Скачать книгу

      “Wat is dit?” vra sy toe hy nie voortgaan nie.

      “Lena het haar verhouding met Jacques Vrydagaand verbreek.”

      Carina sit regop. “Wat? Maar sy … Ek bedoel … Niemand …”

      Selfs Mysi maak nou aantekeninge.

      “Hulle wil dit seker geheim hou.”

      Carina skryf dat dit klap in haar notaboek.

      “Maar hoekom het Lena ons nie daarvan gesê nie?”

      “Sou jý ’n joernalis vertel het?” grinnik Mysi.

      “Dit kan dus wees dat hy Saterdag gewag het dat Lena terugkom. En toe sy nie terugkeer nie, het hy sy moer gestrip en wou hy ’n punt bewys.”

      Carina maak steeds aantekeninge. “Dus sou Lena nie noodwendig geweet het waarheen hy Vrydagaand is en hoekom hy Saterdagoggend in daardie toestand teruggekom het nie.”

      Soon knik.

      “Wie het Jacques dus laaste gesien? Lena Vrydagaand? Dalk die bure Saterdag?” vra Carina. “Waar was hy Saterdagoggend?”

      “Ons het navraag by die bure gedoen, veral sy buurman, Fineas Guliwe. Hy vertel dat hy Jacques Saterdagoggend negeuur laas gesien het. Ons het geen bewyse dat Jacques Rynhard by iemand in ’n ander woonstel wegkruip nie, maar ons doen steeds navraag. Van die ander inwoners hou van hom en Lena. Hulle was glo …” Die luitenant kyk in sy boekie, “model-inwoners. Hulle het nie geweet Jacques en Lena Aucamp is uitmekaar nie. Maar Fineas Guliwe sê hy het hom nog om kwart voor vier die middag in sy woonstel hoor rondbeweeg.”

      Carina skryf sy naam in haar aantekeningboek: Fineas Guliwe, buurman.

      Soon Alberts se vingers beweeg weer oor die sleutelbord en hy klik op Facebook. Hy open Jacques Rynhard se profiel. Daar is tientalle boodskappe en inskrywings deur “vriende”. Carina lees die belangrikste inskrywings:

      Ek wens ek kan ook soos jy verdwyn, pella. Hoe oorleef mens in ’n brutale bedryf waar niemand van niemand hou nie maar voorgee om jou vriende te wees? Moet net nie agteroorval nie, bra. Die messe in jou rug sal dalk deur jou ribbes steek.

      En dan: Sukses te veel geword vir jou grootkop?

      Ook: Dis wat gebeur as mens ’n dubbele lewe leef, Jacques. Of soveel vyande maak soos jy. Nou betaal jy.

      O hel. Ek hoor Jacques is vermoor. Is dit waar? word in ’n ander Facebook-boodskap gevra.

      En in nog een word aangevoer: Hy het soos die sanger Rodriguez in daai moewie gemaak en homself aan die brand gesteek waar Oppikoppi altyd gehou word. As julle daar gaan soek, sal julle sy as kry.

      Ook Carina neem van die goed nou op haar selfoon af.

      “Ons volg elke leidraad op. Maar die meeste is vals of wishful thinking. Of hulle sien iemand wat nes Jacques Rynhard lyk. Jy moet onthou daar is honderde ander vermistes na wie ons ook soek.” Hy wys na die koerante wat op sy lessenaar lê: “Ek weet sy storie is op al die voorblaaie, maar ons het ander werk ook. Weet jy hoeveel mense raak per dag hier in Gauteng weg? En dis maar net dié wat aangemeld word.”

      Alberts tik weer en maak dan ’n bladsy oop met dosyne twiets wat onlangs oor Jacques verskyn het. Van gelukwense met sy dapper stap tot moontlike plekke waar hy gesien is tot voorstelle dat hy navorsing vir sy volgende storie doen of dalk dood is.

      “En dan die foonoproepe.” Hy maak ’n boek oop waarin boodskappe en telefoonnommers staan van mense wat doodseker is hy skuil in die huis langs hulle, of dat hy by die tolhek duskant Middelburg gesien is, of waspoeier in ’n supermark op Oudtshoorn gekoop het.

      “Die Weekblad is reeds besig met ’n storie oor wie hom almal waar gesien het. Weet nie of jy daai joernaliste ken nie?”

      “Ek ken party van hulle,” knik Carina. Die tydskrif verskyn Woensdae.

      “Dalk moet jy met hulle praat. Hulle het teen dié tyd seker meer inligting as ons.”

      “Ek moet my eie inligting op my eie manier versamel,” antwoord Carina wanneer Mysi vinnig na haar kyk. “Myne gaan beslis nie oor veronderstellings of sensasie of ander mense se siening van hom nie. Myne gaan oor die waarheid.”

      “Dus begin die storie jou nou werklik interesseer?” vra Mysi terloops. Die luitenant kyk stip na Carina.

      Sy knik. “Ek dink hier steek meer agter as iemand wat net uit die publieke oog wou verdwyn. Dan sou hy die verdwyning ná die prys gedoen het, want ek dink hy het baie te sê gehad. En die aand op die verhoog was die aangewese plek om byltjies te slyp en sy verbroke verhouding aan die groot klok te hang.”

      “Ek dink die slimste stelling wat hy ooit gemaak het, is om niks te sê nie, want dan sê jy die meeste,” antwoord Mysi.

      Alberts antwoord sy telefoon. “Yes, bru. Fine. Okay. Will see you.” Hy kyk op. “Jammer. Ek moet oor ’n kwartier uitgaan.”

      “Mag ons bietjie in sy woonstel gaan rondkyk?” waag Carina.

      “Dit sal julle vir sy vriendin, Lena Aucamp, moet vra. Sy het die sleutel.”

      “Maar ek moet ook jou toestemming kry, luitenant.”

      Alberts kyk vinnig na sy uitgedrukte SMS’e vol vierkantjies en halwe sinne en spelfoute en halfklaar boodskappe. “Nee. Nie sonder dat ek of ’n ander offisier by is nie.”

      “Ons gaan hierna na Lena toe,” verduidelik Mysi.

      Carina se vinger beweeg oor die res van die boodskappe en nommers van mense wat Jacques iewers sou gesien het. Geen name van die afsenders is bekend of maak vir haar sin nie. “Interessant dat nie een van hierdie name uit die vermaaklikheidswêreld kom nie.”

      “En dat daar feitlik geen negatiewe kommentaar oor hom is nie,” beduie die luitenant na die rekenaarskerm. “Seker goed 90% van die inskrywings oor hom is positief en spreek die wens uit dat hy weer iets moet skryf … Maar die ander tien persent – dís waarin ek belangstel. Soos hierdie een: Jy neuk met meisies se harte, nou neuk jou eie hart met jou.”

      Sy beduie na die inskrywing van ene Robert: Jis ou gabba. Tyd dat ons weer bietjie ballas saam bak en oor die verlede praat. Of hoe swaer?

      Die luitenant klik op Robert se naam. Oomblikke later verskyn ’n kennisgewing: Facebook page closed.

      Carina maak aantekeninge. Die res van die boodskappe is neutraal of vleiend. En dan: Het Alicia se koekie toegeklap vir jou, of het sy jou wêreld so warm gemaak dat jy moes vlug?

      En nog ’n Facebook-boodskap: Dalk bly jy in een van Alicia of haar pa se huise iewers in die land. Bel my, ons soek jou vir ’n storie. Jy kan al jou navorsing op my kom doen he he he.

      En dan ’n interessante twiet. Ek ken jou ander skuilname. Jy gaan braai, my maat.

      Soon Alberts vroetel aan sy snor. “Waarom nie vir sy beste vriend Jan-Paul Otto of sy ma sê waarheen hy is nie? Waarom sonder sy motor padgee en die motorsleutels in die huis los? Sy woonstel se sleutels is ook aan sy motorsleutels. Hy het nie eers die deur gesluit nie.”

      “The plot thickens,” sê Mysi. “So. Waarheen moet hierdie twee Gehasi’s nou gaan?”

      “As ons leidrade kry, kan ons selfs met ’n lugsoektog begin.” Die luitenant klink asof hy hierdie inligting al dikwels gegee het. “As sy naasbestaandes dus dink dat sy lewe in gevaar is of dat hy ’n gevaar vir homself of ander mense is, moet hulle dit aanmeld. Maar tot dusver het niemand nog met enigiets nuuts gekom nie.”

      Poliesman-speak.

      “Waar het julle nóg gesoek?”

      “Ons het hospitale gebel, ook ander polisiestasies, onder meer in Kleinbegin waar sy ma bly. Hy is nie in ’n hospitaal nie. Of nie waarvan ons weet nie.”

      Carina se instink sê vir haar dat Alberts nou in ’n meer spraaksame bui is en inligting gee wat hy dalk tevore sou

Скачать книгу