van die grootste, fraaiste, volkrykste en pragtigste stede’ beskryf.

      Zij, die als keizerin de kroon draagt van Europa.22

      In sy oorsig van die Nederlandse Goue Eeu beskryf Benjamin Roberts die dekades 1620 en 1630 as ‘marked by incomparable economic, demographic, cultural, and intellectual growth. These decades were the golden decades of the Dutch Golden Age, and formative years for a generation of young men, and it had a great impact on their outlook on life.’23

      Dié uitspraak is veelseggend, want juis in hierdie jare het Jan van Riebeeck en die mans wat onder hom vir die Nederlandse volksplanting aan die Kaap in 1652 verantwoordelik was ook grootgeword en volwassenheid bereik.

      Dit sou so mooi kon gewees het, daardie stigting, daardie volksplanting aan Kaap die Goeie Hoop; dit kón so mooi gewees het, as vrug van ’n Europese Barokkultuur op sy hoogtepunt. Dog mens lewe nie in die teorie nie, maar in die harde werklikheid, en die werklikheid wat hier ter sprake is, is nie bevolk deur idealiste, filantrope en kunstenaars nie, maar beperkte en feilbare mense, handelsmaatskappye wat beslissings vir eie wins en voordeel neem, sakemanne van wie tydgenote beweer het dat hulle God self sou verkoop as hulle seker was dat hulle Hom sou kan lewer, en die werkloses, hooploses en avonturiers wat bereid was om vir hulle te werk.

      Wat het daardie matrose en soldate, vir ’n groot deel ongeletterd, trouens van die kulturele en intellektuele hoogbloei van hul tyd geweet, en wat kon die ekonomiese opbloei van die era Van Riebeeck self skeel behalwe in die mate dat dit hom in staat sou stel om bevordering te kry, deel te kan hê in die onwettige privaat handel in die Ooste, en so gou doenlik as ryk man na Nederland terug te keer?

      Maar as ek Barokbeelde en -skilderye wil sien, is daar boeke waarin ek afbeeldings daarvan kan naslaan; as ek na Barokmusiek wil luister, kan ek dit vir myself speel op band. Die kolonie wat hier tot stand gekom het, het ’n ánder karakter aangeneem, waarin skilderkuns, digkuns en musiek geen beduidende rol gespeel het nie. Waar hy enigsins belanggestel het in die prestasies van sy tyd, was dit waarskynlik op krygskundige gebied, want dit was ’n era van volgehoue en voortgesette oorlogvoering, en die heldedade wat in die Batavise Romeyn van eerwaarde Petrus de Lange besing is, kan moeiteloos vir die tydperk 1652–61 voortgesit word, al moet toegegee word dat De Lange natuurlik sterk bevooroordeel was in sy keuse van prestasies en in sy verklaring daarvan.

      ‘Forse dapperheydt van een Guineesvaerder’, ‘Heldenstuck van een Seeus roofschip’, ‘Hollanders zege in ’t Oosten’, ‘Galens dapperheyt en zege in de Middellandsche zee’, ‘Banckerts dapperheydt’, ‘Dapperheydt van Marreveld’, ‘Heldenstuck van Hopman Swart’, ‘Kloeckheydt van Gideon de Wilde’, ‘Seeuwen bekomen buyt’, ‘Twee Portugesche schepen verovert’, ‘Hollander vermeestert drie scheepen’.24

      Die era van triomfantlike veldtogte en veldslae is vir die Nederlandse Republiek voortgesit, en ook die klein kolonie aan die Kaap het waarskynlik ten volle in die trots van hul landgenote gedeel wanneer berig daarvan hulle maande later per see bereik.

      Wat kuns en kultuur betref, het die kolonie met groeiende welvaart mettertyd ’n eie koloniale kultuur voortgebring in die vorm van Kaapse Barok of ‘Kaaps-Hollandse’ gewelhuise en die meubels en die silwer- en koperware waarmee dit ingerig is. Waarom is dit egter dat ék daardie huise nooit met onverdeelde bewondering kan betrag nie, knaend bewus van die feit dat dit deur slawe-eienaars en slawe bewoon is, met alles wat hierdie feit impliseer?

      Early in the morning I was waked here by the horrid shrieks and cries of January and February, who were undergoing the discipline of their master’s lash because the horses had not been found the previous evening.25

      Dit is hiér, in hiérdie land dat ek snags wakker lê en dat die slawe Januarie en Februarie geleef het; dit is in hiérdie stad dat ek in die donker die kreet hoor in die verte, die geluid van brekende glas, die geloei van ’n sirene. Hiér en nóú, nie élders nie, in ’n ander stad of land, in ’n ander tyd, of in ’n begeerlike werklikheid wat nooit gestalte gekry het nie.

      Helaas het ek nie baie troos om te bied nie, het ek eintlik géén, want nêrens waar ek kyk, kan ek veel vind wat troosryk is nie. Dit is nie wat ons beplan of verwag het nie, maar wat gebéúr het; dit is die erfenis wat vir ons voorberei is, wat ons vir onsself voorberei het.

      She looked over his shoulder

      For vines and olive trees,

      Marble well-governed cities,

      And ships upon untamed seas,

      But there on the shining metal

      His hands had put instead

      An artificial wilderness

      And a sky like lead.26

      Selde raak ek een van al die boeke in die boekrakke nog aan wat ek eens so ywerig bestudeer het. Wat ek wil weet, onthou ek: eggo’s, herinnerings, ou aanhalings. Vreemd genoeg is dit bowenal frases uit gedigte wat vandag by my opkom, werke waaraan ek in geen jare gedink het nie uit boeke wat ek jare laas in gekyk het, en dikwels frases waarvan die toepaslikheid nie onmiddellik vir my duidelik is nie. ‘The hot water at ten,’ onthou ek byvoorbeeld, ‘And if it rains, a closed car at four.’

      I read, much of the night, and go south in the winter.27

      In die donker, in die stilte van hierdie leë huis, oorpeins ek die reëls waarmee ek onverwags gekonfronteer is. Inderdaad, eens het dit vir my sin en relevansie besit, maar nóú bestaan moontlikhede soos hierdie nie meer nie; en alle uitgange is versper. Die tog lei nou elders, inwaarts.

      SEEKASTELE

      Die seilskepe van die sewentiende en agttiende eeu was opgetimmer uit planke rondom ’n houtraamwerk, met ’n hoog opgeboude voor- en agterskip, en is deur middel van plankvloere verdeel in ’n reeks dekke, soos verdiepings die een bo die ander opgestapel, onderling verbind deur middel van luike, trappe, steil steektrappe en klimpale.

      In 1614 het die grootste klas skepe wat deur die VOC gebou is ’n hoogte van 150 voet, ’n breedte van 33 voet en ’n holte van 13 voet gehad, waarby die Amsterdamse voet gelyk aan 28,3 sentimeter as standaard gebruik is. Met ‘holte’ is die ‘hoogte’ of ‘diepte’ van die romp van die skip bedoel, of effens meer vakkundig uitgedruk, die ruimte tussen die bodek en die bokant van die kiel.

      In 1626 is ’n maksimumlengte van 160 voet egter goedgekeur, en die Batavia wat eerlank voor die kus van Australië skipbreuk sou ly, is dieselfde jaar gebou met hierdie lengte, ’n breedte van 36 en ’n holte van 12½ voet, alhoewel die onafhanklike Kamer Zeeland vir skepe van 170 voet verantwoordelik was.

      Gesien die hoë eise wat aan hulle gestel is, was die skepe noodgedwonge swaar, stewige konstruksies, en die wande van die romp, vanaf die huidplanke aan die buitekant tot die beplanking aan die binnekant, die sogenaamde wegering, was byna ’n halwe meter dik. Hulle was voorsien van twee of meer maste met ra’s of dwarshoute wat die seile gedra het, en ’n ingewikkelde stelsel van toue, die want, touwerk of tuigasie, het deels gedien om die maste stabiel te hou en dit deels moontlik gemaak om die seile te bedien.

      Wanneer dit behoorlik onderhou is, kon so ’n skip vir meer as tien jaar diens lewer en drie of vier retoerreise onderneem. Die rekord word skynbaar gehou deur die Meijenburg, wat in 1713 deur die Kamer Zeeland gebou is en altesaam elf retoerreise afgelê het.

      Die minimumwaarde van ’n nuwe skip in hierdie kategorie is bereken op sowat 80 000 gulden vir die romp, 4000 gulden vir die takel- of touwerk, en 200 gulden vir die ankers.

      Hierdie seilskepe was groot krakende, kreunende, wiegende, deinende houtkonstruksies, donker, vogtig, kloustrofobies en benoud vir diegene wat dit vir maande aanmekaar moes bewoon, met rotte in die donker hoeke, en gevul met die stank van afvalwater, en meestal ook van siekte en ekskrement. ’n Era wat nog nie so ’n

Скачать книгу