Аннотация

“Die wêreld is hul speelplek, geld hul vernaamste vriend, maar iewers tussen swier en rykdom lê die luukse van die onontdekte.” Stralerjakkers was tussen 1996 en 2001 ’n radioverhaal-fenomeen wat daagliks ’n halfmiljoen mense vasgevang gehou het, en ’n magdom navrae het Leon van Nierop laat besluit om dit tot roman te verwerk. Rykmanseun Tiaan Reyneke, pas vrygelaat ná twee onskuldige jaar agter tralies, neem sy intrek by sopkombuis-tannie Girly Lubbe se losieshuis in Newlands, Johannesburg. Dan tuimel ou familiegeheime en geraamtes uit die kas wanneer twee uiteenlopende wêrelde bots. ’n Verhaal propvol drama, hartstog en humor.

Аннотация

Angs en adrenalien het die demone in Gustaf Prinsloo se onderbewussyn gevoed, hom laat skryf. Toe droog dit op en hy begin aan onttrekkingsimptome ly. ’n Kans om sy roman as rolprent te verwerk dwing hom tot afsondering in ’n huis in ’n godverlate deel van die Bosveld, met net sy verbeelding en ’n mooi rolprent-vervaardiger as geselskap. Hy raak bewus van ’n “derde dimensie”. Nou is die heerlike, verslawende angs terug en kan hy weer skryf. Dan kom hy agter dat die draaiboek ’n nuwe drif in hom laat opkook. Wanneer sy voormalige vrou egter onverwags opdaag, dwing sy die werklikheid in gruwelike en onvervalste gedaante aan hom op. En maak sy ’n nuwe monster wakker . . . Twintig jaar ná die verskyning van Adrenalien besoek Leon van Nierop dié roman opnuut . . . en kom Die Waarheid eindelik aan die lig. Want Gustaf besef dat hy sy eie verhaal nooit behoorlik verstaan het nie – en bowenal dat hy nie alléén kan skryf nie.

Аннотация

In die laat tagtigerjare het die treffer TV-reeks Ballade vir ’n enkeling rekords gebreek. En nou word die verhaal weer vertel, maar dié slag soos dit werklik gebeur het, sonder versagting, aangepas vir vandag. Dit begin wanneer een van die land se gewildste skrywers, Jacques Rynhard, op die kruin van sy loopbaan verdwyn. Dan kry ’n voormalige misdaadverslaggewer, Carina Human, opdrag om nie alleen uit te vind waar hy is nie, maar ook hoekom hy verdwyn het. Sy krap ’n perdebynes oop van verraad, donker geheime, moord en mislukte verhoudings. Maar wanneer sy by die eintlike rede uitkom vir Jacques se verdwyning, besef sy dat sy met een van die grootste stories van haar loopbaan te doen het. En dat nie almal met wie sy tot dusver oor Jacques gepraat het lewend uit hierdie ondersoek sal kom nie. Maar nog erger: Carina besef dat daar sterk ooreenkomste tussen haar en Jacques Rynhard is wat haar lewe in gevaar kan stel.

Аннотация

Elke plesier het sy prys . . .
Tristan Hansen word die engel van plesier genoem – ’n man wat R15 000 per nag vra en soveel genot verskaf aan die land se mees invloedryke en wêreldwyse vroue dat hulle terugkom vir meer. Maar wanneer een van sy kliënte haar eie lewe neem, verander die plesierengel in ’n doodsengel, en bely sy kliënte die een na die ander wat agter toe deure gebeur het.
Maar waarom doen hy dit? Beslis nie net vir die geld nie. ’n Sielkundige, Erika Hamilton, ontmoet hom toevallig. Albei van hulle bied op beroepsvlak verligting van neurose, onvervuldheid en frustrasie – die een op akademiese wyse, die ander met lyflike plesier. Wat gebeur wanneer hulle ontmoet?
Plesierengel is ’n nuwe, aangepaste weergawe van Leon Van Nierop se 1998-blitsverkoper, maar dié slag kookwater-warm, onbevange en onbevrees vertel. Soos dit regtig daagliks gebeur . . .
Daar is tonele wat sensitiewe lesers dalk kan skok. Dit is Van Nierop soos jy hom nog nooit gelees het nie.

Аннотация

Ratels is ’n somerskool op ’n wildsplaas waar ’n groep jongmense, uit alle lae van die samelewing, bymekaarkom om oor hulself, die lewe en die natuur te leer. Dit raak aan alledaagse dinge soos korrupsie, dwelms, dobbelary, verhoudings, stropery en die algemene agteruitgang van die natuur. Lekker lewendige relevante jongmens-denke en -taal. Dit is gebaseer op die super-gewilde reeks op RSG met die dieselfde naam, met baie humor, drama en interessante verwikkelinge.

Аннотация

Wanneer Sonja Daneel ná ’n motorongeluk bykom, ly sy aan geheueverlies. Sy onthou net die wolf voor haar in die pad. Sonder ’n idee van wie sy is of waar sy vandaan kom, ontmoet sy die mense van Hotel Njala op die plaas Wolwedans in die Hazyview-distrik en besef dat sy ’n ruk gelede aansoek gedoen het vir werk hier. Maar hoekom spesifiek by dié hotel waar die tyd gaan stilstaan het? Gou kom sy agter dat sy tevore, op die een of ander duister manier, by die hotel en sy mense betrokke was. Dan volg daar aanslae op haar lewe deur ’n geheimsinnige Rooikappie-figuur wat die hotel met ’n byl terroriseer. Sy raak terselfdertyd verlief op die loslit-toergids Ryno Lategan. Maar gou besef sy dat niemand in die hotel is wat hy of sy voorgee om te wees nie. Hazyview word boonop geteister deur buitengewoon hoë misdaad. Dit is hoe luitenant Conrad Nolte by Wolwedans betrokke raak. Hy besef dat, indien hy hierdie saak nie vinnig oplos nie, meer mense as net Sonja kan sterf. Wolwedans in die skemer het in die vroeë jare tagtig ’n miljoen luisteraars op Springbok Radio betower. En nou is dit terug, gegrond op Leon van Nierop se rolprentdraaiboek en herskrewe radioverhaal op RSG wat die storie in ’n moderne gedaante klee – met dieselfde skokkende geheime wat opnuut vra om ontrafel te word, dié slag met ’n nuwe, makabere kinkel . . .