Скачать книгу

is egter net so belangrik om die seun en dogter reeds van kleintyd af hierop voor te berei deur mentorskap en ’n standvastige voorbeeld te stel as ouerpaar. Mentorskap bied soveel meer as net direkte dissipline en bou ’n kameraadskap wat vir jare nog staande sal bly. Dit is in verhoudings soos hierdie waar kinders hul ouers genoeg vertrou om alles te deel en selfs die moeilikste van vraagstukke te opper, omdat ’n grondslag van vertroue en integriteit lank reeds vasgelê is.

      Met hierdie hoofstuk is dit my doelwit om jou bewus te maak van die verskillende persoonlikhede wat wêreldwyd erken word en om die konsep verstaanbaarder te verduidelik.

      Hiervoor kan die Myers-Briggs-indikator gebruik word, asook die Keirsey-temperamentvraelys, sodat ’n mens jou eie persoonlikheid sowel as jou maat s’n makliker kan verstaan. Waar mense hulleself verstaan en hul wyse van denke kognitief kan ontleed, bring dit ’n erkenning en respek vir jouself en jou maat se andersheid. So kan hierdie professionele toetse regtig waarde toevoeg tot paartjies se lewe en genesing en herstel bring wat letterlik ’n huwelik kan red!

      Hoeveel van julle het nie al na vriende en mense om julle geluister en diep binne jouself gedink hoe baie hulle van jou verskil nie?

      •Party vriende kom altyd sterk oor en beskou jou ontspanne houding dikwels as luiheid, of dit is net mooi andersom.

      •Ander vriende beskou alles altyd vanuit ’n emosionele oogpunt en maak jou, wat alles met jou verstand benader, soms moeg met al die emosies.

      •Dan is daar weer mense vir wie tyd nie regtig so belangrik is nie en “betyds” eintlik ’n relatiewe begrip is – tot op die punt dat dit op konflik kan uitloop as iemand altyd laat is.

      •Party mense soek bewyse en feite in alles en wil stuipe kry as jy met jou skerp intuïsie altyd jou sesde sintuig vertrou, omdat jy weet jou visioenêre insig die groter prentjie beter verwoord.

      •Party mense is gemaak om te speel, ander van ons kan net soveel speel, dan moet daar gewerk word, anders sal geen take ooit voltooi word nie.

      •Dan is daar die ewige praters en die stille luisteraars wat wens die praters kan soms net tussenin asemhaal, en so kan ek die voorbeelde vermenigvuldig …

      Die meeste van ons besef teen hierdie tyd dat mense drasties verskil en sommige mense ons meer irriteer as ander, en ander ons weer meer aantrek met hul denkwyses en optrede. Hoe meer ons egter weet van hierdie verskille, hoe makliker kan ons mense verstaan wat anders as ons is. Want mense se inherente temperament nie verander nie. Daarom is daar ook geen rede om mense te probeer verander nie, dit put jou net uit, frustreer jou en mors jou tyd! Ons het almal al probeer en vies tou opgegooi.

      Dit laat my altyd dink aan ’n man wat ’n nuwe televisiestel koop, maar nie die handleiding het nie. Nadat hy dit geïnstalleer het, eksperimenteer hy met al die knoppies, maar bly die ver­keerde reaksies kry. Dit voel soos ’n raai-raaispeletjie en loop uit op teleurstelling en chaos. Mettertyd raak hy so moeg vir hierdie onverstaanbare belegging waarvoor hy so baie betaal het – en tog doen dit nie wat hy wil hê nie.

      Is dit nie ook maar soms hoe ons huwelike verloop nie? Ons speel almal soms raai-raai met ons maat se knoppies en word keer op keer teleurgestel! Nadat hulle ’n persoonlikheids­analise gedoen het, ervaar paartjies dikwels dat hulle nou eindelik mekaar se “instruksies” gekry het en kan leer watter knoppies werk en wanneer om wat te druk. Dit is ’n openbaring en kan ’n mens ’n totaal nuwe uitkyk op jou huweliksmaat gee!

      Mense verskil op fundamentele wyses van mekaar en dit kan in hul optrede gesien word:

      •Mense wil verskillende dinge hê. Dit word gemotiveer deur unieke motiewe en doelwitte wat volgens wie hulle is, gestel word.

      •Elkeen reageer op ’n verskillende stel waardes en dit bepaal ons reaksies, impulse en optrede.

      •Mense glo verskillend en verwerk inligting op verskillende maniere. Daarom verstaan hulle eenderse sake op verskillende wyses.

      •Die maniere hoe ons optree en emosie openbaar, word bepaal deur ons behoeftes en persepsies. Al hierdie verskille sluit aan by ons persoonlikheid en juis daarom verskil mense so radikaal.

      Mense is wat hulle dink.

      – James Allen

      Mense se eerste reaksie is om dít wat anders as hulle is te pro­beer verander, heel moontlik as ’n beskermingsmeganisme om hulleself teen die onbekende te verdedig. Juis omdat mense se andersheid ons soms verwar en laat twyfel of ons nie dalk verkeerd of meer deurmekaar is as wat ons besef nie, verdedig ons ons karakter en denkwyse soms met ’n ysere wil.

      Wanneer ons egter besef dat daar nie ’n reg en verkeerd is nie, slegs ’n verskil omdat God ons elkeen uniek geskape het, kom daar ’n dieper verstaan van hierdie komplekse verskille. Verder is daar ook geen rede om hierdie andersheid te probeer verander nie, want heel moontlik is hierdie verskille meer goed as sleg – ons kan dit net nie altyd insien nie. Ons word elkeen verblind deur wie ons is. Ons manier van dink maak ons so blind vir ons eie foute en vir die manier waarop ons ander frustreer met wat ons doen.

      “If I do not want what you want, please try not to tell me that my want is wrong. Or if I believe other than you, at least pause before you correct my view. Or if my emotion is less than yours, or more, given the same circumstances, try not to ask me to feel more strongly or weakly. Or yet if I act, or fail to act, in the manner of your design for action, let me be.

      I do not, for the moment at least, ask you to understand me. That will come only when you are willing to give up changing me into a copy of you. I may be your spouse, your parent, your offspring, your friend, or your colleague. If you will allow me any of my wants, or emotions, or beliefs, or actions, then you open yourself, so that some day these ways of mine might not seem so wrong, and might finally appear to you as right – for me.

      To put up with me is the first step to understanding me. Not that you embrace my ways as right for you, but that you are no longer irritated or disappointed with me for my seeming waywardness. And in understanding me you might come to prize my differences from you, and, far from seeking to change me, preserve and even nurture those differences.”

      – David Keirsey & Marilyn Bates, Please understand me

      Persoonlikheidstipering is die studie waar persone volgens opvallende persoonlikheidstrekke en tipiese gedragspatrone in kategorieë geplaas word om as ’n verwysingsraamwerk te dien om te help met die verklaring en beskrywing van menslike gedrag en belewenis (my eie verstaan).

      Baie mense is aanvanklik skepties wanneer daar van per­soonlikheidsanalise gepraat word, want hulle wil nie in ’n boks gedruk word en met ’n persoonlikheid gelabel word nie. Ek kan dit met reg verstaan, want al word elkeen gebore met ’n spesifieke Godgegewe persoonlikheid, verander ons elkeen van geboorte af met blootstelling aan wêreldse omstandighede na ’n karakter. Ons elkeen se grootwordjare en die omgewingsfaktore het ’n baie groot invloed op die uitkoms van wie ons uiteindelik is – dus jou karakter.

      Vandag, in die lig van wonderlike nuwe feite oor geheel­breinontwikkeling en karaktergroei, streef ons daarna om onsself in elke opsig beter te maak en is dit selfs moeilik om te besluit wie jy nou regtig is. Is jy nou die persoon soos jy geskape is (kom ons sê die oorspronklike jy voor allerhande karaktergroei by jou plaasgevind het), of die persoon wat jy op pad is om te word en waar jy met ander oë na jouself en ander sal kyk, danksy ’n verhoogde emosionele intelligensie? Of is wat jy was dalk die beter weergawe van jou, en hoe dan nou? Dit kan ons soms deurmekaar maak en dan gooi ons liewer tou op en leef maar so in onkunde voort. Op hierdie manier slaan jy hierdie wonderlike geskenk oor om te verstaan wie jy werklik is en sal jy jouself nooit regtig volkome ken nie.

      Laat my toe om hierdie konsep vir eens en vir altyd duidelik uiteen te sit sodat jy nie dink die identifisering van jou persoonlikheid sit jou in ’n boks nie, maar gee jou juis die vryheid binne jouself sodat jy net jy kan wees!

      Wanneer jy jou Skepper eendag ontmoet, gaan Hy jou net een ding vra: Was jy, jy?

      – Leo Buscaglia

      Wanneer mense hul persoonlikheidstipe wil identifiseer, is dit belangrik

Скачать книгу