Скачать книгу

      Sy maak die hek oop met ’n afstandbeheer aan haar motorsleutels en loop terug na die Mercedes. “Parkeer agter my. Ons trek te veel aandag.”

      Ek roep haar terug. “Wat as dit nie Naomi daar binne is nie? Wat is die plan?”

      “Ons loop in. Hopelik gee hulle pad. Hopelik het jy hulle reeds skrikgemaak.”

      Ek bly staan. Dis een te veel “hopelik”.

      Adriana se wenkbroue lig. “Het jy ’n beter idee?”

      “Nee,” gee ek toe.

      Ek parkeer die bakkie agter haar motor in die oprit. Ek kan nie help om te wonder hoekom sy sleutels vir Naomi se hek het nie. Wie de hel ís Naomi?

      Adriana het ook sleutels vir Naomi se stewige veiligheidshek en voordeur. En ’n afstandbeheer om die huisalarm met twee klikgeluide af te skakel.

      “Wie is hierdie vrou?” vra ek. “Is dit jou huis?”

      “Ek sal later sê, belowe. Maar kom ons vind eers uit of Naomi nog leef.” Sy haal die byt uit haar stem. “Asseblief, Ranna.”

      Sy stoot die voordeur oop. Trap oor die Welkom-grasmat en roep hard: “Naomi? Dis ek. Iris? Waar’s julle?”

      Wie is Iris? Dit kan nie Adriana se kinders wees nie. Hulle sal nie skottelgoed by Crow’s was nie.

      Adriana los die voordeur oop, nes sy die hek oopgelos het. Seker dat ons kan wegkom indien nodig. Ek volg haar binnetoe oor die voorportaal se bruin mat wat al beter dae geken het. Ons staan stil en luister.

      Niks nie. Geen geluid ontsnap uit die ruim, koue huis nie. Ek wens skielik ek het ’n warmer baadjie aangehad as my ligte K-Way-nommer.

      Ek dink aan Ruan Delport se gespierde lyf. Wens ons was beter bewapen. “Is jy seker sy’s nie net gou winkel toe nie?”

      “Omtrent honderd persent seker.”

      “Hoe so?”

      “Haar motor staan al ’n week by Crow’s, en ná gisternag sal sy te bang wees om te loop.”

      Adriana loop in die gang af. Ek soek regs, waar die sitkamer is. Vries in my spore. “Demmit!”

      Adriana kom haastig nader. “Wat het hier gebeur?”

      Sy’s nie verbaas nie, besef ek, sy is kwaad.

      Die sitkamer is ’n gemors. Die meubels is stukkend gesny en die TV omgegooi. Boeke, CD’s en DVD’s lê op die vloer. Alles is stukkend getrap, gebreek of uitmekaar gehaal. Iemand was op soek na iets.

      “Zenani gaan kwaad wees,” sê Adriana.

      “Bly sy ook hier?”

      “Ja.”

      “En Iris?”

      Adriana beduie ek moet stilbly. Ek kan sien hoe sy van plan verander. Hoe sy wil weet wie in die huis is of was, en wat hulle gesoek het. Antwoorde wil hê. Sy skop haar skoene uit en haal ’n pistool uit haar handsak, iets kleins en silwer.

      My Glock lê by Sarah. Alex verafsku wapens en ek kan nie saam met hom werk en ’n pistool dra nie. Joernaliste dra nie wapens nie. Dis nie hoe jy iemand kry om met jou te praat nie. Jou te vertrou nie.

      Adriana beduie ek moet weer by die voordeur uit, sy sal die huis deursoek.

      “Ek gaan jou nie alleen los nie,” fluister ek.

      Sy skud haar kop vererg en verdwyn by die kombuis in.

      Ek volg haar. Die adrenalien is bekend. Dis dieselfde gevoel as wanneer ek en Alex ’n storie jaag. Die wil om te weet wat gebeur het, wat gáán gebeur, is oorweldigend.

      Die kombuis is net so deurmekaar soos die sitkamer. ’n Vuil kastrol lê omgedop op die wit teëlvloer. Wat ook al daarin was, sit dik en geel op die vloer. Kerrie?

      Die kaste se inhoud lê oor die vloer gestrooi. Die agterdeur staan oop.

      Adriana gaan staan en snuif die lug, amper soos ’n roofdier. Dan kyk sy na my. Haar oë vra of ek dit ook ruik.

      Wat? beduie ek stom.

      Dan vang die soet, goedkoop reuk my agter in die keel. Naskeermiddel?

      Die voetstappe in die gang begin sag, asof hulle wil nadersluip, dan opgee en hardloop. Twee, drie tekkietreë wat oor teëls skwiek.

      Lang treë. Groot man?

      Ek retireer dieper die kombuis in, desperaat op soek na ’n wapen. Word eenkant toe gevee deur ’n groot arm. Beland teen die yskas, kap my kop en val grond toe. Kyk deur ’n waas van pyn hoe die man met die swart balaklawa vir Adriana ook uit die pad stamp.

      Sy val op die kombuistafel, gly af vloer toe. Spring op soos ’n kat, vloeiend en vinnig.

      Hoekom skiet sy nie?

      Ek sukkel tot op my knieë. Knip my oë teen die duiseligheid. “Skiet hom!”

      Sy laat val die pistool en ruk ’n laai oop. Soek na iets. Grom in frustrasie. Messegoed flits onder haar hande deur.

      “Waar is …”

      “Hy’s weg.” Ek beduie na die agterdeur. Gaan sit weer plat op die vloer. “Weg.”

      Ek het haar nog nooit so kwaad gesien nie – het nog nooit veel emosie by haar gesien nie – maar nou weet ek hoe dit lyk. Haar oë vlam asof dit die kombuis en alles daarin wil verteer. Die fyn spiere in haar arms en nek tril, vinniger en vinniger. Dan bedaar dit. Die gordyne sak; haar geelbruin oë word weer onleesbaar. Sy gee ’n tree terug van die afgrond waar sy gehuiwer het. Asof sy besluit het om nie te spring nie.

      Sy tel die pistool op en sit dit op die tafel neer. “Leef jy nog?” vra sy kalm.

      “Hoekom het jy nie geskiet nie?” Ek gaan sit op my knieë, voel hoe die ewewig terugvloei in my lyf.

      Sy skud net haar kop, so asof ek beter moet weet.

      Sy is reg. Ek weet, al wil ek nie. Dis dieselfde rede hoekom ons nie die polisie gebel het toe Naomi nie haar foon geantwoord het nie. Ons kan nie bekostig om aandag te trek nie. Veral nie ek nie.

      Ons beweeg vinnig deur die omgekrapte huis, maar kry niks wat verklap waarna die man op soek was nie. En as hy handlangers gehad het, is hulle lankal weg.

      Daar is geen teken van Naomi nie. Selfde met Iris, wie sy ook al mag wees.

      Adriana maak die kombuisstoele weer staan en gaan sit. Staar na die vuurwapen op die tafel. Die vrolike wit-en-geel kombuisgordyne. Die agterdeur wat steeds oopstaan.

      Ek soek na ’n skoon, heel glas. Draai die kraan oop en tap water. Stik amper oor die chloorsmaak. Ek hou die glas vas tot die bewing in my hande bedaar. My kop pyn nog, maar dis niks ernstigs nie.

      Ek gaan sit oorkant Adriana. Luister heeltyd vir voetstappe, maar die huis is doodstil.

      “Sarah het my van haar pa gesê.”

      Adriana knik net. Sit lank stil.

      “Jaap Reyneke was vroeër by die restaurant,” sê sy uiteindelik.

      Ek kan die moegheid in haar stem hoor. Wat moet ek sê? Sy gaan my buitendien net uittrap oor Jaap.

      “Is julle nou skielik vriende? Jy en ’n afgetrede polisieman?”

      “Miskien. Seker.”

      Hoe moet ek my en Jaap se vriendskap aan haar verduidelik? En buitendien, dis niks vreemder as my verhouding met haar, ’n voormalige mesgooier in ’n sirkus, nie.

      “Ek het sleg gevoel ná sy aanranding,” probeer ek tog. “Ek en Sarah het ’n fout gemaak toe ons jou op sy spoor gesit het. En hy voel skuldig oor my pa. Ons kuier lekker, dis al.”

      “Wat het jy hom oor jouself vertel? Oor my en Sarah?” Haar stem word nog killer. “Hy het vir Frankie gevra. Jou nuwe naam.”

Скачать книгу