Скачать книгу

net so gepraat. Ma het gesê Isabel sal moeg raak vir die ou met die blink kar en weer na Kris toe terugkom en toe sê hy – dit was asof hy vergeet het hy’t gesê hy sal nooit weer na ’n meisiemens kyk nie – hy hoop dit sal so wees, want hy sal Isabel nooit kan vergeet nie, kos why, hy het haar lief. Dis wat hy gesê het.”

      Apie kyk na Saartjie. Hy voel dis darem nou oorgenoeg vir vyf rand.

      “Wie is die man?” vra Saartjie.

      “Watter man?”

      “Die ander ou – die een met die blink kar?”

      “Nee, ek weet nie. Kris het nie sy naam gesê nie. Hy het net die hele tyd daar gesit en gesug en gesê hy kan nie verstaan wat Isabel in die ou sien nie, want almal weet hy’s ’n papbroek. En toe sê Ma …” Apie frons weer soos wat hy probeer onthou.

      “Wat het Mamma toe gesê?” vra Saartjie dadelik.

      “Ma het gesê Isabel is dalk agter die blink kar aan en nie die ou nie – en toe raak Kris kwaad en sê Isabel is nie só nie. So toe moes Ma maar weer keer en sê sy’s jammer en sy weet Isabel is nie só nie. Sy het dit glo net gesê oor sy teleurgesteld is, want sy hou so baie van Isabel. Toe sê Kris Isabel is wonderlik en toe sug Ma en sê ook Isabel is wonderlik.”

      Apie het nou klaar gepraat. Hy voel hy het sy deel van die transaksie baie mooi nagekom. Saartjie het mos waarde vir haar vyf rand gekry. Hy loer na Die Skim. Hy wonder of sy strokiesheld daardie rower wat so stilletjies van agter af aangesluip kom betyds gaan raaksien.

      “Is jy seker Kris het nie die man se naam genoem nie?” vra Saartjie.

      “Ja.”

      “Het hy ’n beskrywing van hom gegee?”

      “Nee, hy het net gesê die ou het ’n blink kar en almal weet hy’s ’n papbroek.”

      “Het hy gesê of die ou ’n snor het?”

      “Nee, maar ek weet wat dink jy.”

      “Wat dink ek?” vra Saartjie effens vies. Sy gaan duidelik niks verder uit Apie kry nie.

      “Jy dink as hy ’n snor het, is hy ’n kroek!”

      Saartjie kan nie help om te glimlag dat haar boetie haar so goed ken nie. Sy staan op en mik deur toe.

      “Is jy nou tevrede?” vra Apie.

      Saartjie is seker Apie het vir haar alles vertel wat hy gehoor het, maar sy sê: “Ek wonder of so ’n klein bietjie inligting vyf rand werd is.”

      “Jy kan maar wonder,” sê Apie, “maar jy gaan nie jou geld terugkry nie.” Hy begin hom nou weer verdiep in Die Skim se wonderlike avonture.

      In haar kamer sit Saartjie en dink oor alles wat sy gehoor het. Sy kry Kris baie jammer. Dit moet vreeslik wees om deur so ’n liefdesteleurstelling te gaan. Sy wonder hoe sy haar broer kan help. Sy wil hê hy moet Isabel terugkry, want hulle hou almal baie van haar.

      Isabel en Kris is al jare lank meisie en kêrel. Hulle was altyd saam op hoërskool en albei was op die leerderraad in matriek. Toe is hulle saam universiteit toe, waar hulle nou nog saam is. Isabel Theron woon ook hier in Lynnekom. Almal het gedink sy en Kris gaan nog eendag trou.

      “Die liefde is darem maar snaaks,” sê Saartjie hardop vir haarself. “Hulle was soveel jare saam en nou is hulle net skielik nie meer bymekaar nie.”

      Saartjie besluit sy moet iets aan hierdie saak doen. Sy en haar vriendinne, Anna en Lina, moet die paartjie help om weer bymekaar uit te kom. Sy weet nog nie hoe nie, maar sy weet dit moet gedoen word!

      Saartjie staar ingedagte by haar kamer se venster uit. Sy hou van die idee dat die Drie Muskiete vir Kris gaan help. Hulle moet seker maak Isabel neem nie weer notisie van die ou met die blink motor nie.

      2

      Saartjie probeer help

      Saartjie is nog steeds besig om te wonder hoe sy en haar vriendinne kan sorg dat Kris en Isabel weer kêrel en meisie word, toe haar ma haar vir ete kom roep.

      Kris sê nie ’n woord aan tafel nie. Hy sit net mismoedig voor hom en uitstaar en gee af en toe ’n swaar sug.

      Saartjie gesels ook nie veel nie. Sy sit en planne beraam.

      Maar Apie gesels aanhoudend. Hy vertel van al hul pret en kaskenades by die skool.

      “Weet julle wat,” verduidelik hy al kouende, “Bennie het ’n dinges by ’n ander ou gekoop en ons het groot sports daarmee gehad het. Nog ’n stukkie vleis asseblief, Ma.”

      “Hou jou bord – en hou asseblief jou taal suiwer,” sê sy ma en skep vir hom nog vleis in.

      Apie knik en eet smaaklik verder.

      Kris proe-proe net aan die kos en staar afwesig voor hom uit.

      Saartjie probeer hom aan die gesels kry en vra: “Hoekom eet jy nie? Die wildsvleis is baie lekker.”

      “Ek’s nie honger nie,” brom Kris net.

      “Mens hoef nie honger te wees om van hierdie kos te hou nie,” sê Apie al kouende. Ná ’n paar oomblikke voeg hy by: “Maar die liefde is ’n snaakse ding …”

      Kris gluur sy klein boetie aan. “Wat bedoel jy daarmee?” vra hy.

      “Niks,” sê Apie. “Ek sê maar net die liefde is ’n snaakse ding. Wat’s fout daarmee?”

      Kris gluur nog kwater na Apie, maar voor hy iets kan sê, keer dokter Baumann: “Toe nou, julle twee. Ons wil nie ’n bakleiery aan tafel hê nie. Jy was besig om te vertel van jou en Bennie se dinge, Apie.”

      “O ja, Pa,” sê Apie. “Nou, julle sien, die saak staan só – daai dinges …”

      “Watse dinges?” vra Saartjie.

      “Ek gaan mos nou vertel watse dinges,” snou Apie haar toe. “Gee ’n mens kans!”

      Almal bly stil. Apie kou eers nóg ’n mondvol kos en sê dan: “Nou wel, daai dinges is ’n snaakse ding. Dis ’n gewone stukkie papier, maar wat so snaaks is, dis swart en blink aan die een kant en as jy dit op ’n ander stuk papier sit, dan lyk dit of daar ’n swart inkkol op die papier is.”

      Apie kou gou weer. Sy ma en pa en Saartjie wag belangstellend dat hy verder moet vertel, maar Kris sit en staar net die niet in.

      “Ons het heeldag groot sports … ek bedoel vet pret gehad deur die dinges op ouens se boeke te sit as hulle nie kyk nie, maar die laaste periode was die beste! Ou Nukke was toe by ons …”

      “Wie, Apie?” vra sy ma.

      “Ou Nukke, Ma weet – Juffrou Necker.”

      Saartjie glimlag. Sy onthou die onderwyseres maar te goed van haar laerskooldae af hier op Lynnekom.

      “Wel, ons het gesit en lees en Ou Nukke was voor by die tafel met die register besig. Ek het met die dinges wat soos ’n inkkol lyk in my hand gesit en dit het my hand begin brand, kos why ek het gevoel …”

      “Abraham!” sê dokter Baumann streng.

      “Skuus, Pa,” sê Apie vinnig, “die dinges het my hand gebrand, want ek het gevoel ek moet dit darem net een keer propperlies … ag, ekskuus, ek bedoel ordentlik gebruik voor die klok lui vir huis-toe-gaan-tyd.”

      Apie eet vinnig die laaste mondvol kos op sy bord, sit sy mes en vurk neer en vee sy mond met sy servet af. Dan vertel hy opgewonde verder: “En toe kry ek my kans – Ou Nukke staan op en gaan by die klas uit, maar die register lê nog steeds oop op die tafel en onderaan die lys name is daar ’n hele stuk skoon bladsy – wit en silwerskoon.

Скачать книгу