Скачать книгу

jy as mens word.) Ons is onlosmaaklik daaraan getrou en wil verseker nie verander nie, trouens, ons verdedig dit dikwels soos tierkatte. Elkeen glo hy weet “hoe dit in die huwelik moet wees” en behoed jou as jy van my verskil of my wil verander! Vir elke mens is verandering seker een van die mees traumatiese ervarings, en ons voel dikwels in die huwelik dat ons iets moet prysgee wat ons identiteit indirek weerspieël. Die Bybel sê egter dat ons in die huwelik “een word”. Daarom, om twee unieke, uiteenlopende mense een te laat word, klink vir my alte veel na ’n proses van skaaf en skuur, dikwels tot die bloed loop, of hoe? Dit klink amper na ’n hopelose, onmoontlike taak. Tog het God ’n meesterplan met hierdie verskille gehad en werk dit meestal so uit dat teenoorgesteldes mekaar soos magnete aantrek …

      God het ons lief net soos ons is, maar te lief om ons te los net soos ons is.

      – Leighton Ford

      Deur my ondervinding as huweliksberader het ek male sonder tal beleef dat baie mense verhoudings as gekompliseerd en uitmergelend beleef. Tog streef mense steeds na liefde, die hartseer ten spyt. Mense kom elkeen vanuit ’n dramaties verskillende agtergrond en opvoeding, tesame met ’n aangeleerde persepsie van reg en verkeerd, wat dikwels effens versteurd is. Hiermee saam het ons verskillende temperamente en dink ons vanuit verskillende dominante breinlobbe. Die kans dat mense mekaar dus waarlik kan verstaan en onvoorwaardelik liefhê, klink amper absurd. Voeg dan daarby die trauma van elkeen se kinderlewe en die verwerping wat daarmee gepaardgaan, en bykans elkeen wat leef, het berading nodig om optimaal te funksioneer in ’n samelewing wat grotendeels uit verhoudings bestaan.

      Ouers is dikwels ook nie toegerus om hierdie verhou­dings­kennis aan hul kinders oor te dra of te openbaar nie. So word kinders oorgelaat aan hul eie emosies en humeur en kom dit dikwels eers na vore wanneer mense trou en die vonke spat – want hoekom dink jy nie soos ek nie.

      Om in verhoudings, huwelike en ouerskap suksesvol te wees, is dit eers “word” en dan “doen” wat die vrugte sal afwerp.

      – Hettie Britz, Kweek kinders met karakter

      Genadiglik sien ek weekliks in my praktyk hoe mense se hu­we­like verbeter waar hulle hulp kry. Paartjies leer mekaar weer ken en aanvaar mekaar vir wie hulle is. Waar mense se verwagtings openlik bespreek word en hulle mekaar se identiteit aanvaar, kom daar ’n vryheid waar twee mense mekaar weer van voor af kan vind en leer liefkry.

      Dit is egter meestal ’n proses waar ’n professionele persoon mense help om verby hul aangeleerde persepsie van bitterheid en verwaarlosing in die huwelik te kyk. Waar mense hul identiteit en hul maat s’n weer in perspektief sien, en die aanvanklike aantrekkingskrag tussen twee uiteenlopende persoonlikhede verstaan, verstom dit my dikwels hoe die liefde kan terugvloei en die nare, slegte verbittering wegwas.

      Daar is beslis hoop, maar dikwels kan ’n mens dit nie self doen nie en is daar professionele huweliks­beraders wat met wysheid en kennis toegerus is vir hierdie taak. Onthou egter dat dit etlike jare geneem het om tot op hierdie ongemaklike plek in jou huwelik te gekom het. Vanselfsprekend sal dit dan ook heelwat tyd neem om ’n huwelik te herstel. Dit gebeur beslis nie oornag nie. Dit bly egter altyd ’n goedkoper opsie as skei en beslis ook beter vir almal in die gesin.

      Jy moet die verskil wees wat jy graag in ander wil sien.

      – Mahatma Ghandi

      Huweliksberading

      Met huweliksberading is dit my hoofdoelwit om mense te be­magtig om hul huwelik beter te hanteer, omdat hulle op hierdie manier leer om te verstaan wat skeefgeloop het. Daarmee saam is dit ook belangrik om die groter prentjie te sien wat dikwels opsy geskuif word, omdat hulle so intens deur hul afsonderlike pyn geabsorbeer word. Tydens hierdie proses is dit vir my altyd belangrik dat hulle sal onthou dat die hoofbestanddele wat hulle destyds verlief gemaak het, steeds bestaan. Dit is moontlik – wanneer dit met liefde hanteer word – om oor die opgehoopte bagasie en bitterheid te kom wat huweliksmaats verteer.

      Ek begin om elkeen die geleentheid te gee (dikwels alleen) om sy of haar kant van die storie te vertel – presies soos hy of sy dit ervaar. Hoe laat die huidige situasie hom of haar voel en wat is die ergste konflikpunte? So hoor ’n mens dikwels verskillende stories van die huweliksmaats en wonder jy soms of hierdie twee in dieselfde huwelik verbind is. Dit gee my as berader egter ’n duidelike perspektief op wat elkeen ervaar en ek kan sien hoe dit hanteer moet word.

      Waar die probleme nie so erg is nie of huweliksverryking gedoen word, kan die paartjie saam gesien word, maar dit kan dik­wels op hewige konflik uitloop waar huweliksrealiteite bespreek word. Die ander alternatief is om elkeen se storie afsonderlik aan te hoor en dan van daar te begin werk. Waar konflik voor die berader plaasvind, skep dit eintlik ’n goeie geleentheid om te sien hoe die paartjie mekaar hanteer en waar hul toestand van verdraagsaamheid reeds is. Daarna kan ’n mens kyk waar die beste plek is om te begin om hulle te help. So kan hulle deur hierdie proses progressief vorentoe beweeg na ’n veiliger plek, waar daar aan hul hanteringsmetodes van mekaar, die vervulling van elkeen se behoeftes, karaktergroei en dikwels hul sekslewe gewerk kan word.

      Dit is egter ’n gespesialiseerde proses wat dikwels meer be­hels as ’n paar vinnige huweliksberadingsessies. Die klassieke probleem by huweliksberading is dat mense dikwels eers by ’n huweliksberader uitkom wanneer dit amper te laat is. Die huwe­lik is dan reeds so erg verbrokkel, dat die twee mense betrokke al erg uitgemergel en verwerp voel, en tussen haat en verbittering dobber – dikwels reeds besig met die egskeidingsproses.

      Om ’n huwelik wat so ver agteruitgegaan het te herstel, kos baie werk en dikwels tyd om die respek en liefde wat verlore geraak het, weer op te bou. As jy vandag probleme sien wat in jul huwelik besig is om op te bou, wil ek jou aanspoor om nie te wag nie. Hanteer dit liewer nou terwyl julle nog ’n mate van verdraagsaamheid en respek teenoor mekaar het. Hoe langer huweliksprobleme onder die mat in gevee word, hoe meer raak die molshoop ’n berg wat te groot geword het en onomkeerbare skade kan aanrig.

      Deur my ondervinding as berader in praktyk het ek dikwels ervaar dat mense nie graag hul karakter wil aanspreek nie en agter ’n skans van onkunde wegkruip. Ons huldig te maklik die stelling: “So gemaak en so laat staan.” In my strewe om waarlik ’n blywende verskil aan mense se lewe te maak het ek besef dat elke party in ’n huwelik individueel hanteer moet word. Mense moet geleer word om hulself te verstaan, mekaar se verskille te respekteer en op die ooreenkomste te fokus. Waar verhoudings of huwelike hoofsaaklik aangespreek word, word die aandag te maklik van die persone se unieke karakters en persoonlike bewustheid af weggeneem en word daar dikwels te wyd na oplossings gesoek.

      Dit is ’n klassieke eienskap van mense om antwoorde buite hulleself te soek en weg van hul kern te kyk, sodat die aandag van hulleself verwyder word. Hierdie aangeleerde gedrag word as ’n beskermingsmeganisme gebruik en gee aan mense die geleentheid om agter maskers te skuil en nie by hulleself uit te kom nie.

      Emosionele bewustheid, karaktergroei en die verstaan van jou unieke identiteit is ’n wilsbesluit en ’n persoonlike verant­woordelikheid. Dit is dikwels ’n moeilike pad wat selfdissipline en gehoorsaamheid verg, en behels dat elkeen binne die huwelik meer moet doen en aan hom- of haarself moet werk.

      Dit is egter die heerlikste gevoel denkbaar as ’n mens sien hoe die haat begin verdwyn en die liefde weer groei tot ’n lekker kommervrye tyd saam met jou beste maat. Ek sien dit genadiglik dikwels in my praktyk en het dit destyds ook in my eie huwelik gesien toe ons huwelik amper op die rotse beland het. Met hulp en persoonlike werk het ons van “zero to hero” gevorder. Hou daarom moed, sulke gelukkige eindes bestaan nog. Weet egter dat dit nie ’n vinnige “let’s quickly fix it and move on” was nie. Dit het baie tyd, geduld en hope emosionele energie gevat.

      Veral as paartjies so voor my sit en baklei, onthou ek dik­wels ’n storietjie wat vir my die perfekte beskrywing van huwe­liksbera­ding en God se liefde vir ons uitbeeld: Eendag het Michelangelo ’n kontrakteur besoek wat onbewerkte mar­mer­blokke verkoop. Die kontrakteur het aangeneem dat ’n kunstenaar van so ’n hoog­staande kaliber net in die beste marmer sal belangstel en daarom het hy die maestro na die beste blokke wat hy het, geneem. Op pad daarheen het hulle verby ’n rowwe stuk marmer gestap wat reeds seergekry het en dwarsdeur gekraak was. Dit was duidelik

Скачать книгу