Скачать книгу

juis van spoke praat, maar voor sy kan vra, groet Saartjie vinnig en die drie stap haastig weg.

      ’n Entjie van die huis af begin hulle giggel en dan lag hulle sommer hardop.

      “Nou is Isabel gewaarsku,” sê Saartjie. “So as sy die spoke sien en haar verstand gebruik, sal sy sommer weet dis ons.”

      “Ek hoop nie sy sê dit dan vir daai wolf met die blink kar ook nie,” sê Lina. “Dit sal alles bederf.”

      “Sy sal nie,” is Anna se mening. “Julle weet, dit lyk nie of sy regtig so baie van daai nare ou hou nie – blink kar ofte nie!”

      Saartjie en Lina stem saam.

      “Dit gaan dinge baie makliker maak,” sê Saartjie. “Kom ons maak Snor sommer môreaand al bang. Hy het mos gesê hy kom halfnege – en dan gaan hy en Isabel seker weer daar in die somerhuisie sit …”

      “Dis net die regte tyd,” sê Lina opgewonde, “want ons ouers gaan almal na daai vergadering in die stadsaal toe!”

      Saartjie en Anna is verlig. Dit beteken dit gaan maklik wees om by die huis weg te glip!

      Lina se huis is die naaste aan Isabel-hulle s’n. Saartjie en Anna sal hul ouers vra om hulle daar af te laai sodat hulle huiswerk kan doen. Sodra die volwassenes by die vergadering is, sal hulle gou die spookgewade aantrek en net skuins oor die straat by Isabel-hulle se tuin inglip. Dan maak hulle vinnig vir Theodor bang en verdamp weer. Teen die tyd wat hul ouers terugkom, sal hulle drie al weer hard besig wees met skoolwerk. Niemand sal eers weet hulle was vir ’n rukkie by die huis uit nie.

      Só word die hele plan afgespreek.

      Dié Maandagmiddag sit Saartjie en Anna al hul lakens en swart kouse in hul boeksakke. Saartjie het reeds toe sy van die skool af gekom het, en Kris nog by die universiteit was, in sy laai gaan krap en die rooi neus in die hande gekry.

      Aan etenstafel vra Saartjie die aand ewe onskuldig: “Kan ek vanaand by Lina gaan huiswerk doen, Mamma? Anna gaan ook. Ons het wiskunde waarmee ons mekaar wil help.”

      “Wat sê jy, Jan?” vra haar ma vir haar pa.

      “Ja, dis in die haak,” antwoord hy. “Ons kan haar sommer op pad na die vergadering toe daar aflaai en haar dan ná die tyd weer daar kry.”

      “Dankie, Pappa,” sê Saartjie. Sy het geweet dit sal nie ’n probleem wees nie.

      “Wat van my?” vra Apie skielik en sy tongpunt speel deur die opening waar sy twee voortande makeer.

      “Abraham!” sê sy ma kwaai.

      “Ag, ekskuus, Ma.” Die tongpunt verdwyn vinnig. Sy ma hou nie van hierdie gewoonte van hom nie.

      “Wat van jou?” vra dokter Baumann glimlaggend vir Apie.

      “Kan ek by Bennie gaan huiswerk doen?”

      Die ouers kyk na mekaar. Sy ma sê: “Jy gaan altyd na hom toe. Laat Bennie liewer ’n slag hiernatoe kom.”

      Apie dink hieroor na en besluit dat hulle hier net soveel pret sal hê as by Bennie-hulle, want sy ouers gaan mos uit wees.

      “Reg, Ma. Kan ek hom maar bel en vra?”

      Sy ma knik en Apie vra om van die tafel verskoon te word. Hy wil sy maat sommer dadelik oornooi.

      Die telefoon is op ’n tafeltjie in die een hoek van die sitkamer. Apie skakel Bennie-hulle se nommer en dan skree hy: “Hei, Ben-ou-Pen, is dit jy?”

      Blykbaar het Ben-ou-Pen geantwoord, want Apie skree nou hy het gedog dis hy. Die res van die gesin kyk glimlaggend na mekaar. Saartjie en Kris vryf albei hul ore. Hulle kon nog nooit vir Apie laat verstaan dat dit nie nodig is om so hard oor ’n telefoon te skree nie. Hy wil dan altyd weet hoe anders die ou aan die ander kant sal hoor wat hy sê. ’n Mens moet mos skree.

      Bennie moes gevra het wie dit is wat praat, want Apie skree nou: “Dis ek – Aap-ou-Skaap!”

      Bennie vra seker hoe dit gaan, want Apie skree: “Nee, goed. En met jou, Ben-ou-Pen?”

      Dit gaan seker met Ben-ou-Pen ook goed, want Apie skree nou hy is bly om dit te hoor.

      Uiteindelik kom Apie uit by hoekom hy bel. Hy skree Bennie moet sy huiswerk bring en dit hier by hom kom doen. Al die grootmense gaan vergadering toe en dit sal lekker wees as hulle saam kan sit en werk.

      Dan bly Apie stil. Bennie sê iets.

      Apie skree weer: “Hoe kan jy nie weet watse huiswerk nie? Slaap jy heeldag in die klas? Bring net jou boeke. Ek sal jou wys watse goete ons moet doen.”

      Apie is vir ’n oomblik stil en die res van die gesin se oortromme kry kans om ’n bietjie te rus.

      Dan skree Apie weer: “Sal jou pa-hulle jou bring? Reg, Ben-ou-Pen, dan sien ek jou nou-nou. Ons gaan vet pret hê … eh … ek bedoel, ons gaan lekker huiswerk doen!” Apie plak die foon neer en kom sit weer aan tafel.

      Hy vat ’n sluk van die warm sjokolade wat sy ma vir hom aangegee het. Dan sê hy: “Bennie kom.”

      “Ons het so gehoor,” sê Saartjie droogweg en vryf haar oor – die een wat naaste aan die telefoon is.

      Ná ete maak die Baumanns gereed om Saartjie by Lina se huis te gaan aflaai. Net voor hulle ry, sê Martha Baumann vir Kris: “Wat gaan jy vanaand doen?”

      “Niks nie, Ma.” Kris sug asof hy die wêreld se probleme op sy skouers dra. “Wat is daar nou vir ’n ou om te doen?”

      “Toemaar,” sê Saartjie gerusstellend, “onthou: elke wolk het ’n silwer randjie en as die nag op sy donkerste is, is die dag naby …”

      “Dankie, Saartjie,” sê Kris suur, “maar dit werk nie in die regte lewe só nie …”

      Toe Saartjie-hulle by Lina se huis kom, is Anna al daar. Saartjie se ouers laai haar gou af en ry verder.

      Die drie meisies sit in Lina se kamer. Hulle is alleen in die huis.

      “Nou kom, ouens,” sê Saartjie opgewonde, “laat ons sien hoe lyk ons.”

      Hulle trek die lang swart kouse aan en gooi die wit lakens oor hulle sodat hulle net deur die gaatjies wat daarin geknip is, kan loer. Dan sit Saartjie Kris se groot rooi neus aan. Sy lyk vreeslik koddig en Anna en Lina skree soos hulle lag.

      “Maar sal daai wolf met die blink kar die neus sien?” vra Lina.

      “Dis effens maanlig,” sê Saartjie laggend. “Ek sal só staan dat hy dit moet sien.”

      Lynnekom se spoke is gereed. Saartjie kyk op haar horlosie. Dis nou maar eers agtuur.

      “Ons het nog ’n halfuur,” sê sy.

      Die drie “spoke” gaan sit op die bed, maar dan sê Saartjie: “Hoekom sal ons nou hier sit en wag? Kom ons loop ’n ompad en kyk wat daar te siene is.” Haar oë vonkel ondeund.

      “Hoe bedoel jy ‘kyk wat daar te siene is?’” vra Lina.

      “Ons kyk of daar iemand anders is wat ons op pad na Isabel-hulle toe kan bangmaak.”

      Anna en Lina is dadelik opgewonde oor Saartjie se voorstel. Wie sê nou nee vir ’n bietjie ekstra pret?

      Soos een man, of liewer, soos een spook, staan die drie op en stap by die deur uit.

      4

      Lynnekom se spoke (2)

      Dit is donker buite. Die sekelmaan het agter die wolke verdwyn.

      Die Drie Muskiete stap na Lina-hulle se voorhekkie toe. Saartjie loop voor. Lina is agter haar en dan Anna.

      Skielik

Скачать книгу