Скачать книгу

is loutere bog, man.” Hy staan op en gaan staan voor die venster wat op Katherinestraat afkyk.

      “Wie is Jacques Rynhard presies?” waag Carina.

      “Die mees lojale vriend wat enigiemand kan hê.”

      “Julle ken mekaar van skooldae af, het ek Saterdagaand verneem.”

      Hy draai om. Sy kan sien dat Jan-Paul diep terugdink. Hy knik en daar is nou ’n hartseer in sy oë.

      “Wanneer het jy hom laas gesien, meneer Otto?”

      “Woensdagaand. Ons het die dag gevier toe ons op Kleinbegin ontmoet het. Dit was in 1993 toe ons albei dertien was.”

      Carina skryf die inligting in snelskrif neer.

      “Het hy bekommerd gelyk? Getraumatiseerd? Bitter?”

      “Nee. Dit is een van die min kere dat hy meer as een bier gedrink het. Ons het gelag. Grappe gemaak soos gewoonlik. Karaoke gesing, slaptjips geëet in sy gunsteling-restaurant in Newtown.”

      “Was daar hoegenaamd ’n aanduiding dat hy beswaard is? Dat hy dwelms gebruik, dat hy …”

      “Juffrou …”

      “Human. Carina Human.”

      “Juffrou Human. Kry die storie vir eens en vir altyd uit jou kop dat hy by dwelms betrokke was.”

      “Nou wat is die waarheid dan?”

      Jan-Paul draai weg. “Vriende vir altyd.”

      “Ekskuus?”

      Jan-Paul staan roerloos.

      “Die enigste rede hoekom ek jou hierdie storie vertel, is om die drek wat julle wil publiseer se rug te breek. Luister. En luister mooi na wat gebeur het.”

      6

      APRIL 1993

      Jan-Paul voel die lus in hom opstyg soos dit net met ’n dertienjarige skoolseun kan gebeur. Karlientjie sit op die stoepmuurtjie gedurende pouse en eet haar toebroodjie. Hy het nooit gedink ’n meisie kan so mooi wees wanneer sy ’n kaastoebroodjie eet nie, maar Karlientjie is. Hy probeer al sedert hy ’n week gelede van Pietersburg Afrikaanse Hoër na Kleinbegin Hoër geskuif het om genoeg moed bymekaar te skraap om met haar te praat.

      Sy pa het skielik besluit dat hy genoeg van groot dorpe gehad het. Dat hy sy argitekbesigheid na Kleinbegin wil skuif, want hy wil rustig en ongesteurd werk. Een keer per week ry Jan-Paul Otto senior Pietersburg toe, of selfs Johannesburg en Pretoria, maar oor die algemeen kom kliënte hom hiér sien. “Ons wil jou op die platteland grootmaak waar jy kan leer om nog ’n seun te wees,” het sy ma destyds gesê, “en die regte tyd is aan die begin van hoërskool.”

      Dit is hoe hy op Kleinbegin beland het. En Jan-Paul het sy ouers nog nooit so gelukkig gesien nie. Hy het altyd die indruk gekry dat daar fout is tussen hulle, maar vandat hulle getrek het, het dinge verbeter.

      Hy het ook gehoor sy ma sê wanneer hulle eendag genoeg geld gespaar het, moet hulle stad toe trek, want dit is waar sy eintlik wil bly. Jan-Paul het maar altyd aangeneem sy bedoel Johannesburg.

      Terwyl Jan-Paul na Karlientjie kyk, wonder hy of sy pa en daardie rooikopvrou op Pietersburg nie dalk iets aangehad het nie. Maar dan kyk Karlientjie op.

      Jan-Paul het sy ma gevra om vandag ’n ekstra spesiale toebroodjie te maak met gisteraand se lekker vulsel op, sodat hy dit vir Karlientjie kan aanbied. Dit is sy strategie. Sy toebroodjie in ruil vir haar vriendskap.

      Hy maak sy kosblik oop en wil net na haar toe gaan, toe ’n ander seun nader loop. Hy is die slimste ou in die klas, die ou van wie al die meisies hou. En hy het baie vriende. Almal hou van hom. Sy naam is Jacques Rynhard en hy bly in ’n spoorweghuisie waar sy kwaai ma en treindrywer-pa woon. Hulle is arm, maar mens sal dit nie sê as jy sien hoe Jacques sy lewe geniet nie. Dit lyk nie of iets hom ooit kan pla of omkrap nie.

      Jacques stap tot by Karlientjie. “Is dié plek bespreek?” Hy beduie na die oop plek langs haar.

      Karlientjie bloos en skud haar kop.

      “Gee jy om?”

      Jan-Paul gaan Jacques Rynhard vandag bliksem. Hy weet dit. Hy voel dit kom.

      Karlientjie glimlag en skud haar kop. “Nee. Jy mag maar sit.”

      Jacques gaan sit langs haar – net naby genoeg vir hom om sy hand uit te steek en aan haar te raak. Karlientjie eet haar toebroodjie in stilte. Jacques bring selde toebroodjies skool toe, hoor hy van die ander seuns. Daar is gerugte dat sy ma nie toebroodjies wil maak nie. En dat, indien hy wel kos skool toe bring, die tannie van die bakkery, tannie Trudie Linde, ook bekend as Chivas, dit maak.

      “Ek is Jacques.”

      “Ek weet,” glimlag sy skaam. “Al die meisies weet wie jy is.”

      Jacques krap deur sy hare. “O. Oukei.”

      “Ek is Karlientjie.”

      “Sjoe. Mooi naam.”

      “Was my ouma s’n gewees,” sê sy en bloos.

      “Dan hou ek sommer van jou ouma ook.”

      Jan-Paul voel of hy hierdie verwaande vent aan sy kuif kan gryp en moerland toe kan moker.

      “Sy soen my altyd met sulke stywe lippe,” lag Karlientjie. “O, jig!”

      Jacques steek weer sy hand uit.

      “Nou kan ons offisieel kennis maak!” Jan-Paul kan sien hoe daardie belangrike woord Karlientjie beïndruk. “Hallo, Karlientjie.”

      Karlientjie hou sy hand net ’n bietjie te lank vas en Jan-Paul kan sien dat sy vinnig na Jacques se fris bene kyk. Sy byt sommer ekstra diep in haar toebroodjie. Wil praat, maar vind duidelik nie die woorde nie. En wanneer sy sluk, sien Jan-Paul dat sy amper verstik van die groot hap wat sy gevat het.

      Jan-Paul maak gereed om tussenbeide te tree, maar word verhoed.

      “Juffrou Fick se klas was maar simpel vandag,” sê Jacques terwyl hy oor sy maag vryf. “Sy’s nie ’n wiskunde-onnie se dinges nie.”

      Dit laat Karlientjie vlamvat.

      “En hoe!” Sy neem nog ’n hap en praat dan met ’n vol mond. “Ek het nul vir my toets gekry! Ek het niks verstaan nie!”

      “Ag, man. Ou Fick verstaan haarself nie eers nie!” troos Jacques.

      “Maar …” ’n Dramatiese pouse, soos die karakters altyd maak in die radiostories waarna Jan-Paul se ouma luister. “… vandag het jý al die somme reg gehad.” Sy vee ’n rooi krul uit haar gesig. “Ek weet nie hoe jy dit regkry nie.”

      “Ag, elementêr, Watson.” Jan-Paul kan sien dat hierdie grappie by Karlientjie verbygaan. “As jy wil, kan ek jou help.”

      “Oe, ja, seblief. Enige tyd.” Karlientjie skuif nader en draai na hom toe. Sjoe, sy is mooi. “Hoekom is x gelyk aan y kwadraat as p gelyk is aan q? Dit maak nie sin nie!”

      Jacques se antwoord kom gladweg: “Want q het ’n identiteitskrisis en x kan nie sy mind opmaak nie.”

      Sy kyk verras na Jacques en bars uit van die lag. Weer Jacques se been teen hare. Dit is vir Jan-Paul genoeg. Hy storm vorentoe en pluk Jacques van die muurtjie af.

      Jan-Paul begin Jacques te slaan. Maar anders as wat hy verwag het, verdedig Jacques hom. Hy spring op, duik vir die houe en pen Jan-Paul toe teen die grasperk vas. Die ander kinders storm nader en drom om hulle saam. “Fight! Fight!” skreeu almal.

      Jan-Paul slaag daarin om onder Jacques uit te kom. Hy ruk los en slaan Jacques onderstebo. Maar weer kry Jacques maklik die oorhand en pen hom vas. Waar ander seuns met wie Jan-Paul gereeld gevegte begin het aggressief en gewelddadig raak, skud Jacques net sy kop. “Hei, pella. Tjil.” Hy koes weer. “Dis nie die moeite werd nie.”

      Jacques

Скачать книгу