Аннотация

Toring van Jasmyn speel in die kleurvolle strate van Istanboel af. Markus Combrink reis saam met sy pa, suster en "nuwe boetie'' Neil (hy trek in by hulle na sy ouers se dood), na dié Turkse stad. Terwyl hulle pa werk, verken die tieners die pragtige besienswaardighede en raak bevriend met twee plaaslike tieners, Meryem en Sahib. Daar is politieke onrus, en bomaanvalle deur plaaslike terreurgroepe dreig om die Combrinks se vakansie in ’n nagmerrie te omskep. Boonop worstel Markus met sy ouers se onlangse egskeiding en moet Neil die verlies van sy ouers verwerk. Wanneer Markus se suster egter ontvoer word, begin die poppe behoorlik dans. Die vakansie ontaard in ’n avontuur wat die Combrinks nie sommer sal vergeet nie.

Аннотация

Will het ’n stukkie. Iemand by die werk, jonk genoeg om sy dogter te wees. En Adriaan en Cassie weet daarvan, maar bly tjóépstil. Asof dít nie die vriendekring genoeg ontwrig nie, sing Cassie en Phoebe se seun skielik in ’n bedenklike nagklub en Phoebe se eksie-perfeksie ma wil kom kuier in Pretoria – dalk vir báie lank. (Phoebe eet sommer ’n éclair.) Adriaan se Ingrid het pas wéér ’n knop in haar bors gevoel, hul enigste dogter is ver oor die waters, en dan’s daar boonop Adriaan se familieplaas wat verkoop moet word noudat sy broer wil padgee Australië toe. En heeltyd wonder Phoebe en Ingrid: wat skort met Will se vrou, Soekie? Sy’t onlangs aan haar gesig laat werk en lyk fantasties, maar iets is fout in haar oë. Die wel en wee van drie paartjies in hul 50’s, komies, lewensgetrou en eg. ’n Storie vir almal wat al ooit oor hul vriende gewonder het, mense nes ek en jy, almal met hul eie geheime.

Аннотация

Wanneer woorde nie werk nie, moet jy 'n ander manier vind om jou stem te laat hoor. “’n Paar blokke noord van die Rosebank-sentrum sien hy blou ligte flikker. Seker ’n motorongeluk. Hy pluk hom altyd vir mense wat nie kan bestuur as daar ’n paar druppels reën val nie. Ry mekaar moer toe. Die gedagte aan polisie maak hom dadelik behoedsaam. Kophou, mater, sê hy vir homself. Jy ry net mooi by die spul verby. Jy kyk nie links nie, jy kyk nie regs nie. Dis nie jou issue nie. Die arme mense wat mekaar gehaak het, dis húlle issue. Niemand sal eers in jou rigting kyk nie. Dan sien hy dis ’n padblokkade en sy lyf word koud. Hy bestuur die kar sonder 'n lisensie en ’n sleutel in die aansitter. Hy begin sweet, al is dit koel ná die reën. Uit die hoek van sy oog sien hy een van die polisievroue aangestap kom. ’n Paar meter verder het ’n verkeerslig skielik die gees gegee. Dit het pas nog gewerk. Dis net die geel lig wat aan is. Dit flikker oor die naderende polisievrou, aan en af, aan en af.” Bambaduze is Derick van der Walt, skrywer van die topverkoper Lien se lankstaanskoene, se vierde jeugroman. Dit verwoord ’n seun se uiting van verlies, maar ook die verligting wat aanvaarding kan bring en is uiteindelik ’n besonderse, inspirerende storie oor die heelwordproses ná trauma.

Аннотация

Partymaal draai die lewe anders uit as wat jy dit in jou wildste drome voorgestel het. Vir Willem van Vuuren is die hoërskool eerder ’n nagmerrie as die avontuur waarop hy gehoop het. Want almal eis hulle pond vleis van hom: Daar is die vreemde karakters in die kunsklas waarin hy per ongeluk beland, die rugbyspan waarin hy ter wille van sy pa se Twickenham-knie moet vasbyt, en die simpel kompetisie waarvoor sy broers hul pa wil inskryf. Hallo – hulle pá! Dalk is juffrou Blom reg: Partymaal moet jy jou eie kop volg. En sy behoort te weet, want sy kan ’n rugbybal skop dat dit klein word. Willem Poprok is bekroon met ’n Silwer Sanlam-prys vir Jeuglektuur (2009), die M.E.R.-Prys vir Jeugliteratuur (2011) en die Scheepersprys vir Jeugliteratuur (2013).
Hierdie skooluitgawe van Willem Poprok is goedgekeur vir die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Katalogus vir die Senior Fase. Addisionele onderrig- en leerstof is bygevoeg: aktiwiteite vir pre- en postlees, vrae volgens kognitiewe vlakke, woordelyste en notas oor die kenmerke van ’n jeugverhaal. Antwoordstelle is verkrygbaar op www.tafelberg.com.

Аннотация

Die Van Vuurens van Pretoria besit die Blou Bul Slaghuis in die Mall. Daar is drie seuns en ‘n laatlam-sussie. Die hoofkarakter is die jongste seun, Willem, wat ’n besondere band met sy jonger sussie het.Ondanks druk van sy pa om as rugbyspeler uit te blink, wil hy eerder kunsklasse loop. Hy is ook verlief op Oom Ravi, sy pa se vennoot, se dogter Alesea.Teen die agtergrond van die “Pa van die Jaar”-kompetisie, waarvoor die seuns hulle pa inskryf, speel die alledaagse bestaan van dié deursnee Afrikaanse gesin af. Dis ’n boek sonder “issues” en sedepreke: Net ’n lekker storie oor ’n seun wat groot word.