Скачать книгу

goed. Vertrou my hier.”

      Jurie antwoord nie. Pak vies sy goed in sy sportsak.

      Tarzan sug weer. “Ek gee op. Maak soos jy wil.”

      Hy skakel die kleedkamer se lig af. Hulle staan ’n oomblik in die donker. Jurie hoor hoe Tarzan by hom verby skuif. Tarzan maak die deur oop en stap uit in die lig. Blou swembad op die agtergrond, blou tupperware-kosblik onder die arm vasgeknyp, die kort lyf effens vooroor gebuig.

      Is dit regtig dít vir Tarzan? wonder hy. Soos vir juffrou Sadie? Hier sit jy en dis dit. Jy hoop ’n spul simpel kinders gaan swem soos jy dink hulle moet en soos jy hulle uit ’n handboek probeer leer. Partymaal wen hulle ’n paar medaljes en mense sê jy’s darem ’n aanwins vir hierdie moerse skool. Of jy piepie jou nat oor Macbeth. Dan sê ’n skynheilige bliksem sjoe, juffrou, maar dis ’n goeie drama en jou mond hang oop.

      Dis nogal sad verby, dink Jurie terwyl hy sy sweetpak in die donker aantrek. Is dít hoe die wêreld werk? Jy moet net klou, anders val jy af. Jy kry ’n swemspan soos Tarzan en dan word dit jou lewe. As hulle wen, wen jy ook, en as hulle verloor, dan is jy depressed verby, asof dit jý is wat verloor het.

      Daar moet meer wees, maar hy weet nie waar om daarvoor te gaan soek nie. Hy het gedink goed werk op ’n sekere manier, maar toe nie. Hy sukkel om sy kouse en tekkies in die donker raakgevat te kry. Tarzan het aspris die lig afgesit, besef hy. Dis sy straf omdat hy nie maak soos die man wil hê hy moet maak nie.

      Soos baie van die onsinnige strawwe wat kamstige grootmense by hierdie plek bedink vandat hulle jou nie meer teen die kop mag klap nie. Hy sien dikwels hoe van die onderwysers hulle moet inhou om jou nie aan te rand nie. Hy sou eerder ’n klap teen die kop verkies het as die onsinnige goed wat hulle uitdink vir straf – om jou onthalwe, natuurlik. Goed wat hom net mooi niks van hierdie lewe gaan leer nie.

      Miskien is dit goed dat hy tot vandag gewag het om vir Tarzan te sê, dink Jurie toe hy Saterdagoggend in sy bed lê. Met sy hande agter sy kop hou hy die geitjie dop wat roerloos teen die plafon sit. Staar die geitjie ook na hom?

      Hy wou al vroeër die week sy farewell speech vir Tarzan gedoen het. Dis nie dat hy die span wil drop nie, en hy twyfel soms oor sy besluit, maar hy dink hy weet wat hy moet doen. Dis te laat vir bekers wegdra, al het hy die span gehaal. Hy kan nie saam met die beste ouens in die span swem nie. Hulle tegniek is goed, hulle doen dit al van graad 8 af. Op sy beste kan hy net help om die aflosspan te laat wen. En die paar derde of vierde plekke wat hy vir vryslag op sy lysie kan skryf, beteken ook maar net ’n paar punte vir die span. Geraam teen die saal se muur sal dit nie vir hom wees nie.

      Hy sal vanmiddag ná die gala vir Tarzan sê dis baai-baai swem vir Jurie Viljoen. Hy gaan nie meer goed doen wat hy nie wil doen nie. Hy dink steeds hy sal beter vaar as hy swem soos dit vir hom werk en nie volgens Tarzan se tegniek nie. Dit werk eenvoudig nie vir hom nie. So, hy sal maar agter die ander aanplas, met Tarzan wat moedeloos na hom kyk.

      Die meeste ouens is reeds daar toe hy agtuur by die kleedkamer van die Hillcrest-swembad instap. Hy sit sy sportsak op die houtbankie neer en begin aantrek. Tarzan praat hier en daar met iemand, maar hy kyk nie in sy rigting nie, sien Jurie.

      Dan is dit die gewone spanpraatjie en die belang van die gala en die belang van die span en hierdie spogskool se eer en blah-blah-blah.

      Tarzan se selfoon lui. Hy wil dit eers ignoreer, maar die simpel Afrikaanse sokkieliedjie hou aan en aan in die stilte van die kleedkamer. Hulle staar bewegingloos na die kort, fris mannetjie in die blou sweetpak.

      Tarzan pluk die foon uit sy broeksak. “Ja?” sê hy ongeduldig. Luister ’n oomblik. “Hoe word jy dan so oornag siek! Is dit nie piep nie? Ja, toe.”

      Hy skakel die foon af en druk dit weer in sy sak. Kyk hulle een vir een deur. “Plan B vir borsslag. Henning het een of ander skeet. Wie van julle sien kans vir 100 m-borsslag ook?”

      Niemand reageer nie.

      “Wat van jou, Ivan?”

      “Sal nie werk nie, meneer, dis net ná die vlinderslag. Ek kan nie twee ná mekaar doen nie.”

      Jurie weet nie wat hom besiel nie, dalk sy skuldige gewete omdat hy ná vandag se swem vir Tarzan en die ander gaan drop. Hy steek sy hand op.

      Tarzan kyk verbaas na hom. “Kan jy borsslag swem, Viljoen? Ek het jou nog nooit borsslag sien swem nie.”

      Tarzan is onseker, besef Jurie, glad nie so super cool soos gewoonlik nie. Dit voel goed om die kapokhaantjie só te sien.

      “Dis eintlik my ding, meneer.”

      Hy glimlag nou openlik vir die onderwyser. Jy’s nie aldag Mr Super Cool wat alles weet nie, meneer. Hy kry lekker toe hy sien die ander ouens probeer ook hard om nie te lag nie.

      “Nou ja toe,” sê Tarzan kortaf.

      Terwyl hulle buite wag vir die eerste uitdunne om te begin, sien Jurie sy pa tussen die toeskouers sit. Hy’t nie eers vir sy pa gesê hy swem vandag nie. Hy sê gewoonlik nie vir sy pa as hy swem nie. Hy sê gewoonlik boggerol van sy lewe vir sy pa. Sy pa ook nie vir hom nie. Hulle verstaan mekaar mos mooi: Ek los jou uit en jy los my uit.

      Hy voel skielik soos die geitjie teen die plafon in sy kamer. En dié skielike besoekie, Pa? Wil jy my mooi bekyk terwyl jy so cosy tussen die ander mense sit?

      Hy trek sy sweetpak uit en tree aan vir die borsslag. Hou hom doof vir die ander ouens se simpel aanmerkings.

      “Lekker, Chad!”

      “Weet jy waar sit die bors aan jou lyf, JV? Dis baie verder noord as jou meneer, tjom!”

      Hy probeer oor die gespot glimlag. Om die clown te wil wees, het lekker gebackfire. Hy kan sy polse sny omdat hy so stupid was, want hy weet net mooi niks van borsslag af nie.

      Hy voel sy pa se oë op hom. Daai oë wat goed kyk. Sou sy pa dink aan die vriendelike seuntjie met draadjies om die tande wat so hard probeer het om span te haal toe hy jonger was? Die oulike seuntjie wat later jare toe nie in enige voetspoor gepas het nie?

      Hy neem sy plek in en buig vooroor toe die afsetter die bevele uitroep. Voel hoe sy spiere span. Hy konsentreer op die water voor hom. Probeer om alle klanke en beweging behalwe die afsetter se stem uit te sluit.

      Dan is hy in die water en hy doen wat hy gewoonlik doen. Tarzan het nie gesê hoe hy dié een moet swem nie en hy gebruik sy instink. Dit kom makliker as wat hy gedink het. Die water is koel en soos daardie eerste dag in die skool se swembad voel hy weer alles gaan oukei wees.

      Die enkele sekondes tot by die oorkantste rand van die swembad is verby voordat hy nog die chloor in die water kon ruik. Hy sien sy spanmaats juig en Tarzan wat oor hom buk. Die onderwyser hou sy hand uit en trek hom uit die water.

      “Jou klein donner!” sê Tarzan met blink oë.

      Jurie kyk na die elektroniese skerm aan die oorkant om sy tyd te sien. Hy kan skielik nie onthou in watter baan hy geswem het nie.

      “Jy’t gewen!” skree Tarzan met ’n knoffelasem in sy oor.

      Hy het gewen. Hy draai na die pawiljoen. Sy pa wys ’n thumbs-up in sy rigting. ’n Thumbs-up van sy pa.

      Hy draai om en stap kleedkamer toe. Gaan sit in een van die toilethokkies en trek die handdoek stywer om sy lyf. Iemand roep na hom by die kleedkamer se deur. Hy ignoreer die geroep.

      Hoe het dit gebeur? Dis nou nie actually asof hy soos ’n mal mens geswem het net omdat sy pa hier is nie.

      HOOFSTUK 11

      Jurie koop ’n hot dog by die kiosk langs die swembad. Hy geniet die high fives en die grappies. Dit voel goed, want met Tarzan-styl het hy nie ’n plek in die vryslag gekry nie. Hoe’s daai, ou koning van die bos? ’n Punt vir Boetie en nie eers een vir jou nie.

      Hy is tog teleurgesteld dat die aflosspan vierde gekom het.

      “My ou,” sê Ivan in die tou voor hom, “my ou, wát sal ek sê? Jy’t ou Tarzan se dag gemaak,

Скачать книгу