Скачать книгу

al veertien jaar oud!”

      Haar ma glimlag en gaan met haar breiwerk aan.

      Honderde vrae maal deur Saartjie se kop. Haar broer se liefdesteleurstelling interesseer haar geweldig. Dit klink mos vreeslik romanties. Het hy vir Isabel afgesê of sy vir hom – en hoekom? Hulle gaan dan al soveel jare uit.

      Saartjie besef dit sal nie help om haar ma verder uit te vra nie. Maar gelukkig is dit ook nie nodig nie! Apie het mos alles gehoor.

      “Ek gaan bietjie kamer toe, Mamma,” sê Saartjie en rek haarself lui uit net om te wys dat sy alle belangstelling in Kris se hartsake verloor het.

      Eintlik brand Saartjie van nuuskierigheid. Sy neem haar broer nou glad nie meer kwalik dat hy so ongeskik was nie. As mens ’n liefdesteleurstelling gehad het, weet jy mos nie eintlik wat jy doen nie – altans dis wat in boeke en flieks gebeur.

      Saartjie stap kastig verveeld by die vertrek uit. Sy loop stadig by die trap op, gaan gooi haar handsak op haar bed neer en mik vinnig na Apie se kamer toe. Sy gaan nou alles uitvind.

      Wanneer Saartjie aan Apie se deur klop, prop hy eers gou die strokiesverhaal onder sy kussing in en sê dan: “Kom in.”

      Saartjie stap in en maak die deur agter haar toe.

      “O, dis jy,” sê Apie vies en haal die strokies weer onder sy kussing uit.

      “Hoe weet jy ek gaan nie op jou klik nie?” vra Saartjie met ’n grinnik.

      “Jy bedoel oor ek hierdie goete lees?” vra Apie.

      “Ja.”

      “Ek weet sommer net jy sal nie,” sê Apie en begin verder lees hoe Die Skim sommer ’n dosyn ouens op een slag met sy vuiste uitmekaar moker.

      Apie is heeltemal reg. Saartjie sal hom nie gaan verklik nie. Hulle twee stry nou wel baie, maar hulle sal mekaar nooit verraai nie. Soos Apie altyd sê – hy en sy suster staan saam teen die buitewêreld!

      Apie bly verdiep in Die Skim se avonture. Saartjie wonder wat die beste manier sal wees om hom te laat praat oor wat hy van Kris se liefdesprobleme gehoor het. Sy weet as sy oorgretig klink, sal hy sy tong so deur die opening in sy mond laat gly en vra: “Wat’s dit vir jou werd?”

      Hy en sy maat, Bennie, wil altyd weet wat inligting vir ’n mens werd is en hulle sal dit nooit vir jou verniet gee as hulle munt daaruit kan slaan nie.

      Saartjie besef sy moet maak of sy nie regtig belangstel nie en maar net toevallig oor Kris gesels. Sy kom sit op die stoel langs Apie se bed. Hy kyk nie eens op nie. Die Skim is nou besig om ’n verwoede leeu met sy kaal hande beet te pak.

      “Apie,” sê Saartjie en kyk kastig ongeërg by die venster uit.

      “Ja?” Haar boetie kyk nog steeds nie op nie.

      “Wat het Kris alles vir Mamma gesê?”

      “Dit was vir jou snaaks!” sê Apie en kyk nou glimlaggend op. “Ek sit daar en probeer nie eers wegkruip nie, maar hulle sien my sowaar nie! Ek was later so dik van die lag dat ek my hemp se mou in my mond moes sit.”

      Saartjie besluit sy sal liewer maar nie vra hoekom hy nie eerder sy sakdoek in sy mond gesteek het nie.

      “Heng, ja,” sê sy kastig vriendelik, “dit was seker baie moeilik om jou in te hou.”

      Apie grinnik. Ja-nee, dit was nogal. Dan tel hy sy strokiesverhaal op en lees verder.

      “Jy’t my nog nie gesê waaroor Mamma en Kris gepraat het toe jy so amper gelag het nie,” herinner Saartjie hom.

      “Het ek nie?” Apie kyk weer op.

      “Nee.”

      “Hoekom wil jy weet?”

      “Aag, sommer,” sê Saartjie en probeer lyk asof sy glad nie sal omgee as sy nie weet nie.

      Apie kyk na haar en sy tongpunt begin so hier voor in sy mond speel.

      “Hoekom vra jy nie vir Ma om jou te vertel nie?” vra hy.

      “Sy wil nie.”

      “So dan wíl jy graag weet,” sê Apie en glimlag skielik breed. “Kos why jy het mos vir Ma ook gevra.”

      “Wel,” sê Saartjie, “ek sal nie omgee om te weet nie …”

      Dan kom die vraag wat Saartjie liewer wou vermy het. Apie sit sy strokies opsy en vra: “Wat’s dit vir jou werd?” Sy oë glinster eintlik van genot.

      “Nie veel nie,” sê Saartjie, “want ek stel nie eintlik belang nie.”

      Haar boetie kyk haar met ’n grinnik aan. Hy glo haar heel duidelik nie.

      Saartjie kry ’n plan en sê: “Maar kom ek sê jou wat ek sal doen …”

      “Wat?” Apie skuif nuuskierig nader.

      “Ek het vyf rand oor van die fliek. Vertel my alles en die geld is joune. Maar verstaan my goed: dis ál wat ek het.”

      Apie dink so ’n bietjie hieroor na. Eintlik kan hy sy geluk nie glo nie. Hy weet iets wat sy suster wil weet en waarvoor sy selfs bereid is om hom te betaal! Dis nou nie juis baie geld nie, maar wat. Dis immers iets.

      “Nou goed,” sê Apie, “gee vir my die geld!”

      Saartjie weet hy sal nie ’n woord vertel voor hy die geld het nie.

      “Ek is nou terug,” sê sy en is gou by die deur uit.

      Apie tel die strokiesverhaal weer glimlaggend op. Vyf rand – en sommer net so! Dis nou vir jou maklik geld maak!

      Saartjie is gou terug en gee die vyf rand vir hom. Hy steek dit dadelik in sy sak.

      Saartjie kom sit weer op die stoel en sê: “Toe, vertel nou. Vertel alles wat jy gehoor het.”

      Noudat hy die geld het, is Apie heeltemal gewillig om sy deel van die transaksie na te kom. Maar hy kan nie so mooi onthou hoe die gesprek tussen hul broer en ma begin het nie.

      “Kris het daar ingekom,” sê Apie fronsend, “en oor allerhande goete gepraat … Ek weet nie meer watse goete alles nie …”

      Saartjie besluit om liewer niks te sê nie en Apie maar op sy manier te laat vertel.

      “Maar toe hy sê sy hart is gebreek,” gaan Apie aan, “het ek begin luister. Toe het ek geweet hulle weet nie ek is daar nie. Ek het oor die bank se agterkant geloer om te sien hoe ’n ou lyk wie se hart gebroke is, maar Kris het nie vir my anders as gewoonlik gelyk nie.”

      Saartjie glimlag en sê: “En toe? Wat sê hulle toe?”

      “Niks nie. Kris het net so stil bly sit en voor hom op die vloer gekyk en kort-kort sulke lang sugte gegee. En toe sien ek Ma sit haar hand so oor syne en sê: ‘Wat het gebeur, my seun? Vertel vir my.’ En toe begin Kris vertel.”

      “Wat het hy vertel?” Saartjie skuif effens nader.

      Apie vertel vir haar Kris het swaar gesug en gesê Isabel is nie meer sy meisie nie – sy het ’n ander kêrel. Dis ’n man van die stad en hy het ’n groot, blink kar.

      “En toe sê hy iets wat hom amper laat huil het.”

      “Wat was dit?” vra Saartjie.

      “Hy’t gesê Isabel wil niks meer met hom te doen hê nie. Sy sien hom glad nie meer raak nie. Sy’s net heeltyd by die ou met die blink kar.”

      Apie bly stil. Sy voorkop is ’n frons soos wat hy dink aan watter “goete” hy nog alles gehoor het.

      “Ma het Kris probeer troos, maar hy wou nie getroos wees nie,” vertel Apie dan verder. “Hy het gesê hy sal in sy lewe nooit weer na ’n meisiemens kyk nie.”

      “En wat nog?” vra Saartjie

Скачать книгу