Скачать книгу

en ’n paar skewe, handgemaakte tafels, lê weggesteek agter ’n verlate stoor aan die rand van Musina, daar waar die strate uitrafel tot stofpaaie. Waar hulle uiteindelik dowwe enkelspoorpaadjies word wat tot by die Limpopo-grens lei. En dis nog vroeg, elfuur in die oggend – lank voor die meeste mense ’n koue bier by plekke soos dié kom soek. Plekke wat vir die donker wag voor hulle oopmaak. Plekke wat verdwyn en môre, oormôre iewers anders opskiet.

      Al wat my bekommer is die goema-goemas. Hakeem het hulle op pad hierheen teëgekom – die bende wat hul groepie vlugtelinge wat oor die grens gesluip het, beroof en die vrouens verkrag het. Hulle maak van die Desember-chaos by die grenspos gebruik, en wie weet waar hulle nou skuil.

      “Ek dink ons is okay,” sê Alex weer toe Hakeem nie antwoord nie. “Maar dis dalk ’n goeie plan om gou te maak. Wat dink jy?”

      “Miskien. Seker.”

      Die Ethiopiër se Engels klink asof hy dit uit televisiereekse en flieks geleer het. Geradbraak en met ’n effens Amerikaanse verbuiging.

      “Hoe lank het dit gevat om van Addis Abeba tot hier te kom?” Alex drink aan sy bier en hou die fyn gesig voor hom dop.

      Hakeem skuif die blou plastiekbeker van een hand na die ander. “Ek moet eers weet dis veilig. Ek kan nie teruggaan nie.”

      “Niks wat ons doen, gaan maak dat jy moet teruggaan nie,” sê Alex. “Dis al wat ek jou kan belowe. Ek sal vir niemand jou volle naam gee nie, al doen hulle wat. Ek sal net jou eerste naam gebruik.”

      Hakeem vee oor sy bolip, sy adamsappel. “Baie mense het beloftes gemaak. Niemand het hulle gehou nie.”

      Hy beduie na die grond onder sy sandale, die bloeiende blase aan sy regtervoet. “Iemand moes ons kom optel en het nie. Ons sou in Johannesburg gaan werk. Alles was gereël en betaal en nou is alles weg. Almal weg.” Hy sit sy hande teenmekaar asof hy bid.

      “Ek’s jammer daaroor.”

      “Ek kan nie jou jammerte eet nie.”

      Alex kyk na my. Ek knik stadig. Dit was moeilik om iemand soos Hakeem op te spoor. Ons kan hom nie nou verloor nie.

      Alex sit sy notaboek neer en haal sy beursie uit. Tel die geld daarin onder die tafel sodat Hakeem nie kan sien hoeveel note daar is nie. Kyk dan op. “Ek het vyfhonderd rand. Dit kan help. Dalk kan jy vir jou nuwe skoene koop?”

      Hakeem kyk weer vinnig links en regs. Hy beduie Alex moet sagter praat, al staan niemand naby genoeg om te hoor nie.

      “Jammer.” Alex laat sak sy stem tot soveel van ’n fluistering as waartoe ’n man in staat is. “Dis al wat ek het.”

      Hakeem dink ’n oomblik, hou dan sy hand uit. “Goed.”

      Alex haal die note uit, maar oorhandig dit nie. Hy beduie met sy kop na my. “Nog een ding: ons soek ’n foto van jou.”

      Hakeem se hand word ’n vuis. “Geen foto’s nie. Nee, glad nie. Nee,” sê hy kortaf.

      “Niemand sal jou gesig sien nie. Ek belowe.”

      Hakeem bly stil.

      “Ek wil nie jou storie koop nie.” Alex druk die geld terug in sy beursie. “Ek wil jou help. Help my om jou te help. Vertel vir mense hoekom jy al die pad van Addis Abeba af hiernatoe geloop het. Hoekom jy hier is.”

      “Almal weet dit.”

      “Nie almal verstaan nie.”

      Alex drink sy laaste sluk bier. Myne is lankal op. Dis heluit warm, moet naby aan veertig grade wees, selfs meer hier binne onder die sinkplate.

      Hakeem vou sy hande saam op sy skoot. Sy oë soek van die plastiekbeker na Alex se beursie na my. Loop dieselfde pad terug.

      “Werk. Hier is baie werk. Baie geld. My familie kry swaar. My susters. Dis hoekom.”

      Uiteindelik.

      Ek leun vorentoe en haal die kamera uit die rugsak by my voete. Ek het nog niks vir Hakeem gewys wat hom sou skrikmaak nie.

      Hy kyk weer na die beursie in Alex se hand. Drink die laaste sap in sy beker. Soek na die kroegman wat die deur oppas om seker te maak niemand pla ons nie – dit het ook reeds geld gekos.

      Dan waarsku hy met ’n besliste wysvinger: “Een foto.”

      Alex gee hom die geld, en begin skryf terwyl hy praat. Ek staan op en gaan kniel op die grond, die kamera gereed.

      Deur die lens is die lig geel en warm, die enigste perfekte ding in hierdie plek. Ek wens skielik ons was iewers anders. Iewers beter. Skoner. Veiliger.

      Maar dis net ons, hier: die kroegman, Alex, ek en die sestienjarige seun.

      2

      Alex staar na die rekenaarskerm. “Dis ’n goeie foto. Sou ek dit kon neem?”

      Ek gaan staan agter sy stoel, die rekenaarskerm die enigste lig in die klein eetkamer wat ons as studeerkamer gebruik. Laat rus my hande op sy skouers. Die gordyne bol en sak soos die koel nagwind deur die oop venster waai en die hitte van vroeër die dag verdryf. Die lou water van die stort waaruit ek pas geklim het klou steeds aan my lyf en hare. Maak die lang, stadige uitasem van die dag nog beter.

      Die foto wys Hakeem se maer bene in sy stukkende donkerblou sweetpakbroek. Sy dun, stowwerige enkels. Sy moeg geloopte voetsole. Die tuisgemaakte sandale.

      Ek soen Alex in die nek, maar sy oë bly op die rekenaarskerm.

      “Ek dink so. Jy raak al hoe beter. Het jy nog nie agtergekom nie?”

      “Ek kan nie dink enigiemand glo ek neem hierdie foto’s nie,” sê hy.

      “En dan skryf jy nog sulke goeie stories ook.”

      “Gelukkig het my joernalistiekgraad fotografie ingesluit. Anders het ek nie geweet hoe om dit te verduidelik nie.” Hy draai sy kop skeef, lag effens. “Pla dit jou? Dat niemand van jou mag weet nie? Dat niemand weet jy neem hierdie foto’s nie?”

      Ek skuif verby sy skouers, genoeg dat hy kan sien ek is nog kaal van die stort. Ek word met ’n glimlag beloon. Arms wat oopmaak.

      Ek gaan sit skuins op sy skoot. Soen hom weer in die nek, die hoek van sy mond. “Stuur die foto en kom bed toe,” sê ek naby sy oor. “Dit was ’n baie lang dag.” Besef dan dis reeds lank na twaalf. “Dag én aand.”

      Hy vee my nat hare uit die pad en soen my skouer. “Ek moet nog net die onderskrif skryf.”

      “Los dit vir die nuusredakteur. Of sy assistent. Hulle het Hakeem se naam.”

      Sy linkerhand beweeg op met my rug, sy regterhand trek my heupe nader aan syne. “Jenny mag dalk sukkel. Sy’s nog nuut.”

      Ek leun terug sodat ek hom in die oë kan kyk. “Wanneer het sy nuusredakteur geword? Verlede week het sy nog stories gesub.”

      “Sy’s die nuwe assistent-nuusredakteur. En moenie nou weer ontsteld raak nie.”

      Ek draai my uit sy arms en staan op.

      “Ranna, dit was lank gelede. Jy was weg. Jy het weggeloop.”

      “Maak nie saak nie.”

      “Jy’s onredelik.”

      “Ek weet. Ek gee nie om nie.”

      “Dit maak dit nie reg …”

      My foon begin lui, gaan dood, lui weer.

      Ek loop kamer toe om daar te antwoord. Agter my hoor ek die lessenaarstoel oor die teëls skuif, lang treë wat my volg.

      “Los die foon, Ranna. Praat met my.”

      Ek druk die BlackBerry teen my oor. Net ’n paar mense het hierdie nommer.

      “Ranna?” groet haar stem voor ek kan. “Dis Adriana.”

      “Ek sal alleen gaan. Jy

Скачать книгу