Скачать книгу

      SONDEBOK

      Irma Venter

      Human & Rousseau

      Vir Shameemah,

      wat AJ haar naam gegee het,

      en Deidré

      En my pa en ma

      The new generation is up-load. We exist by posting photos of ourselves on the Web. Anonymity is a temporary condition – where you are before your video goes viral. Celebrity is visibility. Visibility is celebrity. The desire to be seen – not simply noticed or known – is so tangled up with contemporary ideas about identity that it is impossible to talk about identity as a private matter anymore. That philosophical absurdity – does a thing exist if no-one is looking at it – has a new answer: No.

      Jeanette Winterson in ’n artikel oor Andy Warhol

      ADRIANA

      1

      “Moenie enige draaie ry nie, al sê hy wat.”

      Ek leun agter by die Almera in en haal Felix se beursie uit sy baadjiesak. Tel die note. Tweeduisend rand. Dis meer as genoeg om by die Saxon Hotel te kom. Ek gee vir die taxibestuurder drie honderdrandnote. Dan nog een.

      Ek beduie na die blondine langs Felix. “Moet ook nie na haar luister nie.” Dis seker nie nodig nie, want sy leun reeds met halftoe oë teen die Duitser se skouer.

      As dié dronk BlueData-eienaar vanaand by een van Johannesburg se klubs beland, gaan sy beursie môre leeg wees. Selfde waarskynlik met sy gesonde bankrekening. Aan die vrou kan ek niks doen nie. Dis die eerste keer dat ek haar sien, en wie weet waar Felix haar opgetel het.

      Ek wag tot die hek oopgaan voor ek terugloop restaurant toe. Gaap moeg. Dis halftwee in die oggend. Hoeveel laatnag-Kerspartytjies bly oor?

      ’n Gelag kom uit die kombuis. Kan net Naomi wees. Sy het nog nooit gelag vandat sy ’n week gelede hier begin werk het as skottelgoedwasser nie. Wat kan haar so bly maak?

      Ek loop vinnig tussen die tafels met die spierwit gestyfde tafeldoeke en silwer messegoed deur, reeds reggemaak vir môre. Verby die kroegtoonbank met sy Skotse enkelmoutwhiskies en in by die kombuisdeur. Ek kyk, glimlag. Dis regtig sy.

      Toe ek terugloop om die voordeur te sluit, steek ek in my spore vas.

      Hy is reeds drie tree die restaurant in, motorsleutels in die hand. Die metaal skitter onder die ligte soos hy dit om sy wysvinger laat tol. Sy borskas lyk soos ’n groot ronde blompot, sy nek daarin geplant. Massiewe arms. Sweterig, al is dit Desember en reënerig buite. Hierdie jaar se somer is koeler as gewoonlik, en natter.

      Hy skud sy kop en fyn, blink druppels val op die kraag van sy grys gholfhemp, word deur die goedkoop poliëster opgesuig. Sy swart hare is kort geskeer, behalwe vir ’n kuif wat oor sy voorkop hang. Bruin oë. Sy vel lyk sleg, asof hy nog op hoërskool kan wees, maar die lyne om sy oë verklap sy ouderdom. Dalk is hy in sy laat twintigs. Kan net opkikkers wees wat sy lyf so oppomp en sy vel so merk. Dit mors met ’n man se hormone.

      Daar flikker iets in sy oë. Iets wat vir hom sê om te vergeet. Vergeet wat hy gedoen het. Vergeet wat hy gáán doen.

      Hy staar my aan asof hy my wil-wil herken.

      Ek weet wie hy is. Ek het sy soort al baie teëgekom.

      Ek oorweeg al die plekke waarheen ek kan hardloop. Terug kombuis toe, na die messe toe, waar Zenani en Naomi besig is om op te ruim, of by die sydeur uit, weg van hulle af die dig begroeide tuin in.

      Maar wat as hy my nie volg nie?

      Die man se regterhand mik om onder sy swart donsbaadjie in te duik, maar stop dan. Dit lyk of hy hom bedink.

      “Naand.”

      Die enkele klank is rond, o pleks van a. Pretoria. Dalk selfs meer noord. Dalk aangeleer en nie eens Afrikaans nie.

      Ek kry dit reg om te glimlag.

      “Ons is toe. Jammer,” praat ek bo-oor Melody Gardot wat op die agtergrond sing. Ek leun met een hand op die hoërugstoel naaste aan my. Buk stadig af en trek my regtervoet se swart-en-wit stiletto uit. Ek wil hom nie skrikmaak nie.

      “Lang aand om heeltyd op jou voete te wees,” verduidelik ek terwyl ek hom onderlangs bekyk. Sy wilskrag meet, sy spoed.

      Hy bly steeds doodstil staan, asof hy twyfel wat om te doen. Kyk af na sy diksoolstewels, op na die foto’s teen die mure, skud sy kop effens. Frons.

      Ek wag tot sy oë weer myne vind. Wys hom my hals toe ek die ander skoen uittrek en tydsaam regop kom, die ronding van my borste wat bo die wit bloes se boonste knoop wys. Ek trek my asem hoorbaar in. Lank en stadig. Dwing sy kop na ’n meer intieme plek.

      Hy gee ’n tree terug, ’n effense glimlag om sy mond. Laat sy skouers ’n fraksie sak, momenteel ontspanne.

      Nou.

      Ek swaai om. Hardloop by die kombuis se swaaideur in.

      Naomi staan by die wasbakke. Zenani is weg. Seker besig om voorraad in die yskas te tel.

      “Hardloop! Agterdeur!” skree ek vir Naomi.

      Sy staan verstar, haar seperige hande onder die warm water wat uit die kraan stroom, stoom maak in die koel naglug.

      Ek lig my romp en duik oor die toonbank van vlekvrye staal. Land gehurk op my kaal voete aan die ander kant.

      Die man storm die kombuis binne, ’n pistool in sy regterhand. Hy gaan staan. Agter hom swaai die deur met die ronde venster asof ’n kelner nou net daardeur gedraf het.

      Heen en weer. Heen en weer. Stop uiteindelik.

      Ek hou hom van onder die toonbank dop. Soek dan na Naomi. Die te maer blonde vrou met die skerp gesig staar onbegrypend na hom, haar ligbruin oë dof. Steeds loop die water oor haar hande.

      Vyf, ses sekondes tik verby.

      Die trilling begin in haar skouers en trek af na haar hande. Hulle val tot langs haar sye. Haar nek en rug, knope in ’n dun tou, buig vorentoe. Haar skouers ruk onbeheers onder die wit T-hemp met Crow’s se logo op die mou.

      Ek soek boontoe. Ek is by Zenani se werkspasie, haar messe lê regs van my. Waar is sy? As sy nou hier inloop, gaan hierdie man ophou dink en skiet.

      Ek voel versigtig oor die ry Japannese staal. Die tweede een van regs is perfek, die lem lank genoeg en die hef klein genoeg.

      Angsgeluide begin borrel uit Naomi se mond. “Moenie. Asseblief. Nee …”

      “Waar is sy?” Die man kyk vlugtig oor sy skouer. “Het sy die polisie gaan bel?”

      Naomi skud haar kop, vinniger en vinniger soos haar paniek styg.

      Hy gee een, twee treë vorentoe en sy linkerhand sluit om haar nek. Lig haar op sodat haar tone in die wit tekkies oor die vloer skuur op soek na vasskopplek.

      “Maak in elk geval nie saak nie,” sê hy in haar gesig.

      “Wag.” Haar hande baklei teen die dik vingers om haar keel. “Asseblief. Moenie.”

      “Stop!” roep ek.

      Die man los haar. Tol om net toe ek orent kom en die mes gooi.

      Die lem steek in sy regterskouer vas. Sy linkerhand klap na die mes asof dit ’n lastige vlieg is. Sy regterhand vuur ’n lomp skoot in my rigting af.

      Agter my gaan die instapyskas se deur oop. Die pistool is steeds in die man se regterhand, op soek na ’n teiken.

      Die tweede mes is groter. Dit trek laer en tref sy maag. Die pistool val uit sy hand, maar hy bly staan, effe verdwaas.

      Toe ek omkyk, sien ek hoe Zenani die besem wat sy in haar hand het oor haar knie breek. Sy storm vorentoe.

      “Wag!” probeer ek keer, maar dis te laat.

      Sy slaan hom met die halwe stok deur die gesig dat sy kop links knak. Hy val soos ’n afgekapte boomstomp agtertoe. Ek roep weer,

Скачать книгу