Скачать книгу

Carina deur die oorvol strate ry, merk Carina ’n jong swart meisie met wegstaanhare en ’n vrolike Afrika-lap wat om haar gedraai is. Sy is besig om ’n muurskildery te verf. Dit is ’n duif, maar ’n bloue met ’n rooi pet op. Next president! staan daaronder.

      Hulle is gelukkig genoeg om parkering te kry, waarna vier parkeerwagte aangestorm kom. Die mans verdring mekaar om by die motor te kom. Die een druk ’n swart cowboyhoed in haar hande.

      “Yours. My gift to you!”

      Carina skud haar kop. “I don’t wear hats.”

      “Just give me something for it. Anything!” soebat die man. Carina druk geld in sy hand en gee die hoed terug.

      “Thanks. Thanks for being so nice to me!” sê hy en dit laat haar ’n oomblik lank skerp opkyk. Die man stap weg. “You are a good person.”

      “Eish! Ê-ê!” skreeu die jongste parkeerwag omdat Carina nie aandag aan hóm gegee het nie.

      Tien minute later sit Carina en Mysi oorkant luitenant Soon Alberts, ’n ondersoekbeampte wat die Jacques Rynhard-verdwyning hanteer. Hy het ’n gemaklike en “gerieflike” verhouding met Carina. Wanneer hy voel daar is iets waarvan sy moet weet, gee hy dit vir haar.

      “So wat kan jy my vertel, luitenant?” begin Carina. En wanneer luitenant Alberts lostrek, klink dit asof hy ’n resitasie opsê. Toe weet Carina. Dié reaksie is ingeoefen. Sy sal op ’n ander manier by die waarheid moet uitkom.

      “Ons het Jacques Rynhard se ma gebel en na sy woonstel toe gegaan. Sy tikmasjien is weg en hy het bietjie klere saamgeneem, maar nie sy selfoon nie. O ja, en sy fiets ook nie.”

      Sodat niemand hom kan opspoor nie, skryf Carina in haar notaboek. Maar sy vra: “Met wie het hy die laaste keer kontak gemaak?”

      Hy maak sy notaboekie oop. “ ’n Paar joernaliste het hom …” hy soek rond, “Saterdag geskakel om te probeer om onderhoude oor die prys te reël, maar hy het nie geantwoord nie.”

      “En Vrydagaand die vierde?”

      Die luitenant kyk na sy lysie. “Hy het nie sy selfoon dikwels gebruik nie. Maar hy het halftien Saterdagoggend ’n SMS aan Lena en Jan-Paul gestuur.”

      “En die boodskap, luitenant?” Dis erger as om tande te trek!

      “Vriende vir altyd.”

      Carina onthou dat dit sy belofte aan Jan-Paul was. Hy het dus moontlik Jan-Paul se ondersteuning nodig gehad. “En toe stuur hy sy laaste SMS aan Trudie Linde.”

      Carina skryf die naam haastig neer.

      “Wie’s sy as sy by die huis is?”

      “ ’n Tante wat in Kleinbegin bly.” Luitenant Alberts kyk na sy notaboekie. “Die SMS het gelees: Onthou Punda’s.”

      “Punda’s?”

      “Ons het die tante gevra wat dit is, maar sy weet nie. Dit was sy laaste SMS Saterdagoggend om 11:23.”

      “Wanneer gaan julle weer na sy woonstel toe?”

      Soon kyk op sy horlosie. “Later vanmiddag saam met Lena Aucamp om te bevestig watter items nog weggeneem is. Maar dit is duidelik dat daar nie ’n kaping of gewelddadige ontvoering was nie. In elk geval nie waarvan ons weet nie.”

      Sy haat dit as polisiemanne so formeel praat. Dit voel of sy op aandag moet staan!

      “Ons praat nog met sy vriende oor die omstandighede waaronder hy vermis geraak het.” Hy blaai deur ’n lêer. “Hy het geen misdaad gepleeg nie. Maar daar is ’n merk teen die muur en ons wil by juffrou Aucamp hoor of dit tevore daar was.”

      “ ’n Merk?” Dus het hulle die woonstel goed deursoek.

      “Ja. Ons wil uitvind of die merk onlangs gemaak is en of juffrou Aucamp daarvan weet.”

      Hy blaai weer deur die lêer.

      “Wat is julle teorieë, luitenant?”

      “Wie weet? Dalk was hy moeg vir al die aandag en wou ’n punt maak omdat sy eie naam teen hom begin tel het in die vermaaklikheidsbedryf. Dalk het iemand hom gevolg.”

      “Jy bedoel ’n stalker?”

      Die luitenant knik. “Maar ons kon nog geen bewyse daarvan opspoor nie, veral nie op sy selfoon nie. Ons het sy ouer selfoonrekords by die selfoonmaatskappy aangevra, maar voorlopig weier hulle om dit te gee. Kliënte-privaatheid glo.”

      Nog ’n plek waar Carina kontakte het. Sy kan maar net probeer! Die luitenant se stem dreun voort: “Ons probeer nou ’n hofbevel kry om sy rekords te kry, maar omdat geen misdaad gepleeg is nie en omdat hy van niks verdink word nie, is dit moeilik. Ons kon egter fisiek op sy selfoon ingaan en na onlangse oproepe kyk, maar dit was almal oor werk. Of hy het met sy vriend Jan-Paul geskakel oor gimnasium-afsprake. Of kuiers, maar niks meer nie.”

      Carina hoor al hoe Gavin op haar skreeu as sy met hierdie inligting na hom toe gaan. Mysi por haar aan deur liggies aan haar enkel te skop.

      “Mense twiet, Facebook, bel, e-pos, en die meeste,” Alberts boots aanhalingstekens met sy vingers na, “dink hulle het hom gesien.” Hy druk ’n paar sleutels op sy sleutelbord en draai die skerm na Mysi en Carina. Dit wemel van spelfoute, veral Jacques se naam en van.

      Ek kan sweer ek het Jack Reinhaart op die Kimberleyse lighawe gesine. Hy het byte gerook en toe verdwein.

      Alberts soek deur die talle e-posse wat soortgelyke stellings maak: Hy’s bang vir trou, man, toe skedaddle hy moerland toe na ’n ander squeeza. Weet julle hoeveel meisies vrek oor hom? Hy kan enige tyd sy nommer twaalfs onder my katel bêre, lees ’n ander.

      Jacue kan nie meer tussen die werklikheid en sy stories onderskei nie. Hy leef vir sy stories. Gaan soek op die plekke waar sy stories afspeel, stel ’n ander voor.

      En die SMS’e. Hordes: Djaak is in die Tankwa Karoo. Ek het ’n dude met ’n rigsak langs die pat gesien wat nes hy lyk.

      En:

      Vra bietjie die ouens wat nog stoomtreine dryf. Hy dryf dalk saam!

      Mysi neem die SMS’e met haar selfoon af. “En ek dag ek kan nie spel nie!”

      Carina lees nog e-posse en SMS’e van mense wat seker is hulle het Jacques Rynhard, of iemand wat soos hy lyk, op vier verskillende lughawens gesien, selfs op ’n vliegtuig na Dubai, dan weer in die Menlyn Park-winkelsentrum, iewers op ’n strand naby Richardsbaai, in ’n bordeel in Pretoria, en in die bosveld op ’n heuwel met ’n rewolwer teen sy kop. Die res is blote herhalings van die plekke wat reeds genoem is, maar met geringe variasies.

      “Ons het die mees waarskynlikes opgevolg, maar dit blyk vals leidrade te wees.”

      Die laaste SMS wat na die vermiste-persone-nommer gestuur is, noem dat Jacques en ’n beeldskone meisie op ’n duin in Swakopmund opgemerk is. Ek dink hy en die meisie maak nou mooi musiek tussen die sand. Dalk doen hy hier navorsing in Sossusvlei vir ’n nuwe roman. En ek sweer daar gaan weer ’n trein en ’n stasie in wees.

      “Hy het nie deur ’n grenspos beweeg nie, nog minder is hy iewers op ’n sekuriteitskamera gesien. Ons is egter steeds besig om deur footage te soek en ons kyk ook na al die tolhek-kameras. Maar sy motor staan veilig in sy woonstel se parkeerarea in Newtown en sy fiets is steeds in sy woonstel. Niemand het hom ook deur die hekke by sy woonstel sien beweeg nie. Ons het ook by groot hotelle navraag gedoen, by stasies, hawens. Niks. Die sekuriteitskameras het Jacques wel Saterdag by sy woonstelblok sien inkom.”

      “Wanneer Saterdag?”

      “Die oggend halftwee. Toe Saterdagoggend omtrent tienuur. En hy is weer terug om en by middagete.”

      “Die oggend halftwee. Dis laat.”

      “Hy het dalk partytjie gehou, want hy het glo sleg gelyk, asof hy in ’n bakleiery was – vandaar dalk die bloedstreep teen sy woonstel se muur. Hy het moontlik geval of uitgepaas toe hy

Скачать книгу