Скачать книгу

Hy het nie terugbaklei nie. Hoekom nie? Vreemd vir ’n man in sy beroep. Was dit iemand aan wie hy ondergeskik was? Sy baas? Of is hy bloot daai tipe man – groot maar bang?

      “Het iets.”

      Ek draai om en kyk oor haar skouer na die rekenaarskerm.

      “Ruan is maxed op sy kredietkaart en tjekrekening,” sê sy. “En hy word op die 25ste van elke maand deur De Lange & Hlongwane Prokureurs betaal. Die geld gaan so vinnig uit soos wat dit inkom.”

      “Prokureurs? Hy lyk nie soos een nie.”

      “Hy’s seker die muscle man. Skuldinvordering, daai tipe van ding. Die geld lyk maar min. Vier-, vyfduisend rand op ’n slag.”

      “Wat nog?” Ek probeer sin maak uit die bankrekening op die skerm.

      “Nog betalings, maar dis nie gereeld nie. Dit lyk soos privaat betalings, maar dis vreemde bedrae. Die laaste een is groterig: Dertigduisend rand. Kom van ’n Hanno Bothma af.”

      “Wie’s dit?”

      Sy glimlag tevrede. “Eienaar van Rumble. GQ het verlede maand ’n spread oor hom gedoen. Hy het twee susters wat al twee dokters geword het, ’n Ferrari, ’n sepiester-girlfriend en ’n moerse huis in een of ander estate.”

      “En Crow’s se adres is op ’n Rumble-strokie geskryf.”

      “Korrek.”

      “Maar dalk is dit al wat hy by hom gehad het toe hy die adres moes neerskryf.”

      “Of …”

      “Ja, okay,” gee ek toe. “Of dalk het Hanno Bothma dit daarop geskryf en vir Ruan gegee.”

      Ek kyk na die strokie. Twee Castles. ’n Ronde bier tussen vriende? ’n Baas wat bier drink en sy werknemer laat betaal?

      Ek draai na Sarah. “Is jy nie lus om bietjie uit te kom nie? Meer uit te vind oor wie en wat Ruan was nie?”

      “Jy moan nog heeltyd by Ranna oor die polisie en Adriana en nou wil jy self gaan moeilikheid soek.”

      “If you can’t beat them …”

      “Wat moet ek by Rumble gaan soek?”

      “Niemand sal vir jou nee sê by die deur nie. En as ons eers in is, kan ons hoor of ons met Hanno kan gesels. Hanno wat vir Ruan dertigduisend rand betaal het.”

      “En dan wat?”

      “Weet nog nie.”

      “Ek’s nie lus nie,” stry sy.

      “Jy kan nie heeltyd hier sit en tob nie.”

      “Moenie hierdie mý ding maak nie. Jy ruik ’n storie.”

      Ek weet sy’s reg. ’n Mens bly wie jy is. Ek wou nie by Adriana en haar dinge betrokke raak nie, maar as ek moet, kan ek net sowel heelhartig inspring. Want hier is iets aan die broei. Iets interessants.

      Sarah staan brom-brom op en loop yskas toe. Kom terug met ’n Coke in die hand en minus die nikotienkougom in haar mond. Sy gaan sit weer voor die rekenaar.

      “Wat sê die dokters?” verander ek die onderwerp.

      Sy wag lank voor sy antwoord, haar vingers wat rusteloos op haar bobeen tik.

      “Hulle gee hom nog so drie, vier weke.”

      Ek wil troos, maar ek weet dit sal dom wees. Ek kan nie die ding tussen my en haar weer wakker maak nie.

      Toe ek uiteindelik praat, kom die woorde lomp uit.

      “Hy moet bly wees dat jy ophou rook het.”

      “Hy is.”

      “Hoe gaan dit met jou ma?”

      “Nie goed nie. Sy sê net heeltyd die dokters weet niks.” Sy lag bitter. “Ek is kwaad oor hy steeds wil rook en sy vir haarself lieg. Ons het al so baie lieflike, geduldige gesprekke oor al twee onderwerpe gehad.”

      Sy drink die koeldrank klaar en loop na die ry sleutels wat langs die hysbak hang. Haal een stel af.

      “Jy’s reg. Mens kan ook net so lank sit en jouself jammer kry. Kom ons ry.”

      2

      Die reuk van reën het ’n naam. Daai vars, klam grondreuk wat in jou neus optrek en jou elke keer aan lente laat dink. Petrichor – lelike naam vir iets so moois. Dit maak nie saak waar en wanneer die reën val nie, dit ruik dieselfde. Reën wat op warm teer neersak en wit stoom soos spoke voor motorligte opjaag. Reën op sinkdakke en bome en gras. Herfs of lente, winter of somer.

      Op pad Rumble toe stop ons by Peter’s Gym. Die wit-en-blou tweeverdiepinggebou in Rivonia staan weggesteek agter ’n Wimpy. Die restaurant se rooi neonteken is genoeg om my honger te maak. Ons het vanoggend halfdrie Johannesburg toe gery, en ek het in Polokwane laas geëet. En Sarah se kaste is dolleeg.

      Ons draf deur gietende reën voordeur toe. Peter’s Gym ruik na sweet, meer nog as die Virgin Active-tipes wat ten minste probeer om die reuk te verdryf.

      Die ontvangsdame agter die toonbank glimlag toe ons inloop. Haar naamplaatjie sê Ntombi. Sy is niks ouer as negentien, twintig nie.

      “Ons maak teen negeuur toe. Is julle nuut hier? Of wil julle graag aansluit?”

      “Ons is eintlik op soek na iemand,” antwoord ek. “ ’n Ou vriend wat ons onlangs weer raakgeloop het. Ruan? … Ons skuld hom geld.” Hopelik sal dit Ntombi aanmoedig om ons te help.

      Haar glimlag verdwyn. “Is jy seker dis nie andersom nie? Hy skuld my nog vyftig rand vir laas week se middagete.”

      Ek trek my skouers op. Lag. “Sommige goed verander ook nooit nie. Maar dis hoekom ons hier is, ons weet hy het die geld nodig.”

      Sy skud haar kop. “Hy het nie vandag werk toe gekom het. Hy het twee kliënte op ’n Saterdag en hulle was baie kwaad toe hy nie opgedaag het nie. Hy’t nie eers laat weet wat fout is nie.”

      So dis dan wat Ruan by Peter’s Gym doen. Gedoen het.

      “Hy’t gesê dat hy ’n persoonlike afrigter is en dat hy Saterdae ook hier werk.” Ek probeer teleurgesteld klink. “Ek was seker hy sou hier wees.”

      Ntombi se frons versag. “Julle kan met Frisco gesels. Hy behoort al terug te wees. Dalk weet hy waar Ruan is.”

      “Frisco?” vra Sarah. Sy staan skuins agter my by die deur, asof sy nog heeltyd gereed is om weg te hardloop.

      “Moenie my vra nie. Dis een of ander skoolbynaam wat vasgesteek het. Maar hy gee nie om as mense dit gebruik nie.”

      Ntombi skakel ’n interne nommer en vra of iemand Frisco ontvangs toe kan roep.

      “Besit hy die gim?” vra ek toe sy aflui.

      “Hy en nog ’n vennoot.”

      Ek kyk na die klein ontvangsarea. Die wit teëls en geraamde foto’s van Arnold Schwarzenegger en mans wat ek nie ken nie.

      “Is julle baie besig?” Niemand het nog in- of uitgeloop vandat Ntombi ons gegroet het nie.

      “Saterdae is maar dood. Mense kyk eerder sport.”

      Die man wat haastig deur die draaihek kom, het hare soos Sarah s’n – gejel dat dit in alle rigtings staan. Sy oë is bruin, sy ken hoekig. Sy gesig sê hy bring baie tyd in die son deur. Sy bene in die ligte kniebroek en tekkies sê waar: die sonbruin eindig net onder sy kuite. Frisco is ’n gholfspeler. Maar belangriker nog: hy is van gemiddelde lengte, dus nie die een vir wie Ruan geskerm het nie.

      Frisco stap na my toe en skud my hand. Die irritasie op sy gesig verdwyn toe hy Sarah sien. Hy neem haar hand versigtig en hou dit ’n oomblik langer vas as wat nodig is.

      “Ek hoor julle is op soek na Ruan? Hy is ongelukkig nie hier nie.”

      Ek

Скачать книгу