Скачать книгу

kom.

      “Lynnekom is ’n snaakse plek, Oom weet …”

      Dit lok geen reaksie uit nie. Theodor bly met sy snor speel en kyk nie eers op nie.

      “Weet Oom hoekom is dit so ’n snaakse plek?” vra Saartjie.

      Die man kyk op en sug. Die kinders is lastig!

      “Nee. Hoekom?”

      “Omdat hier so baie spoke is!” Saartjie se oë is groot.

      “Spoke?”

      “Ja, Oom. Oom sien, Lynnekom is glo gebou op grafte uit die dae van die Anglo-Boereoorlog. Daarom spook dit vir ’n vale hier!”

      “So?” Theodor se dik wenkbroue is die ene vraagtekens.

      “Ja, Oom,” sê Saartjie en haar stem klink onheilspellend.

      “Wel, ek glo nie in spoke nie, en ek is ook nie bang vir hulle nie – al ís daar sulke goed!” snou die man Saartjie toe. “Buitendien, ek is nie lus om nou na spookstories te sit en luister nie.”

      Die man se houding maak dit baie duidelik dat hy niks verder te sê het nie. Hy sit net voor hom en uitkyk en streel sy snor.

      Isabel daag uiteindelik met die skinkbord koeldrank en koekies op.

      “Het julle lekker gesels?” vra sy.

      Die meisies antwoord nie. Theodor sê net: “Huh!”

      Die Drie Muskiete sit nou en smul aan die koekies en koeldrank. Hulle hou glad nie van Theodor nie. Saartjie besluit sommer daar en dan dat hulle hom baie banger gaan maak as wat nodig is. Dit sal hom miskien bietjie maniere leer.

      Terwyl die drie so heerlik eet, loer Saartjie kort-kort na Isabel. Sy lyk glad nie gelukkig nie en daar is ’n hartseer kyk in haar oë.

      Skielik staan Theodor op.

      “Ek loop nou maar,” sê hy vies en kyk nors na die meisies. “Lyk my nie ons gaan vanoggend weer alleen wees nie, Isabel.”

      Saartjie byt effens op haar onderlip en vee met die agterkant van haar hand oor haar voorkop.

      “Is ons in die pad?” vra sy.

      “Natuurlik nie, Saartjie!” sê Isabel opreg. “Bly hier. Ek stap net gou saam met Theodor tot by die hekkie.”

      Die man stap vies saam met Isabel by die somerhuisie uit. Hy groet die meisies nie eens nie en hulle groet hom ook nie.

      Ná ’n oomblik hoor hulle hoe hy vir Isabel sê: “Ek sien jou môreaand weer – so halfnege se kant. Ek hoop ons sal dan alleen kan kuier.”

      Die meisies hoor nie wat Isabel antwoord nie.

      “Ek hou niks van hom nie,” sê Saartjie eerste.

      “Ek ook nie,” sê Anna.

      “Ek wonder wat sien Isabel in hom?” sê Anna. “Dit moet seker maar die blink kar wees!”

      “Moenie simpel wees nie!” snou Saartjie haar toe.

      “Lyk hy vir julle soos ’n ou wat vir spoke sal skrik?” vra Lina.

      “Daar is nie ’n mens in die wêreld wat nié vir spoke skrik nie,” sê Saartjie beslis.

      “Toe jy van spoke begin praat het,” sê Lina, “het ek goed gekyk, maar ek kon nie sien dat sy broekspype bewe nie.”

      “Wag maar tot hy die spoke sien,” sê Saartjie. “Mens is mos nie bang as jy net van spoke hoor nie. Maar as jy hulle sien, is dit ’n ander saak.”

      Dan hoor hulle Isabel aankom en praat nie verder oor spoke nie.

      “So ja, outjies,” sê sy en lyk bly dat Theodor uiteindelik gery het, “nou kan ons lekker gesels.”

      Hulle sit heerlik en ginnegaap oor allerhande dinge. Netnou se stroefheid is nou heeltemal weg.

      Maar Isabel is nie so opgeruimd soos gewoonlik nie. Sy sug een of twee keer swaar – net soos Kris, dink Saartjie. Is Isabel se hart dan ook gebreek?

      Skielik vra Isabel terwyl sy haar stem ongeërg probeer hou: “En hoe gaan dit met die familie, Saartjie?”

      “Nee, goed. Hulle wonder net almal hoekom hulle jou nooit meer sien nie.”

      Isabel sit aandagtig na haar mou en staar. Sy trek kastig ’n rafeltjie af en begin dit dan stadig met haar duim en voorvinger in ’n bolletjie rol. Uiteindelik vra sy kastig terloops: “En Kris? Hoe gaan dit met hom?”

      “Nee, goed dankie,” sê Saartjie en moet hard konsentreer om nie te glimlag nie. Sy kan sien Isabel brand van nuuskierigheid om meer van Kris te hoor, maar Saartjie sê niks nie. Sy dink by haarself sy sal wel antwoord as Isabel haar reguit iets vra.

      Maar Isabel sien nie daarvoor kans nie. Sy dink aan haar en Kris se lang verhouding en die aaklige uitval wat alles beëindig het. Sy kan nog steeds nie glo Kris het alles so verkeerd opgeneem nie.

      Die hele moeilikheid het begin toe Theodor eendag by die universiteit aangebied het dat sy saam met hom kan huis toe ry, want hy gaan Lynnekom se kant toe. Isabel was maar te dankbaar om nie weer bus te hoef te ry nie, en het dadelik die uitnodiging aanvaar. Kris was natuurlik woedend – onredelik woedend, volgens Isabel.

      Sy sou saam met Kris bus gery het as hul lesings dieselfde tyd geëindig het. Dan sou sy nie saam met Theodor gery het nie! Maar hoekom moes sy alleen met die bus huis toe gaan as sy in Theodor se motor kon ry? Hoekom wou Kris dit nie verstaan nie? Daar is mos niks mee verkeerd nie.

      Kris was bitter ontsteld. Hulle het ’n lelike uitval gehad en toe net daar hul mooi verhouding van soveel jare verbreek. Isabel sien Theodor deesdae baie, maar nooit meer vir Kris nie.

      Isabel sug swaar en sê: “Ag, ekskuus, outjies, ek voel deesdae so treurig.” Sy probeer meer opgeruimd lyk. “Ek weet sowaar nie hoekom ek so sug nie!”

      Ek weet – dink Saartjie – dis omdat jy net so baie na Kris verlang soos hy na jou! Saartjie sê dit natuurlik nie vir Isabel nie, maar sy is oortuig daarvan dat sy reg is. As sy nou sou vertel hoe baie Kris ook sug en dat sy hart gebroke is en dat hy soos ’n siek hoender by die huis ronddwaal, sal Isabel só bly wees dat hy ook sleg voel, dat sy dadelik na hom toe sal gaan. Dan sal hulle sommer dadelik opmaak en weer soos twee verliefde duifies wees.

      Dit is natuurlik wat Saartjie-hulle wil hê. Maar hulle wil darem eers ook ’n bietjie pret hê. Dit gaan lekker wees om weer ’n slag spook te speel. En wat meer is: as Isabel sien hoe ’n papbroek Theodor is, sal sy hom nooit weer voor haar oë wil sien nie. Maar as sy nou met Kris opmaak, sal sy nog nie gesien het hoe bang is Theodor nie, en dan sal sy hom nog voor haar oë kan verdra, en dan sal daar een van die dae weer moeilikheid tussen haar en Kris wees. Nee, Lynnekom se spoke moet hul werk doen – en hulle moet dit ordentlik doen.

      “Ek weet nie hoekom ons almal so ernstig is nie,” sê Isabel skielik laggend. “Dit lyk of ons by ’n begrafnis is.”

      Saartjie, Anna en Lina lag, en dan staan Saartjie op. Die ander twee volg haar voorbeeld.

      “Ons moet weg wees,” sê Saartjie vir Isabel. “Dankie vir die lekker koeldrank en koekies!”

      Anna en Lina bedank haar ook en Isabel stap saam met hulle tot by die hekkie.

      Saartjie bespied die omgewing onderlangs. Sy wil mooi kyk hoe en van watter kant af hulle na die somerhuisie toe moet aangesweef kom.

      By die hekkie besluit Saartjie dit sal miskien goed wees om Isabel oor die spoke te waarsku, want netnou skrik sy só groot dat sy flou word of iets.

      “Het jy gehoor dit spook deesdae so baie op Lynnekom?” vra Saartjie.

      Isabel skud haar kop.

      “Ja, dit gaan glo woes hier rond,” vertel Saartjie. “Maar ek het gehoor

Скачать книгу