Скачать книгу

beheer wil wees en dan moeilik nee sê vir verdere verantwoordelikhede. Alhoewel die ekstroverte sosiaal en vrolik kan wees, mag SJ’s soms streng voorkom wat waardesisteme betref. Die SJ’s wat meer van hul hart bewus is, hou graag tra­disie in stand, is uiters gasvry en wil vir ander tot diens wees. Hulle is van groot waarde in enige organisasie.

      Die SJ’s het ’n geneigdheid om te organiseer – meubels, mense, skedules, organisasies, alles wat voorkom. Hul lewe draai om prosedures en hulle het ’n prosedure vir alles, van koskook tot hul sekslewe. Hulle is ewige planmakers. Hulle hou daarvan om in beheer te wees en ander instruksies te gee. So neem hulle ook natuurlik die leiding en sorg dat dinge afgehandel word.

      By die huis en by die werk het hierdie mense ’n ondertoon van “plig kom voor plesier” en dat pret verdien moet word. Hulle is betroubare lewensmaats en wil aan die gesin, die organisasie of die kerk behoort, wat dan hul behoefte aan diensbaar­heid bevredig. Hulle is baie realisties en is nie blind vir hul eie swak­hede nie. SJ’s kan redelik maklik uitgeken word weens hul beslistheid, standvastigheid en dikwels ook hul humeur en ongeduld.

      Die SJ-groep beslaan ongeveer 38% van die totale samelewing.

      Bekendes in hierdie groep is:

      •President George Washington (ESFJ)

      •President Jimmy Carter

      •President George Bush

      •Koningin Elizabeth I

      •Koningin Elizabeth II

      •Koningin Victoria

      •John D Rockefeller (ISTJ)

      •FW Woolworth

      •William K Kellogg

      •Moeder Teresa (ISFJ)

      NF-groep

      •INFJ - Introvert / ­Intuïtief / ­Gevoelsmens(F) / Berekend(J)

      •ENFJ - Ekstrovert / ­Intuïtief /­Gevoelsmens(F) / ­Berekend(J)

      •INFP - Introvert / ­Intuïtief / ­Gevoelsmens(F) / ­Begrypend(P)

      •ENFP - Ekstrovert / ­Intuïtief / ­Gevoelsmens(F) / ­Begrypend(P)

      In hierdie groep verskil die persoonlikhede ten opsigte van die J/P(Berekend/Begrypend) en die I/E(Introvert/Ekstrovert). Al vier kies Intuïtief(N) as voorkeurgroep en besef die waarde van hul sesde sintuig en gebruik en vertrou dit in hoë mate. Al vier is gevoelsmense(F) met die hart as sterkste element tydens besluitneming.

      Die NF-hooftipe

      INFJ, ENFJ, INFP en ENFP

      Hierdie groep mense het ’n diepte van karakter en ’n ryk innerlike lewe. Hul lewe sentreer rondom mense en hul hart bepaal hul gedrag. Die NF’s is verhoudingsgesentreerd en wil die beste in ander uitbring. Hierdie idealiste wil graag wees wat hulle bedoel is om te wees, en wil ’n identiteit hê wat uniek aan hulle is. Hulle is inherent dromers, kom met vreemde innoverende planne vorendag en het ’n natuurlike talent om met mense te werk. Hierdie mense dra hul hart op hul mou, sukkel om kritiek te hanteer en kan daarom maklik seerkry.

      Die NF’s is sowaar die romantikusse van die samelewing en is gevoelvolle, teer liefdesmaats wat konflik liefs vermy. In hul verhoudings is niks oppervlakkig nie, en dit moet betekenisvol wees en ’n emosionele waarde-element hê. As ouers neem hulle hul kinders se gevoelens baie ernstig op en poog om elkeen se identiteit te ontwikkel.

      Hulle wil primêr waardeer word vir wie hulle is en reageer baie goed op erkenning. Juis daarom sal hulle soms te diep be­trokke raak om ander te help en kan maklik emosioneel oorlaai word. Dit kan dan in spierspasmas manifesteer en hulle kan van emosionele uitputting depressief raak. Hulle is opregte vriende, met ware empatie en kan daarom uitgebuit word. Hulle is maklik geneig om “people pleasers” te word.

      Die NF’s besit ’n natuurlike charisma en kommuni­kasie­vaardigheid, en word van nature deur die kunste aangetrek. Hulle het vrede en integriteit nodig om optimaal te funksioneer en hulle is wonderlike, liefdevolle huweliksmaats. Die meeste skrywers kom uit hierdie NF-groep.

      Die NF-groep beslaan ongeveer 12% van die totale samelewing.

      Bekendes in hierdie groep is:

      •Jane Fonda (ENFJ)

      •Shirley MacLaine

      •Emily Dickenson (ENFJ)

      •Leo Tolstoy (ENFP)

      •Mahatma Ghandi (INFJ)

      •Prinses Diana (INFP)

      •Mikhail Gorbachev (ENFJ)

      •Carl Jung (INFJ)

      •Abraham Maslow

      NT-groep

      •INTP - Introvert / ­Intuïtief / Denker(T) / ­Begrypend(P)

      •ENTP - Ekstrovert /­ Intuïtief /­ Denker(T) / ­Begrypend(P)

      •INTJ - Introvert / ­Intuïtief / ­Denker(T) / ­Berekend(J)

      •ENTJ - Ekstrovert / ­Intuïtief / ­Denker(T) / ­Berekend(J)

      In hierdie groep verskil die persoonlikhede ten opsigte van die J/P(Begrypend/Berekend) en die I/E(Introvert/Ekstrovert). Al vier is duidelik Intuïtief(N) as voorkeurgroep, besef die waarde van hul sesde sintuig/intuïsie en gebruik en vertrou dit in baie groot mate. Al vier is hoofsaaklik kopdenkers(T) en gaan met die meeste besluitnemings deur ’n proses waar hulle hul kop as sterkste oorweging mag benut.

      Die NT-hooftipe

      INTP, ENTP, INTJ en ENTJ

      Hierdie groep sien die lewe vanuit ’n heel ander perspektief en dink rasioneel en visioenêr. As kinders voel hulle dikwels dat hulle die enigste van hul soort in die klas is, maar ontdek gewoonlik met tersiêre opleiding dat daar sowaar ander soos hulle bestaan. Vanweë hul logiese, analitiese sienswyse kan hulle die uitdrukking van hul emosies onderdruk en sosiaal onsensitief wees vir ander se behoeftes. Hierdie gebrek aan dieper emosie kan ’n sielkundige afstand skep in persoonlike verhoudings. NT’s het gewoonlik net ’n paar goeie vriende wat hulle verstaan en geniet.

      Hulle het ’n behoefte om die natuur en die werking daar­van te verstaan en te beheer. Daarom sien ’n mens hulle dikwels in beroepe soos ingenieurswese, filosofie, wetenskap en argitektuur. Hulle funksioneer baie goed in die werksopset, maar is dikwels sosiaal nie so goed toegerus met natuurlike vaardighede nie. Hulle kan soms onbewustelik sarkasties wees en ander seermaak of irriteer met hul lewensuitkyk en kompleksiteit.

      Die NT’s kyk vooruit na die toekoms en kan dinge uit die verlede totaal agter hulle sit. Dit maak ook dat mense hulle maklik as koud, emosieloos en arrogant kan sien. As ’n groep raak hulle nie maklik persoonlik by konflik betrokke nie, veral nie as emosies daarby betrokke is nie.

      Hulle is visioenêre intellektuele, soos Albert Einstein, wat goeie probleemoplossingsvaardighede openbaar. Hulle kan on­moontlike standaarde aan hulleself stel en hiperkrities op hulle­self wees. Hulle bevraagteken reëls en tradisies en wil die waaroms en hoekoms agter alles weet wat hul vryheid inperk.

      As huweliksmaats is hulle nie regtig baie demonstratief in hul liefdesbetoon nie. Hul maat mag soms wonder of die NT van sy of haar bestaan bewus is. Hierdie groep word maklik misverstaan en sukkel om aan die verwagtings van ’n emosionele maat te voldoen. Hulle is ernstig omtrent hul ouerlike pligte. Met liefde en die aanleer van sosiale vaardighede, kan hulle egter goeie huweliksmaats wees.

      Die NT-groep beslaan ongeveer 12% van die totale samelewing.

      Bekendes vanuit hierdie groep:

      •Walt Disney (ENTP)

      •Mark Twain (ENTP)

      •Gregory Peck (INTP)

      •Thomas Jefferson (INTP)

      •Abraham Lincoln

      •Margaret Thatcher (ENTJ)

      •Napoleon

Скачать книгу