Скачать книгу

Jan-Paul op sy arm. “Dankie dat jy haar uitgevat het.”

      Hierdie ou is te goed om waar te wees, dink Jan-Paul.

      “Jacques. Jy’s te nice, dude.”

      “Te nice?”

      “Jip. Mense gaan jou nog baie moer en gebruik, soos Skellie-die-pervert,” sê Jan-Paul.

      Jacques trek sy skouers op. “Ek kan vir myself sorg.”

      “Ek hoop so. Met bietjie hulp van jou pelle.”

      “Soos die song sê: With a little help from my friends. En vriende is moerse belangrik.”

      Hulle raak ernstig. “Ons is vriende vir altyd.” Jan-Paul lig sy duim en hou dit in die lug. Jacques lig ook sy duim en druk dit teen Jan-Paul s’n.

      “Vriende vir altyd.”

      Toe Jan-Paul Otto senior teen tweeuur die oggend kom kyk wie so in sy seun se kamer praat, lig hy sy wenkbroue wanneer hy Jacques sien. Die twee sit en skyfies eet. Jan-Paul steek die bier wat hy uit die yskas gehaal het net betyds weg.

      Jacques vee sy hand aan sy broek af en steek dit toe uit. “O. Skies. Ek’t nie gesien hoe laat dit is nie. Naand, oom.”

      Jan-Paul Otto senior kyk na sy hand vol skyfiesout en knik net.

      “Drink julle mannetjies?”

      “Nooit nie, Pa/oom!” sê hulle in ’n koor.

      Jacques hou ’n Hubbly Bubbly-bottel op. “Vir die pyn, oom!”

      “Op die lewe, Pa!”

      Jan-Paul Otto senior is beslis nie gediend met hierdie kuier nie.

      “Jy moet in die bed kom, Jan-Paul.” Sy pa kyk na Jacques. “En jy moet huis toe gaan. Wees net versigtig. Die kommuniste lê ses voet dik in die lokasies. En partykeer spoel hulle oor hiernatoe. Jy moenie dié tyd van die nag alleen op straat wees nie.”

      “Lekker om oom te ontmoet. Nag, oom. En jammer, oom.”

      “Nag.”

      Die oomblik wat die deur toegaan, knak elkeen nog ’n Lion Lager oop en klink dit teen mekaar.

      “Op die lewe, bru!”

      “On life, poephol!” lag Jan-Paul en neem ’n diep sluk.

      Jacques en Jan-Paul gesels nog. Later haal Jan-Paul ’n Playboy onder uit sy kas uit nadat hy sy vinger op sy lippe gesit het asof hulle ’n groot geheim deel.

      “My oom werk by doeane. Elke keer as hulle iemand met ’n Playboy vang, konfiskeer hulle dit vir hulle eie versamelings. Dis hoe ek dié een gekry het.”

      Hulle vatvyf mekaar en kyk saam na die tydskrif.

      “Sê vir jou oom hy’s my pel for life!”

      Jacques maak die tydskrif stadig oop. “Wow.” Hy blaai om. “Frieken wow, pel!” Jacques vee oor sy voorkop. “Fokkit, pella.”

      Jacques blaai met ontsag na die middelblad en draai die tydskrif om beter te sien. “Oukei. Oukei Oukei.”

      “Wag tot jy bladsy sewe en dertig sien.”

      “Kan ek dit leen?” vra Jacques saggies.

      Jan-Paul dink bietjie na.

      “Please, please, please, pel. Dis mos waarvoor vriende daar is!”

      “Net as jy jou volgende meisie vir my gee.”

      “Hei.” Jacques raak ernstig, maar kyk dadelik weer na die volgende meisie in die tydskrif. “Moenie eise stel nie.”

      “Dis my voorwaarde!”

      Jacques dink ’n oomblik na. “Karlientjie wil jou nie hê nie en ek vry nou in die bondel!”

      “Soek jy daai Playboy of nie?”

      Jacques dink ’n oomblik na. “Ja, man. Oukei. Ek verkoop my siel vir ’n pot lensiesop en ’n girl!”

      Jan-Paul glimlag en knik. “Vat dit. Moet jouself net nie verongeluk nie.”

      “As jy jouself nog nie beseer het hiermee nie, sal ék beslis nie!”

      Voetstappe in die gang. Jacques klim haastig met die tydskrif deur die venster. Jan-Paul grinnik. “Haar naam is Kom Terug en Donners Vinnig.”

      “Piele, pel!”

      Toe die deur weer oopgaan, waarsku Jan-Paul Otto senior: “Hy is nie ons mense nie, Jan-Paul. Hou jou by jou portuur.”

      En vir die eerste keer in sy lewe staan Jan-Paul teen sy pa op. “Hy is my vriend, Pa.”

      Die ouer man kyk lank na sy seun. “Jy gaan nog lang trane oor hierdie mannetjie huil. Hy is moeilikheid.”

      Jan-Paul en Jacques se vriendskap verstewig daarna deur baie skelm ontmoetings, fietsritte, pakke slae, bergklim-ekspedisies, kattekwaad, nuwe Playboys van Jan-Paul se doeane-oom, uitkamp en vakansies. Tot Jan-Paul besef dat Jacques binne die bestek van ’n jaar ’n onvervangbare deel van sy lewe geword het. En dat hy enigiets vir hom sal doen of vat. Selfs, noudat hy meer moed het, ses van die bestes van die gevreesde Steenkamp.

      MAANDAG 7 APRIL 2014, 10:15

      Carina kyk na Jan-Paul. “Het jy toe later teenoor Steenkamp erken dat jý eintlik die pak slae moes gekry het?”

      Jan-Paul kyk ingedagte na haar. Toe skud hy sy kop.

      “En Karlientjie?”

      “Na daai mislukte aand het dit nie meer saakgemaak nie. Maar Jacques het altyd die meisies gekry na wie ons saam gevry het. Maar haar dan weer gedrop as hy sien dit pla my.”

      Jan-Paul Otto se kantoordeur gaan oop en ’n jong man loer in. “Vergadering!” beduie hy.

      “Ek kom.”

      Carina het nog baie vrae om te vra, maar besef dat sy dit nie nou sal kan doen nie.

      “Kan ons weer gesels?”

      “Ek het regtig niks meer om te sê nie. Ek het reeds te veel nuttelose inligting gegee.”

      “Dit was nie nutteloos nie.”

      Jan-Paul antwoord nie.

      “Kan ons later oor die dwelms gesels?”

      “Juffrou Human.”

      “Carina.”

      “Hier is geen skandale of dwelmsessies of skelm rokery agter die fietsloods nie. Jacques het nie eers gerook nie. So wie ook al daardie dwelmstorie vir jou vertel het, probeer net moeilikheid maak. ’n Storie waar daar nie een is nie.”

      “Het Jacques baie vyande?”

      Jan-Paul Otto raak ernstig. “Te veel,” antwoord hy.

      “Hoekom?”

      “Jaloesie,” sê Jan-Paul. “As jy mense in die bedryf oor hom ondervra, sal jy die kaf van die koring moet skei. Jy gaan baie leuens hoor. Vat dit van my: daar is nie ’n beter mens, ’n meer lojale vriend, as Jacques Rynhard nie.” Hy kyk skielik weg, duidelik hartseer oor sy vriend se skielike verdwyning.

      “Nou hoekom dan verdwyn?” vra Carina.

      Jan-Paul kyk stip na haar. “Moenie vir Jacques Rynhard beswadder nie.”

      “Ek soek net die waarheid.”

      “Soms het die waarheid niks met ander mense te doen nie, juffrou Human.”

      “Wie het toe die meisie gekry?”

      Jan-Paul kyk verbaas na haar.

      “Die Playboy-belofte.”

      Die jongman steek weer sy kop om die hoek. “Die kliënte raak moeilik!”

      “Tot siens, juffrou Human,”

Скачать книгу