Скачать книгу

Maar ek het belowe ek sal kyk wat ons kan uitvind.”

      “Dink kolonel dis sy? Miskien is dit net iemand wat soos sy lyk. Ek bedoel, dis jare sedert iemand ’n duidelike foto van haar geneem het. Op skool laas, dan nie? Dit kan sy wees, maar dalk ook nie.”

      Die kolonel kyk op sy horlosie. “Dis wat jy moet uitvind. Ek wil weet wie die vrou op hierdie foto is. Is dit Ranna Abramson? Isabel Kroon? En as dit is, wil ek weet of sy nog hier is.” Weer huiwer hy. “Ek moet sê, ’n kredietkaartrekord beteken dalk meer as die foto’s van ’n ou man se laaste vakansie saam met sy vrou. Dis hoekom ek niemand se tyd hiermee wil mors nie.”

      Net myne?

      Hy besef wat hy gesê het. “Dis die ideale ding om jou mee besig te hou tot Opod inkom. Ek het reeds met hulle gesels.”

      “Ek het …”

      “Dis genoeg, kaptein.” Hy skuif sy stoel terug.

      “Waar is haar dossier? Moet ek dit aanvra?”

      My vraag maak hom kwaad. Ek kan dit sien aan sy mondhoeke wat grond toe rem.

      “Dis weg.”

      Weg? Gesteel, met ander woorde. Verruil vir geld.

      “Ek kon ’n klompie dokumente bymekaarmaak van die ander polisiedepartemente waar sy ondersoek is, soos dié in Parys en San Francisco. Ek kon selfs ’n paar koerantberigte en duplikaatnotas opspoor wat Boel de Jonghe, die speurder wat Tom Masterson se moord in die Kaap ondersoek het, by sy huis gebêre het. Maar dis al.”

      Die kolonel staan op. ’n Vrou in ’n groen rok, ’n Woolies-sak in haar hand, kom by die koffiewinkel in. Sy het seker buite gewag tot ons klaar gepraat het. ’n Maer tienerseun, net arms en bene, huiwer buite in die gang.

      Ek kom orent. Weet ek gaan nie voorgestel word nie. Ndlovu praat nooit oor sy privaat lewe nie. “Ek sal my bes doen, kolonel.”

      “Dis wat ek verwag, AJ. En ek sê weer: moenie inkom kantoor toe tot jy iets het nie. Ek het jou oop sake vir Ferreira gegee.”

      “Ferreira? Hy sit net en wag vir ’n oorplasing Kaap toe.” Ek kan die woorde nie keer nie. “Hoekom word ek gestraf omdat ek gedoen het wat reg is?”

      Ek wens skielik ek het stilgebly. Dis asof ek oor niks anders kan praat nie. Asof ek heeltyd by hierdie een ding vashaak. Ek kan net sowel vyf jaar oud wees.

      Die kolonel sug. “Ek weet, AJ, maar jy is nog jonk en ambisieus. Hoe oud is jy? Een-en-dertig? Jy sal nog leer. Om die regte ding te doen het baie meer gevolge as om die verkeerde ding te doen. Niemand sê dit vir jou as jy by die polisie aansluit nie.”

      2

      Ek parkeer by die huis net voor die eerste druppels neerplof.

      Weerlig flits, deel die horison in twee. Weer. Ek draf op met die trappe na my woonstel op die tweede verdieping, sluit die deur oop en duik tot in die sitkamer. Staan teen die muur met ’n hart wat in my borskas hamer. Onder my hande voel ek hoe die donderweer deur die bakstene rammel.

      Hoe tel mens nou weer hoe naby die weerlig slaan? Een sekonde vir elke kilometer tussen die flits en die slag? Kan nie onthou nie.

      “Bliksem!” skel ek toe die weerlig weer slaan. Ek leun regs en skop die deur toe.

      Langs my vlei Noag haar teen my aan. Meisiekat met ’n seunsnaam – my wit Keniaanse ma se idee van ’n grap. As dit te veel reën en donder, sal ons veilig wees. Noag sal ons twee voor die water uit lei. Niemand weet waarheen nie, want hierdie plek het nie berge nie.

      Skielik mis ek die Kaap. Kenia ook, al is daar maar meestal ook net grasvlaktes. Dalk gaan dit meer oor my ma. My régte ma, die Duitse dokter, en haar wildplaas. Nie die vrou vir wie my pa haar gelos het omdat hy wou huis toe kom ná 1990 en sy nie wou saamkom nie. Sy nuwe, ambisieuse vrou, oorspronklik van Upington, wat my wou dwing om haar Ma te noem.

      “Nuwe” is ook nie die regte woord nie. Dis al jare later. Ek was agtien toe ek uit Kenia Kaap toe gekom het om daar te studeer. Amper tien jaar later is ek Pretoria toe. Voel soos ’n leeftyd gelede.

      My regte ma, Pia Baumann, hou van die Hoëveld se reën. Sy sê dit elke keer wanneer sy kom kuier. Nes sy elke keer sê ek moet terugkom om haar op die plaas te help.

      Teruggaan na die plek waar ek begin het … begin is? Een nag op hulle wittebrood langs ’n Land Rover in die oopte van die Serengeti drie weke ná hulle mekaar ontmoet het.

      Te vinnig, spot my ma altyd. Te haastig. Nes ek. Te vroeg gebore. Piepklein en opgefrommel soos kougom. Taai en moeilik. Nagte om geskree in die tent terwyl hulle huis gebou het.

      Ek kan nie teruggaan nie. Weet nie hoekom nie, weet net ek wil nie.

      Weerlig vertak weer deur die donker lug. Ek sit Ndlovu se geel lêer op die kombuistoonbank neer en nael sitkamervenster toe. Trek die gordyne dig.

      As een van my kollegas my nou moet sien … Die gespot en agter-die-hand-praat sal nie end kry nie. Soos hierdie ding met my halfbroer, my pa en sy tweede vrou se seun. Konstabel Basil Justice Williams.

      Die naam het dalk sin gemaak toe hy in 1992 gebore is, maar nou is dit net ironies.

      Ek raap Noag op, vryf deur haar dik bruin pels en loop slaapkamer toe. Klim in die bed. Ek sal Ndlovu se vriend skakel sodra die weer bedaar het.

      Jeremy Hardy het ’n aksent wat ek laas by toeriste in Kenia gehoor het. Dit loop soveel draaie ek kan my verbeel ek staan in die suide van Amerika en vee die sweet van my voorkop af. Al kraak sy stem van die ouderdom, dra dit steeds gesag. Hy was nie net ’n gewone speurder nie, dis vir seker. Dalk selfs FBI. Ndlovu het nie gesê nie en ek het nie gevra nie. Ek moes seker, maar ek was – is – blerrie kwaad vir die man.

      Dis nog altyd my probleem, sê my ma. Ek kan amper haar stem met die swaar Duitse aksent hoor. Ek respekteer nie die lyne genoeg nie. Hoe mense verbind is en wat dit beteken. Wie vas is aan wie. Wat beweeg daardie kant as jy hierdie kant toutjies trek. Net soos met Basil. Wie sou nou kon dink hy en Ndlovu is vriende? Lyk beslis so.

      Dit moet my seker nie verras nie. Joviale, vriendelike Basil is almal se pel. ’n Harde werker. Lojaal. Blind as hy moet wees. Selektiewe gesiggestremdheid. Hoe PC.

      Ek fokus weer op Hardy se stem. Dis oggend daar; agter hom val sonlig by ’n venster in. Behalwe vir die blomme op sy lessenaar is die oppervlak netjies en skoon.

      “Waar presies is die foto geneem?” vra ek.

      “Ek het vir Reggie gesê wat gebeur het. Ek het hom alles vertel.”

      “Kolonel Ndlovu het my gevra om die saak op te volg.”

      “En wie is jy nou weer?”

      “Ek werk vir hom.”

      “By die speurafdeling?”

      “Ja.”

      “En jy’s ’n kaptein?”

      “Korrek, ja.”

      “Jy’s jonk vir ’n kaptein.”

      “Almal sê so.”

      Hardy bly onwillig om met my te praat. “Hoekom sou hy jóú vra om my te skakel?”

      Ek gaan nie vir hierdie man verduidelik hoekom ek hom op ’n Saterdagmiddag skype terwyl ek eerder wil gaan aksiekrieket speel en saam met die girls kuier nie.

      “As u nie met my wil praat nie, sal ek dit so aan kolonel Ndlovu verduidelik.”

      Hy lyk eers verbaas, maar lag dan dat sy maag bewe. “Julle Suid-Afrikaners. Julle is almal so fyngevoelig.” Hy waai my ergernis met ’n handgebaar weg. “Ontspan. Ek sal jou vertel.”

      Hy vee met sy wysvinger en duim oor die hoeke van sy mond. “Ek en Delia … my vrou, was saam met ’n toergroep by die Uniegebou. Ek het foto’s van die tuine geneem. Ek’s ’n amateurbotanis. Die hoeveelheid uitheemse bome daar by julle is fenomenaal,

Скачать книгу