ТОП просматриваемых книг сайта:
Skepelinge. Karel Schoeman
Читать онлайн.Название Skepelinge
Год выпуска 0
isbn 9780798176118
Автор произведения Karel Schoeman
Издательство Ingram
—Hoogbootsman; Hoogbootsmansmaat; Bootsman; Bootsmansmaat;
—Bottelier; Botteliersmaat; Konstabel; Kok; Koksmaat; Kwartiermeester;
—Opperseilmaker; Onderseilmaker; Opperkuiper; Onderkuiper; Skeepskorporaal;
—Oppertimmerman; Ondertimmerman; Trompetter; Provoos;
—Opperbarbier; Onderbarbier; Derde Barbier;
—Predikant; Sieketrooster;
—Bosskieter; Bootsgesel; Matroos; Hooploper; Jonge.
‘Niemand van hier na Indië gaande mag sonder toestemming van die Bewindhebbers of hul gekommitteerdes enige ander kiste, tonne of onnodige bagasie aan boord bring as dit wat deur hulle of hul gekommitteerdes onderskeidelik toegestaan is nie. En ander of meerdere tonne, kiste of vate ens. wat sonder toestemming gebring word, sal tot voordeel van die Kompanjie in beslag geneem word.
Matrose en soldate word deur die Kompanjie voorsien van kiste met sy merk gebrand, waarvoor hul rekening belas word met die prys wat die Kompanjie self daarvoor betaal het. En gevolglik mag geen ongemerkte kiste of kiste wat die voorskrifte te buite gaan in die skepe gelaai word nie, maar moet dit stukkend geslaan word.
Vir bootsmanne en soldate nie meer as een kis elk nie, van die vasgestelde grootte.
Vir ’n provoos, haakbusskieters van 10 tot 12 gulden per maand, adelborste en jong skeepskorporaals: elkeen ’n kis 4 voet lank, 1½ voet breed, eweneens 1½ voet hoog.
Vir bootsgeselle van 9 gulden en minder, tot jongens inkluis; en vir soldate: elkeen ’n kis 3½ voet lank, 1 voet 4 duim breed, eweneens 1 voet 4 duim hoog.’17
LITANIE
Ek wéét, want ek was daar; ek het dit gesien, gehoor: die kiste wat aan boord kom, die bemanning wat aan boord kom; die houtwerk, die touwerk, die deining van die groot vaartuig, die gevloek en geskreeu, die gekraak van hout. Die skielike stiltes, die seile roerloos. Die hitte en benoudheid van die oorloopdek in die nag, die stilte onderbreek deur die gemompel of geskreeu van mans in hul slaap of ander wat hulle struikelend oor die slapers in die donker na die galjoen op die voorpunt van die skip begewe waar die gemakke is. Die sagte geklots van die see teen die kant van die skip. Die gedruis van die omringende see. Donker water van die Ageron.
Ek het dit gelees, herhaalde male al; herhaalde male is dit in eietydse geskrifte opgeteken. Al wat verder nodig is, is ’n sekere inspanning, ’n sekere inlewing. Ek was daar, in die donker, in die benoudheid, die geklots van die see teen die kante van die skip, die seile roerloos, vasgevang in eindelose ewigheid. Ek is daar in die stilte, in die donker, luisterend, wagtend.
Wanneer ek nie kan slaap nie, soos teenswoordig so dikwels gebeur, wanneer ek wakker gehou word in die nag, herhaal ek soms by myself die litanie van skeepsname en onthou die vaartuie self, elkeen met sy kenmerkende struktuur, sy kenmerkende konfigurasie van maste, seile en ingewikkelde tuigasie, skepe wat vir verskillende doeleindes ingespan is, namate spoed of stabiliteit, weerbaarheid, seilbaarheid, geskiktheid vir die vervoer van passasiers, goedere of slawe, of enige moontlike kombinasie van hierdie faktore van ’n vaartuig verlang word.
‘Een koopvaardy-schip,’ het ’n agttiende-eeuse werk oor skeepsbou vasgelê, ‘moet goed zeilen, goed stuuren, het zeil goed dragen, weinig afdryven, zagte beweegingen hebben, veel koopmanschappen kunnen bergen, en weinig volk nodig hebben.’ Toe die Kaapse owerheid ’n skip vir sy slawehandel langs die kus van Oos-Afrika aanvra, het hulle ewe goed gespesifiseer dat dit ‘zoo veel mogelijk op de zeijlagie mag werden gebouwd, ten eynde bij het schielijk doorkoomen van oplandige winden, het altoos van een lager wal te kunnen afleggen’.
Maar nie slegs enkele willekeurige vaartuie wil ek herdenk nie, dog álmal wat van Nederland uitgeseil het na die Ooste; almal wat van die Nederlandse seegate vertrek het na Tafelbaai en Kaap die Goeie Hoop; want dit is daar dat my betragting eindig; dit is hiér.
Met ’n kop dus vol aanhalings uit boeke, briewe en gedigte, slaaploos in die donker; ’n kop vol skeepsname. Bybelse name soos Behemoth, Engel Michael, Jerusalem, Kanaän, Patmos, Samaritaan en Sion; name van gode en godinne soos Castor en Pollux, Mercurius, Juno en Venus, of van koninklikes: Hertog van Brunswijk, Josephus de Tweede, Prins Eugenius, Prinses Royaal, Prinses van Oranje. Name van seehelde soos Admiraal De Ruyter en Admiraal Tromp; of dié wat op ánder maniere ewe goed die trots en selfvertroue van hul tyd verkondig: Adelaar, Arend, Avonturier, Pauw, Phoenix, Herstelde Leeuw, Hollandse Tuin, Nederlands Welvaren, Groene Leeuw, Witte Beer, Zwarte Beer, Zeepaard en Zeewolf.
Lyste, litanieë.
Vanaf die aanvangsjare tot teen die einde van die agttiende eeu was daar in die vloot van die VOC ook nege verskillende skepe met die trotse naam Amsterdam, afgesien nog van Wapen van Amsterdam en Beurs van Amsterdam, en dit was passend en reg dat hulle variante van hierdie naam gedra het. Sedert die beginjare van die VOC het die Kamer Amsterdam die sake van die Kompanjie oorheers, en omstreeks die middel van die sewentiende eeu, in die tyd toe sy verversingspos aan Tafelbaai gestig is en gevestig geraak het, het Amsterdam tot die derde stad in Europa uitgegroei.
Generasies lank het Nederlandse skepe jaarliks reeds graan uit die Oosseegebied na Spanje en die Middellandse See vervoer, en Amsterdam het die graanmark en graanskuur van Europa geword. Later is handelsbetrekkings na die Middellandse See uitgebrei, en het die besonder lonende Straat- of Levanthandel met hawes hiér ontstaan.
Dit was bowenal die aktiewe deelname van Nederlandse koopmanne, seevaarders en skepe aan internasionale handel en die in- en uitvoer van buitelandse produkte wat vir die geweldige ekonomiese opbloei verantwoordelik was wat Nederland ’n halfeeu of meer geniet het.
Ook op finansiële gebied het Amsterdam ’n sentrale posisie verkry, en in die sewentiende eeu het die Nederlandse Republiek die kapitaalkragtigste staat in die wêreld geword. Die State-Generaal wat die regering uitgemaak het, was in Den Haag gesetel, dog in feite was Amsterdam die hoofstad van die Nederlandse Republiek.
Die Amsterdamse hawe het vir drie kilometer uitgestrek langs die ‘scheeprijk swalpend IJ’, soos ’n sewentiende-eeuse gedig die rivier genoem het waaraan die stad geleë was, en hier het groot vaartuie voor anker gelê al langs die gordel van pale wat die stad van die waterkant af beskerm. Die een besoeker ná die ander het dit in hierdie jare afgesaag oor ’n ‘woud van maste’ gehad, dog wanneer mens eietydse afbeeldings sien, is dit moeilik om aan ’n juister beskrywing te dink.
‘In het jaer 1604,’ lui ’n eietydse reminissensie, ‘was er zulcken grooten vaert van Amsterdam op de Oostzee, dat men daer 400 Oostervaerders gelijckelijck in een vloot heeft zien ankeren, welcke alle binnen 14 dagen gelost, geladen en weer zeil-ree lagen.’
‘In de maandt May,’ berig ’n ander tydgenoot oor die onafgebroke bedrywigheid in en om die hawe,
varen de Groenlantze schepen, en volgen de machtige vlooten der Moskovische, de Spaansche en Fransche vlooten, gelijk ook de Noordtse en Oosterse, maar voornamelijk de overkostelijke en rijkgeladen Straat-vaarders, de West-Indisch-vaarders hierby komende; deze brengen een ongelooflijke rijkdom jaarlijks binnen deze stadt.
Hierby komt voor den dag de Oost-Indische Maatschappy met hare overgroote rijk geladen schepen, die Amsterdam niet weynig met hunne schatten hebben verrijkt en doen rijzen.18
Wat waatren worden niet beschaduwd van haar zeilen?
Op welke markten gaat zij niet haar waren veilen?
Wat volken ziet ze niet beschijnen van de maan;
Zij die zelf wetten stelt den ganschen Oceaan?19
‘Nu mach men alle landen deur-loopen, waar zal men ons Amsterdams gelijk in de scheep-rijke koophandel vinden? Ik zou zeggen, en met waarheyt bevestigen, dat Amsterdam in wijtluchtige koop-handel en schip-vaeren over de gantsche werelt alle andere landen en steden lichtelijk de loef kan af-steken.’20
Elmina of Guinee, of ’t goudgreinrijck Angolen,
Geen werelthoecken meer voor Holland zijn gescholen.